Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Op pad na ’n Afrikaanse Forum

Gerrit Brand

Ek gooi graag my klippie in die bos (knuppel in die hoenderhok?) oor die Afrikanerraad-debat op LitNet.

Laat ek begin deur te sê dat ek persoonlik nie ’n voorstaander van ’n Afrikanerraad is nie. Selfs die idee van ’n Afrikaanse Raad (maw breër as die “Afrikaner”) staan my nie juis aan nie. Ek wil nie nou te uitvoerig op my redes hiervoor ingaan nie, maar deel daarvan is die myns insiens geldige punt wat Steppenwolf onlangs gemaak het, naamlik dat dit meer sin maak om mense rondom ’n enkele gedeelde saak saam te snoer as rondom ’n hele spul belange. Steppenwolf is reg: ’n Rolbalklub werk omdat dit rolbal-entoesiaste laat saamwerk, maar ’n christelike rolbalklub of ’n Afrikaner-rolbalklub werk nie omdat dit rolbal-entoesiaste onderling verdeel en sodoende die saak van rolbal skade berokken.

Ek weet egter dat daar baie mense is wat wel ’n Afrikaner- of Afrikaanse Raad voorstaan - ’n liggaam wat nie net die taal bevorder nie, maar ook vermeende breër Afrikaner- of Afrikaanse minderheidsbelange. Dit is meestal Afrikaners, oftewel wit Afrikaanssprekendes, wat hulle vir dié ideaal beywer. Baie Afrikaners deel egter nie dié ideaal nie, soos Etienne van Zyl tereg uitwys. Onder diegene wat wel die Raad-ideaal koester, is daar taamlike verskil van mening. Vir sommige moet so ’n raad as voorspel tot selfregering dien, hetsy in ’n volkstaat of op ’n ander basis. Vir ander (en Etienne van Zyl het blykbaar simpatie hiermee) moet dit meer soos die Joodse Raad funksioneer, dws as ’n gespreksforum en mondstuk van die gemeenskap. Daar is ook meningsverskil oor wie “die gemeenskap” moet wees: Afrikaners of “die Afrikaanse gemeenskap”. En dan loop die menings ook nog uiteen oor die vraag wie nou eintlik ’n Afrikaner kan wees en wie tot “die Afrikaanse gemeenskap” behoort.

Behalwe vir die feit dat baie wit Afrikaanssprekendes nie die Raad-idee steun nie (en sommige hulself nie eers as Afrikaners wil beskou nie), is dit duidelik dat daar ook in die bruin gemeenskap nie veel ywer vir dié gedagte bestaan nie. Die naaste aan so ’n voorstel uit hul geledere is Jason Loyd se oproep vir ’n bruin gemeenskapsforum “soortgelyk aan die Groep van 63”, dws ’n afsonderlike forum om “bruin belange” te bevorder. Die “bruin belange” waaroor dit hier gaan val nie heeltemal saam met die Afrikaner- of Afrikaanse belange soos deur wit voorstaanders gevisualiseer nie. Baie mense wat onder apartheid as “kleurling” geklassifiseer was, steun egter nie Jason Loyd en sy medestaanders se ideaal nie. Die verdeling oor die vraag of bruinmense hulself polities as ’n minderheidsgemeenskap moet posisioneer, hang onder andere saam met klasseverdelings in dié gemeenskap. Dieselfde geld vir die mate waarin Afrikaans prioriteit as ’n “bruin issue” geniet.

Onder tweedetaalsprekers van Afrikaans - en daar is meer van hulle as wat daar eerstetaalsprekers is! - is die hele Raad-kwessie glad nie op die agenda nie. Sommige van hulle wil egter graag sien dat die taal aktief bevorder word, ook onder sprekers van die ander tale. Hier dink ek aan mense soos Olga Sema van die ATKV, Victor Khambule van die Vriende van Afrikaans in Soweto en die swart Afrikaans onderwysers wat onlangs onder leiding van Olga Sema en Maria Manyane ’n beroep op Afrikaans moedertaalsprekers gedoen het om hulle van leermateriaal en opleidingskursusse te voorsien. ’n Opname onder swart leerders in KwaZulu-Natal het ook bevind dat die meeste van hulle positief oor Afrikaans voel en dit graag as deel van die kurrikulum wil laat behou. Andertaliges in die veeltaligheidsbeweging is ook Afrikaans uiters goedgesind.

