Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Taaldebat: Afrikaans en die US

Dorothea van Zyl


Die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch het op 21 Augustus ’n boeiende taaldebat aangebied in die Wilcocksgebou oor die posisie van Afrikaans aan die universiteit. Die rektor, prof Chris Brink, was die gasheer en prof Louise Viljoen die voorsitter en inleier. Onder meer Die Burger, Rapport en Eikestadnuus het intussen berigte oor (veral die sappige aspekte van!) die debat gepubliseer, maar weens die belang van die saak wil die Departement graag (op versoek van die rektor) vollediger verslag lewer vir diegene wat die geleentheid misgeloop het.

Die belangstelling was groot en die saal stampvol. Verblydend was veral die verteenwoordigende opkoms: van eerstejaar- tot nagraadse studente van verskillende fakulteite, dosente en ouddosente, skoolhoofde, dekane en ouddekane, oudrektore, vroue en mans, verskillende groeperinge — almal het kom saamgesels oor Afrikaans. Daar was oorweldigende steun van bykans almal dat die US oorwegend Afrikaans moet bly. Die vyf sprekers het eers hulle standpunte kortliks gestel en daarna was dit tyd vir vrae en kommentaar:

Dr Hermann Giliomee (bekende ouddosent in Politieke Studies, rubriekskrywer en meningsvormer) het gevra waarom sommige dit as aanvegbaar beskou dat die US op voor- en nagraadse vlak enkelmedium Afrikaans bly, terwyl 19 uit 21 universiteite reeds Engels- of dubbelmedium is. Dit kan wees weens die abstrakte waarde van ’n taal.

Op langer termyn hou ’n dubbelmedium-bedeling van Engels en Afrikaans die wesenlike gevaar in dat die kleiner taal uitgewis word (vgl Laponce, Language and territories, 1987:170). Mnr Kader Asmal se uitsprake sluit oŽnskynlik aan by die bevordering van taaldiversiteit, maar is geensins daarop gerig om Afrikaans ’n kans te gee by ander universiteite, wat rigied eentalig is nie. Hy stel eerder ’n oorlewingstoets vir Afrikaans wat sprekers van veel sterker tale (Frans in Kanada of Nederlands in BelgiŽ) ferm van die hand wys, omdat dit gewisse ondergang beteken. Parallelmedium-universiteite (veral op voorgraadse vlak) in die weste is uiters seldsaam. Dit beteken bloot ’n meer geleidelike oorskakeling na Engels as die twee tale nie ewe sterk is nie en daar nie ’n amptelike landsbeleid van streng tweetaligheid en gelyke werksgeleenthede in die staatsdiens en handel bestaan nie.

Die regerende party se aansprake op access and equity strook nie daarmee dat swart studente se vraag na universiteitsopleiding sedert 1998 skerp gedaal het nie. Die Minister van Onderwys se eis om Engels op 50-50-basis in te voer by sleutelfakulteite soos Medies en Ingenieurswese, waar slegs plek is vir onderskeidelik 150 en 250 eerstejaarstudente, kom neer op diskriminasie teen Afrikaanstalige studente, vir wie daar reeds beperkte fakulteite beskikbaar is in hulle moedertaal. Sal die staat bydra tot die groter koste wat addisionele fasiliteite sal verg indien Engelstaliges addisioneel toegelaat word? Daarteenoor beskik Engelstalige universiteite oor spaarfasiliteite in byvoorbeeld ingenieurswese, wat onderbenut word.

Meer Engelstalige studente verhoog verder die druk dat die universiteitsadministrasie moet verengels. Dubbelmedium verlaag ook standaarde. Soos uitgewys deur prof Arnold Schoonwinkel (2002), kan ’n Afrikaanssprekende dosent wat in Afrikaans doseer, 90% effektief formuleer, maar in Engels slegs 60% effektief. Afrikaanstalige studente se begrip vir Afrikaans is 90%, maar vir Engels slegs 70%.

Die aandrang op enkelmedium Afrikaans beteken geensins ’n vaskleef aan voorregte uit die verlede nie. Gesiene navorsers, soos Charles Taylor van McGill Universiteit in Montreal, vir wie liberalisme op kultuurgebied juis ruimte aan minderhede beteken, sien dit byvoorbeeld as ’n begryplike aandrang op taaldemokrasie en -oorlewing.

