Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die spanne

JP du Toit1

Ja-nee kyk, as die Wêreldbekerkoors jou nie al voor die bors gegryp en so ’n bietjie rondgeruk het nie, dan stel ek voor dat jy kalmeerpille voor die naweek kry. Want as die openingsgeleentheid jou slaan, gaan dit ’n Mike Tyson-opstopper na ’n skoenlappersug laat lyk.

Ten minste ken jy jou spelers. Maar nou die vraag: Ken jy die Filistyne? Ja, makkers, want om voorbereid te wees verg dat ons kennis dra van die opposisie — hulle sterk punte, hulle Achilles-elmboë, miskien so ’n bietjie skindernuus en, vir die puriste, ook enkele spelers om dop te hou vir daardie geskiedkundige gebeurtenisse in die spel van krieket.

Ek stel voor dat ons in die volgende aantal paragrawe die kenmerkende eienskappe van elke span in ’n neutedop saamvat. Wie is hierdie ouens? Hoe lyk hulle rekords in die geskiedenis van wêreldbeker- (WB-) krieket? Van watter spelers moet ons strooipoppies maak en vol spelde druk? En hoekom?


GROEP A

Australië
Hulle ken miskien nie die verskil tussen kanariegeel en goud nie, maar hulle kan krieket speel. In 47 WB-wedstryde het hulle 29 gewen, teen 63%. Die span is ’n masjien — geolie (die tong-in-die-kies-ducktailbeeld is nie toevallig nie) en getorque. Die Goliat van wêreldkrieket.

Ja, Shane Warne is nog daar (“half the man he used to be”?). Al is hy nie ons nommer een persoonlikheid nie, bly dit ’n voorreg om hom te sien goël. Nog ouens om dop te hou sluit in Adam Gilchrist (Australië se weergawe van Herschelle Gibbs, Neil Young miskien, maar nie Elvis nie), Matthew Hayden (houe uit die handboek, maar twee keer so vinnig), Ricky Ponting (talentvolle kaptein en aanvangskolwer — ek weet nie of ek hom met my dogter sou vertrou nie, maar definitief met my kolf — ’n plesier om dop te hou op punt) en, natuurlik, Glenn McGrath.

Engeland
Glo dit of nie, hierdie ouens het ’n beter suksesrekord as Australië in WB-krieket (64%). Nie noodwendig die mees skouspelagtige span nie, maar altyd daar iewers in die wedloop. Die WB-span spog met ’n paar nuwe name en die span se selfvertroue het tydens die gang van die onlangse VB-reeks in Australië gegroei. Miskien peak hierdie ouens op die regte tyd?

Marcus Trescothick is ’n stewige, linkshandige aanvangskolwer wat met krag en koördinasie sy lopies in ’n japtrap kan versamel. Nasser Hussain (kaptein) mag miskien nie die mees Britse naam hê nie, maar sy tegniek en gentlemanly houding sou selfs die suiwerste puriste (die toutologie is per abuis aspris) na ’n sakdoek laat reik. Andrew Caddick verleen ervaring in die boulafdeling — op ’n goeie dag kan hy onspeelbaar boul, maar op ’n slegte dag hang die skouers halfmas daar op derdeman. My keuse as die nommer een ou om dop te hou, bly steeds Alec Stewart. Hoewel 40 jaar oud, is hy nog lank nie klaar nie — ’n ambassadeur vir Engeland, ’n ambassadeur vir die game.

Holland
Die Hollanders speel al krieket van 1883 en het tans meer as 70 klubs in die groter stede. Die grootste probleem bly egter hulle gebrek aan internasionale ervaring as ’n eenheid. Tot dusver kon hulle nog nie een wedstryd in ’n WB wen nie. Op hulle plaaslike astroblad kan hulle enige span in die wêreld klop. Of hulle dit eindelik kan oordra na die gras, sal ons maar moet sien.

Indië
As die politiek rondom borge en wedstrydknopery opsy geskuif kan word, kan Indië na vore tree as een van die sterkste aanspraakmakers op die WB-trofee. Tendulkar en sy sidekick Sehwag kan boulers dalk meer sooibrand as ’n turbosamoesa verskaf. Wie weet, miskien gaan die leerling die meester in hierdie toernooi reeds oortref?

