Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Kom tuis in Afrikaans

Bertie du Plessis

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Agtergrond

    Die Stigting vir Afrikaans het my begin November 1999 opdrag gegee om ’n ondersoek te doen na die bemarking van Afrikaans.

    Hierdie ondersoek is einde Februarie 2000 voltooi en voorgelê aan die Trustees van die SvA. Op hul inisiatief het ek intussen landwyd begin met ’n reeks aanbiedings oor die resultate. Na aanleiding van een van hierdie aanbiedings het Insig my gevra om ’n opsommende artikel oor my ondersoek vir die tydskrif te skryf.

    Hulle het die artikel onder die opskrif geplaas: “Maak Afrikaans ’n komtuistaal”, ’n titel wat ek ’n uitstekende ingewing gevind het (nietemin het sommige lesers steeds “kombuistaal” gelees!).

    Ons beskou hierdie as ’n platform om nog idees te versamel en so die dokument lewend te hou.

    Hier volg die artikel. Aan die einde voeg ek ’n aantal reaksies by op sowel die artikel as die aanbiedings wat ek tot dusver gehou het om die gesprek koers te gee.

    Maak Afrikaans ’n komtuistaal

    Ons ken daardie bieradvertensie almal: Die man stoot ’n trollie vol van die blikkies oor ’n besige straat, gaan in by ’n gebou en op met die hyser tot by die daktuin waar sy pêlle om ’n braaivleisvuur kuier dat die rook trek. Daar wapper ons vlag en hier kom die bier.

    Dis lekker by die huis!

    Dan kom die groter prentjie. Hulle is bo-op ’n gebou in New York, baie ver van die huis af. Die boodskap is baie duidelik. Daardie bier laat jou tuis voel.

    Dit sê vir my iets van hoe ons oor Afrikaans moet dink, want Afrikaans is ’n nis-produk; dis die taal waarin Afrikaanssprekendes tuis kom, daarom kan dit vir jou dinge doen wat geen ander taal kan nie. Maar dit beteken ook dat dit nie in vandag se global village ’n teenvoeter vir Engels kan wees nie.

    Kom ons gaan haal die storie in 1994 — waar baie mense begin as hulle oor die ‘agteruitgang’ van Afrikaans lostrek. Baie wit Afrikaanssprekendes hou die regeringsverandering van daardie jaar verantwoordelik vir omtrent alles wat Afrikaans in die afgelope jare benadeel het. Die feit is egter dat alle tale, nie net Afrikaans nie, sedert 1994 onder druk gekom het.

    ’n Enkele sprekende voorbeeld is dat die voertaal van Electrolux, een van Swede se mees gerespekteerde maatskappye, by sy hoofkwartier in Stockholm gedurende die afgelope jaar van Sweeds na Engels verander het. Die ANC-regering kan daarmee sekerlik niks te doen hê nie! In Frankryk probeer die Franse Akademie angstig wal gooi, maar ’n jong geslag entrepreneurs steur hulle nie aan die ou ooms nie en speel lustig die nuwe taalspel waarby Engels nie meer die vyand is nie. Talle ander voorbeelde kan opgeroep word.

    Die jaar 1994 is van groter belang vir Afrikaans, omdat dit die jaar was waarop die Internet in die gedaante van die wêreldwye web sy deurbraak gemaak het.

    Dit het ’n sterker invloed op die taalsituasie gehad as die politieke verandering. Afrikaanssprekendes kyk dikwels te veel vas teen 1994 as die jaar waarin ’n meerderheidsregering aan die bewind gekom het en sien daarmee nie die kern van die taalprobleem raak nie.

    Veel groter nugterheid kan in die taaldebat kom as meer mense hierdie eenvoudige waarheid wil besef: die web het ’n groter invloed op Afrikaans as die huidige SA regering. Terloops, die geweldige impak van die web maak ook dat min van die taalsosiologiese navorsing wat voor 1994 gemaak is en handel oor die voortbestaan van tale, waarskynlik vandag nog sonder meer geldig is. Ons is eenvoudig in ’n nuwe tydvak.

    Maar, kan ’n mens vra: Is die web en globalisering net ’n bedreiging? Is daar nie dalk ’n innoverende manier waarop ’n mens globalisering as moontlikheid kan benut om deure vir Arikaans oop te maak nie?

    Die antwoord is ’n energieke ‘Ja!’ Daar het ook ’n venster met uitsig oopgegaan. Die web en globalisering het ’n situasie laat ontstaan soos in die Middeleeue, toe daar ’n algemene internasionale taal was, Latyn, met bloeiende volkstale daarnaas. Selfs so laat as die Renaissance, toe Shakespeare sy dramas in Engels geskryf het, was daar byvoorbeeld nie ’n Engelse universiteit in Engeland nie. Oxford en Cambridge was Latynse universiteite — alle universiteite dwarsoor Europa was Latynse universiteite!

