Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Begripsanalise van meertaligheid

Gerrit Brand

Alvorens ’n mens standpunt kan inneem oor die wenslikheid al dan nie van meertaligheid, moet daar duidelikheid wees oor wat met “meertaligheid” bedoel word. Die begrip meertaligheid het egter meer as een betekenis.

Ek sou in die eerste plek wou onderskei tussen persoon-verwante en domein-verwante meertaligheid.

Persoon-verwante meertaligheid is ’n eienskap van persone en dui op taalvermoëns. Iemand is meertalig as s/hy meer as een taal beheers. Hoewel daar in verskillende mate gewig aan hierdie eienskap toegeken word, is daar min deelnemers aan die taaldebat wat sou ontken dat meertaligheid in hierdie sin ’n “persoonlike, professionele en sosiale bate”[1] is. Die spreekwoord “Soveel tale as ek kan, soveel male is ek man” het in hierdie verband al cliché-status verkry.

Eenstemmigheid oor die wenslikheid van persoon-verwante meertaligheid kan dus veronderstel word. Tog sou dit interessant kon wees om na te gaan wáárom dit as ’n “bate” beskou word, onder meer omdat die redes wat aangevoer word, miskien lig kan werp op die wenslikheid al dan nie van domein-verwante meertaligheid.

Laasgenoemde het te doen met die aantal tale wat in ’n bepaalde domein gebruik word, byvoorbeeld die voertale in ’n openbare instelling, die tale waarin ’n dokument gepubliseer word, of — in ’n wyer sin — die tale wat in ’n samelewing as geheel gebesig word. ’n Domein (gemeenskap, instelling, dokument of proses) is meertalig in soverre meer as een taal daarin as kommunikasiemedium gebruik word.

In die taaldebat is veral domein-verwante meertaligheid aan die orde. Die debat handel onder meer oor die vraag of die gebruik van verskeie tale in bepaalde domeine ’n nastrewenswaardige saak is. Die gesprek wentel veral om die taalbeleid van openbare instellings, soos staatsdepartemente, howe, openbare uitsaaidienste en staatsondersteunde onderwysinstellings, maar die taalpraktyk in die private sektor en taalgewoontes in die alledaagse omgang tussen mense word ook soms ter sprake gebring.

Minstens drie standpunte moet in hierdie verband oorweeg word.

Eerstens is daar diegene wat meen dat meertaligheid in bepaalde domeine aktief bevorder moet word: die promeertaligheidstandpunt. Vir sover hierdie standpunt op die openbare lewe betrekking het, onderskei die politieke wetenskaplike Alan Patten tussen twee modelle, te wete amptelike meertaligheid (“official multilingualism”) en taal-instandhouding (“language maintenance”).[2]

Eersgenoemde dring aan op die gelykberegtiging van tale in die openbare domein: openbare instellings behandel die sprekers van verskillende tale as gelykes deur dieselfde ruimte en kapasiteit aan elk van hul tale beskikbaar te stel.[3]

Die taalinstandhoudingsmodel, daarenteen, gaan uit van die veronderstelling dat dit die staat se plig is om te doen wat nodig is om die oorlewing van tale te verseker, ook al sou dit selektiewe erkenning (“selective recognition”) behels. Daarmee word bedoel dat meer publieke erkenning aan weerlose, gemarginaliseerde tale as aan dominante of “veilige” tale verleen word, omdat gelyke erkenning nie voldoende is om hul voortbestaan (in kompetisie met die ander tale) te verseker nie.[4] Binne hierdie model word ook inbreuke op persoonlike vryheid onder bepaalde omstandighede verdedig, in die sin dat die staat in sy reg geag word om die gebruik van spesifieke tale in bepaalde domeine te verbied of te beperk.[5]

Teenoor die promeertaligheidstandpunt pleit sommige deelnemers aan die debat vir presies die teenoorgestelde benadering: die aantal tale wat in bepaalde domeine gebruik word, moet tot die minimum beperk word — die antimeertaligheidstandpunt. Toegepas op die taalbeleid van openbare instellings, noem Patten hierdie benadering die taalrasionalisasie-model (“language rationalization model”).[6]

’n Derde moontlikheid is om nie uitdruklik vir of teen meertaligheid te kies nie, maar die taaldinamiek bloot oor te laat aan spontane sosiolinguistiese prosesse. ’n Mens sou dit die laissez faire-model kon noem. Toegepas op die openbare lewe word hierdie standpunt dikwels na analogie van die staat se houding teenoor die verskillende godsdienste uitgelê: net soos die staat nie amptelike erkenning aan een godsdiens hoef te gee nie, maar die keuse van lewensoortuiging aan die private gewete van burgers kan oorlaat, hoef die staat ook nie amptelike erkenning of voorkeur aan een of meer tale te gee nie.

Patten kritiseer hierdie analogie deur daarop te wys dat die staat, anders as in die geval van godsdiens, nie ’n keuse het of hy taal sal gebruik in die uitvoer van sy verskillende take nie. Aangesien die staat noodwendig van taal gebruik moet maak om na binne en buite te kommunikeer, moet daar noodwendig een of meer tale vir dié doel gekies word.

’n Mens sou egter steeds inhoud aan die laissez faire-model kon gee deur byvoorbeeld aan te voer dat, hoewel die staat altyd ’n de facto-”beleid” tov taalgebruik sal voer, so ’n beleid nie noodwendig amptelik (wetlik) vasgelê hoef te word nie.

Alternatiewelik sou ’n laissez faire-beleid kon inhou dat die wetgewende gesag dit aan elke openbare instelling oorlaat om self oor taalbeleid- en praktyke te beslis. Die gemene deler van laissez faire-modelle is steeds dat die staat as sodanig geen amptelike taalbeleid het nie.