Ganguly en Dravid is alreeds groot name, ons wag vir daardie mate van berusting. Daardie kalm vasberadenheid … Hulle is soos ’n kolwer in die 80’s — alreeds bewys hulle kan kolf, maar nou is daar die vasbyt en die hardkoppigheid om na die 100 te reik … En dan is daar Harbhajan Singh. Aangesien ek self ’n wegbreekbouler is, geniet ek dit om hom dop te hou. Eerder van my rusbank af as van die kolfkampie.

Namibië
My derde gunsteling-span. Dis regtig opwindend om toetsrugby van die pawiljoen af te kyk, maar as kleinboet vir die onder dertien B’s uitdraf, dan hardloop ek soos ’n maniak op en af langs die veld.

Pakistan
’n Definitiewe gevaar. Moenie laat die onlangse reeks hier op eie bodem jou flous nie. Hierdie ouens het die vermoë en nog meer talent. Op ’n goeie dag sal hulle enige span kafdraf, maar oor die algemeen is hulle ’n bietjie wispelturig.

Hou veral die ouens dop wat nie hier was nie — Anwar is aan die terugkom (en ons weet wat hy kan doen), Mahmud het as veelsydige speler amok gemaak toe hy met ’n vorige geleentheid in Suid-Afrika gespeel het.

Dan is daar Razzaq (uitstekend in die opwarmingswedstryde), een of twee boulers (Younis, Akram, Aktar en Mushtaq) en, o ja, Younis Kahn en Youhana met die kolf. Ouens om dop te hou: Akram het alreeds die meeste paaltjies in WB-krieket, maar gaan Donald of Warne kan inhaal? Youhana het miskien nie so goed gedoen in die onlangse reeks nie, maar daar is die belofte van groot tellings.

Zimbabwe
Ai, die politiek darem. Maar kom ons erken dit nou maar — hierdie ouens het ’n passie vir die spel wat moeilik geëwenaar gaan word. Op ’n stadium was die bestuurder, afrigter hoofborg en kaptein dieselfde persoon. Ten spyte van ’n klein groepie spelers was hulle so vyf of wat jaar gelede beskryf as die tweede beste span in die veldwerk-departement. Dit laat mens bietjie dink aan die Kiwi-rugbyspan — min lywe, maar oorgenoeg hart. Hoendervleismateriaal.

Vergeet die politiek, lig ’n glas op die rooi. Die Flowers in nog steeds daar. En Streak, Olonga, Campbell en Whittall (het hy nie een keer vir Donald ge-reverse sweep nie?). Hou die nuwer name dop: Hondo, Mbanga en Marillier.


GROEP B

Bangladesj
Nog nuwelinge, maar anders as byvoorbeeld Kanada en Holland het hierdie ouens hard gewerk om internasionale ondervinding te bekom. Hulle het alreeds in 14 WB-wedstryde gespeel en kan sekerlik hierdie keer ’n oorwinning bewerkstellig. Ongelukkig is ’n paar WB-rekords teen hulle aangeteken en ek is seker daar gaan van die groter spanne probeer om dit te oortref. Die stryd mag dalk opdraand wees, maar daar is lig: opwindende jong name soos Jubair, Mortaza, Sharif en Ashraful. En onlangs het die span gewys, ten spyte van agtereenvolgende nederlae, dat hulle kon verbeter op en leer van elke wedstryd.

Kanada
Die ultravioletuitstraling in Suid-Afrika kan sekerlik nie te gesond wees vir ons Suid-Afrikaanse spelers nie. Maar wat nog meer nadelig is vir ’n span se vordering, is sekerlik tien maande van sneeu. Soos die ander opkomende spanne laat vuur hierdie ouens in my ’n trots vir die spel aan. Om te kyk hoe die kleiner lande ten spyte van hul struikelblokke net aanhou probeer, motiveer my om gereeld gras te sny en ’n tamatiekisplank en tennisbal byderhand te hou. Ons kry min of meer dieselfde hoeveelheid TV-blootstelling, maar geen hoeveelheid sneeu in die wêreld kan daardie warm gevoel in die hart afkoel nie.