    Tog het Latyn nie die volkstale doodgemaak nie. Hulle het bly voortbestaan tot in die nasionalistiese tydvak toe hulle hoër funksies verkry het. Vandag beleef ons ’n ommekeer van die beweging. ’n Mens hoef vandag net Engels te ken om dwarsoor die wêreld te kan kompeteer. Jou moedertaal anker jou lokaal en in Suid-Afrka kan jy ’n nog ’n swart taal byleer as welwillende gebaar binne ’n veeltalige gemeenskap.

    Omdat daar so ’n duidelike wenner op globale gebied is, is daar nou ruimte vir die ander tale om binne ’n nis te bloei. Die geheim is dat jy reg moet bemark. Te dikwels word Afrikaans opgeveil as ’n taal wat alles kan doen wat Engels kan doen: dis ’n wetenskapstaal, taal van hoë letterkunde, en so meer.

    Die swakpunt van hierdie benadering is dat dit Afrikaans waarskynlik meer benadeel as bevoordeel. Wanneer ’n produk wat die naasgrootste markaandeel het (B) homself promoveer daarmee dat hy alles kan doen wat die produk met die grootste markaandeel (A) kan verrig, verwerp die mark gewoonlik B. Produk B moet homself as iets op sy eie bemark. Afrikaans moet bemark word as ’n produk wat vir moedertaal-Afrikaanssprekendes iets doen wat Engels nie noodwendig kan nie.

    Afrikaans kan hom nou posisioneer as iets spesiaals: as ’n taal van die persoonlike, die egte, wat jou lokaal veranker. Jy swerf deur die wye wêreld, doen talle sake in Engels, maar kom tuis en haal jou das af, skop jou skoene uit in Afrikaans. Dit is die taal van jou gehaltetyd.

    Natuurlik wil jy in jou gehaltetyd ook oor die wêreld daar buite verslag kan gee. Jy wil nie net oor huislike dinge praat nie. Daarom is hoër funksies van die taal belangrik. Tog is die krag van jou nis-produk geleë in sy vermoë om jou na jou Afrika-wortels toe terug te voer: onopgesmuk aards, maar tegelyk heeltemal byderwets.

    Saam met die konsep van ’n nis-produk gaan streeksgerigtheid. Afrikaanssprekendes is in die Wes-Kaap (59%) en Noord-Kaap (69%) verreweg in die meerderheid. In Gauteng woon 20% van alle Afrikaanssprekendes. In die Vrystaat en die Oos-Kaap is Afrikaans die tweede taal. As op hoër funksies gekonsentreer word, doen dit daar. Dit maak getallegewys eenvoudig meer sin as om vir die land in sy geheel gelyke aansprake te wil maak.

    As ’n mens Afrikaans vandag in ons nuwe omgewing wil bemark, moet jy noodwendig ook kyk na ander metodes as die geykte maniere waarop Afrikaans voorheen bevorder is. Nie dat ‘bemarking’ nou ’n nuwe tower-oplossing is nie, maar dit was ten minste ’n vars metafoor wat feite in nuwe verbande na vore laat kom het. Een van die belangrike gevolge was dat ’n mens gedwing is om te dink aan hoe jy Afrikaans deur oorreding kan bevorder in plaas van deur aandrang op taalregte. Die klem het geval op hoe maak jy jou idees aantreklik sodat mense jou ‘produk’ vrywillig ‘koop’.

    Dit het in elk geval gou duidelik geword dat veral swart en bruin gebruikers van Afrikaans min erg het aan tradisionele handhawingsaksies. ’n Uitdrukking wat telkens opgekom het, was: ‘Waarom so bekommerd wees oor ’n abstraksie, taal? Wees liewer besorg oor die mense wat die taal praat!’

    Hierdie insig het die fokus verskuif weg van die bevordering van ’n taal, na die bemagtiging van mense wat Afrikaans praat.

    Die fokus op die bemagtiging van mense deur Afrikaans het ander belangrike gevolge gehad, byvoorbeeld: dit was duidelik dat handhawing en bemagtiging in dieselfde organisasie nie werk nie. Dit skep konflik en uiteindelik ly altwee skade.

    Belangriker nog, dit het in die praktyk te dikwels gebeur dat die handhawers (meestal wit gebruikers van Afrikaans) swart en bruin gebruikers van Afrikaans (wat hoofsaaklik betrokke is by bemagtigingsaksies) byhaal vir getalle. Daar is waarskynlik nie ’n enkele faktor in die jare na 1994 wat die verhoudinge tussen groepe in die Afrikaanse taalgemeenskappe meer versuur het as juis hierdie subtiele of minder subtiele vorme van koöptering nie.

