Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Mobiliseer en konsentreer

    Dr. Bertie du Plessis

    Voorsitter

    Ek verstaan ek het 30 minute vir hierdie toespraak. Kom ons hou dit inderdaad kort en bondig. Ek aanvaar ook dat ek vanoggend met ’n gehoor praat wat so goed as heeltemal wit en Afrikaans is. En ek benader dus ons tema, “Taalprioriteite vir Afrikaans” met dié spesifieke gehoor in gedagte.

    Die beperkte bronne en geld

    Ja, ons het beperkte bronne wat betref mense en geld om Afrikaans te bevorder. Suid-Afrika is nie ’n węreldmag nie - ons is eintlik besonder klein op die globale toneel. Dink net: die waarde van die Amerikaners se hoendereierproduksie was al in 1978 groter as ons totale nasionale produk. Die foutgrens wat hulle vir hulle begroting toelaat, is ruimer as ons totale begroting. En binne hierdie klein ekonomie op die węreldtoneel is wit Afrikaanssprekendes ’n nog kleiner groepie: maar 2,6 miljoen uit ’n bevolking van 40 miljoen en met ’n lae aanwassyfer, sodat ons kan verwag om na verhouding nog minder te word in die volgende jare. Weliswaar besit die 2,5 miljoen sowat 35% van die Johannesburgse Effektebeurs en kan ons koopkrag binne die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n beduidende impak maak, maar ons is betreklik weerloos teen ekonomiese kragte van buite, soos die markinsinking van 1998 en die dalende Euro wat ons Rand meesleur, duidelik wys.

    Voeg hierby dat elke organisasie wat hom om op taal- en kultuurgebied beywer vir wit Afrikaners, nie ’n stortvloed aan fondse ervaar nie. Wit Afrikaanse mense gee nie graag geld vir die taal nie, het die afgelope aantal jare ons geleer.

    Waarvoor kom daar wel geld? As daar konkrete produkte, veral vermaak, in ruil daarvoor ontvang word; om vakansie te hou tussen ander wit Afrikaanssprekendes; musiekkompetisies en konserte (ATKV); volksfeeste met ’n intellektuele inhoud, maar waar jy joviaal kan ontspan (KKNK, Aardklop en hul afstammelinge); en gesellige, parmantige tuisvermaak op TV onder die leuse “tuis in Afrikaans” (kykNET). Hierbenewens weet ons dat Afrikaanse ouers bereid is om byna enigiets te spandeer as dit by hul kinders se opvoeding kom - in die praktyk beteken dit (ongelukkig) al hoe meer dat Afrikaanse ouers bereid is om buitensporige somme geld te betaal om hul kinders in Engelse privaatskole te hou.

    Kom ek gebruik ’n beeld: Ons is sterk genoeg om skommelinge in die plaaslike weer met goeie beplanning en spaarsamigheid te oorleef, maar weerloos teen geologiese klimaatverskuiwings soos ’n globale verwarming.

    Mobiliseer

    In die lig van hierdie feite, hoe probeer ons ons probleme oplos? Wit Afrikaanssprekendes maak somme en sien dat ons dadelik ons menslike hulpbronne byna kan verdubbel as ons die swart en bruin gebruikers van Afrikaans bytel (na 5,8 miljoen in totaal of 14,4% - jongste sensussyfers) wanneer ons by die regering gaan beding. Die probleem is dat ons by swart en bruin sprekers slegs marginale belangstelling sien vir die handhawing van Afrikaans in sy tradisionele betekenis. Daar is tot dusver nog niks wat as ’n taalbeweging onder swart en bruin gebruikers van Afrikaans beskryf kan word nie. Ons het geen mandaat van hulle nie. Dit maak die gebruik om die volle getal van Afrikaanssprekendes te noem wanneer by die regering of maatskappye beding word vir taalregte, blatante misleiding. Natuurlik het swart en bruin gebruikers van Afrikaans niks minder nie as ’n weersin daarin om as “taalvee” (dr. Jakes Gerwel se woord) nader getrek te word vir wit Afrikaanssprekendes se taalagenda. Hulle voel nie soos die meerderheid wit Afrikaanssprekendes polities ontheem na 1994 nie. Die politieke onderstrominge wat wittes se taalstryd voed, is vir hulle gewoon irrelevant.

