Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afrikaans en Afrikaner-nasionalisme is nie dieselfde as Afrikaans en apartheid nie

Jaco Alant*

"Buiten mobilisering dmv liedere en die orale tradisie het Afrikatale egter min te sê gehad – en glad niks te skryf nie – in die ontwikkeling van African nationalism. Lg se taal was onomwonde Engels."

Ek skryf hierdie artikel in opvolging – en met die oog op ‘n bietjie nuansering – van Jonathan Jansen se onlangse “Die probleem met die Afrikaner”.

Hier in die laat jare 1980 was daar ‘n redelik hewige debat aan die gang onder Afrikaanse taalkundiges en sosiolinguiste oor die “toekoms van Afrikaans”. Die selfverheerlikende glorie van die 70’s (eers die makietie vir Langenhoven se 100ste verjaarsdag gevier met rugby en bomwerpers, toe die 100 jaar van die GRA gevier met ‘n dubbel-falliese monument) is binne ‘n oogwink opgevolg deur die bloed van Soweto, en die Mees Gevierde Digter – Breyten Breytenbach – is vir sewe jaar tronk toe. Van toe af was die skrif aan die muur, en taalgeleerdes het begin verstaan dat die toekoms ‘n ander land sou wees. Vandaar die skielike beheptheid met die “toekoms”.

Vanuit swart (bruin) geledere is hierdie debat in ‘n groot mate uitgekryt as ‘n PW Botha-agtige “hervormingsgedrewe” koöptering van swart mense vir gevestigde (wit) Afrikanerbelange. Nietemin het daar, teen min of meer dieselfde tyd, ‘n beweging vir “Alternatiewe Afrikaans” op dreef gekom in die Wes-Kaap, waarin die professore van die toentertydse UWK ‘n aansienlike rol gespeel het. Kaapse Afrikaans het sy stem verhef as ideologies die taal van die stryd teen apartheid – UDF-taal, Swart Bewussynstaal – en taalkundig as die rêrige Afrikaans. (Allan Boesak – onthou julle hom nog? – het op ‘n kol na die ANC verwys as die “Afrikaanse Nasionale Kongres”!). En ná die dekades lange taalkundige obsessie om Afrikaans te verklaar as die “spontane ontwikkeling uit Nederlands”, het taalhistorici inderdaad dan ook die “Kaapse” siening van Afrikaans begin gelyk gee: Afrikaans was juis nié ‘n “Witmanstaal” nie. Breyten Breytenbach was toe al die tyd reg: Afrikaans was in wese ‘n bastertaal! En was die oorspronklike sprekers van dié bastertaal uiteindelik op die punt om hom, op ‘n manier, op te eis?

Binne hierdie raamwerk was een ding duidelik: die toekoms van Afrikaans was gedoem as Afrikaner-nasionalisme enigsins ‘n rol daarin sou speel. Want Afrikaner-nasionalisme = apartheid.

Vandag het die “toekoms” inderdaad aangebreek, en bevind ons ons reeds 11 jaar binne-in die nuwe land. Dit is soberend om na te dink wat van die borreling van die laat 80’s, vroeë 90’s geword het. Wat voortstotter – op LitNet, in die koerante en in die komitees – is maar nog steeds diegene wat op een of ander manier die naloopsel is van dié opeising van Afrikaans wat polities gesproke in die stof gebyt het: Afrikaner-nasionalisme. Van die Kaapse alternatiewe – swart – opeising het toe net mooi niks gekom nie. Die post-94 ANC-burokrasie had ander prioriteite.

Dis min of meer teen hierdie agtergrond dat ek Jonathan Jansen se “Die Probleem met Afrikaners” lees. Enersyds situeer Jansen homself duidelik as ‘n buitestaander tov die Afrikaners oor wie hy dit het: Afrikaners is “hulle”, nie “ons” nie. In soverre hy Pretoria – die “Allerheiligste” – voorhou as emblematies van die Afrikaner, is hy, Jonathan Jansen, ‘n besoeker, ‘n inkommer van skaars vyf jaar gelede, en wat meermale te kenne gee van sy gevoel van ontuisheid. Maar andersyds klink hy tog alte veel na ‘n binnestaander – weliswaar ‘n kritiese een. Buite-om die ironie van die naam Jonathan Jansen (wat tog so Afrikaans lyk, maar op Engels uitgespreek word), is daar die kwessie van die taal. Jansen kon immers gekies het om in Engels deel te neem aan LitNet se taaldebat, maar hy het in Afrikaans geskryf. Dit kan nie heeltemal toevallig wees nie?