Die US se uitdaging is om mense uit alle Afrikaanse gemeenskappe te bemagtig, veral bruin studente, wat tans die laagste deelnamekoers het in tersiÍre onderwys, naamlik 3,5%. Dit terwyl hulle oorwegend Afrikaanssprekend is en in Afrikaans opgelei word. Dat daar tans nog te min aanvraag is aan die kant van bruin studente sal proaktiewe strategieŽ verg met betrekking tot die skoolsisteem, asook oorbruggingskursusse en nuwe fasiliteite om die kloof tussen skool en universiteit te oorbrug. Wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes sal saam verantwoordelikheid moet aanvaar om die US ’n oorwegend Afrikaanse universiteit te laat bly.

Dr Neville Alexander (direkteur van Praesa, voorsitter van Langtag, die taalplan-taakgroep, en bekende adviseur op die gebied van taalbeleid) se vertrekpunt is nierassisme, nieseksisme en pragmatisme. Afrikaans moet losgemaak word van Afrikanernasionalisme en apartheid. Afrikaans bly egter die derde grootste taal in Suid-Afrika, moedertaal van 15% van die bevolking en van meer as 90% van die bruin mense. Die behoud van diť taal is ’n beginselsaak wat nie deur die mark beslis moet word nie. Die staat en privaatsektor behoort hierby finansiŽle steun te verleen.

Hoewel Engels ’n globale taal is wat almal behoort te ken, is dit vir die meerderheid in Suid-Afrika ’n tweede of vreemde taal. ’n Onderwysstelsel kan dus nie daarop gebaseer word nie. Engelstalige onderwys sal die land, sy mense en toekoms programmeer tot middelmatigheid — dit is ’n leuen dat Suid-Afrika ’n groot nasie sal kan word deur medium van Engels. ’n Mens kan nie so skeppend wees in jou tweede taal nie. Selfs al word Engels toenemend wÍreldwyd gebruik op nagraadse vlak, mag dit nie die moedertaal uitsluit nie. Suid-Afrikaanse studente wat beurse ontvang om in Kuba opgelei te word as dokters, moet Spaans leer — waarom kan die US dan nie van studente vra om klasse te volg in Afrikaans nie? Die uitdaging is wel dat studente hulle grade in Afrikaans ontvang, maar ook artikels en proefskrifte in Engels kan skryf.

Dit is teenstrydig dat die grondwet enersyds noem dat elkeen onderrig kan ontvang in die taal van sy/haar keuse, maar andersyds sÍ dat taal nie gebruik mag word om enigeen uit te sluit nie. Tog staan die grondwet, Gerwel-kommissie, onderwysbeleid en ander instansies vir die gebruik van alle tale op skool ťn tersiÍre vlak — niks in die wetgewing is daarteen nie. Hy is daarom gekant teen mnr Kader Asmal se mening oor Engels aan die US. ’n Kleiner taal sal inderdaad weggevee word deur ’n dominante taal — Afrikaans het dus beskerming en wetlike verskansing nodig. ’n Langtermynperspektief is hierby nodig. Ruimte moet ook aan die ander Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe gelaat word om tersiÍr in hulle moedertaal onderrig te word. Die wit Afrikaanssprekendes se taalverbintenis het reeds aanleiding gegee tot die klousules oor meertaligheid in die onderwys. Vir die stryd om taalregte is dit hierom ook belangrik dat die US Afrikaans moet bly.

Daar is gevare inherent aan die debat oor Afrikaans. Wat by die US gebeur, moet in ’n breŽ konteks gesien word: dit gaan om meer as net Afrikaans. Dit gaan om saamleef met mekaar eerder as om oorlog en isolasie, om veeltaligheid, menseregte en demokratisering. Mense moet politiekbewus wees — taal is in wese ’n politieke kwessie. Daarom moet elke woord noukeurig geweeg word.

Yvonne Malan (ondervoorsitter van die vorige SR, wat reeds in talle komitees gedien het en lid is van die Taakgroep vir die Ontwikkeling van ’n Taalplan aan die US) vra ’n funksionele benadering. Taal is vir haar ondergeskik aan navorsing en onderrig — ’n mens kan op meer as een manier ’n Matie wees. Dit behoort nie ’n ideologiese stryd te wees nie. Die meeste studente verkies klasse in Afrikaans, maar dit is ondenkbaar dat die universiteit eentalig Afrikaans kan wees. Dit is positief dat ’n taalbestekopname gedoen is en dat ’n taalbeleid geformuleer word, want die taalhantering word tans nie konsekwent toegepas nie.

Sy vind dat studente bemagtig moet word om Afrikaans te leer praat en dat kreatiewe oplossings gevind moet word, soos die onlangse oprigting van die Sentrum vir Taalvaardigheid. Dit is veel beter as dat ou omies met grys skoene, pasaangeŽrs en vals tande hulle met die saak bemoei! (Hierdie stelling het later ’n aantal heftige reaksies uitgelok by die gehoor.)