    Dit moet glashelder wees dat indien Afrikaans nie deur sy volle taalgemeenskap entoesiasties bevorder gaan word nie, die kanse skraal is dat volgende geslagte ’n ruim en geskakeerde Afrikaans tot hul beskikking gaan hę.

    Prioriteit een: Breek die afsondering tussen Afrikaanse taalgemeenskappe

    Een van die eerste strategieë wat na 1990 gebruik is om die afsondering af te breek, was dié van “innooi”. “Ons” het mos “ons” kultuurorganisasies, kom ons stel lidmaatskap oop vir alle rasse en groepe en vra dan ’n paar sleutelfigure om te kom aansluit. Die resultate spreek vanself. Jy kan dalk ’n meerderheid swartes in jou organisasie kry (wat nooit gebeur het nie), maar die agenda is ’n wit agenda (deur wit politieke waardes en ideale bepaal) - dan bly dit ’n wit organisasie.

    Die volle krag van Afrikaans se sprekers kan eers gemobiliseer word wanneer wit gebruikers van Afrikaans die agenda van swart en bruin gebruikers van Afrikaans ernstig opneem. Wat op daardie agenda staan het ek in my verslag “Oorgang” (sien ook die Augustus uitgawe van die tydskrif Insig) vir die Stigting van Afrikaans probeer verwoord vir so ver ek dit uit openbare stukke kon agterkom en soos wat swart en bruin meningsvormers bereid was om my in hul vertroue te neem.

    Dit is om hierdie rede dat dit belangrik is om die taalgesprek by taalsake te hou en dit nie te voed met politieke kwessies nie. Immers: ons swart en bruin gebruikers van Afrikaans ondervind nie na 1994 die gevoel van politieke ontmagtiging wat wit gebruikers ondervind nie.

    Daar is ligpunte op hierdie gebied. Die vernaamste en verstommendste is hoe bruin gebruikers van Afrikaans na 1994 hul toekeer tot Afrikaanse produkte gemaak het: Die Burger het nou 60% bruin lesers. Die gewilde TV-program Maak ’n las se kykers is oorwegend bruin. Hoe gaan ons hierdie spontane vereenselwiging verder voed? Swart en bruin gebruikers van Afrikaans het ook duidelike leierskap op kulturele gebied.

    Konsentreer

    As die eerste belangrike gevolgtrekking uit my inleiding is dat ons nie kan bekostig om ’n enkele Afrikaanssprekende in die taalgemeenskappe te verloor nie, dan is die tweede sonder twyfel dat ons mensekrag en geld te effens is om ons dun te smeer oor die volle oppervlak van die samelewing.

    Hierby kom ’n verdere deurslaggewende oorweging wat tot so onlangs as November verlede jaar toe ek my opdrag ontvang het, kontroversieel kon wees, maar nou nie meer nie, omdat die verskynsel in die afgelope maande duidelik geboekstaaf word. Dit is dat daar ’n soort tektoniese verskuiwing sedert 1994 tussen die taalkontinente besig is om plaas te vind wat in die afgelope aantal maande nie meer met die kruipende snelheid van geologiese tyd plaasvind nie, maar eerder eksponensieel toeneem. Fortune tydskrif van 18 September (bll. 77-79) berig uitvoerig daarvan. Dit is die verskynsel dat al hoe meer maatskappye węreldwyd, veral in Europa, onder die invloed van globalisering soos gedryf deur die węreldwye web hul amptelike voertaal Engels maak. Totalfina Elf, die tweede grootste Franse maatskappy, het dit onlangs gedoen en Axa, die grootste Franse maatskappy, se de facto-voertaal is reeds - in Frankryk - Engels.

    Ons mors ons tyd, en ons gaan toenemend Afrikaanse sakemense vervreem, indien ons konsentreer op maatskappye se interne voertaal en hul besigheid tot besigheidskommunikasie. Of ons daarvan hou of nie, ons maatskappye sal dieselfde moet doen - as hulle dit nog nie gedoen het nie - wat Totalfina Elf en soveel ander Europese maatskappye gedoen het as hulle kompeterend wil bly.