Wat Jansen se argument ten grondslag lê, is die idee dat vandag se betoë tot voordeel van Afrikaans – of dit dan nou ouers is wat aandring op enkelmedium Afrikaanse onderrig vir hulle kinders, of Tukkiesstudente wat betoog teen die verdringing van Afrikaans op die UP-kampus – die taalkwessie misbruik as ‘n dekmantel vir allerhande ander ontevredenhede (“die verlies van mag, die verlies van voorregte”), om nie te praat van rassevooroordeel nie. Dis eintlik nie die “Engels Engels alles Engels” wat die probleem is nie, maar die Swart Gevaar. En hier vind ons by Jansen presies dieselfde assosiasie van Afrikaanse taal- en identiteitsbewustheid met Afrikaner-nasionalisme as wat mens ten tye van die Kaapse beweging by ‘n Jakes Gerwel sou kon teëkom: Afrikaner-nasionalisme = apartheid.

In die laat 1980’s was die land aan die brand en die apartheidsregime aan die wankel.

Maar het dit nie nou, 15 jaar later, tyd geword om ‘n bietjie meer genuanseerd te kyk na Afrikaner-nasionalisme se verhouding met Afrikaans nie? In sy beskouing van die optrede van die sg “taalprotagoniste”, sal ek Jansen dit grootliks gelyk gee in sy implikasie – via Mariana Kriel – dat “dit steeds onmoontlik is om oor Afrikaans te praat sonder om oor Afrikaner-nasionalisme te praat.” Ek sal egter byvoeg dat dit vandag moontlik is – en inderdaad noodsaaklik is – om Afrikaner-nasionalisme te probeer losdink van apartheid. Dit sal ons hopelik in staat stel om die identiteitskwessie – identiteitsopeising – wat die Afrikaanse taaldebat onderlê, te sien vir iets anders as rassisme.

Eintlik is dié kwessie veel groter as Afrikaans of Afrikaner-identiteit. Dit gaan uiteindelik oor ál die talige identiteite wat Suid-Afrikaners vir hulle kan opeis. Die woordjie opeis mag miskien ‘n bietjie sterk klink vir ons liberale grondwet, maar hy is nie noodwendig onvanpas nie. Jansen maak die volgende stelling: “As ons hier [in die verskillende strydaksies rondom Afrikaans in die skole en universiteite] besig was met ‘n ernstige debat oor Afrikaans as ‘n taal, kon die probleem sonder veel ophef gehanteer word.”

Maar kom ons dink bietjie daaraan: Wat sou ‘n debat wees oor “Afrikaans as ‘n taal”? So ‘n debat klink vir my tipies na die soort debat wat ‘n neutrale persoon – ‘n buitestaander – sou kon voer oor ‘n taal. Ek sou byvoorbeeld, as (voormalige) Franse dosent, kon argumenteer dat Frans in die skole en op die universiteite bevorder moet word omdat dit ‘n belangrike taal op die Afrika-vasteland is, ens. Hierdie soort argument kom dan ook meermale na vore binne die konteks van “bevordering van veeltaligheid”. Hiervolgens word tale gesien as kultuurgoed waarvoor “ruimte” geskep word, sodat wie ook al wil, dié of daardie taal kan “beoefen”. Dit is, om die waarheid te sê, juis hierdie konsepsie van taal wat ons grondwetlike bepaling van elf gelyke nasionale tale onderlê. Taal as kultuur- of erfenis-objek. Maar kan ek oor my taal so praat? My taal is immers nie ‘n stokperdjie nie. As ek deelneem aan die debat oor “my” taal, beteken dit dat ek my aan my taal eien; dit beteken nie maar net dat ek my taal wil “gebruik” nie, maar dat ek myself in my taal wil laat geld. As jy ‘n binnestaander is, is dit gewoon onmoontlik om ‘n debat oor Afrikaans “as (maar net) ‘n taal” te hê. Daar is identiteitsimplikasies, politieke implikasies. Dis nie ‘n onskuldige proses nie. Kortom, dis nasionalisme.

