Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Van doofpot tot kookpot: gedagtes oor die 3de Swart Afrikaanse Skrywersimposium

Zandra Bezuidenhout

Daar is gepraat. Gefilosofeer, gedroom, en 'n bietjie gebitch, daar waar die Suidoos waai soos hy nie op Stellenbosch waai nie. Drie dae en amper drie nagte aanmekaar – ek bedoel die pratery – en dis nog nie somer nie. Soms met ironie, soms met erns, ander kere net vreksnaaks – met dr Mvula Yoyo van Fort Hare en die nimlike digter Peter Snyders 'n kortkop uitmekaar.

Daar is veral geluister, dié keer Fyn geluister. Jy kon 'n hele handvol spelde hoor val, dié drie dae. En party het nogal gesteek ook – ek bedoel die spelde – en die tyd loop uit. Maar ons senuweewortels lewe nog. Dis duidelik. Dit lyk of daar hoop is – as ons roer.

Hoop? Vir wie? Waarvoor en waarom? Hoe en wat moet ons roer? Tot wie se voordeel en met wie se geld? Hoekom moet ons dit hoegenaamd vra, EN nog beantwoord ook? Moet swart apart roer, en met 'n eie lepel? Ja en nee. Die dinge raak ingewikkeld. Indien nie kompleks en kontensieus nie – ons werk hier immers met akademie. Plofbaar was dit ook, maar met 'n soort kalmte soos die oog van die storm, want die soort mense wat daar was, wou liefde maak, taalwoeps, nie baklei nie.

Net, daar is meer vrae as antwoorde op dié stadium. Gelukkig dat niks nog afgehandel is nie – die ene ope moontlikheid, en daar lê die ding. Dit is min of meer die bondigste moontlike opsomming wat mens kan gee van die Swart Skrywersimposium waar vele geskitter het in hul afwesigheid – dié wat so hoog opgee oor taal en letterkunde, nogal.

Om HIER te probeer sê wat alles DAAR aangeraak is (lees: genoem, en nie genoem is nie, maar wat onder die oppervlak broei, want broei word daar gebroei!), sou 'n bedrogspul wees. Waar was julle almal? Julle vurige bekpraters, lesende en nielesende leeskringlede, dosente en studente van alle dissiplines, Afrikaanspraters, aspirantskrywers, landgenote? Lede van die publiek, onderwysers, koesteraars van kultuur uit alle oorde en beroepe – WAAR WAS JULLE, of is julle te besig met petisies en briewe aan die koerant? Julle het tog nie almal Vrydagmiddag en die hele Saterdag gewerk, gebraai en rugby gekyk nie? En gaan dit dan nie nou, soos nooit tevore, oor ons eie mense nie? Oor ons toekoms op hierdie uithoek? Ja, die ons en die eie – wat 'n kaktus het identiteit nie op die vlaktes geword nie, die doringding wat moet blom en kosgee vir die nageslag, die hele bonte heuwel hier en anderkant die sand, die berg, die groot rivier.

Dit was 'n unieke openbare en openbarende geleentheid, een van te min, waarop ons onder mekaar kon uitpraat (nie heeltemal alles nie, maar dalk volgende keer), en ten minste probeer verstaan wat in mekaar se binnegoed, wensdrome en wasgoedsakke aangaan. Ons kon ten minste probeer om wanpersepsies, vooroordele en moeë ou koeie uit die weg te ruim – nou nog, ja nou nog. Geen verslag kan laat reg geskied aan wat woordeliks en woordeloos daar plaasgevind het nie. En dit sluit die gesprekke op stoepe, op trappe en om teetafels in; die kyke en die dinke; die skerpsinnige debat, die prikkelende lesings uit onverwagte hoeke, en by al hierdie, weldeurdagte formulerings; die versies, die liedjies en die grappe. Wat die stuk of vyftig siele wat wel daar was – party van ver en party van naby – gekry het om huis toe te neem, is iets wat die luies en onbetrokkenes, niekoerantlesers en nie-LitNetlesers nooit sal weet nie. Want dit het oor menswees gegaan, nie net oor taal, of oor Afrikaans nie. Dit het gegaan oor bymekaar uitkom, oor uitdrukking, oor lewe en kunsmaak. Daar is ’n doofpot wat borrel en blaas, en dit ruik heerlik. Opwindende dinge is aan die gebeur, waarvan die saligste is dat Afrikaans van sy wit melaatsheid bevry word. As ons die momentum aanryp, kan die wa êrens kom – op 'n nuwe planeet dalk, in 'n tuig van 'n ander kleur.