Buite Suid-Afrika word Afrikaans by verskeie universiteite as vak gedoseer. Afrikaanse letterkunde word ook daar gelees en baie mense in die buiteland stel belang in die taal en wil dit graag ondersteun. Hul belangstelling in en liefde vir die taal het egter gewoonlik min met politiek te doen en daarom is die debat oor ’n Afrikaner- of Afrikaanse Raad nie hoog op hul agenda nie. (Daar is uitsonderings.)

In die lig van hierdie uiteenlopende posisies het ek al in die verlede voorgestel dat ons eers begin deur ’n forum te skep waar almal wat belang by Afrikaans het met mekaar in gesprek tree. Die bedoeling met so ’n forum moet juis wees om aan almal die geleentheid te bied om hul standpunt te stel. Die forum moet dus nie pro- of anti-Afrikanerraad wees nie. Voor- en teenstaanders van so ’n raad moet daar hul sprook kan sprak. Swart, wit en bruin Afrikaanspraters, sowel eerste- as tweedetaalsprekers, moet daar hul mening kan lug. Die hele kleurvolle spektrum van standpunte, belange en voorgestelde strategieë moet daar die podium kan betree.

Die voordeel van so ’n gespreksforum met ’n leë agenda is dat dit almal kan betrek sonder om enige spesifieke groepering uit die staanspoor te marginaliseer of hul aktiwiteite in die wiele te ry. Alle organisasies en individue wat op een of ander manier met Afrikaans gemoeid is, kan nog steeds rustig (of onrustig!) voortgaan met dit wat hulle doen, maar terselfdertyd kan hulle begin om gemene grond te verken en stadig maar seker ’n mate van konsensus rondom bepaalde sake te stig. Hardnekkige verskille in standpunt of strategie hoef nie in so ’n forum te verdwyn nie, maar kan juis duideliker aan die lig kom terwyl daar besluit word om op daardie punte te “agree to disagree”. Onderlinge misverstande en wanpersepsies kan egter ook uit die weg geruim word.

Diegene wat ’n Raad voorstaan, kan daar hul saak stel en verskillende opvattings oor hoe so ’n Raad sou moet lyk, kan gedebatteer word. Mense wat teen ’n Raad gekant is, kan ook hul posisie verdedig. Dit is nie ondenkbaar nie dat oorreding na die een of ander kant kan plaasvind of dat teenoorstaande posisies ten minste ietwat nader aan mekaar kan beweeg. Ook ander kwessies rakende Afrikaans - kwessies wat niks met die Raad-debat te doen het nie - kan in so ’n forum bespreek en gedebatteer word.

Waarop dit alles sal uitloop, kan nie (en moenie) voorspel word nie. Dit sou kon wees dat so ’n forum mettertyd genoeg konsensus op bepaalde punte kan vind om van tyd tot tyd gesamentlike verklarings uit te reik of bepaalde aksies te onderneem. Dit sou selfs kon wees dat dié forum mettertyd self kan uitgroei tot ’n soort mondstuk vir die Afrikaanse gemeenskap of selfs ’n Afrikaanse Raad wat by die Artikel 185-Kommissie kan registreer. Alternatiewelik sou sekere subgroeperinge binne so ’n forum tot die stigting van meer partikulêre rade of forums kon oorgaan, of dit nou ’n Afrikanerraad, ’n “bruin Groep van 63”, ’n Afrikaanse Instituut of wat ook al is. Saam met reeds bestaande subgroeperinge soos die Nasionale Koisan Raad, sou sulke rade of forums dan binne die groter forum ten minste steeds binne hoorafstand van ander bly en die geleentheid hê om hul saak teenoor ander te bly stel. En ook al word die forum nooit iets anders as ’n blote gespreksforum nie, kan moontlike strategiese samewerking op spesifieke gebiede steeds daaruit voortvloei.