Praat ek hier juis as Afrikaner? Sou dit moontlik wees vir, sê nou maar, ‘n Zoeloesprekende Suid-Afrikaner om suiwer maar net ‘n aksie te loods vir Zoeloe “as taal”? Ek weet nie. (Ek is redelik seker, daarteenoor, dat Engelssprekendes sou kon agiteer – sou dit ooit nodig wees – vir Engels “as taal”. Want sien, Engels is mos “neutraal”.) Maar kom ons beperk ons tot Afrikaans en sy verhouding met Afrikaner-nasionalisme. Is die opeising van Afrikaans as taal – dus as identiteit – noodwendig rassisties?

Om dié vraag te beskou moet ons ‘n bietjie verder teruggaan in die geskiedenis. Hier vanaf die laaste kwart van die 19de eeu is Afrikaans sterk in verband gebring met Afrikaner, aanvanklik in die Kaap met die taalstryd van SJ du Toit en Pannevis, en later – na ietwat van ‘n insinking – in beide die Kaap en die Boererepublieke, voor en ná afloop van die Anglo-Boereoorlog. Dis nie onvanpas nie om te sê dat Afrikaner-identiteit (-nasionalisme) in die eerste twee dekades van die 20ste eeu gebou is in en deur Afrikaans. By nabetragting – dws as ons met vandag se oë daarna kyk – bring dit ons by wat sekerlik die grootste raaisel in die Afrikaner (en selfs in Suid-Afrika) se geskiedenis is, naamlik dit: Hoekom, ná die verpletterende nederlaag van die Anglo-Boereoorlog en die daaropvolgende ellende en armoede, het die Afrikaners nie en masse verengels nie? Die Engelse oorwinnaars was immers ten gunste van assimilasie (‘n bietjie, kan ‘n mens redeneer, soos Anglo-American tov die ANC in die pre-1994-onderhandelinge). In terme van vandag se begrippe van ekonomiese en politieke empowerment sou die Afrikaner nie selfs nóg vinniger ryk en magtig (en slu, en vet) geword het as hy dit uit die staanspoor in Engels gedoen het nie?

Baie Afrikaners hét natuurlik verengels – my ouma het my altyd vertel van die Cutmans en die Vandermurvy’s – maar die oorgrote meerderheid het nie. En hier praat ek nie soseer van die arm Jan Allemans van die platteland nie, maar van dié wat gelukkig genoeg was om ‘n opvoeding te gehad het en Engels dus goed magtig was.

Dis inderdaad juis in hierdie geledere waar ons die taalstryders aantref. ‘n CJ Langenhoven of ‘n Eugène Marais was nie net goed in Engels nie, maar was selfs baie lief vir die Engelse taal en literatuur. Hoekom het hulle in Afrikaans geskryf? Hoekom sou hulle en hulle gelykes daarop aangedring het om hulle kinders in Afrikaans groot te maak en te laat skoolgaan? As ek met vandag se oë na hulle kyk, kan ek eintlik aan geen goeie pragmatiese rede dink nie. As die swart elite van die demokratiese Suid-Afrika goedsmoeds aan die verengels is (moenie vergeet nie, Suid-Afrika se Nguni- en Sothotale verloor óók veld weens anglisering), hoekom nie die Afrikaners van die Unie nie? Vandag is Engels die taal van globalisering, maar destyds was hy die taal van ‘n wêreldryk! Veral gemeet aan Afrika, waar die taal van die koloniale mag, hetsy dit Engels, Frans of Portugees was, sonder uitsondering as die enigste taal van ekonomiese en politieke vooruitgang voorgehou is, was die Afrikaners se verknogtheid aan “Kitchen Dutch” enigsins ‘n sosiolinguistiese anomalie. Eintlik moes dit nooit gebeur het nie.

