Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die uur van waarheid het nou aangebreek

Blou Bul Braampie


Vir ons agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, het die uur van waarheid aangebreek. Hy laat my nogal dink aan ’n dobbelaar wat besig is om groot geld te verloor maar steeds verseg om op te hou speel. Hy glo hy gaan voor die einde van die aand sy volgende miljoen maak.

Twee dinge tel egter in Strooihalm se guns. Die een is sy vergoedingspakket. Hy is nie net die Springbokafrigter met die swakste rekord in die annale van Springbokrugby nie, hy is ook die bes besoldigste een. Ek glo hy gaan nie sommer so gelate van daardie vergoedingspakket van by die R2 miljoen per jaar afstand doen nie.

Tweedens tel die uniekheid van die Wêreldbekertoernooi in sy guns. Vorige vertonings raak oornag niksseggend. Anders as met enige ander bekerfinaal, waar een onverwagte blink vertoning ’n span met eer kan beklee, sal die wenspan sewe goeie wedstryde in ’n ry moet speel om met die louere weg te stap. Een kritieke strafskop, een hanteerfout of een verlore lynstaan kan ’n span se Wêreldbekerdrome kelder.

Ek vind dit derhalwe glad nie vreemd dat Strooihalm redelik ontspanne lyk in sy omgang met die media nie. Hy het pas van die roulette-tafel af opgestaan en gaan binnekort by ’n eenarm-bandiet stelling inneem. Hy het genoeg geld om sewe keer te speel. Hy kort ses goeie trekke en ’n boerpot. Daar is iets in die lug wat vir my sê sy geluk het gedraai. Ek weet net nie of dit genoeg gedraai het nie. In Pretoria glo ons nie eintlik in alsydige agterspelers nie. Ek het een keer vir my pa op Loftus gevra wat is ’n “utility back”. Sy antwoord was dat dit ’n agterspeler is wat oral ewe useless is. Hy is selde verkeerd bewys. Ek hoop nie Strooihalm het te veel “utility backs” in sy span nie.

Ek is nie bekommerd oor die feit dat ons net een spesialis-senter in die span het nie. Met Victor Matfield, John Smit en Joe van Niekerk in die agterlyn is daar in elk geval nie plek vir nog ’n senter nie.

Op ’n meer ernstige noot dink ek dat die moontlike verskuiwing van Werner Greeff na senter ’n meesterskuif kan wees. Met De Wet Barry en Greeff in die middelveld sal die Bokke ’n stabiele verdedigingslyn skep. Dit is uiters belangrik om die Engelse brekers daar hok te slaan. Voeg Hougie se 21 punte by en ons mag dalk net by die agterdeur inglip.

’n Ander belangrike punt is Saterdag deur Heyneke Meyer teen die Leeus bewys. Selfs met ’n bulslot soos Geo Cronje in sy span het hy die Leeus se lynstane baie selektief betwis. Wanneer ’n lynstaanbal betwis word, word minstens vier verdedigers vir ’n sekonde of wat geneutraliseer. Heyneke het gesorg dat sy spelers nie spring nie, maar almal eerder kyk waar die bal ingegooi word. Die Bulle het dus onmiddellik hulle verdedigingsblokke dienooreenkomstig opgestel. (My waarneming was dat dit nie net een verdedigingsblok was wat die Leeus se dryfbewegings gestuit het nie.) Dié stukkie taktiek het uitstekende resultate opgelewer. Strooihalm behoort dieselfde te doen. Die bal of twee wat Matfield moontlik by die Engelse kan steel, is niksseggend. Die gedugte Engelse pak gaan hulle nie deur die verlies van ’n ou lynstaanballetjie laat afskrik nie. Die Bokke moet hulle ego’s vergeet en op tegnieke konsentreer.

Die skeidsregters het tydens die naweek se Curriebekerwestryde weer die kollig by die spelers gesteel. Andre Watson se optrede in die Bulle se wedstryd het my baie aan ’n eenmanvertoning van Siener in die Suburbs laat dink. Hy was by tye so geslepe soos Giel, dan weer so deurmekaar soos Tjokkie, maar meesal so aggressief soos Jakes. Sy taalgebruik het ook baie aan die Siener-dialoog laat dink. So sê hy byvoorbeeld op ’n stadium vir Anton Leonard: “As hulle (die Bulle) nie wil hoor sal ek hulle met kaarte moet vat.” Wel, hy het voet by stuk gehou en die Bulle met drie geel kaarte “gevat”. Ten spyte van Watson se vreetkaartspeletjie, het die Bulle kop gehou en die wedstryd met drieë beklink. Min refs kan ’n span stop wat die opponente se doellyn herhaaldelik oorsteek.

Voorts was Watson meer inkonsekwent as enige van die Idols-beoordelaars. Toe Anton Leonard as baldraer opstaan nadat hy neergeslinger is, straf Watson hom omdat hy uit die doodvat uit opgestaan het. Daar was egter volgens die kyk-weer geen doodvat nie. In die 26ste minuut staan Doppies le Grange van die Leeus wel uit ’n doodvat op met ’n Bul-verdediger wat aan sy enkel hang. Dieselfde gebeur met Enrico January kort nadat hy as plaasvervanger op die veld gekom het. Watson laat in beide gevalle die spel voortgaan. Gaan kyk maar die video, mnr Watson. En terloops, jou strafskoptelling was 14-5 in die Leeus se guns!

Johan Meeuwesen, wat die Vrystaat-WP-wedstryd geblaas het, het ’n goeie vertoning met enkele swak beslissings bederf. Die “laatvat” van Os Durandt op Gaffie du Toit was toe nooit ’n laatvat nie. Die gerieflike strafskop het WP in staat gestel om die gelykopuitslag te bewerkstellig. In sokker sou Du Toit gestraf gewees het toe hy so sonder rede neerslaan. In hierdie geval moes Os egter met ’n geel kaart betaal. Nog ’n geval waar ’n skeidsregter ’n span ’n wedstryd kos met ’n ondeurdagte raaiskoot oor ’n beslissing. Ek wonder nog hoe speel ’n mens ’n Superliga met ondergemiddelde skeidsregters en belaglike grensregters.

Ten slotte ’n woord van gelukwensing aan Marius Goosen se Poemas met hulle mooi oorwinning teen die Sharks. Ek het vroeg-vroeg in die bestaan van hierdie rubriek al vir Goosen die bynaam “Albatros” gegee. Daar was ’n tydperk in sy rugbyloopbaan dat geen bal vir hom reg wou spring nie. Ook sy geluk het gedraai. Deesdae is hy die meesterplanmaker van die manne van Witbank en enige jong opponent se ergste nagmerrie. Sy hoë en robuuste werkverrigting is iets om te aanskou. Die span wat vanjaar die Curriebeker wil wen, sal eers by ou Albatros se manne moet verbykom.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.