Dirk D het onlangs ’n soortgelyke gedagte op LitNet geopper en vroeër het ander deelnemers aan die Afrikaanse debat, soos Ockie van Schalkwyk, ook al my voorstel in dié verband gesteun. In my gesprekke met verskeie rolspelers op die taalfront het ek ook meerendeels steun vir dié gedagte gevind - van Praagiete tot regdeur by ondersteuners van die ANC. Die naam wat ek destyds vir so ’n inisiatief voorgestel het, is eenvoudig Die Afrikaanse Forum. Dit sou kon bestaan uit ’n jaarlikse Afrikaanse Beraad gekoppel aan ’n deurlopende internet-gespreksforum.

Etienne van Zyl meen, in sy reaksie op Dirk D, dat die tyd vir so iets nog nie ryp is nie. Sy argument kom basies daarop neer dat dit slegs sal slaag as Afrikaners nie meer ’n minderheidsblok binne die opposisiepartye vorm nie, maar in politieke opsig meer deel van ’n gevarieerde politieke landskap geword het.

’n Bykomende probleem, wat Etienne nie noem nie, is die moeilike vraag van wie die inisiatief met so ’n forum moet neem. Die probleem is eenvoudig dat elke organisasie wat tans met Afrikaans gemoeid is net ’n deel van die Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig en daarom in die oë van sommige ander Afrikaanssprekendes “bevlek” of “gestigmatiseer” is.

Praag het byvoorbeeld onlangs met ’n Konfederale Afrikanerforum begin, maar hul byeenkomste word slegs deur ’n baie beperkte deel van die Afrikaanse gemeenskap - of selfs die Afrikanergemeenskap - bygewoon. Die meeste Afrikaners stel eenvoudig nie daarin belang nie. Vroeër is die Groep van 63 juis gestig met die oog op ’n oop Afrikaanse debat gerig op die breë Afrikaanse gemeenskap. Vandag gee hulle self toe dat dit nie gewerk het nie omdat die samestelling van die Groep reeds van die begin af slegs ’n spesifieke sektor van die Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig het. Vir baie Afrikaners - en nog meer Afrikaanspraters - bied nóg die Groep van 63 nóg Praag ’n aantreklike tuiste. Hulle voel dat dié groeperinge nie hul belange op die hart dra of “namens hulle praat” nie. Dieselfde geld die Nasionale Koisan Raad of ’n eventuele “bruin Groep van 63”, om van politieke partye nie eers te praat nie. Ook tradisionele Afrikaanse organisasies soos die FAK of die ATKV kan nie as netwerkorganisasies optree om die hele Afrikaanse gemeenskap bymekaar te bring nie omdat dié organisasies, reg of verkeerd, steeds met die ou Afrikaner establishment geassosieer word - hulle gee dit self ruiterlik toe. En laat ek dadelik bysê: Die Taalsekretariaat, waarby ek betrokke is, kan net so min aanspraak daarop maak om namens die Afrikaanse gemeenskap te handel of te praat.

Tot dusver het die probleme wat ek hier identifiseer in die weg van ’n Afrikaanse Forum gestaan. Baie mense steun die idee, maar niemand kon die vraag van wie dit moet doen of hoe dit gedoen kan word bevredigend beantwoord nie. Ek meen egter dat ’n gulde geleentheid hom nou as’t ware uit die bloute voordoen om hierdie ideaal ’n werklikheid te laat word.