Is dit so vergesog om aan te voer dat daar, selfs vandag nog, iets spook van hierdie taalidentiteitsverknogtheid by dié Afrikaners wat Jansen so irriteer met hulle bohaai oor Afrikaans? ‘n Vae herinnering van ‘n verafgeleë historiese ervaring en wat miskien, binne die Suid-Afrikaanse konteks, redelik kenmerkend is van Afrikaans? Kenmerkend van Afrikaans, maar sonder om per definisie rassisties te wees? Sprekers van Zoeloe, Xhosa of Noord-Sotho het nou maar eenmaal nie dieselfde pad met hulle tale geloop nie. Hoekom sou hulle?

En dit is dan nou ook op hierdie punt dat die grondwet se gelykberegtiging van 11 nasionale tale mens kan mislei. ‘n Grondwet kan tale slegs “gelyk behandel” vir soverre hulle as kultuurobjekte gesien word. Maar geen grondwet kan hom uitlaat oor die taalhoudings van die sprekers van die tale nie. Mense se gevoelens kan immers nie gestandaardiseer word nie. Hoekom sal alle mense dieselfde waarde heg aan “taal” as ‘n aanduiding van identiteit?

Al wat ons kan sê, is dat genoemde laat 19de-eeuse, vroeë 20ste-eeuse verknogtheid iets te make gehad het met identiteit, van ‘n manier om jouself te laat geld in die wêreld om jou.

Die vraag is nou of hierdie verknogtheid alreeds apartheid-in-die-kiem was. Jansen vertel van die raserige Tukkiesstudente wat die “apartheidslied”, “Die Stem” sing. Toegegee, “Die Stem” was seer sekerlik die volkslied van die apartheidsregime, en as sodanig vereenselwigbaar daarmee. Maar was apartheid nie, minstens in ‘n mate, ‘n perversie van die nasionalisme wat “Die Stem” aangevuur het nie? Is die romantiese mites van ongenaakbare vlaktes en heroïese pioniers wat in “Die Stem” besing word, klinkklaar herleibaar na ontneming van stemreg en grootskaalse rasse-onderdrukking? CJ Langenhoven was nou wel uit en uit ‘n nasionalis (en ‘n – betreklik liggewig – politikus), maar dit sou onregverdig wees om sy nasionalisme sonder meer in verband te bring met dié van ‘n latere DF Malan of ‘n HF Verwoerd. Toe hy die gebed “Nkosi sikele iAfrika” gekomponeer het, het Enoch Sontonga insgelyks sekerlik ook nie kon dink dat ‘n generasie swart mense dit met gebalde vuis in die lug sou sing nie?

Hiermee wil ek darem ook nou nie probeer voorgee dat die vroeë Afrikaner-nasionalisme enigsins liberaal was nie. Rassevooroordeel was diep. In Paul Kruger se Transvaalse Republiek was daar ‘n bepaling wat enige burger met swart verwantskap tot in die hoeveelste graad (hoe verlangs ook al) uitgesluit het van stemreg. Ja-nee, die ou Boere was ‘n stoere lot rassiste.

Maar laat ons nou darem piesangs met piesangs vergelyk en maroelas met maroelas. Waar in die wêreld was daar iets soos ‘n “nierassige”, inklusiewe nasionalisme in die laat 19de eeu? En dan moet ons nou ook nie gaan staan en die Boere vergelyk met die groot opvoedkundige en ekonomiese metropole soos Parys, Londen of New York nie (Pretoria in die laat 19de eeu was in vandag se ideologiese terme nader aan Ulundi as aan Johannesburg), maar met die nasionalisme van die kleinboere – die peasantry – in die veraf dorpies en gehuggies. Ek laat my nie vertel dat die vroeë nasionalistiese Afrikaners “inherent meer rassisties” was as, sê nou maar, die inwoners van die suidelike Franse Languedoc-provinisie of die katoenboere van die suidelike Verenigde State nie. Of landelike Kent.

Natuurlik het Afrikaner-nasionalisme sy venynige nadraai in die 20ste eeu gehad, toe rassevooroordeel verhef is tot ‘n gesistematiseerde wetlik afdwingbare standaard. Apartheid het sy eie historiese aanvloei (intensiewe verstedeliking agv goud, twee wêreldoorloë, ‘n absurde begeerte om net so “beskaafd” – dws net so Europees – as die Engelse te wees) waarop ons nie hier hoef in te gaan nie. Dis in elk geval belangrik om hierdie oorsake te sien vir wat hulle is, sonder om hulle te wil gelyk stel aan Afrikaner-nasionalisme.

