Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Taaldiversiteit in ’n geglobaliseerde samelewing

Prof Koos du Toit

Dis ’n kwessie van die hart en verstand

As jy die land tot as wil verbrand moet jy met die taal van ’n groep peuter … As Afrikaners bereid is om die uitdaging van die nuwe Suid-Afrika te aanvaar sal ek verseker voel van hulle lojaliteit. Ek sal dan die kosbare geestegoedere van die Afrikaner beskerm asof dit my eie is.

Aldus mnr Nelson Mandela as president in Januarie 1996 voor ’n groep NNP politici.

Op die grondvlak en in die taal van die gewone man sê een van die tien verteenwoordigers van inheemse tale by Tabema en die SABC se Language Workshop op 3 Augustus 1999:

Ek wil nie in Engels praat nie, ek wil in die taal van my hart praat.

En op die vlak van die “reënboognasie” maak pres Thabo Mbeki op 9 Oktober 1999 tydens die opening van die ABO-herdenkingsbyeenkomste op Brandfort die volgende uitspraak oor ons taal- en kulturele verskille:

We will not permit it that our differences in terms of race, colour and culture serve as cause for us to treat one another as other than South Africans who share a common patriotism and common destiny. Neither shall we permit it that any of our languages, our cultures and religions is reduced to a position of inferiority or domination by another.

Die krag van enige taal is beslis nie slegs geleë in die feit van hoeveel mense dit as moedertaal praat nie. Die geskiedenis van die ontstaan en veral die ontwikkeling van Afrikaans tot moderne inheemse taal hier aan die suidpunt van Afrika getuig hiervan. As dit alles net van getalle of politieke mag moes afhang, sou die pogings van die Genootskap van Regte Afrikaners vanuit die Paarl teen die einde van die 19de eeu geswig het voor die stroom van Britse taal- en kulturele imperialisme. En sou “die idee” waarvoor die Victoria Kollege in 1913 onder leiding van prof A Moorrees, dr DF Malan en mnr JG van der Horst sekerlik nie gestalte gevind het in ’n Afrikaansmedium-universiteit van Stellenbosch in 1918 nie.1

Met die oorgang van die Victoria Kollege na ’n selfstandige universiteit in 1918 sê die destydse professor in die filosofie, prof NJ Brümmer oor “de universiteit en de landstaal”:

De noodzakelikheid van door de eigen taal te worden onderricht, wordt in onze dagen algemeen erkend, behalve waar men met autokraten en slaven te doen heeft. 2

Dit is seker minstens ’n groot stuk van die waarheid dat die onderliggende kragte van die eerste taalstryders, verskeie van hulle afstammelinge van Hugenote, ’n strewe was na vryheid en selfverwesenliking in die moedertaal. Toe al, in JC Steyn se woorde: “ ’n Tuiste in eie taal.” 3

En dan is dit waarskynlik ewe waar dat dit vir die bruin man wat hier digby die ou Hoofgebou van die US vir my gesê het: “Kyk mooi na onse taal,” eweseer gaan om die praktiese betekenis van wyle prof Johan Combrink se woorde:

My moedertaal is die naaste wat ek het aan ’n eie vaderland.

Só ook, meen ek, kom een van die sterkste kragte van taal, selfs dié van Afrikaans “die apartheidstaal” na vore: wanneer ná bykans ’n halwe eeu van geïnstitusionaliseerde rasse-apartheid, mense oor die kleurgrense heen in een taalgemeenskap gebind kan word. En só kan Afrikaans nét so ’n lingua franca, en nét so ’n bindende krag soos Engels in ons reënboognasie wees. Trouens, in dié verband het wyle Jan Rabie gesê:

Afrikaans is een van Suid-Afrika se trotse veelrassige prestasies.

So ver terug as 1922 sê ds JF Naudé van Graaff-Reinet:

Taal is die siel van ’n volk. ’n Volk wat sy taal verloor, verloor sy hele karakter.

En in dieselfde gees is daar ’n uitdrukking in Friesland wat lui:

Hy wat homself langs die pad weggooi sal deur niemand anders opgetel word nie.

