Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sportkykers het nou wragtag ’n breek nodig

Shimmie Oberholzer

So snel nog ’n jaar se sport in die Reënboogland ten einde. Genadiglik so, want na só ’n jaar het die gemiddelde sportkyker nou wragtag ’n breek nodig.

Ek sal maar seker moet begin by daai sportjie wat so baie polemiek veroorsaak, rugby. Ek het dit nou uitgefigure: ons nasionale rugby het oombliklik verswak toe die Blou Bulle weer die Currie Cup gewen het. Ek meen, as die swakste span in SA die Currie Cup wen, dan moet dit duidelik toon dat daar êrens iets drasties verkeerd is met standaarde in rugby! Jy sien, dit het onder andere gelei tot die herrysing van daai nare verskynsel, die Blou Bul ondersteuner, daai argetipiese Blou Bul ondersteuner wat genadiglik so stil was die afgelope paar seisoene. Ja, daai wesens met die hoedens met die horings aan!! Hulle het nou weer oral uitgepop soos puisies op ’n graad 10 seun se wangetjies. En hulle krap almal om. Ek het dit op goeie gesag dat selfs die rugbygode die wetter in is hieroor, en nou het die gode hulle kom wreek op SA rugby in die geheel.

My goeie gesag sê dit en dit alleen het gelei tot die fiasko wat ons die afgelope paar weke deurgekners het. Niks te doen met kwotas wat steeds diep onderlangs krap en demoraliseer, of met ’n swak hoofbestuur van SARFU wat tred verloor het met die vereistes van bestuur van die moderne game, of met (steeds) swak spelersvergoedingskontrakte wat aanhou lei tot onmin in spelersgemoedere, of met ’n beleid van Zero Kontinuïteit wat betref afrigters en spelers (drie afrigters en 76 Springbokke en 8 hakers in die afgelope 3 jaar alleen), of met die skokkende toestand van amateurrugby in SA, of met spelers wat aanhoudend wys dat hulle nie die psigiese mondering het (of wil hê) vir beheersdheid binne die reëls nie, of met spelers wat duidelik nie die reëls ken nie, of met swak spankeuses, of met ’n gebrek aan die uitspeel van ’n duidelike gameplan, of met oorvol seisoene, of met skeidsregters wat nou na afloop van die beraad daar in Australasië reken hulle gaan volgende jaar streng volgens die reëls blaas (mind you, dan verloor ons dalk verder!), of enige sulke argumente nie!

Die oplossing is gelukkig maklik en voor die hand liggend: raak net weer ontslae van die Blou Bulle in die Springbokspan, en laat die Blou Bulle sommer weer Sport Pienaar speel. Dan is die gode okay en sal dit weer beter gaan met onse rugby.

Oor sokker: behalwe dat Kaizer se fans nie hou van verloor nie, en dat seisoene erg oorvleuel (en spanne weggekoop word om op te maak daarvoor), en deurmekaar fixturelists waarin die kampioenspan eers ses wedstryde na die ander begin speel, en toeskouer(self)beheer wat kort-kort uitbars tot ietsie baie leliks, is daar darem nie veel rede tot klagtes en kommer nie. Ons is darem after all nommer 36 in die wêreld!

Kom ons by krieket, dan het ons eintlik net een klein probleempie. Ons speel met twee spelers wat eintlik nie Suid-Afrikaners is nie, ek meen, ons land kan uit alle krieket geskors word vir oneerlikheid. As ons sportiewe minister van sport nie weet wie is Kallis en Boucher nie, is hulle mos duidelik aliens. So, asseblief, Percy, haal die twee skerminkels summier uit die span. Ek is seker minister No-can-do Balfour sal twee ander sterre reg hê, en dan is daar ook die voordeel dat hy met ’n beter hart krieket sal beloer. Hy is nie onpatrioties nie, hy wil net nie aliens in die span hê nie. Intussen moet ons ook net nie begin om ’n generasie wêreldklas spinners te ontwikkel nie, netnou weet ons top spelers tydens ’n nettesessie nie hoe om dié soort balle te speel nie, en dit gaan nie goed wees vir spangees nie. Wat wel mooi is van die keurders, is die beleid van wye verskeidenheid van spankeuses wat hulle so aanhoudend toepas. Ek hou daarvan, anders het die manne kans gekry om hulle met vertroue in die span in te speel, en ons almal weet hoe lelik ’n oormaat selfvertroue in krieket is! ’n Werklike paar snel aanvangsboulers is ook nie rêrig nodig nie, want die gebreekte duime in die nette en honderde blou kolle lei ook tot ’n swak spangees. Kyk maar na die huidige Aussiespan, hulle wen nou wel baie, maar ek hoor hulle is nie genuine ’n gelukkige klompie nie.

Haai, ek het nou pas besef ons sport is eintlik in prima kondisie, ons moet net die Blou Bulle uitsort, meer sokkervelde bou en nie toelaat dat uitlanders in ons nasionale krieketspan speel nie. Dan is alles honkiedôrie.

Ewe skielik kan ek nie wag vir die Krieketwêreldbeker oor twee maande nie, of terselletyd die Super 12 en die Rugbywêreldbeker in Oktober volgende jaar nie.

Woza 2003.

Ns. Ek weet daar is nog baie ander sporte, maar hulle is almal kerngesond.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.