Daar is genoeg welwillendheid en geesdrif om 'n dawerende nuwe taalbeweging – nee, menslikheid – in hierdie land op gang te sit. Vergeet van 'n verstokte nasionalistiese ideologie. Die mense wil gewoon praat, skryf, publiseer en lees in hul moedertaal. Dis 'n taal van vele, vol van die rykdom en geskakeerdheid van al sy streke en gemeenskappe. Dis 'n ontwikkelde, fyningestemde en wonderbaarlike taal wat put uit vele bodems – 'n skatryk bastertaal (tog so 'n mooi woord vir my – dankie Breyten) wat goed is vir wetenskap en wet, vir godsdiens en vir grappe. Die wortels se “komvandaan” (dankie Diane Ferrus) is ver en wyd, en dis 'n hartstaal wat wragtag nie gaan vrek nie – hy't hopeloos te veel skop. Maar ons moet die ding klein bietjie wyn gee, en al sy sprekers toelaat om dronk te word in die taal, om te kruis en te teel, want so aards en so basies is dit. Elkeen moet “bemagtig” raak, soos hulle van die platforms af sê. Elkeen moet haar stories kan vertel, sing en versies maak, vir almal om te hoor en lees, sonder agter-die-bakhand-giggel oor mekaar se giere en maniere en baie soorte giere. Terg ja, speel ja, maar nie verneder en uitsmyt nie.

Dit bring my nader aan wat nou eintlik gesê is – waar baie nie was toe die binnekringe en die sluise oopgemaak het nie. 'n Verslaggie is tweedehands en afgewater en verkort, en dalk nog effe skeefgetrek ook, soos dit maar met verslaggies gaan. Ek sou nietemin sê dit het gegaan oor wie ons is, en waarnatoe ons woeker. Maar dit sê nóg niks. Ek probeer weer. Dit was mense, gewones en geleerdes, wat sê: kyk om hemelsnaam nie een dag langer in my wat-ook-al vas nie; gril nie vir my aksent nie, of dit Trônsvôls of Guatengelengs of Kaaps is, want ek wil julle ken, en deur julle geken word.

Die mense wat daar was, het gewonder oor die raadsaamheid van onder andere die woorde swart en swart skrywers, oor onderrig en taal, en oor koerante, tydskrifte, uitgewers en 'n letterkunde wat die Afrikaanssprekende gemeenskap van Matroosfontein tot Matjiesfontein tot Mellville weerspieël en laat klink. Maar hoe moet dit gebeur as die kanon nog opvallend witgesentreerd is, vra hulle, en manuskripte wat nie aan Eurosentriese eise beantwoord nie (en hoekom moet hulle?), alte dikwels as “onvoldoende” en “ongeslaagd” beskou word? Is daar net een estetika in hierdie wêreld waarin diversiteit sodanig gevier word? Is dit hoe ons mekaar omhels, deur anderpad te kyk? En as die probleem by verkope en bemarking en bewusmaking lê, by opleiding en begeleiding, waarom kan daar in hierdie land van goud en melk en heuning nie geld gevind word vir 'n bloeiende, voortstuwende nuwe letterkunde en leeskultuur nie?

Iets moet ons doen. “Ons”? Wie is dit? En hoe? Die antwoorde is nog nie daar nie. Die nuwe “pêrel” van die taal is besig om gevorm te word. Ons weet nog nie hoe hy daar gaan uitsien, en selfs in water skulp hy tans skaaf, of homself opnuut beskaaf nie. Dalk gaan dit 'n goddelike swart pêrel wees, of 'n hele string – rondes en gladdes, maar sommige ook korrelrig, stekelrig en asimmetries soos koraal. Rosig, bruinerig, romerig, oranje dalk? Watter snoer der snoere gaan dit nie wees nie. Vlammend en ritselend van afwisseling en patroon; die een onverwagte stukkie kosbaarheid langs die ander, want is kontras nie skitterend vanweë die kontras nie?