Maar in ’n postapartheid Suid-Afrika, onder die druk van “politieke korrektheid”, en op die golf van transformasie en regstellende aksie, het selfs Afrikaanssprekendes egter ewe skielik met groot skroomvalligheid na hul moedertaal en sy status en funksies in Suid-Afrika begin kyk. Teen hierdie agtergrond het dit sin om kortliks te let op die ander kant van die proses van globalisering, naamlik die diversifikasie van tale, die verinheemsing van die eie en die unieke, en die beklemtoning van taal- en kulturele groepsidentiteite.


Taal- en kulturele identiteite in ’n geglobaliseerde wêreld

Net na die val van die Berlynse muur voorspel Alvin Toffler in sy omvattende studie van wêreldwye magsverskuiwings, Power Shift (1990) dat “massa-demokrasie” gaan verander na “mosaïek-demokrasie”. Daar was volgens hom toe reeds groeiende weerstand teen die smeltkroes- (“melting pot”) ideologie. Volgens dié skrywer eis etniese en godsdiensgroepe al hoe meer die “reg” om “anders” te wees. 4

In 1996 verskyn ’n ewe omvattende publikasie van Samuel Huntington met die titel The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order. Van besondere betekenis vir ons veeltalige en multikulturele situasie in Suid-Afrika is Huntington se veralgemenings oor taal en godsdiens as die sentrale elemente in kultuur en beskawing.

In verband met die taal maak hy die volgende stellings wat van direkte toepassing is op ons veeltalige en nuwe demokrasie:

Engels as ’n wêreldtaal fasiliteer interkulturele kommunikasie. Die taal vorm dus die brug tussen die verskillende kulture. Maar Engels of enige ander taal as ’n lingua franca “is a way of coping with linguistic and cultural differences, not a way of eliminating them. It is a tool for communication not a source of identity and community.” (Kursivering myne)

Oor die gebruik van die inheemse tale en die demokratisering van nie-Westerse samelewings sê Huntington:

To the extent that non-Western societies establish democratic institutions and the people in those societies participate more extensively in government, the use of Western languages declines and indigenous languages become more prevalent.

Na aanleiding van voorbeelde van wat in Oos-Europa ná die einde van die Sowjet-ryk en die Koue Oorlog gebeur het, kom Huntington tot die volgende gevolgtrekking:

Language is realigned and reconstructed to accord with the identities and contours of civilizations. As power diffuses Babelization spreads. 5

En só ontwikkel in ons geglobaliseerde wêreld inderdaad ook ’n verinheemsing van die eie en unieke.

Nader tuis, ten opsigte van Afrika beweer Kwasi Kwaa Prah in Mother Tongue for Scientific and Technological development in Africa (1995) dat die kontinent se agtergeblewenheid tot ’n hoë mate te make het met die feit dat die tale van die koloniste (Engels, Frans en Portugees) deur die klein heersende elite as amptelike tale gebruik word, terwyl die breë massa agtergelaat word in hulle moedertale. In dié verband meen Prah:

… African languages may be today possibly the most crucial missing link in the planning, propagation and development of culture, science and technology based on known and historical foundations rooted in the practices of the people. 6

By wyse van terugskouing oor meer as ’n eeu: was dit nie juis hierdie onlosmaaklike verbondenheid tussen die moedertaal en die kulturele, wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling van sy sprekers wat nog altyd die grondslag gevorm het van die Afrikaanssprekendes se prestasies en sinvolle bestaan hier aan die suidpunt van Afrika nie?


Die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika: dis ’n stryd teen persepsies, onkunde en vooroordele.

By wyse van terugskouing: die dramatiese politieke magsverskuiwing sedert 1994 en die WVK-verhore met veral Afrikaanssprekendes in die beskuldigdebank het onvermydelik die persepsie oor Afrikaans as (enigste?) “gedemoniseerde” taal, “onregmatig bevoordeelde taal”, “besmette taal” en “taal van die onderdrukker” versterk. En met die land se Openbare Uitsaaier, veral die SABC-TV wat besluit het dat Engels die “ankertaal” is, en met ons prestige-vervoerdiens, SAL, getransformeer na SAA, het letterlik van bo af na alle vlakke die persepsie posgevat dat Suid-Afrika wat die taalkwessie betref, maar dieselfde pad as postkoloniale Afrika sal volg. Soveel só dat toe die SAUK, getransformeer na SABC, sedert Februarie 1996 met sy nuwe taalgroepering op sy TV-kanale, Afrikaans saam met die ander 9 tale as inheems en “gemarginaliseerd” gegroepeer het, ’n politieke ontleder met reg opgemerk het:

Dit is die dood in die pot vir Afrikaans se status as amptelike taal gelykstaande aan Engels.