Carel Boshoff (voorsitter van ’n navorsingseenheid op Orania, visepresident Inligting van die Orania Beweging en lid van die Noord-Kaapse Wetgewer vir die Vryheidsfront) vind dat die Afrikaanse taaldebat voortduur omdat die plek en rol van Afrikaans vir baie ’n eksistensiŽle vraag is. Hy gaan in op die billikheid, meriete en belang van Afrikaans:

  • Billikheid: Bewerings dat taalhandhawers terugverlang na die verlede is onbillik. Dit is diep ongebruiklik om ’n taal of die gebruikers daarvan te straf tot in die derde of vierde geslag vir werklike of gewaande bevoordeling — soos blyk uit die verlede van koloniale tale. Ironies genoeg word juis Engels ook bevorder ten koste van die inheemse tale.

  • Meriete: Globalisering en die onomstootlike krag van verengelsing in die handel, produksie, wetenskap en kommunikasie word as argument gebruik teen Afrikaans, asof die taal ekonomiese, lyflike en geestelike mobiliteit belemmer. Soos die uitwissing van die aarde se beperkte hulpbronne, lei die vernietiging van kulturele diversiteit egter tot eenselwigheid. Afrikaanse aktiviste is nie antiglobalisties nie, maar wil wel voorwaardes stel om Afrikaans te laat voortbestaan — dit is nie genoeg om net te “rock in Afrikaans” nie. Moedertaalopleiding lewer veel beter resultate, omdat ’n mens nuwe konsepte en fyner nuanses veel beter beheers in die taal waarin jou denkprosesse sedert jou vroegste ontwikkeling gevorm is.

  • Belang: Baie mense is nog apaties en besef nie watter belang hulle het by die bevordering van Afrikaans nie. Diegene wat in die verlede toegang tot belangrike Afrikaanse ontwikkelingsinstellings en -prosesse ontsÍ is, voel soms minder lojaal. Historiese ontmagtiging mag egter nie die rede wees om die ontmagtiging voort te sit nie. ’n Deel van die middelklas distansieer hulle ook van Afrikaans weens die gediskrediteerde apartheidsbeleid en hulle ekonomiese belang — en neem hul erflating van kulturele kapitaal as vanselfsprekend op. Ander wil Afrikaans egter juis hertoe-eien.

    Tans word die aanspraak op die erkenning van Afrikaans nog nie breed genoeg gemaak nie, omdat die wil en selfvertroue daartoe ontbreek. Dit is verder gevaarlik om die argument te wen sonder om die mense te wen. Argumente vir Afrikaans is dikwels sterker rasioneel en diť daarteen eerder emosioneel. Enersyds word nog te veel geput uit ou Afrikanernasionalistiese emosies. Andersyds put argumenteerders teen Afrikaans uit gevoelens van antitribalisme. Stamverwantskap en stamlojaliteit (wat eie tale insluit) is in die verlede dikwels as vyande beskou van eenheid en solidariteit; vgl Samora Machel se uitspraak: “For a nation to live, the tribe must die.” Dit het ook gegeld vir Amerika en vir bykans elke nasionale staat wat sedert die 19de eeu tot stand gekom het.

    Dit berus egter op ’n denkfout wat die grondslag vorm vir talle etniese konflikte. Repressie van gevoelens, hetsy op die gebied van seks, sonde, patriargie of moedertaal, lei tot terugkerende konflik. Daarom moet die politiek van repressie vervang word met ’n politiek van erkenning, sodat die emosionele energie wat in mense se diepe verbintenis met hulle moedertaal gesetel is, ontsluit kan word. ’n Politieke weerbaarheid is nodig en ’n nuwe simboliese orde moet tot stand gebring word.

    Dr Christa van Louw (D Litt oor veeltaligheid, dosent in Afrikaans en direkteur van die Illwimi-sentrum vir veeltaligheid aan die UWK, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, onlangs aangestel as koŲrdineerder om diversiteit by die US te bevorder, en lid van die Taakgroep vir die Ontwikkeling van ’n US Taalplan) beskou die verbintenis tussen Afrikaans en die US, wat so oud is soos die universiteit self, as ’n gegewe. Beide is nasionale bates. Die vraag is eerder: wat behoort die US vir Afrikaans te wees en andersom?