“Domein-verwante meertaligheid” verwys nie net na taalgebruik in openbare instellings nie, maar ook, soos reeds vermeld, na taalverskynsels in nie-openbare domeine soos die privaatsektor en die alledaagse omgang in die publieke en private sfere. Ook die samelewing as geheel, in al sy fasette en dimensies, kan as domein beskou word waarbinne verskillende tale in meerdere of mindere mate ’n rol speel.

In dié sin kan die Suid-Afrikaanse samelewing as ’n meertalige samelewing bestempel word. Dit is immers ’n samelewing waarin ’n wye verskeidenheid tale op allerlei terreine gebesig word. ’n Interessante vraag is nou wat ons houding ten aansien van hierdie feitelike verskynsel behoort te wees. Die standpunte van promeertaligheid, antimeertaligheid en neutraliteit tov meertaligheid het reeds ter sprake gekom. Dit is egter belangrik om te besef dat dieselfde standpunt nie noodwendig mbt alle domeine gehandhaaf hoef te word nie.

Ek het reeds verwys na die moontlikheid van ’n laissez faire-houding ten aansien van die taalgebruik van openbare instellings. So ’n houding kan, suiwer konseptueel gesien, maklik versoen word met ’n soort promeertaligheidstandpunt. Die feit dat meertaligheid as verskynsel wenslik geag word, impliseer nie met dwingende noodsaak dat dit ook wetlik en beleidsmatig bewerkstellig moet word nie. Om weer die godsdiens-analogie by te sleep: die feit dat X ’n Christen is en graag sal wil sien dat almal Christene word, hoef nie te beteken dat X ook ten gunste daarvan is dat die staat Christenskap wetlik verpligtend maak nie. Net so sou ’n mens kon redeneer dat, hoewel meertaligheid in die samelewing as geheel, of in bepaalde domeine, wenslik is, dit nie wenslik is dat dit wetlik en beleidsmatig deur die staat bevorder word nie.

Om promeertalig te wees hoef dus nie te impliseer dat jy ook “amptelike meertaligheid” onderskryf nie. Die beleidsmodelle van “amptelike meertaligheid”, “taal-rasionalisasie”, “taal-instandhouding” en laissez faire verskil dan van promeertaligheid, antimeertaligheid en neutraliteit — nie net omdat eersgenoemde vier spesifiek op die taal van openbare instansies betrekking het, terwyl laasgenoemde drie ook na ander domeine kan verwys nie, maar ook omdat die eerste groep standpunte betrekking het op die rol wat die staat wel of nie moet speel tov die instandhouding en/of bevordering van veeltaligheid.

Om ’n houding (pro-, anti- of neutraal) tav meertaligheid in te neem is, soos ons gesien het, nog nie om ’n spesifieke soort taal-beleid te onderskryf nie. Uiteraard impliseer enige houding ’n bepaalde handelingspatroon — dit is deel van die betekenis van ’n houding: ’n geneigdheid om bepaalde soorte handelinge uit te voer.

Beleidmaking is egter maar een soort handeling en as sodanig hoef dit nie onder die handelingsrepertoire van iemand met ’n bepaalde houding tav meertaligheid te ressorteer nie. ’n Persoon wat hom- of haarself as “promeertalig” opstel, maar dan géén stappe doen om meertaligheid te bevorder nie, neem nie ’n “houding” in enige verstaanbare sin aan nie. In dié sin is ’n houding van promeertaligheid logies nie te rym met ’n totale gebrek aan optrede ter bevordering van meertaligheid nie. Dit is egter wel goed versoenbaar met ’n gebrek aan bepaalde sóórte optredes, soos die bepleiting, ondersteuning, konsipiëring en implementering van ’n beleid van “amptelike meertaligheid”.

Bogenoemde skeidinge mbt die begrip meertaligheid kan van nut wees in die “kartering” van individuele deelnemers aan die debat se standpunte oor meertaligheid. Dit moet egter deurgaans in gedagte gehou word dat ’n konseptuele onderskeid nie altyd ’n logiese teenstrydigheid of ’n ontiese onderskeidinge impliseer nie. Daarom is dit heel denkbaar — en sal dit ook meermale voorkom — dat die standpunt van ’n enkele persoon, sonder om daarmee aan konsistensie in te boet, mbv meer as een van die onderskeie begrippe gekarakteriseer kan word.

Die onderskeidinge moet veral gesien word as konseptuele hulpmiddele waarmee bepaal kan word op watter vlak van die diskussie ’n argument of oorweging geplaas moet word. Hierdie analitiese (uit-mekaar-halende) blik moet gebalanseer word met ’n meer sintetiese (saamvoegende) perspektief. Met laasgenoemde word bedoel dat ’n standpuntinname op een vlak (byvoorbeeld mbt die wenslikheid van persoon-verwante meertaligheid) reperkussies kan hê vir standpuntinname op ’n ander vlak (byvoorbeeld mbt domein-verwante meertaligheid).



[1] Taakgroep vir die ontwikkeling van ’n taalbeleid vir die Universiteit Stellenbosch, “Konsep taalbeleid en taalplan vir die Universiteit Stellenbosch — Konsep 1”.
[2] Alan Patten, “Political theory and language policy”, Political Theory 29:5 (2001), 695 vv, 705 vv.
[3] Ibid, 700: “public institutions treat speakers of different languages as equals by devoting the same space and capacity to each of their languages.”
[4] Ibid, 706: “Under such a policy, the more vulnerable language is given fuller public recognition than the more secure one.”
[5] Sien ibid, 693.
[6]6 Ibid, 700 vv.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.