Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Te veel passasiers op hierdie Springboksoustrein!

Blou Bul Braampie

Na vanjaar se Curriebekerreeks sal niemand dit seker betwyfel dat ek in die persoonlikheidskategorie “volslae pessimis” val nie. Eers toe Jaco van der Westhuyzen die Blou Bul-ondersteuners twee minute voor die eindfluitjie van die Curriebekerfinaal begin dirigeer, het ek ook begin glo die Curriebeker is binne bereik van die Bulle.

Die aanhoor van die Springbokspan het my tot in my kleintoontjie gegrief. Hoe kon hulle die mees talentvolle speler in Suid-Afrika die geleentheid misgun om sy vakleerlingskap vir sy internasionale loopbaan op dié toer te doen? Die toer was ’n ideale geleentheid vir Derick Hougaard om aan die kultuur van toetsrugby gewoond te raak. Die samestelling van die span het my finaal laat besef dat Dolfman en sy medekeurders op geleende tyd is en dat ons maar die advertensies kan begin plaas. Na volgende jaar se Wêreldbeker is Dolfie en die gonsgroepie wat hom help kies, geskiedenis. Hierdie Springbokspan moes die weg wys na nog ’n Wêreldbekeroorwinning. Ongelukkig het dit nie gebeur nie. Vir my lyk dit of daar net te veel passasiers op hierdie Springboksoustrein is.

Oor die insluiting van Jean de Villiers is al genoeg geskryf. Hoe die drie onwyses egter sy naam op die lysie kon kry, weet net hulle. Probeer ’n mens sy keuse met Hougaard se weglating te versoen, besef jy opnuut watse dramatiese verstandsverbystering die keurders moes ervaar het.

Die mees ongelukkige speler om nie die span te haal nie, is Neil Powell. Die twee WP-skrumskakels is nie een op dreef nie. Ek sou Powell as nommer een gekies het en vir Joost saamgevat het om hom touwys te maak. Die woelige Franse losvoorspelers gaan De Kock baie besig hou, om nie eens van die tierende Ingelse te praat nie.

Die blote gedagte dat Dolfie die Ingelse op Twickenham wil gaan aanvat met vier van die Leeu-voorspelers wat teen die Bulle slae gekry het, is genoeg om die ys in my drankie te laat smelt. Sonder Matfield gaan “goeie lynstaanballe” bloot ’n akademiese begrip wees, terwyl ’n voorry met Sephaka, Dalton en Meyer soveel vertroue inboesem as ’n Krion-belegging. Sephaka het soos ’n derdeklaspassasier in die Curriebekerfinaal gelyk, terwyl oom Willie Meyer ewe gemoedelik namens Andre Vos erken het dat sy span hulle rieme styfgeloop het. Meyer het goed geskrum in die finaal en die jong Wessel Roux sonder veel moeite in toom gehou. Wanneer die Bulle egter gedryf het, het oom Willie gesukkel om by te bly.

Dalton is self ook nie ’n toonbeeld van beweeglikheid nie - dus: die Bokke gaan swaar trek teen ’n beweeglike pak.

Agterlangs kry Butch James nog ’n kans na sy rehabilitasie. Teen die Bulle in die semifinaal was daar egter genoeg aanduidings dat James nie daardie spesiale iets het wat Honiball gehad het nie. Ek stem saam met Archie Henderson dat James nie nog ’n kans verdien het nie. Hoewel Fleck ook maar vrot gevaar het in die Curriebekerreeks, het hy darem genoeg ondervinding om sy man te staan.

André Pretorius se seepbel is ook met die finaal geprik. Sy gebrekkige linkervoet sal onophoudelik deur uitgeslape opponente aangeval word. G’n wonder dat die afrigter van die Ingelse, Clive Woodward, so baie lof vir Pretorius na die Curriebekerfinaal gehad het nie. Dis duidelik wie hy teen Johnie Wilkenson wil sien opdraf op Twickenham.

Pedri Wannenburg, wat vir my met sy bakkebaarde baie na Elvis lyk, verdien sy kans. So ook Friedrich Lombard. Ek dink nie dis wenslik om die jong Wannenburg nou al vir die toetse te kies nie. Teen die vlugvoetige Franse behoort hy goed te lyk, maar teen die Ingelse sou ek baie meer gemaklik gevoel het met die onverskrokke Wasserman in my span. Op Twickenham sou ek graag vir Wasserman en Hendrik Gerber as ondersteuning vir Krige wou gehad het. Wannenburg gaan nog groot rugby speel, maar Martin Johnson se trop voorspelers is ’n afgerigte eenheid wat die Bokke sal vermorsel as hulle nie onder die spreekwoordelike kombers speel nie.

Bakkies Botha, wat blykbaar ook in die toetsspan gaan wees, loop ook die gevaar om op Twickenham sy moses teë te kom. Daar bestaan min twyfel dat Bakkies baie talent het, maar teen slotte soos Johnson en Kay het jy meer as net ’n groot hart nodig.

In sy gesprekke met die media meld Dolfman dat hy graag op die Supertwaalf wil voortbou. Ek vermoed hy het dalk lank laas na die video-opnames van die wedstryde gekyk, anders sou hy besef het die Bokke het net genadebrood geëet. Dalk moet hy liewer oorweeg om ’n skoon blaadjie om te slaan, voordat dit te laat is.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.