Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor befoeterde Bulle en slapgat Sharks

Blou Bul Braampie



Die Bulle het toe die onmoontlike reggekry en weer ’n wedstryd gewen. Nie eens ’n dooierige Bloemfonteinse skare en ’n giftige skeidsregter kon hierdie befoeterde Bulle stuit nie.

Toe Rooimoer Joubert in die onderhoud voor die wedstryd eers grinnik en toe uitwys dat die span met die beste vaste vyf gewoonlik ’n rugbywedstryd wen, het daar ’n sprankie hoop kop uitgesteek. Toe die Bulle nog boonop goed wegspring, het ’n oorwinning haalbaar gelyk. Net toe dit lyk of hulle totaal in beheer is, kom die Katte se twee drieë voor rustyd en my moed sak maar weer in my skoene. Gelukkig het Matfield die vories onder ’n kombers gehou. Dit het Koen in staat gestel om die telbord aan die gang te hou.

Die geel kaart wat Danie Coetzee gekry het, het my regtig die josie in gemaak. ’n Beroepspeler wat so ’n fout maak, behoort ’n groot boete opgelê te word. Ek hoop die bestuur van die Bulle het Coetzee behoorlik uitgetrap. Sy onbesonne oortreding het die Bulle byna hulle historiese oorwinning gekos.

Verlede jaar het ek voor die begin van die Supertwaalf met Marius Goosen gek geskeer. Goosen het ’n droomwedstryd vir die Stormers teen die Sharks gespeel en my met ’n rooi gesig agtergelaat. Vanjaar was dit weer die beurt van Louis Koen, ook ’n oud-Paarliet, om eier op my gesig te smeer. Hoewel ek steeds nie glo dat hy ’n goeie losskakel is nie, het hy eiehandig die Katte gestuit. Die teenwoordigheid van internasionale losvoorspelers soos Bobcat en Big Joe het die ou jakkals geensins ontsenu nie. Volpunte vir Koen vir sy komkommerkoel vertoning en vir Rooimoer wat nooit aan sy speler se vermoëns getwyfel het nie.

Oor losvoorspelers gepraat: die jeugdige Pedrie Wannenburg en Wikus van Heerden het toe hulle veel geroemde teenstanders gewys waar Dawid die losbal begrawe het. Die Bulle sou volmaakte balbeheer gehad het, was dit nie vir André Watson wat die penniefluitjiekwêla gespeel het vir voorspelers wat nie deur die “hekke van paradise" die losskrums binnegegaan het nie. ’n Mens kan seker nie vir Watson te veel blameer nie. Die straflustige benadering wat hy uitgeleef het, stem seker maar ooreen met dit wat die Bulle vir die volgende vier weke “Doer Onder" gaan teëkom.

Die briljante vertoning van die Stormers is net oorskadu deur die slapgatpoging van die hulpelose Sharks. Kevin Putt moet hierdie keer die blaam manalleen dra. Sy gerondvallery met spanaankondigings was pateties. Ek dink Philip Smit wonder nou nog of hy in die span was. In die lynstane het hy gelyk soos ’n ou wat ’n telefoonkaart soek sodat hy kan bel vir die lynstaantekens. Ollie le Roux en Albert van den Bergh het weer eerder gelyk of hulle die rolle van Jan en die Boontjierank vertolk as na twee hoogsbetaalde rugbyspelers. Ek glo Putt is ’n bruikbare afrigter, maar met so ’n klomp onwillige lummels in sy span lê daar ’n bitter seisoen vir hom voor. Die Sharks se belangelose verdediging was sekerlik die verleentheid van die week.

Putt se verduideliking vir die aangekondigde span wat kort-kort verander, was dat hy die Stormers wou verras deur nie ’n baljagter te kies nie. Hoe’s daai vir Straeuli-logika. Teen twee van die beste baljagters in die wêreld (Krige en Gerber) moes dit ’n baie aangename verrassing vir Gert Smal gewees het.

Soos wat ek ook verlede week voorspel het, het die Sharks wel die oog gevang met ongeoorloofde spel. Ysterman AJ Venter se grasieuse kopstamp op Robbie Fleck, en Deon Kayser se volstruisskop op Werner Greeff, het die Nuweland-skare laat regop sit. Venter behoort ten minste ’n maand geskors te word vir sy stukkie lafhartige geniepsigheid. Voorts behoort die keurders wat die wêreldbekerprentjie inkleur, sommer summier sy naam dood te trek. Ons het mos op Twickenham gesien hoeveel skade ’n vroeë rooi kaart kan aanrig.

Noudat Krige ook blykbaar aangekondig het dat dit sy laaste seisoen op die plaaslike rugbyfront gaan wees, sal SARVU moet besluit of hulle hom kaptein wil maak vir die wêreldbekerveldtog. Die besluit gaan nie ’n maklike een wees nie. Met die Bokke op die afdraandepad sal die lang messe uit wees as hulle nie met Krige as kaptein volhard nie. Behou hulle vir Krige, is daar geen kontinuïteit na die toernooi nie. ’n Mens kan nie eintlik spelers soos Krige, André Vos en Mark Andrews blameer as hulle vir ponde wil gaan speel nie. Die rakleeftyd van ’n voorspeler raak al korter en alternatiewe beroepsgeleenthede al minder. Dit sit nie in elke oudspeler se broek om af te rig of homself in die media te laat geld nie.

Soos ek laas week voorspel het, verwag ek dat die Stormers goed gaan vaar tydens hulle toer na Australasië. As hulle daarin kan slaag om tien of meer ligapunte op toer te verdien, is hulle plekkie in die semifinaal bespreek. Wat die Bulle betref, moet hulle eers die sielkundige agterstand wat hulle oor die afgelope paar jaar opgedoen het, uitwis. Sewe ligapunte, wat een toeroorwinning insluit, behoort hulle mikpunt te wees.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.