Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Blou Bul Braampie

Na die treurmare van verlede jaar se rugbytoer na die Britse Eilande en Frankryk het die sportjaar vir Suid-Afrika op ’n ongekende hoë noot begin. Ernie is in top vorm terwyl Wayne en Amanda uitstekend in die Aussie Ope gevaar het. Of dit ’n goeie voorteken is vir krieket se grootste skouspel, sal nog gesien moet word.

Die massa-histerie van die Suid-Afrikaanse skares, gekoppel met die voordeel van kolfblaaie wat spesiaal vir ons boulers voorberei is, behoort ons in die Super Ses te kry. Daarna sal dit in die hande van ons onstabiele middelorde wees om die wa deur die drif te trek.

Die “onverwagte” pak slae wat die Proteas teen WP gekry het, het bewys dat hierdie vreemde konkoksie van ’n span meer as geluk gaan nodig hê om die Wêreldbeker te wen. Ek sou baie veiliger gevoel het as Jacques Rudolph die beurt saam met Gibbs geopen het, met Graeme Smith op drie. Rudolph is onbetwisbaar die grootste stukkie kolftalent wat op plaaslike bodem rondloop en Smith het verlede seisoen tuis gelyk in die internasionale arena. Soos verwag is, het die regstellende spook egter toegeslaan en twee draaiboulers op die spankeuse afgedwing. Hoe dit versoenbaar is met die Suid-Afrikaanse kolfblaaie wat die naatboulers gewoonlik begunstig, is iets wat die keurders sal moet verduidelik.

G’n wonder Eric Simons het voor die begin van die toernooi aangekondig dat die span se leuse “Geen verwyte” gaan wees nie. Dit klink vir my of die krieketowerhede al klaar begin om verskoning te maak as hulle dalk nie die semifinale haal nie. Een ding wat nie twee is nie, is dat ’n besering aan enige van ons naatboulers ons kanse waarskynlik die finale nekslag sal toedien. Die uiters belowende Zondeki en die gewillige Langeveldt beskik nie een op hierdie stadium oor die vermoëns om ’n Donald of ’n Ntini te vervang nie.

Op die rugbyfront is die Noordelike Bulle al klaar goed geposisioneer om hulle aansprake op die laaste plek op die Supertwaalf-punteleer te verdedig. Rudi Joubert, wat ’n Curriebeker-wenspan geërf het, het sommer nog voor die eerste afskop genoeg vyande in Pretoria gemaak om hom vir die volgende tien jaar op sy tone te hou. Pleks van om ’n span rondom die Curriebeker-wenners te bou, het Joubert besluit om sy eie doepa van spankeuses en taktiek te gebruik. Die eindresultaat was twee ondergemiddelde vertonings en ’n reeks wilde beskuldigings oor hoe Joubert in die pos beland het. Joubert het die plaaslike rugbypubliek sommer dadelik die moer in gemaak toe hy nie die talente van Joost en die klein Derek wou benut nie.

Joubert mag dalk ’n goeie afrigter wees - wie sal weet - maar hy weet niks van rugbysielkunde af nie. Kyk, dit is sekerlik so dat Joost nie ’n goeie track record in die Supertwaalf het nie, maar vanjaar vind daar weer ’n Wêreldbeker-toernooi plaas. Dit beteken dat Joost, wat as ’n underdog begin, beslis nie sal lyf wegsteek nie. Hy sal op ’n manier vir die keurkomitee moet wys dat hy nog met die jonger manne kan saamgesels. Joubert het ’n reuseflater begaan om nie die Blou Bulle se wenkultuur te omarm nie.

My mening is dat dit maar ’n flouerige Supertwaalfreeks gaan wees. Al die spelers het hulle oog op die Wêreldbeker. Ek verwag dat die Suid-Afrikaanse spanne nie veel gaan uitrig nie. Die enigste uitsondering is die Stormers, wat met die hulp van sy fanatiese skare naby die semifinaal kan kom. Die ander drie plaaslike spanne se kanse lyk maar yl.

Soos met die vorige reeks sal swak skeidsregterbeslissings en die beseringspook maar weer die kitaar slaan. Op die ou end sal die bondgenote van die Antipodes maar weer kragte saamsnoer en die Suid-Afrikaners uitoorlê.

Die juweeltjie van die week kom uit die mond van ons beleërde Springbok rugby-afrigter, Rudolf Strooipop. “Ons weet almal wie ons beste vyftien spelers is. Dit is net die vyftien tweede bestes waaroor ons onseker is.” Nou, ja toe!


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.