    Dit is van die grootste belang vir die toekoms van Afrikaans dat hierdie byhaal van die ander ter wille van getalle onmiddellik gestaak word. Dit is ’n eenvoudige beginsel: Jy kan nie mense na ’n restaurant nooi en dan vir hulle voorskryf wat hulle van die spyskaart af moet bestel nie. Net werklik gesamentlike inisiatief sal in die toekoms vrugte afwerp.

    ’n Bemarkingsgerigte ondersoek bring vanself die waarheid na vore dat jy moet gaan na waar die mark is. En die toekoms van die mark vir Afrikaans is die kinders wat nou op die skoolbanke sit. Die meeste van hulle is nie natuurlike lesers nie, maar wel spontane gebruikers van musiek. Dit gee vanself ’n prioriteit.

    Sorgwekkend is ook dat in die elitegroep van Afirkaanse kinders (en dit geld swart, wit en bruin) daar bykans geen belangstelling is vir vermaak in Afrikaans op TV nie.

    Verder is dit duidelik dat kinders minstens vir ’n beduidende deel van hul skoolloopbaan in hoofsaaklik Afrikaans onderrig moet word om spontane eerstetaalgebruikers van Afrikaans te bly.

    By die skole is die prioriteit behoorlike rekenaar- en Internetondersteuning.

    Verder: aanvaar jy dat globalisering vir eers gekom het om te bly en Afrikaans nie met Engels kompeteer nie omdat Afrikaans ’n nis-produk is, moet ’n mens die gehalte van Engels onderrig aan skole met hoofsaaklik Afrikaans as voertaal verbeter. Sorg dat dit eerstetaal-Engels is. Maak die Engels so puik dat ouers nie die behoefte het om hul kinders na Engels skole toe te stuur nie.

    Hierdie twee sake, informasietegnologie en Engels, sal binne skole vir alle Afrikaanse gemeenskappe die hoogste prioriteit moet kry.

    Ek kon hier bo maar net enkele van die waarnemings en gevolgtrekkings hier uitlig. Uiteindelik lê die toets natuurlik in die doen. En daar is ’n legio opwindende praktiese moontlikhede wat op die basis van hierdie bevindinge aangepak kan word.

    Hier volg nou enkele van die reaksies, met van my kommentaar daarop.

    1. Die enigste persverslae oor die aanbiedings tot dusver is in Die Volksblad (29 Julie 2000) en Die Weslander (11 Augustus 2000). By albei publikasies is dit die klemverskuiwing van die abstraksie taal na die mense wat die taal praat wat die beriggewers opval. Die Volksblad se opskrif is ‘Skuif fokus van taal na mense wat dit praat’ en Die Weslander s’n: ‘Afrikaans bevorder deur bemagtiging van praters’.

      Ek het inderdaad tot dusver oor ’n wye spektrum opgewondenheid gevind vir hierdie aspek: bevorder die taal deur Afrikaanssprekendes te bevorder. Talle reaksies kom van mense wat sê hulle het vroeër geen erg aan die taaldebat gehad nie, maar dat hierdie konsep hulle opgewonde maak. Miskien het ons hier met ’n egte groeipunt te make. Mense wat aanklank by hierdie vertrekpunt het, besef ons kan nie bekostig om ’n taalfilosofie aan te hang wat ons kinders benadeel nie.

    2. Daar is wye begrip vir die feit dat globalisering die werklike uitdagings skep en nie die politieke verandering in Suid-Afrika nie. By die aanbieding in Bloemfontein sê ’n lid van die gehoor na die tyd: ‘Wat jy sê oor Electrolux, is waar. Ons maatskappy het met ’n Oostenrykse firma ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan. Hulle het laas week vir ons gesê ons moet besef dat hul hoofkwartier in Oostenryk enkele maande gelede hul voertaal van Duits na Engels verander het.’

      Ek vind by talle mense ’n verligting dat hierdie gesprek nie weer gevoer word as ’n verskuilde poging om globalisering by te kom en wat sou neerkom op die ontmagtiging van Afrikaanssprekendes nie. Daar is verskille, maar globalisering word ten minste eerlik in die oë gekyk en nie weggewens nie.

      Ek hoor van talle die versugting dat ‘die pendulum sal swaai’. Globalisering sal (glo) weer swakker word. ‘Ons moet vir eers maar net vasbyt,’ sê hulle.

