Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Blou Bul Braampie: SA rugby kort verdedigers!

Blou Bul Braampie

Die naweek se rugby was baie soos ’n konsert van die Grafsteensangers. Daar was min om oor opgewonde te raak, maar daar was darem ’n lag met ’n traan. Die Australiese skeidsregter Peter Marshall was hierdie keer in die rol van die begrafnisondernemer — hy het die Bulls begrawe.

Nie dat die Bulls enige hulp nodig gehad het om te verloor nie. Met swak verdediging en ’n totale gebrek aan respek vir die losskrumreël het hulle hulle eie graf gegrawe. Marshall se bykans volmaakte inkonsekwentheid het die Bulls se gefrustreerde skare erg die harnas in gejaag. So byvoorbeeld het Jaco van der Westhuyzen ’n geel kaart gekry vir ’n laat doodvat, terwyl ’n uiters gevaarlike doodvat op een van die Bulls se spelers enkele minute tevore met ’n vriendelike waarskuwing afgemaak is. Dit is duidelik dat hierdie Australiese skeidsregters maak net wat hulle wil, terwyl ons skeidsregtersbase soos ’n klomp tandlose hondjies staan en kef. Ek wonder nog of ons mense nie ’n klomp tweegatjakkalse is wat agter die skerms ’n ander deuntjie sing nie.

Die laat doodvat van Jaco van der Westhuyzen was die keerpunt van die wedstryd. Tot op daardie punt was die Bulls nog in die prentjie, maar met net 14 manne om te verdedig, het die kerk uitgekom. Die arrogante Van der Westhuyzen behoort swaar beboet te word vir sy moedswillige oortreding. Hy het die Bulls se wenkans manalleen nek omgedraai.

Op hierdie stadium lyk dit of daar vier Nieu-Seelandse spanne in die semifinale gaan speel. Ek weet nie of my gestel dit sal kan verwerk nie. En raai raai riepa, waar is die Bulls na die naweek se rugby? Tweede laaste op die punteleer. As dit nie was vir die hulpelose Chiefs nie, het die Bulls sekerlik weer die houtlepel voor die ander spanne weggeraap.

Die Stormers se slae teen die Reds het my sprakeloos gelaat. Nadat die Kapenaars die Bulls die vorige week met dinkrugby en goeie verdediging uitoorlê het, het hulle wiele sleg afgekom. Kom ons wees eerlik: die Stormers het met enkele uitsonderings nog nie vanjaar goeie rugby gespeel nie, maar om teen ’n verswakte Reds-span wat boonop net 14 manne op die veld het, te gaan verloor, is onvergeeflik. Die Men in Black skuld hulle ondersteuners hierdie naweek ’n grote. Kom ons hoop maar dat die Kaapse gasvryheid die Blues hierdie week gaan onderkry.

Kevin Putt se wisselvalige Sharks het darem Suid-Afrika se eer gered met ’n vegtersvertoning. Dis jammer dat die Sharks van die begin af so uitgedun is. Dit benadeel spelers soos Andre Snyman en Stefan Terblanche, wat baie goeie vorm het. Charl van Rensburg speel ook eerlike, harde rugby.

Oor die Katte skryf ek liewer nie. Dit was nog ’n tipiese slapgatvertoning van ’n span wat glad nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Skinstad kan nie alleen die blaam dra nie, maar sy onvermoë om agterlangs ’n verdedigingspatroon te vestig moes die Springbokkeurders ontstel het.

Die agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, het hierdie week die name van 12 spelers getelegrafeer wat die kern van sy Wêreldbekergroep gaan vorm. Die groepie is, om die minste te sê, vreemd. Dit sluit John Smit in wat die hele seisoen nog op die krukkelys is, asook Joe van Niekerk, wat meer beseer is as wat sy foto in die vrouetydskrifte is. Voorts sluit dit Brent Russell en Andre Pretorius in wat beide nog nie op die verdediging oortuig het nie. In die voorry het Robbie Kempson blykbaar ’n uitnodiging om weer vir Suid-Afrika te speel.

Ek verstaan nie wat Strooihalm met die aankondiging probeer bereik het nie. Dit behoort ontstellend te wees vir spelers wat meeding om ’n plek in die span. Strooihalm dui ook aan dat spelers voortaan op ’n wetenskaplike manier gekies gaan word en nie net op een vertoning nie. Die slegte nuus is dat die Engelse al vir die afgelope sewe jaar hulle spanne wetenskaplik kies, maar dis nie al nie. Hulle speel ook baie wetenskaplike rugby en bou hulle sukses op goeie tegnieke. Strooihalm en sy adviseurs het ses maande om hierdie agterstand in te haal voordat die Bokke die Engelse in die Wêreldbeker pak. Voor dit is daar nog die genadelose Drie Nasies-reeks om dinge verder deurmekaar te krap.

Die prentjie lyk egter nie net donker nie. As Strooihalm terugkyk, sal hy besef dat die Engelse geklop kan word. Die oplossing lê in guerrilla-taktiek — nie gorilla-taktiek nie (dis wat ons verlede jaar op Twickenham probeer het). Om hierdie guerrilla-taktiek te implementeer, gaan hy ysters nodig hê om sy verrassingsaanvalle te loods. Spelers soos Enrico January, Werner Greeff en Fabien Juries kan die ding doen. Met Dries Scholtz en Andre Snyman in die middelveld kan die Engelse senters maniere geleer word. ’n Fikse Marius Joubert kan ook op senter ingespan word, met Snyman wat na vleuel uitskuif.

Onthou: die naweek is daar trosse drieë teen ons spanne gedruk. SA rugby kort goeie verdedigers om die gate toe te stop, want voor dit nie gedoen is nie, kan daar nie sinvol aangeval word nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.