Ter agtergrond: Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) is ’n grondwetlike liggaam, onafhanklik van die regering, met die opdrag om veeltaligheid te bevorder. Behalwe vir die Raad bestaan dié liggaam uit ’n swetterjoel subkomitees, te wete Provinsiale Taalkomitees (PLKs) vir die 9 provinsies, Nasionale Leksikografiese Eenhede (NLEs) vir elke taal (in Afrikaans se geval die kantoor van die Woordeboek van die Afrikaase Taal of WAT) en ’n Nasionale Taalliggaam vir elke amptelike taal asook die sg “erfenistale”. Elke Nasionale Taalliggaam (NTL) het die opdrag om die betrokke taal waarvoor hulle verantwoordelik is landwyd te ontwikkel en te bevorder.

Die voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) is dr. Christa van Louw van Stellenbosch (voorheen hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) en die ondervoorsitter prof. Wannie Carstens van Potchefstroom (voorheen van die Taalkommissie). Die samestelling van die NTLA is verder breedweg verteenwoordigend van die Afrikaanse gemeenskap.

Tot dusver het die NTLA (net soos die ander NTLs asook die meeste PLKs en NLEs) nie juis veel uitgerig nie. Die rede hiervoor is hoofsaaklik ’n gebrek aan fondse wat op sy beurt saamhang met die veels te klein begroting wat PanSAT van die staat ontvang. Verlede jaar het die NTLA egter besluit om nietemin voort te gaan met die formulering van wat hulle noem ’n Nasionale Strategie vir Afrikaans.

Toevallig het daar in dié tyd ’n artikel in Beeld en Die Burger verskyn waarin die joernalis Annie Olivier berig oor die probleme wat Afrikaans onderwysers in swart skole ervaar. Sy het voorgestel dat daar ’n Afrikaanse Taalinstituut, soortgelyk aan die Alliance Francaise (vir Frans) of die Goethe Instituut (vir Duits) opgerig word om in hierdie en ander behoeftes te voorsien. Die FAK het toe besluit om ’n konferensie oor hierdie gedagte te reël met as tema “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”. Hoofsprekers by dié konferensie was dr. Christa van Louw as voorsitter van die NTLA, me. Ria Olivier van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en me. Maria Manyane, vakadviseur in Afrikaans in die Temba-distrik in Noordwes. Nie een van hierdie sprekers is ’n lid van die FAK of van die breër sg “kultuurhuishouding” waarmee die FAK amptelik assosieer nie. Buitendien is die konferensie ook bygewoon deur verteenwoordigers van organisasies buite die “kultuurhuishouding”, waaronder die Taalsekretariaat en die Meertaligheidsaksiegroep.

Sowel Van Louw as Olivier het in hul toesprake gevra dat daar nie onmiddellik voortgegaan word met die stigting van ’n Taalinstituut nie, maar eers bestek opgeneem word van bestaande aktiwiteite in belang van Afrikaans sodat daar dan ’n gesprek kan plaasvind oor die pad vorentoe. Van Louw het ook die vergadering ingelig oor die NTLA en die Nasionale Strategie vir Afrikaans wat hulle in die vooruitsig stel. Uit die gehoor was daar sterk steun vir die standpunt wat die sprekers geopper het. ’n Mosie is toe ingedien dat ’n voortsettingskomitee in die lewe geroep word om die moontlikheid van ’n taalbestekopname, ’n Afrikaanse beraad en ’n taalfonds te ondersoek en daaroor aan die Afrikaanse gemeenskap terug te rapporteer. Daarby het die vergadering besluit dat die komitee ten nouste met die NTLA moet saamwerk en Wannie Carstens, ondervoorsitter van die NTLA, is dan ook as voorsitter van die voortsettingskomitee aangewys. Die komitee wat genomineer is, het bestaan uit verteenwoordigers van verskillende organisasies, sowel binne as buite die FAK se “kultuurhuishouding” en het wit en swart eerste- en tweedetaalsprekers as lede. Die NTLA het op hul beurt onderneem om by die PanSAT-raad vir fondse aan te klop om die opname en die beraad te finansier. (Intussen het dit geblyk dat die hoof van PanSAT prof. Cynthia Marivate die NTLA-inisiatief van harte steun omdat sy meen dat, indien dit suksesvol is, dit ook vir die ander tale se NTLs as bruikbare model kan dien.) Hulle het ook begin om oor ’n breë front met Afrikaanse organisasies gesprekke te voer.

