Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Boys — Deel 1

JP du Toit1

Die węreldbeker is op hande. Ek sien ’n handboek, of traktaatjie (in die tagtigersformaat van byvoorbeeld seksvoorligting of jeugweerbaarheid) wat heet “KEN JOU SPELERS!”. Die uitroepteken is ononderhandelbaar — dis nie ’n versoek nie. Dis ’n bevel. Al verskil is dat ons hierdie keer regtig wíl weet. Ons kyk na die opkomende toernooi — op eie bodem — en voel ons tone krul verkeerde kant toe van opgewondenheid. Maar is ons weerbaar? Ken ons ons spelers?

Elvis ís toe dood. Maar hy het teruggekom as Herschelle Gibbs. Iemand het sekerlik een of ander tyd vir hom ’n paar drukke op die ghitaar gewys. Dalk lę daar ’n handboek iewers in ’n deurmekaar hotelkamer … Maar as hy die verhoog slaan en die ligte gaan aan, dan verdwyn die konvensies soos ’n klein wit balletjie in die skare. As jy vir jou laaitie wil leer krieket speel, hou hom weg van rolmodelle soos Gibbs. Vat hom nette toe. Gibbs se talent tref die kyker soos sy kolf ’n stadige kort bal. Of enige ander bal. Dis skouspelagtig op sy gevaarlikste. Maak seker jy’t genoeg sigarette en chips en bier, want jy gaan nie wil opstaan nie. Met ’n hoogste eendagtelling van 153 en goeie vorm kan Kirsten se rekord-węreldbekertelling van 188* in gevaar wees.

Ten spyte van ’n doelgerigte en talentvolle Graeme Smith het Gary Kirsten sy plek in die węreldbekerspan met grasie oopgespeel. Hy is soos daardie tromspeler-hasie met die goeie batterye — daar’s geen einde nie. Hy’s kalm, vasberade, stelselmatig en hardwerkend. As Kirsten na ’n verkeerslig staar, sal laasgenoemde eerste oogknip. Hy is steeds topfiks en bly ’n steungevaar. En hy hou nog steeds die rekord vir die hoogste individuele telling in węreldbekergeskiedenis (188*).

As Boeta Dippenaar uitstap om te gaan kolf, voel mens jy moet óf (1) sy wange knyp en sy hare deurmekaar vryf, óf (2) hom op die skouer klop en sę “Toemaar Boeta, alles sal orraait wees.” Maar daardie skoolseunuitdrukking het niks te make met kommer nie — dis volbloedvasberadenheid. Dippenaar laat mens dink aan ’n Gary Kirsten mini-me. Sy veldwerk in die sirkel is van ’n hoë gehalte en na alreeds 50 kitswedstryde vir Suid-Afrika spog hy met die tweede hoogste kolfgemiddeld (42,89), ’n kortkop agter Kallis (44,04). Hy werk metodies en geduldig en gaan nog heelwat verantwoordelike beurte vir die Proteas speel.

Die koerante het onlangs berig dat daar klaarblyklik een man in Suid-Afrika is wat nog nie weet wie Jacques Kallis is nie. “Wie is Jacques Kallis?” het hy gevra. Wel, hier’s die antwoord: Hy is die nommer een veelsydige speler in die węreld. As mens die hele Suid-Afrikaanse span in ’n voedselverwerker sit en dan een persoon daarmee bak, sal jy vir Kallis kry. Hy verpersoonlik Suid-Afrika se veelsydigheid en onvermoë om te gaan lę. Hy is ’n opblaasmatras wat nie wil afblaas nie — jy druk hom nou hier, dan pop hy weer daar op. Kallis handhaaf ’n kolfgemiddeld van 44,04 lopies teen ’n tempo van 69,98 lopies per honderd balle. Hy het al 164 paaltjies in internasionale eendagwedstryde geneem teen slegs 4,65 lopies per boulbeurt. Sy veldwerk in die glippe is puik. Nou ja toe, nou weet almal.

As Gary Kirsten se tromspelertjie batterye in parallel het, is Jonty Rhodes s’n in serie. Wat gebeur, gebeur vinnig. Al verwag jy dit. ’n Chappie-papiertjie kan lees: “Het u geweet, in eendagkrieket het Jonty Rhodes slegs 1,71 lopies per boulbeurt afgestaan?” Hy het meer onmoontlike vangskote benut as wat David Boon toebroodjies langs krieketvelde reg om die węreld geëet het. Onlangs het hy daarop gesinspeel dat hy oud word. Ja, en dan is daar ook diegene wat reken Cindy Crawford is nie meer so sexy nie … Hou die telbord dop. En gangetjie effe tru. En die baanblad. En hou maar die kykweer byderhand. En die slomo.

Agter die paaltjies staan ’n ou met beenskutte, handskoene, twee sonbrille en, as jy mooi kyk, vlerke. Met heelwat krieket wat nog voorlę in sy loopbaan, is Mark Boucher op koers om nog ’n paar rekords te oorskry. Wie kan nou glo dat ons destyds gewonder het wat ons sonder Dave Richardson sou doen! En dan kan hy nog so ’n bietjie kolf ook — 13 vyftigs in internasionale eendagwedstryde is nie ter versmaai nie. Hy is nie ’n klein generaaltjie nie — hy is ’n klein handgranaatjie. Boucher is altyd aan die aanmoedig: ons eie span, maar ook gretig om die opposisie te herinner dat die lopietempo styg en ons spoedvrate opwarm. En, so berig die meisie met die verkyker, hy het ’n mooi nommer op sy rug.

Miskien is dit goed dat Lance Klusener meer onlangs gesukkel het om vorm met die kolf te herwin — net so goed as die besluit om hom in die span te behou. ’n Onverwagse troefkaart dalk? Miskien verlig dit die druk op die 1999-węreldbeker se speler van die toernooi (nie dat ons ooit sal vergeet nie!). Klusener se dae van onvergeetlike kolfbeurte en boulskofte (onthou julle die 5 vir 21 in 1999?) is nog glad nie verby nie. Enige iets kan gebeur en dit gebeur op sy lekkerste wanneer dit nie verwag word nie. Dis soos wanneer jy rustig in die straat af loop en daar val ’n walvis op jou. Hou jou naels kortgeknip en die kougom byderhand. En as jy in die skare gaan wees, dra ’n skermpet.

In Deel 2: Die res van die boys — Nicky Boje, Shaun Pollock, Makhaya Ntini, Allan Donald, Andrew Hall, Robin Peterson, Monde Zondeki en Charl Langeveldt.




1JP du Toit ondersteun krieket van kleins af. In Sub B was hy kantoor toe gestuur toe hy skelm in die klas kommentaar van ’n Transvaal en WP wedstryd op ’n versteekte radio geluister het. Hy het al ’n vennootskap met Laurie Wilmot in die Albany-liga gedeel. Wanneer hy nie ’n riller wegbreekbal boul nie, skryf hy graag.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.