Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Pasop vir die trekvoëls, Rudolf

Blou Bul Braampie


Nie eers die digter van smarte, Totius, sou woorde kon vind om vanjaar se Supertwaalf te beskryf nie. So ’n treurige spulletjie het die Suid-Afrikaanse toeskouers lank laas ervaar. Die sewe maer jare van SA rugby wat verlede jaar op Twickenham hoogty gevier het, is nog lank nie verby nie.

Ek voel jammer vir die Cats-ondersteuners wat die Supertwaalf met soveel afwagting begin het. Veral toe die bestuur van die Cats daarin geslaag het om die Kaapse supertong, Bob Skinstad, van die Stormers af weg te rokkel. Die Bobcat het hom aangesluit by ’n jong span propvol talent met die Australiese wonderafrigter, Tim Lane, aan die stuur en die grootbek-radio-omroeper Jeremy Mansfield en sy hele radiostasie agter hulle. Vanjaar sou die jaar van die Kat wees. Om alles te kroon het die gesaghebbende webwerf, Planet Rugby, voorspel dat die Cats die enigste Suid-Afrikaanse span in die halfeindstryde sou wees.

Wel, na hulle nederlaag teen die Blues ervaar hulle vuisvoos ondersteuners wat die Bulls-ondersteuners die afgelope paar jaar moes deurmaak. Vir ’n hele paar jaar moes Loftus se burgers maar net vir ’n “goeie verloor” hoop. Van oorwinningspartytjies is daar net in Nieu-Seelandse koerante gelees. Keer op keer moes die Bulls terug na die tekenbord toe, net om die volgende naweek van voor af uitgelooi te word.

Die Sharks en die Stormers is so deur beserings uitgedun dat hulle nooit werklik volgens potensiaal kon speel nie. Nietemin het verskeie spelers in hierdie uitgedunde spanne met trae verdediging hulle loopbane laat skade ly.

Was dit nie vanjaar vir die Bulls nie, was ons rugby in ’n totale depressie gehul. Dis ’n groot jammerte dat hierdie Bulls nie in die semifinale betrokke is nie. Die Pretorianers kan hulleself seker skop dat hulle plaasvervangerkaptein, Victor Matfield, nie teen die Stormers maar die gelykopuitslag wat op ’n skinkbord vir hom aangebied is, aanvaar het nie. Daardie twee punte het op die ou end die Bulle se doppie geklink. Mag niemand ooit weer vir Matfield as ’n kaptein vir ’n rugbyspan oorweeg nie. Matfield sal in elk geval sy sokkies moet optrek as hy ’n faktor in vanjaar se Wêreldbeker wil wees. Hy boer deesdae net soveel in die agterlyn soos Skinstad en doen nie sy werk in die vaste spel nie.

Rudy Joubert en Louis Koen het in die pylvak al hulle kritici verkeerd bewys en die wa deur die drif getrek. Hoewel Joubert se flirtasies met hardlooprugby die direkte oorsaak was dat die Bulls nie meer sukses in sy toer na Doer Onder behaal het nie, het hy die Bulls tot groot hoogtes aangespoor. Volgende jaar kan hy met die hulp van SARFU dalk nog beter vaar, mits hy nie dieselfde foute met spankeuses maak nie. Die kies van die blits, bang John Daniels, het hom duur te staan gekom.

Ek is nogal verbaas dat die agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, so hard probeer om al die trekvoëls, na Suid-Afrika terug te lok. Robbie Kempson, Percy en Tinus Delport is skynbaar hoog op sy prioriteitslys. My gevoel is dat hy op die verkeerde spoor is. Daar is geen beter toets vir ’n speler se wilskrag en deursettingsvermoë as die Supertwaalf nie. Die feit dat so baie van ons spelers vanjaar hierdie toets gedop het, dien vir my as bewys dat daar baie min werklike Springbokke vandag in ons ou landjie rondloop. Daar is glads te veel Springbokbaadjies die laaste vyf jaar uitgedeel. Kempson en die ander trekvoëls was glad nie aan hierdie ongenadiglike sekwens van moordende kontakrugby blootgestel nie. Dis maklik om goed te speel as jy net so dan en wan in ’n harde wedstryd opdraf. Daarteenoor het die Supertwaalf geen maklike wedstryde nie.

So wie is hierdie Gideonsbende wat met eer uit die Supertwaalf gaan tree?

Hier is my lysie: Geo Cronjé, die slot van die Bulls en nuwe ysterman van Suid-Afrikaanse rugby en sy (klein) boetie Jacques. Bakkies Botha, Pedri Wannenburg en Danie Coetzee, ook uit Bloubulland, en dan natuurlik Joost. Agterlangs Jaco van der Westhuyzen van die Bulls, asook die Stormers se Leon van den Heever. Stefan Terblanche en Craig Davidson van die Sharks agterlangs, asook hulle leenhaker Gary Botha.

Ander name wat ook by my opkom, is Eduard Coetzee, die jong voorryman van die Sharks, Fabian Juries van die Bulls en André Pretorius van die Cats wat aan die einde van die reeks sy vorm begin herwin het. Victor Matfield en Robbie Fleck was by tye briljant, maar merendeels nie in vorm nie. Brent Russell het sy oomblikke gehad, terwyl Derrick Hougaardt hopeloos te min kanse gekry het.

Onder die senters was Andre Snyman in ’n klas van sy eie. Frikkie Welsch (Bulls) en Rudi Keil (Sharks) het ook hard probeer. Werner Greeff het tot voor sy besering gewys hoekom hy ’n sekere keuse behoort te wees as alsydige agterspeler.

Onder die Stormers se voorspelers het Cobus Visagie en Adri Badenhorst baie goed gelyk.

Van die kerngroep van twaalf name wat as basis vir die Wêreldbeker span sou dien, wat Strooihalm ’n maand gelede geïdentifiseer het, het min oorgebly. Spelers soos Sephaka en Bobo het vrot gevaar, terwyl Skinstad en Bolla Conradie hopeloos uit vorm is en John Smit nog nie begin speel het nie. Joe van Niekerk lyk glad nie opgewasse vir die stampe van groot rugby nie.

Kom ons hoop die uitsoekgroep van wie Strooihalm foto’s laat neem het, oorleef die Drie Nasies. As hy mooi gekyk het na die Supertwaalf, behoort hy vandag te weet wie hom nie in Australië met die Wêreldbeker in die steek sal laat nie. As hy boonop eerlik is met homself, sal daar ’n hele paar verrassings in die span wees.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.