Hierdie besluit het die voordeel dat dit die sterk punte van respektiewelik die NTLA en burgerlike organisasies saamvoeg en sodoende vir hul onderskeie swak punte kompenseer: Die NTLA het nie veel finansiële middele of infrastruktuur nie, maar het wel die legitimiteit en neutraliteit wat met hul status as onderdeel van ’n grondwetlike instelling en hul verteenwoordigende samestelling saamhang. Die burgerlike organisasies beskik in baie gevalle oor aansienlike fondse en ’n indrukwekkende infrastruktuur, maar het nie die nodige legitimiteit of neutraliteit om ’n inklusiewe proses van gesprekvoering en samewerking in die Afrikaanse gemeenskap te inisieer nie. In die voortsettingskomitee en die aksies wat daaruit voortvloei, word die fondse en infrastruktuur van burgerlike organisasies nou met die legitimiteit en neutraliteit van die NTLA verenig - tot voordeel van beide en in belang van Afrikaans.

Hiermee is die probleem van wie ’n Afrikaanse gespreksforum kan inisieer uiteindelik opgelos. Ook die probleem wat Etienne van Zyl identifiseer, is opgelos omdat die betrokkenes by die proses sowel swart as wit, eerste- en tweedetaalsprekers, insluit en daarom nie ’n “minderheidsgroep wat in die oppossiepartye ’n politieke tuiste vind" verteenwoordig nie, maar ’n breë spektrum van belange en politieke standpunte.

Die voortsettingskomitee se werk het intussen so gevorder dat ’n taalbestekopname onder die vaandel van die NTLA (en by implikasie PanSAT) gedoen is. Ongeveer 2000 vraelyste is onder organisasies wat met Afrikaans gemoeid is, versprei en dié organisasies is versoek om dit ook binne hul netwerke te versprei en die NTLA in kennis te stel van enige organisasies of individue wat nog nie bereik is nie. Die NTLA het ook in mediaverklarings (oa op LitNet) en tydens radiogesprekke op RSG ’n versoek gerig dat organisasies en individue wat met Afrikaans werk met hulle kontak opneem. Die doel van die vraelyste is om ’n beeld te kry van watter organisasies daar is, wat hulle doen en watter hulpbronne hulle tot hul beskikking het. Die inligting wat op dié manier ingewin is (en vraelyste stroom steeds in) word tans verwerk. Die gegewens wat so verkry word, sal deur ’n span kundiges met reeds beskikbare navorsing oor die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika in verband gebring en geïnterpreteer word.

Die volgende stap wat deur die NTLA in die vooruitsig gestel word, is ’n Afrikaanse beraad gedurende die eerste helfte van hierdie jaar waar die bevindings van die taalbestekopname aan die Afrikaanse gemeenskap voorgelê sal word. In die lig hiervan sal daar dan by die beraad gesprek gevoer word oor die pad vorentoe vir Afrikaans, of te wel ’n Nasionale Strategie vir Afrikaans. Ook die moontlikheid van ’n taalfonds om aksies en projekte binne so ’n Nasionale Strategie te finansier, sal op die agenda wees. Beloftes vir bydraes tot so ’n fonds is reeds van individue asook die Taalsekretariaat en die vakbond Solidariteit ontvang en gesprekke met potensiële donateurs in die privaatsektor is in ’n beginstadium. Alle organisasies wat vraelyste ingestuur het asook enige belangstellendes sal na die Afrikaanse beraad uitgenooi word. Deelname is dus oop en inklusief en naas plenêre sessies sal daar kleingroepbesprekings oor spesifieke aangeleenthede wees waaraan enigeen kan deelneem.