Taal is nie staties nie – dit ontdooi en stol en vermeng voortdurend. Ounuus, maar as ek luister na die geluide in sommige knus enklaves, is dit nog vir vele onbekend. Die gletser van die taal maak glad, en die bodem neem nuwe gedaantes aan. Is dit “sleg” omdat ons die nuwe vorm nog nie ken en bejubel nie? Is die geboorte nie bloederig en pynlik, en die eerste skree van die nuweling suiwer liriek nie? Ons wil die asems oor die strotte hoor sing, al die strotte, en die tonge teen die tande en verhemeltes hoor klap. Ons verstaan tog mekaar, al neuk die een se kode volgens die ander al van koers af.

Die boodskap van die simposium waar julle nie was nie? En wat ongesê deur onse lewendagge koppe gemaal het? Net dit: jy is nodig my vriend, voor in die koor, al is jy effens hees, vals of aamborstig volgens jou buurman of broer/bra. Daar gaan nie meer oudisies wees nie. Dis die asem wat saakmaak, want in die asem roer die gees. En dis wat ons soek, daardie woelige, woelende geeste wat in hierdie land se klip en klei woon; in sy seelug en sy halfwoestyn, sy toorberge en plekke met 'n naam soos Waterval …

Wie op die simposium gepraat het, en wie presies wat gesê het, is te veel om aan te stip. Lees dit in die koerant of op die program – dit staan selfs ook op www.litnet.co.za, vir dié wat nog sluimer.

Vir my was dit nie die sprekers se name en hul onderwerpe nie, maar die totaliteit van die boodskap en die vibrasie wat belangrik is, en waarvan iets hopelik in hierdie stuk uitkom.

Kô lat ons sing! Of anders gestel, lees ook wat Adam Small geskryf het, en Elias Nel, EKM Dido, Peter Snyders, Diane Ferrus, PJ Philander, Kirby van der Merwe, AHM Scholtz en hoeveel andere, en kom hoor volgende keer wat knap akademici soos proff Hein Willemse, Frank Hendricks, Jakes Gerwel, asook die inligtingkundige Robert Pearce en al die ander te sê het.

Dit beteken NIE dat jy nie meer Van Heerden, Van Niekerk en Van der Vyver moet lees (en koop) nie. En Krog en Stockenström byt nie, altans nie om dood te byt nie.

Gee aan al die stemme plek in jou media, literatuur en in jou dink, maar veral in jou hart, want op watter vasteland boer ons?

Ja, vergeet Blum se monnemente nie. En julle vroumense wat so stilbly, skryf 'n slag, en jaag die uitgewers uit hul neste op. Julle is bekkig genoeg. Stuur julle goed ook vir koerante en tydskrifte; wie weet, dalk word dit gebruik.

Woon skryfskole by, skryf en herskryf. Lees dit vir julle vriende voor, of hou konsert, al is dit huiskonsert. Dis 'n wonderlike toets, en gee jou sommer 'n “kick-start” as jou hartsgoed woorde word. Mens kan begin deur verjaardagversies en begrafnisversies en trouversies te maak, soos in die oudae, en van pretmaak in die taal vorder na die ding wat hulle “literatuur” noem. As ek my nie verbeel nie, was dit een van die verskuilde boodskappe van die simposium.

Haal nou uit daai balpuntpen, Parker, of lippotlood. Of skuif daai muis.

Zandra Bezuidenhout

se debuutbundel Dansmusieke het in 2000 verskyn, en is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Van die gedigte is opgeneem in Groot Verseboek 2000 en ander publikasies. Verse in 'n Nederlandse vertaling het in die Vlaamse Deus ex Machina verskyn. Haar tweede bundel, Aardling, word binnekort deur Protea Boekhuis uitgegee. Sy het aan die Hoërskool Hottentots-Holland gematrikuleer en aan die US en Leiden gestudeer, en in 2005 'n doktorale proefskrif voltooi oor eietydse vrouedigters in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebiede. Sy is tans 'n vryskut-taalpraktisyn en resensent en dra o.a. by tot die rubriek 'Taalskatkis' in Die Burger.

  Zandra Bezuidenhout



LitNet: 1 November 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.