    Die US het geleidelik in so ’n mate ’n tuiste geword vir ’n bepaalde segment van die gemeenskap, met ’n dienooreenkomstige posisionering van die sprekers en taal om die vorige regering se doelwitte te dien en ongelyke magsverhoudinge te vestig, dat die UWK onder meer ontstaan het. Die US se strategiese raamwerk wys egter dat die universiteit tans die uitdaging aanvaar tot transformasie. Die US wil kennis produseer en deel, die breŽr gemeenskap dien. Diversiteit word eksplisiet verwelkom binne die drie kernterreine onderrig, navorsing en gemeenskapsdiens. Afrikaans word dus gesien as die draer van verskeidenheid en ’n bemagtigingsinstrument wat die sleutel tot toegang bied. Iets soos die Taalsentrum strook met die gelykheidsdoelwitte wat vir die land as geheel gestel word. Nog ’n uitdaging is dat die US as vennoot binne die breŽr Suid-Afrika vra dat vennootskappe uitgebou word deur Afrikaans. Ook ander tale in ’n veeltalige Suid-Afrika moet deur Afrikaans gehelp word. Haar droom is ’n ruimte wat verskeidenheid uitdra — ’n waardige roeping vir ’n taal wat die naam dra van Afrika.


    Enkele ander menings

    In die debat daarna is onder meer daarop gewys dat dit onbillik is om van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe te verwag om te verengels — studente moet ook bemagtig word in en deur Afrikaans.

    Prof Richard van der Ross, voormalige rektor van die UWK, het verwys na ’n debat destyds in die pers of mediese studente goed genoeg opgelei sal kan word deur medium van Afrikaans. Prof Davy (’n beroemde medikus en opvoedkundige aan die UK) het toe daarop gewys dat Afrikaanstalige studente ook Engels beheers en toegang het tot Nederlands en Duits. Hulle is dus uiteindelik beter opgevoed en afgerond as eentalige studente.

    Prof Ampie Coetzee (UWK) en ander is daarteen dat die taaldebat voortdurend aan ideologie gekoppel word en Afrikaanstaliges as regs beskou word — dit gaan nie om die verlede nie, maar om die voortbestaan van die taal.

    Ander sprekers het gewys op die gevaar om taal oor te laat aan markkragte. UWK het reeds heeltemal verengels en projeksies in die media is dat die US oor 30 jaar ook Engels sal wees — iets wat ’n groot domino-effek sal hÍ in beide primÍre en sekondÍre onderwys. Waarborge word van die US gevra oor Afrikaans, asook aktiewe finansiŽle stappe en ’n taalbeleid wat Afrikaans sal beskerm. As Afrikaans nie by die US behoue bly op tersiÍre vlak nie, sal geen ander taal in Suid-Afrika op die duur behoue bly nie. Die US is oor hierdie saak die beskermheer, maar nie die alleenbesluitnemer nie. Afrikaans se belange strek verder as die dosente en studente. Wetgewing is nodig ter beskerming.

    Ook Dan Roodt het versoek dat taalregte op die kampus erken sal word en onder meer gevra of rektore van Afrikaanse universiteite daartoe bereid sou wees om die universele verklaring oor taalregte (Barcelona 1996) te onderteken.

    Kommer is uitgespreek dat bruin leerlinge uitgesluit word deur Afrikaans weens die enorme koste van universiteitsonderrig. Aandag aan veeltaligheid en aan Kayamandi is gevra. Daar is ook ’n beroep daarop gedoen dat die Eenheid vir Afrikaans voldoende finansiŽle steun sal ontvang, ten bate van beide die inheemse en die internasionale studente wat Afrikaans graag wil aanleer.

    Heelwat studente het hulle liefde en voorkeur vir Afrikaans uitgespreek. Sommige voel dat kursusse in Engels hulle benadeel. Twee studente het burokratisering en die gebrek aan kontak tussen die US se topstruktuur en die studente uitgelig as ’n probleem en as mede-oorsaak vir studente se apatie. Daar is ook beswaar aangeteken dat selfs aanmanings van die universiteitsbiblioteek deesdae in Engels is. Dit is nie genoeg om Afrikaans net te praat, soos baie studente dink nie — die hoŽr funksies daarvan moet beskerm word sodat dit ’n volwaardige taal kan bly.

    Prof Rufus Gouws sien dit ook as die US se opdrag om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder, weens sy verantwoordelikheid teenoor Afrikaans, teenoor Stellenbosch en teenoor veeltaligheid. As die US nie Afrikaans bevorder nie, sal dit nie elders gedoen word nie. Studente wil in Afrikaans navorsers en vakkundiges wees.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.