Een van die jammertes van die nuwe Suid-Afrika is inderdaad die feit dat die baba van Afrikaner-nasionalisme so onverbiddelik saam met die apartheid-badwater weggegooi is. Want rassevooroordeel of te nie, daar was positiewe elemente in (vroeë) Afrikaner-nasionalisme waarby ons huidige African nationalists nuttig sou kon kers opsteek. Die nasionaliste was nou wel behep met die “volkseie”, maar binne daardie raamwerk was daar nogal merkwaardig min klassevooroordeel.

En dan taal. Die ou Afrikaners was tot dusver die enigste mense in Afrika wat op groot skaal verstaan het dat die armes en agtergeblewenes die vinnigste ontwikkel as die taal hulle s’n is, maw die taal waarin hulle hulleself eien. Onder Suid-Afrika se Afrika-nasionaliste onderskei Sol Plaatje – wie se lewensgang amper presies oorvleuel met dié van Langenhoven – hom as iemand wat geskryf het in ‘n Afrikataal – meestal Tswana, maar ook ander. Hy kon dus sy politieke aksie in verband bring met ‘n breër opvoedkundige doel gerig op gewone mense. Buiten mobilisering dmv liedere en die orale tradisie het Afrikatale egter min te sê gehad – en glad niks te skryf nie – in die ontwikkeling van African nationalism. Lg se taal was onomwonde Engels.

Die eiening – opeising – van Afrikaans het natuurlik skeef gesny. Swart en bruin sprekers van Afrikaans is aanvanklik geleidelik, en later koelbloedig, uitgesluit uit die Afrikaner-identiteit wat vanaf die 19de eeu gebou is, en kon nooit volwaardig deel in sy voordele nie. Vandag ly alle Afrikaners onder die gevolge van hierdie uitsluiting, wat Afrikaans – nie net die taal nie, maar die gepaardgaande identiteit(e) – in wese aangetas het.

Maar nou moet ons versigtig wees om nie sommer geredelik die oordeel van apartheid as die laaste woord oor die verhouding tussen Afrikaans en ‘n Suid-Afrikaanse identiteit te aanvaar nie. Daar is baie bruin en swart mense wat hulleself nie as Afrikaners sal beskou nie, maar vir wie Afrikaans ‘n wesenlike deel is van wie hulle is. En partykeer is hulle inderdaad Afrikaners. Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n klas in Engelse akademiese taalvaardigheid (“academic literacy”) aan ‘n groep buitemuurse eerstejaar-regstudente aan die UWK aangebied. Op ‘n dag het ons geredekawel oor “identity and English”. Minstens een van die studente, ’n bruin polisieman, het homself ‘n Afrikaner genoem. Ek kon dit nie oor my hart kry om vir hom te sê dat hy ongelukkig verkeerd was volgens die definisie van die begrip Afrikaner in die Oxford woordeboek nie.

Jansen laat blyk in sy stuk dat hy omgee vir Afrikaans. Hy sal byvoorbeeld “pogings steun” om te verseker dat die Universiteit van Pretoria nie ‘n volslae Engelsmedium-universiteit word nie. As dit die mens Jonathan Jansen is wat so sê, eerder as die ampsbekleder van ‘n burokrasie, dan is daar hoop. Glo my, die bevordering van “veeltaligheid” (op sigself ‘n burokratiese maaksel – as ons intellektueles en kwasi-intellektueles tog maar net almal in Engels plus een taal wou probeer praat en skryf!) het genoeg gehad aan burokrate en social engineers. Dis hoog tyd dat daar ‘n bietjie digterlike betrokkenheid bykom.

*Jaco Alant, voorheen ‘n Franse dosent, is tans ‘n dosent in Engelse taal- en akademiese vaardighede aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy is die skrywer van ‘n boek oor die sosiolinguistiese geskiedenis en die struktuur van Afrikaans, Parlons Afrikaans, wat in Desember 2004 by die Franse uitgewer L’Harmattan verskyn het.


LitNet: 7 Oktober 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.