Die waarheid van hierdie stelling is sedertdien bewys in die feit dat Afrikaans se posisie as wetenskaps- en akademiese taal tans in die gedrang is.


Taalverskuiwing sedert 1994

In ’n omvattende verslag onder die opskrif Taalverskuiwing sedert 1994 — Die prosesse van bevoorregting, ontmagtiging en verwaarlosing deur die Vrydaggroep, het 24 navorsers feitelike inligting in dié verband versamel. Die ondersoek is in agt groot sektore verdeel: Regering en Administrasie; Parastaatsliggame; Regswese; Wetenskap en Tegnologie; Media en Kommunikasie; Onderwys; Sport en Ontspanning; en Sakewêreld.

In die lig van die empiriese bevindings oor die sistematiese afskaling van Afrikaans op haas alle terreine, die verwaarlosing van die Afrikatale en die miskenning van die Grondwet in dié verband, word in die Bestuursopsommings onder andere die volgende gesê:

Die faktor wat egter nuut is, is die omvang en graad van bevoorregting, ontmagtiging en verwaarlosing waartoe daar in die sewe jaar sedert 1994 gekom is. (Kursivering myne)

In dié verband word gesê:

Die bevoorregting van Engels staan onmisverstaanbaar oor die Regering se hantering van die land se taalboedel geskryf.

En só ook ten slotte:

Die verwaarlosing van die Afrikatale het kontakpunte met die verontregting van Afrikaans. Dit verbaas egter nie, omdat albei as gevolg van die bevoorregting van Engels sedert 1994 die status van gemarginaliseerde tale beklee. 7

In die publikasie Kruispad — Die toekoms van Afrikaans as openbare taal word veral gefokus op die afskaling van Afrikaans as universiteitsonderrigtaal en as wetenskapstaal. In ’n hoofstuk onder die opskrif “Menings van die publiek” en wat veral fokus op taaloorlewing, meen Lawrence Schlemmer,

… die senior Afrikaanse akademici is duidelik nie almal aan die taalsaak toegewyd nie. Hulle, asook party leiers van kultuurorganisasies het duidelik ander prioriteite.

En dan vra hy, na aanleiding van die tendens om parallelmediumonderrig aan Afrikaansmedium-universiteite in te voer, of hulle

… gaan skuil agter die misleidende en kortstondige sekuriteit wat parallelmediumonderrig bied en toelaat dat die taal uiteindelik op hulle kampusse vervreem word?

Maar veel meer as “vervreem”, sal Afrikaans dan “onthoof” wees. Aldus Lawrence Schlemmer en Hermann Giliomee in hul slotgevolgtrekkings oor Afrikaans wat by ’n kruispad is. 8

En dit is die enigste redelike gevolgtrekking indien daar gelet sou word op die feit dat Afrikaans, nes alle ander tale, groot of klein, sy seggingskrag en insette in ’n geglobaliseerde wêreld slegs as ’n taal ook van die akademie en wetenskap kan behou.


Die kwessie van die verstaanbaarheid van Afrikaans vs Engels, en Engels as enigste lingua franca in Suid-Afrika

Die afskaling van Afrikaans het vanselfsprekend veral te make met die persepsie dat alle Afrikaanssprekendes tog Engels verstaan. En so ook met die persepsie dat Engels die enigste lingua franca in Suid-Afrika is.

Daar is egter sosiolinguistiese feite soos die volgende wat weer die pendulum kan laat terugswaai na meer redelikheid ten opsigte van die bevordering van Afrikaans en van veeltaligheid in Suid-Afrika.

In MarkData se verslag Language Use and Language Interaction in South Africa — A National Sociolinguistic Survey, is onder andere ondersoek gedoen oor die verstaanbaarheid van die onderskeie tale, asook meer spesifiek die vlak waarop die toesprake of uitsprake van prominente leiers verstaan word. Hieroor veralgemeen die verslag soos volg:

The results show that more than 40% of the people in South African often do not, or seldom, understand what is being communicated in English. Even among Afrikaans speaking people, about 26% have problems in understanding the communication. Among speakers of African languages, generally fewer than 20% of the people understand the communication fully. This amounts to inadvertent exclusion of the very people who are targeted for support by politicians.