Kenia
Dalk die Sri Lanka van ’n dekade gelede? Na ’n betreklik kort internasionale loopbaan het hierdie ouens reeds bewys dat hulle groot spanne (soos Wes-Indië en Indië) kan klop. Nadat Lara glo geweier het om sy handtekening jare gelede vir Obuya te gee, het laasgenoemde na hul oorwinning oor Wes-Indië syne aangebied vir Lara. Die twee spanne gaan weer kragte meet op 4 Maart. Kom ons hoop die paaltjiemikrofone is lekker duidelik.

Nieu-Seeland
Amper soos die Vrystaat-rugbyspan: hulle kan teen die heel slegste span verloor, of teen die heel beste wen. Altyd honger, puik in die veld en deurtrek met veelsydige spelers. Chris Harris mag miskien lyk soos die ou wat die elektrisiteitsmeter kom lees (watter kommentator het dit nou weer kwytgeraak?), maar hy bly ’n uitstekende opponent. Krieket se eie Muhammad Ali — dis nie daardie groot houe wat jou neervel nie, maar daardie knaende klein jakkalsies. Vincent, Styris en Cairns, aan die ander kant, kan sorg vir daardie skouspelagtige mokerhoue. Boulers om dop te hou? Vettori, Bond en Adams.

Suid-Afrika
Ons boys. My dolosse sê Gibbs en Kirsten en gaan goed doen met die kolf. Ntini gaan uitstyg as die mees verbeterde bouler. En met ’n bietjie duim vashou kan Donald dalk die geskiedenisboeke herskryf deur verby Akram as die mees suksesvolle bouler in WB-geskiedenis te skuif.

Sri Lanka
Ons weet almal dat hierdie ouens nie net ’n gevaar inhou vir diegene wat hulle name korrek probeer uitspreek nie. As Jayasuriya sy oog so goed op die bal kan hou as Muralitharan, gaan daar perde wees vir enige bouler. Niemand het nog meer sesse as hierdie ou in internasionale eendagkrieket geslaan nie. Ook nie op sulke snaakse plekke nie. Hou ook vir die veterane De Silva en Vaas dop. En Muralie se vingers, gewrig, elmboog, skouers en oë. Al gaan jy nog steeds nie kan sê wat die bal gaan doen nie.

Wes-Indië
In die laat 70’s en vroeë 80’s was hierdie ouens meer suksesvol as wat Australië tans is. Hulle het die WB reeds twee keer gewen, was een keer in die finaal en spog met ’n sukseskoers van 67% in 42 wedstryde. Hoewel dit maar broekskeur gegaan het in onlangse seisoene, spog hulle steeds met puik individuele spelers en heelwat ervaring. Soos Tendulkar, Klusener en Jayasuriya, kan Lara ’n wedstrydwenner teen enige opposisie wees. Die vraag is net of een swaeltjie genoeg kan wees … Gelukkig vir die Windies lyk dit ook of Chanderpaul besig is om vorm te herwin, en Carl Hooper was nog altyd die volwasse dryfkrag in die span.

Wel, die slapies raak nou al minder. Nou die dag met die kleedrepetisie van die openingseremonie het daar ’n helikopter met ’n REUSE-landsvlag hier langs die berg verbygevlieg. Later daardie aand het ek in ’n bioskoop daardie advertensie van Madiba met die floppy hoed en die ritme op die advertensieborde by ’n klaarblyklik “leë” Nuweland gesien. Beide kere het ek so ’n blitskykie gekry van wat dalk met profete op verlate berge gebeur. Daar was hoendervleis. En daar was ’n suggestie van vlinders. En daar was ’n stadige sug.

Tot later dan, stap in saam met die bouler …

1JP du Toit ondersteun krieket van kleins af. In Sub B was hy kantoor toe gestuur toe hy skelm in die klas kommentaar van ’n Transvaal en WP wedstryd op ’n versteekte radio geluister het. Hy het al ’n vennootskap met Laurie Wilmot in die Albany-liga gedeel. Wanneer hy nie ’n riller wegbreekbal boul nie, skryf hy graag.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.