’n Internet-gespreksforum wat by die beraad aansluit, sou goedskiks op LitNet se Taaldebat-ruimte, op die Afrikaanse afdeling van die Meertaligheidsaksiegroep se webwerf of op PanSAT se webwerf gevestig kon word. Alternatiewelik sou ’n nuwe webruimte spesifiek vir dié doel onder die vaandel van die NTLA geskep kon word.

Die Afrikaanse Forum waaroor daar al lank gedroom word, is dus besig om stadig maar seker beslag te kry. Uiteindelik bestaan die geleentheid nou

  • vir Ockie van Zyl en Dirk D om aan ’n breë Afrikaanse gesprek deel te neem,
  • vir Dan Roodt en sy Konfederale Afrikanerforum om hul saak aan die Afrikaanse gemeenskap te stel,
  • vir die Groep van 63 om hul minderheidsregte-benadering met ander wat belang by Afrikaans het te bespreek,
  • vir voorstaanders van ’n Taalinstituut om hul voorstel op die tafel te lê,
  • vir Jason Loyd om met potensiële lede van sy “bruin Groep van 63” te skakel en met die Hein Willemses van hierdie wêreld swaarde te kruis,
  • vir Maryna Blomerus om die saak van Afrikaanssprekendes in die buiteland aan die groot klok te kom hang,
  • vir Afrikaanse skrywers om die moontlikheid en wenslikheid van ’n nuwe Afrikaanse skrywersgilde in die teenwoordigheid van hul lesers te debatteer,
  • vir die Nasionale Koisan Raad om met ander etniese en nie-etniese groeperings in die Afrikaanse gemeenskap saam te werk,
  • vir die FAK, ATKV en ander tradisionele Afrikaanse organisasies om hul infrastruktuur in belang van almal wat Afrikaans wil praat aan te wend,
  • vir SêNetters en ander stryers om oor woorde soos “Afrikaner”, “Afrikaanses”, “Afrikaanse gemeenskap” en die idee van ’n Afrikaner- of Afrikaanse Raad te argumenteer,
  • vir voorstaanders van veeltaligheid om Afrikaanssprekendes te probeer oorreed om hul gewig by die veeltaligheidsbeweging in te gooi,
  • vir tweedetaalsprekers van Afrikaans, swart en wit, om hul behoeftes bekend te maak,
  • vir al hierdie mense en nog baie ander om te kyk hoe hulle op bepaalde gebiede kan saamwerk,
  • vir Etienne van Zyl om die hele proses met skeptiese kommentaar te dien en
  • vir almal wat Afrikaans praat - “bruin en bleek, kommuniste en Boere en boere en bittereinders en liberale, Dakar-pelgrims en agnostici en Boeddhiste en afvalliges en wederstrewiges en skrumskakels en alkoholiste en kerkmuise en kultuurkokkerotte en moffies en mekênnieks en vissermense sonder kwotas en vorige grensvegters en boepbewoners en nihiliste en diakens en gesellinne en filosowe en koffiedrinkers kortom, daardie ruie en ongetemde maar lewenskragtige verskeidenheid onafhanklikes en bywoners en sinmakers en useful idiots wat met reg daarop aanspraak kan maak dat hulle die ‘meerderheid’ Afrikaners is (maar nooit so aanmatigend sal wees om te dink hulle is ‘verteenwoordigend’ nie)” (met apologie aan Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee) - om die hele wonderlike spektakel in vervoering gade te slaan en te kyk wat daaruit voortvloei.

    Kom mense, laat ons hierdie inisiatief van harte ondersteun! Laat die vraelyste instroom! Meld julle aan vir die groot Afrikaanse makietie! Die e-posadres vir die taalbestekopname is taaloudit@mweb.co.za.



    LitNet: 4 Maart 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@yahoo.com om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.