Met insluiting van hul huistaal verstaan volgens dié opname 29% van ons land se inwoners Afrikaans, teenoor 36% wat Engels verstaan. Met inagneming van die wyer geografiese verspreiding van Afrikaans is dit dus duidelik dat dié taal in net so ’n mate beskou sou kon word as ’n lingua franca in Suid-Afrika. Dit is ook insiggewend dat 54% van die Afrikaanssprekendes Engels verstaan, teenoor 50% van die Engelssprekendes wat wel Afrikaans verstaan. 9

In ’n publikasie getitel The Case Against Bilingual and Multilingual Education in South Africa meen Kathleen Heugh dat die konsekwente praktiese toepassing van die beleid van moedertaalonderrig in Suid-Afrika gekniehalter word deur wanpersepsies veral oor die funksies van Engels in ’n veeltalige samelewing. Onder die opskrif “Misconceptions, myths and misdiagnosis” het sy dit onder andere oor mites soos dat Engels die enigste taal is wat werklik kwaliteitsonderrig kan verskaf, en dat tweetalige of veeltalige onderwys te duur sou wees. 10

Ook op die vlak van die uitsaaiwese is daar soortgelyke persepsies wat uit die hantering van Afrikaans en die skedulering van programme blyk, soos byvoorbeeld dat alle Afrikaanssprekendes Engels kan/moet verstaan, maar dat die omgekeerde nie waar is nie; dat Afrikaans en Engels op een TV-kanaal (soos dit op die ou TV1 was) polities afkeurenswaardig (“politically objectionable”) is, en dat, so is tydens die transformasie van die SAUK na SABC beweer, Engels “die ankertaal” en “taal van aspirasie” is; en dat die swart mense programme in Engels bo Afrikaans verkies, en so is ook aanvanklik gesê: “Swart mense wil nie Afrikaans op hulle TV-skerms sien en hoor nie.”

Sedert 1996 het al die AMPS-gegewens in verband met kyker- en luisteraars-gedrag die teendeel van hierdie persepsies bewys. Soos oral in die wêreld, verkies kykers en luisteraars in Suid-Afrika kommunikasie in hulle moedertaal. En in ’n multikulturele samelewing en geglobaliseerde wêreld verkies hulle dié programme in hulle moedertaal, of in hul tweede taal, waarmee hulle hulself maatskaplik en kultureel kan identifiseer. 11

Referaat gelewer by die jaarvergadering van die Akademie

1 Smuts Frans (redakteur) (1979). Stellenbosch Drie Eeue. Stellenbosch: Stadsraad en Oude Meester Groep: 336.

2 Brümmer, NJ (1918). De Afrikaner en de Universiteit. Herdruk uit Gedenkboek van Het Victoria Kollege, Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt: 3.

3 Steyn, JC (1980). Tuiste in eie taal — Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad, Tafelberg.

4 Toffler, Alvin (1990). Power Shift. New York: Bantam Books: 250.

5 Huntington, Samuel P (1996). The clash of civilizations and the remaking of world order. New York: Simon & Schuster: 59, 61, 64.

6 Prah, KK (1995). Mother tongue for scientific and technological development in Africa. Bonn: German Foundation for International Development: 9.

7 Van Rensburg, FIJ, Malherbe, EFJ, Landman, KJH (reds) (2001). Taalverskuiwing sedert 1994 — Die prosesse van bevoorregting, ontmagtiging en verwaarlosing. Kaapstad: Die Vrydaggroep en Naspers: 63-67.

8 Giliomee Hermann (Red.), Schlemmer Lawrence (Red.), Alexander Neville, Du Plessis Bertie, Loubser Max (2001). Kruispad — Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg: 114, 118.

9 MarkData (Pty) Ltd (2000). Language use and Language Interaction in South Africa — A National Sociolinguistic Survey. Pretoria: Pan South African Language Board: 138, 176.

10 Heugh Kathleen (2000). The Case Against Bilingual and Multilingual Education in South Africa. Cape Town: Project for the Study of Alternative Education in South Africa (Praesa), UCT: 11.

11 AMPS-gegewens en menings soos opgeteken in Tabema se voorleggings aan die SAUK.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.