Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Was Cullinan dalk te bang vir Warne?


Kaapse Kuifie

Ek wil nie die Sunday Times vooruitloop nie, maar daar is vandeesweek net een kandidaat vir die koerant se Mampara of the Week-toekenning, en dit is die ou met die chipmunk-bakkies en die klasserige dryfhoue, naamlik Darryll Cullinan. Dis nou nadat Cullinan die aanbod van die hand gewys het om van Vrydag deel te neem aan die Proteas se poging om die Australiese krieketspan te troef.

Cullinan, steeds klaarblyklik hard aan die werk met die begrip “professionalisme”, was nie tevrede met sy kontrak nie en het buitensporige geldelike vereistes aan die VKR gestel. Dis nou nadat hy geruime tyd uit internasionale aksie was en die nuus dat hy weer gekies is om sy land te verteenwoordig verwelkom het met die woorde: “Dis ’n groot bonus.”

Hoewel Cullinan se ervaring en onbetwisbare talent ’n positiewe uitwerking op die gekrenkte Proteas sou gehad het, moet hierdie speler maar liefs nooit weer die kans kry om vir sy land te speel nie. Sy optrede is nie net arrogant en grootheidswanerig nie, maar gee aan krieket ’n slegte naam en kan ’n baie negatiewe boodskap aan jonger spelers stuur.

Of het die feit dat Cullinan vir homself ’n tamaai kontrak tot ná die volgende Wêreldbeker probeer beding, iets te make met daardie man Shane Warne? Warne is die een bouler wie se naam glo vir Cullinan in ’n koue sweet laat uitbreek en gillend in die strate laat rondhol. Wanneer Cullinan teen Warne moet kolf, verander sy houding voor die paaltjies drasties. Weg is die selfversekerde aangluur van die bouler, proaktiewe lus om alle balle by te kom. Wanneer Warne ingewaggel kom om na hom te boul, lyk Cullinan meesal soos ’n steenbok wat in ’n stel bakkieligte vasgepen is: hulpeloos, verskrik en aan ‘t wag vir die doodskoot.

Dus weet Cullinan: kom hy nie die mas op teen Warne in die volgende twee toetse en eendagreekse nie, sou hy met rede gepos kon word. Toe probeer hy eerder sy rakleeftyd verleng met ’n langtermynkontrak.

Maak jou keuse: óf Cullinan is die gevoelloosste windgat wat ooit vir sy land krieket gespeel het, óf Warne is in staat om krieketspelers tot kamikaze-gewoontes te dryf deur hul loopbane met mallighede prys te gee.

Maar niemand gaan stry as jy sommer altwee opsies wil kies nie.

Die ander Mampara(s) is diegene wat vir die Nuwelandse toets vir Paul Adams gekies het bo Claude Henderson. Adams, met sy aksie beter bekend as Freak of the Week, was destyds ietwat van ’n verskynsel. Maar om hom nou sommer ná ’n lang afwesigheid uit die swak provinsiale opset te kies om toetskriet te speel teen die wêreld se beste span is bewys dat iemand op die keurpaneel dalk dieselfde sielkundige spreek as Darryll Cullinan.

Henderson loop self nou nie juis oor van internasionale ervaring nie, maar hy het tydens die onlangse toer Doer Onder minstens bewys dat hy fiks en vol houding is, asook geseën is met goeie talente.

Of was dit ’n geval van paranoia onder die keurders — Henderson en Warne het skynbaar dik pêlle in Australië geraak en draairesepte soos wafferse vetkoekbakkers by ’n kerkbasaar uitgeruil. Dalk het hierdie gemengery met die “vyand” nie bygeval gevind by die ouens in die hoë poste nie.

Hoe ook al, Aussie-kolwers soos Adam Gilchrist en Matthew Langer lek al van laasweek hul lippe af met die vooruitsig om teen Gogga se poffertjies te kolf. Toeskouers word dus aangeraai om tydens die Aussies se kolfbeurt kopskerms te dra.

Ek kan nie glo dat daar so min mense is wat hul rugby ken nie. Almal “oe” en “aah” oor die Franse se Ses-nasie-oorwinning van 20-15 teen Engeland. Nee wat, toe ek hoor Fabien Galthie (skrumskakel) en Olivier Magne (flank) is terug, toe weet ek die Souties is in die moeilikheid. Die Souties het — tot en met Saterdagmiddag — ’n bomenslike geloof in hul eie vermoëns gehad, en dis iets wat niemand teen die Franse kan bekostig nie. Die Franse hoort eintlik deur Caterpillar Stootskrapers geborg te word, want hulle is darem wraggies die groot gelykmakers van ego’s sowel as liggame.

Die sleutel vir die oorwinning het gelê in die Franse se tradisionele voorliefde vir dryfspel. Deesdae toon al wat afrigter is ’n beheptheid met “quick ruck ball”, en as Rudolf Straeuli hierdie frase kon uitspreek, sou hy ook. Die Franse glo egter daar is tyd vir ’n quickie en ’n tyd om dinge langsaam, rustig en vorentoe te vat.

Dus, as hulle die bal in ’n losgemaal het en ysters soos Pieter de Villiers en Rafael Ibanez sorg dat die blou truie deur die Engelse dryf, waarom al die genot stopsit en die bal uitgooi agterlangs? Die Engelse het dit gehaat. En nes hulle dink die Franse gaan weer dryf, wip Galthie skielik die bal uit na sy losskakel, Gerald Merceron, en die Engelse staan platpoot in die daisies terwyl die blou lyn hul agterspelers opkerf.

Leer by die Franse en speel volgens jou sterk punte instede van dit wat die ander spanne as “moderne rugby” bekou.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.