    Aanvaar dat besigheid-tot-besigheid-kommunikasie in Engels gaan wees vir die volgende dekades, indien nie langer nie. Aanvaar dat dit tot gevolg gaan hę dat die interne taal van die meeste maatskappye hoofsaaklik Engels gaan wees, maak vrede daarmee en gee jou aandag, geld en tyd waar jy nie teen “globale verhitting”, teen geologiese verskuiwings moet veg nie. As Frans en Duits en Sweeds dit nie kan doen nie, gaan ons dit ook nie regkry nie.

    Waar moet ons konsentreer?

    Prioriteit Twee: Konsentreer op die verbruikersintervlak tussen ondernemings en hul Afrikaanssprekende mark

    Globalisering maak ’n venster van moontlikheid oop vir kleiner tale soos Afrikaans wat nie vroeër bestaan het nie. Ons kompeteer nie nou meer ook nog teen Frans, Duits, Spaans, ens. nie. Dit is nou net Engels. Terselfdertyd gebeur iets anders. Mense voel nie tuis in ’n vae, algemene globale węreld nie. Ons sien orals in bemarking hoe mense verdig in kleiner groepe, “troppe” en “stamme” wat hul identiteit vind in dié of daardie produk of produkte. Taal kan ook so ’n middel tot identiteit wees. Afrikaans kan dit uitstekend wees. Daarom moet ons in die sakewęreld ons kragte en fondse konsentreer op verbruikersbemarking. Daar kan ons ons koopkrag laat geld en aandring op kommunikasie in Afrikaans. Hier is ons aan die wenkant van die groter verskuiwings wat węreldwyd plaasvind. Maak gebruik van gesonde, normale ekonomiese kompetisie en die resultate sal weldra volg.

    Die terugkeer van Afrikaanse nuus en ander programme op ’n gereelde tyd op SABC is hiervan die sprekende bewys.

    Terwyl besigheid-tot-besigheid-kommunikasie Engels gaan wees vir die afsienbare toekoms, kan besigheid-tot-kliënt-kommunikasie ’n blink toekoms vir Afrikaans voorspel.

    Prioriteit drie: Onderwys aan die mark van môre

    Die kinders wat nou op die skoolbanke sit, sal bepaal óf Afrikaans gepraat gaan word, en hoe geskakeerd die Afrikaans is wat oor twee, drie dekades gepraat gaan word. Indien die tendens toeneem dat Afrikaanse ouers hul kinders na veral Engelse hoërskole toe stuur, verswak ons Afrikaans se kanse op oorlewing.

    My ondersoek het aanvanklik twee redes aangedui waarom ouers hul kinders na Engelse skole toe stuur:

    1. Die kind moet goeie Engels bygebring word.
    2. Die gehalte van die rekenaarsteun.

    Maar daar het nou ’n derde faktor bygekom, naamlik:

    1. Kan my kind ’n eksterne matriek soos die Cambridge matriek skryf?

    Wil ons Afrikaanse kinders op Afrikaanse hoërskole behou, moet ons dus die gehalte van die Engels op ons Afrikaanse skole verhoog. Daar is op die oomblik interessante inisiatiewe rondom IT-steun by Afrikaanse skole waaroor nog in die komende maande wyd berig sal word. Voorlopig net: hier kan ons befondsing ’n enorme verskil maak aan die voortbestaan van Afrikaans.

    Prioriteit vier: Streekskonsentrasie

    Afrikaanssprekers (en hier tel ek nou ook swart en bruin sprekers by, asof daar werklik eenstemmigheid onder die verskillende Afrikaanssprekende gemeenskappe bestaan!) het ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap en Noord-Kaap, is die tweede taal in Gauteng (waar 20% van Afrikaanssprekendes woon) en ook die tweede taal in die Vrystaat en die Oos-Kaap. Dit is tog duidelik dat ’n streekgerigte benadering by die pleit vir taalregte ’n veel groter kans op sukses het as aandrang binne nasionale verband. Hier is die basis solied en kan die universiteit of universiteite gevestig word en die openbare funksies in die openbare sektor met reg verdedig word.

    Ek sluit af met die titel van my toespraak: Mobiliseer en konsentreer - maar waar dit saak maak. Anders is dit neusie verby.

    Dankie!

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.