Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Springbokke moenie nou kop verloor nie

Blou Bul Braampie

Soos ek voorspel het, het die Bokke toe maklik met die manne van Samoa klaargespeel. Die eilanders was toe nog tammer as wat ek gedink het. Tipies Suid-Afrikaans het ons na die wedstryd onmiddellik weer die titel van die wêreld se voorste rugbyland opgeëis. Hoeveel keer in die verlede het dit nie gebeur dat ons na ’n oortuigende oorwinning oor een van die agterspeen-rugbylande sommer dadelik kop verloor het en die werklik grotes onderskat het nie.

Diegene wat Sondagoggend die boks gekyk het, sal weet wat ek bedoel. Philip Ndou, die tydbom uit Suid-Afrika se wêreld, vlieg oor om vir Floyd “Prettyboy” Mayweather voor sy tuisskare te gaan uitlooi. Voor die einde van die sewende ronde is die Suid-Afrikaner se drome pulp fiction en sy nuwe bynaam “suicide bomber.” Ndou is maar net nog ’n voorbeeld van ’n Suid-Afrikaner wie se oë oopgegaan het eers toe sy wêreldjie in duie stort.

Ek probeer niks wegneem van die Bokke se skittervertoning nie; om die waarheid te sê, ek het verlede week voorspel dat die uitgeruste Bokke maklik sal wen. Die All Blacks is egter ’n perd van ’n ander kleur. Hoewel die Walsmanne verlede Sondag onverwags vier drieë teen hulle ingeryg het, het die Nieu-Seelanders by tye onstuitbaar gelyk. Ons sal ’n baie groot fout maak as ons dink die All Blacks is ryp om gepluk te word.

Waar ek voorgestel het dat ons teen die Engelse van guerrilla-taktiek gebruik maak, glo ek dat ’n meer konvensionele gevegsplan teen die All Blacks kan werk. Onverpoosde aanvalle deur die pantserbrigade (die vaste vyf) met periodieke lugsteun van Matfield kan die All Blacks se ritme breek. Met die meteoriese Spencer om die All Blacks se agterlyn aan die beweeg te hou, sal die Bokke moet katvoet loop.

Toe ek verlede week skryf dat ek nie vir Hougaard aan die roekelose Samoane sou blootstel nie, het ’n briefskrywer my kwalik geneem. Dit was egter so hittete of my woorde was profeties. Brain Lima se plettervat op Hougaard kon noodlottig gewees het. Deur die genade kon die jongeling die wedstryd voltooi. Nuus uit die Springbokkamp uit dui daarop dat hy nie enige skete van die doodvat oorgehou het nie. Die feit is egter dat die All Blacks daarop uit sal wees om Hougaard vroeg-vroeg by te kom. Joost sal dubbel seker moet maak dat hy nie weer die jongeling met so ’n hospitaal-aangee uitverkoop nie. Ek is seker McCaw en sy trawante sal spesiale moeite doen om Hougaard vroeg-vroeg te intimideer.

Van Hougaard gepraat: sy stryd met Spencer kan deurslaggewend wees. Kry ons man ’n goeie diens van die “ou man”, kan die poppe dans. Hougaard het ’n taktiese dimensie tot die Bokke se spel toegevoeg wat sekerlik die All Blacks se nekhare laat rys. Aan die anderkant kan ’n dartelende Spencer vroeg reeds die uitklophou plant as die Bokke se losvoorspelers nie die voordeellyn jaloers bewaak nie.

Ons agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, se keuses sal deurslaggewend wees. Danie Rossouw is ’n moet vir die gevegsplan wat waarskynlik die beste resultate sal oplewer. Om nou die Kindergarten-Springbok (Burger) te wil kies, is moeilikheid soek. Vir Richie McJaw sal dit voel of hy van die kinderspyskaart af bestel as die jong Burger opdraf. In die voorry kies ek Bands en Coetzee om te begin. Strooihalm se gemymer oor impakvoorrymanne is wensdenkery.

Die All Blacks moet voor aangevat word. Die beste platform vir die dryfbewegings sal die lynstane wees, veral as Matfield ’n paar balle by hulle kan afneem. Hougaard sal die All Blacks voortdurend moet laat omdraai, sonder om geleenthede vir teenaanvalle te skep. Anders as teen die Ingelse, kan die bal uitgeskop word, want die All Blacks se lynstane is nie so oortuigend nie.

Die Bokke kan wen mits hulle eerste-linie-verdediging rotsvas is. Slaag Spencer egter om met sy berugte omkapbeweging die Bokke se verdedigingspatrone te versteur, gaan hulle ons met oorslaanaangeë oop kerf.

Strooihalm se grafiek het die laaste tien dae skerp gestyg. Dis nou belangrik dat ons kop hou en nie te verlief raak op ons suksesse nie. Vir my lê die sleutel in berekende verdediging en bo-menslike balretensie. Slaag ons boonop daarin om vir Hougaard uit die kake van die Filistyne te hou, kies ek die Bokke om met vier punte te wen.

Laaste maar nie die minste nie: ’n groot gelukwensing aan my geliefde Blou Bulle. Die passie waarmee julle gespeel het, het my laat dink aan die groot Bulspanne van die sewentigs. Daarteenoor het dit gelyk asof die meeste van die Sharks verby hulle rakleeftyd is. Na hierdie spogvertoning van sy jongelinge sal dit ’n skreiende skande wees as Heyneke Meyer nie deel vorm van die Bulls se afrigtingsgroep nie. Ek dink die Bulls se bestuur moet dit afdwing.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.