      Ja pendulums swaai en die geskiedenis is nie in sement gegiet nie. Maar na die boekdrukkuns se koms het die pendulum nooit weer teruggeswaai na rolle manuskripte toe nie. Die pendulum het nie weer teruggeswaai van motor- na perdekarre nie. Die pendulum kan swaai, maar ons gaan nie weer die onsamehangende wêreld van voor die web (1994) beleef nie. Get real! Tegnologie speel ’n deurslaggewende rol in die historiese veranderinge wat ons tans beleef. Afrikaans gaan nooit weer die posisie hê van voor 1994 nie. Ons sal dit moet maak werk met heelwat minder in die openbaar as ooit tevore. Dis maklik om die probleme hiervan uit te wys. Maar ons het nie veel van ’n ander opsie nie.

    3. Daar is tekens dat mense hierdie inisiatief aanvaar vir wat dit is, naamlik ’n poging om die taalgesprek by taalsake te bepaal en nie by implikasie die ANC by te kom nie. By ’n aanbieding in die Kaap bevestig ’n bruin meningsvormer: ‘Hier het vandag iets gebeur wat ek nie gedink het moontlik is nie, iets wat ek afgeleer het om ooit te verwag wanneer oor Afrikaans gepraat word. Hier was vandag nie eens ’n sweem van ’n implikasie van kritiek op die ANC nie.’

      Sommige mense het die pleidooi om politiek uit die taalgesprek te haal verstaan asof ’n mens nooit met politieke bewindhebbers oor die taal moet praat nie. Nee. Die motief is eenvoudig om nie verskuilde agendas soos ’n hunkering na die ou bedeling of Afrikanerpolitiek of groepsregte of wat ook al wat nie met taal verband hou nie, by die gesprek te betrek. Dit is tog meer as duidelik: kan ons voortgaan met ’n toestand waar honderduisende Afrikaanssprekendes wat die huidige regering hart en siel steun, voel dat hulle hul diepste politieke oortuigings verraai as hulle ten gunste van Afrikaans praat, of dit gewoon net praat?

    4. Die fokus op die komtuistaal is ’n bemarkingsfokus. Dit gaan om wat Afrikaans kan doen wat Engels nie kan doen vir die moedertaalspreker van Afrikaans nie. ’n Afrikaanse universiteit (dalk meer as een?), skole waarvan die voertaal hoofsaaklik Afrikaans is, vermaak in Afrikaans, is van wesenlike belang as die loopbane in Afirkaans al hoe minder word. En dit gaan gebeur. Jaap Steyn (Die Burger, 8 Augustus) vra na na die rol van die kerke. Ek meen ’n ondersoek is dringend nodig na byvoorbeeld Afrikaanssprekendes se kerkgewoontes (in soverre hulle Christene is). My indruk is dat talle Afrikaanssprekendes reeds hul godsdiens in Engels beleef. In elk geval, wil ons weer die vermenging van nasionalisme en byvoorbeeld die Christendom hê wat die ou bedeling gekenmerk het? Miskien moet ’n mens oor jou godsdiens ernstiger wees as oor jou taal.

      Dit is duidelik dat die belangrikste ding wat ons vir Afrikaans kan doen die voorsiening van eersteklas- opleiding en opvoeding is op skool. Skole waarvan die voertaal hoofsaaklik Afrikaans is, se informasietegnologie en Engels moet doodeenvoudig die beste wees. Ons moet Afrikaansssprekendes in agtergeblewe gemeenskappe met ’n ongekende poging hier te hulp kom. Dit is een van die gebiede wat my ondersoek geïdentifiseer het en wat in die volgende maande aandag sal kry.

      Daar is praktiese dinge om te doen wat ’n verskil kan maak aan mense se vermoë om op kort en lang termyn te presteer, sake wat meetbaar is.

      Die momentum van my ondersoek is dat die hede nou belangriker is as die verlede en dat ons aan ’n toekoms gestalte kan gee waar Afrikaanssprekendes met trots kan presteer sonder om in agterlikheid te verval omdat hulle nie die uitdagings van globalisering aangryp nie.

    5. Die reaksie wat my die meeste aangegryp het, is dié van Fanus Rautenbach in die jongste Insig se briewekolom. Hy skryf die volgende gedig na aanleiding van die artikel:

        Ek wil u daarop wys
        Die Afrikaner had ’n nederige begin
        Want die eerste woord in Afrikaans
        Was nie aanklag
        Of apartheid
        Of Adderleystraat nie.
        Nee, so het hulle nie gepraat nie.

        Dit was ook nie Broederbond
        Of televisie
        Of suspisie
        Of polisie
        Of ekonomiese klimaat nie.
        Nee, Afrikaans had ’n nederige begin
        Ver weg van lakei,
        Lyfwag en livrei,
        Heel ontuis
        Soos ploegskaar in ’n paleis,
        Is die eerste woord
        Nóg koning
        Nóg kneg
        Maar kombuis

    Beste vir eers

    Bertie du Plesssis

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.