Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Huismoles — daar’s te veel sport op TV

Blou Bul Braampie


Dit lyk vir my dit gaan vanjaar die jaar van die “underdog” wees. Baie van die gunstelinge sukkel by krieket se grootste skouspel, terwyl plaaslike leeutemmers met eentonige reëlmaat op die sokkerfront met Chiefs en Pirates afreken.

Die onverwagse onttrekking van Shane Warne was natuurlik die groot nuus vir die week. Die algemene gevoel in mediakringe was dat die krieketpubliek die grootste verloorder was. ’n Gewilde Gautengse radiostasie het dit vergelyk met ’n teaterganger wat by die openingsaand opdaag net om te verneem dat die akteur wat die hoofrol sou speel, deur ’n ander persoon vervang gaan word. “Die rol wat deur Marius Weyers vertolk sou word, sal nou deur Charl Pauw behartig word.”

Vir baie sportliefhebbers (ek inkluis) was daar ’n tikkie digterlike geregtigheid ter sprake. Verlede jaar het die Aussies die rugbywêreld ’n rat voor die oë gedraai met die Ben Tune-geval. Tune het skotvry gekom toe die blaam vir die verdoeseling van sy positiewe toetsing op ’n groepie gesiglose beamptes geplaas is. Dié keer was daar nie tyd vir jakkalsdraaie nie en moes die Australiese beamptes maar self ’n rooi kaart vir hulle blonde lieflingseun wys. Die skokeffek van Warne se ontydige vertrek het die ander Aussies min gepla. Hulle het skaars ’n uur na die Warne-perskonferensie op die veld gegaan en die arme Pakistan met kolf en bal vermorsel. Die Australiese snelaanval wat die uitklophou aan Pakistan se brose kolflinie toegedien het, moet sekerlik die beste wees wat sedert die dae van Peter Pollock, Proctor en Trimborn hier gesien is.

Nadat ’n bekende astrolooog, nogal op Carte Blanche, voorspel het dat die Windies die span is om dop te hou, het ek asem opgehou toe hulle die loot wen. Hoewel die groot massas kommentators wat by die verskillende televisiestasies diens doen, dit eens was dat Brian Lara se krieket baie verroes is, het dit nie die klein wonderspeler verhinder om ons veel geprese boulaanval se moed te breek nie.

Ek moet bely dat ek nie veel vertroue in Gary Kirsten gehad het nie. Soos so dikwels gebeur, het die oupa-openingskolwer my verkeerd bewys en met meesterlike geduld ’n koningsbeurt opgetower. Die feit dat ons manne so naby aan die oorwinning gekom het, sê baie vir hulle veggees. As die keurders maar net geweet het dat Warne uit die toernooi sou onttrek, kon hulle vir Cullinan in die span gehad het. Die teenwoordigheid van so ’n hardebaard sou broodnodige statuur aan ons brose middelorde verleen het. Ons vertoning het nietemin bewys dat ons dalk net genoeg skop mag hê om die semifinale te haal. My gevoel is dat ons Australië, Sri Lanka en Engeland daar gaan teëkom.

Op die rugbyfront het die Stormers baie goed gelyk teen die stotterende Sharks. Laasgenoemde span, wat feitlik geen noemenswaardige rugby-ontwikkelingsprogram in plek het nie, gaan waarskynlik vanjaar die vrugte van sy kortsigtigheid pluk. Die Bulle, asook die Cats in ’n mindere mate, het ’n kragtige voedingsbron ontwikkel wat hulle binne die volgende paar jaar handig te pas gaan kom.

Die krieket bied darem iets vir almal. My kollega Jan Meyer, wat eintlik ’n Grand Prix-liefhebber is, kyk spesiaal krieket om die boulspoed van die snelboulers te vergelyk. Baie meisies kyk na die mooi manne wat op die grens veldwerk doen en met wilde duikslae hulle hormone omkrap. Die manne kyk op hulle beurt weer na die beeldskone meisies, hoewel die regisseurs en die kameramanne tot dusver maar min lywe gewys het. Wie het gesê krieket is ’n oninteressante sportsoort?

Binne die volgende paar weke gaan ons bars om by te bly met al die sport op TV. Dis geen wonder dat die huwelik besig is om uit te sterf nie. In die ou dae was daar darem nog twee weke tussen die rugby- en die krieketseisoen om getroud te raak, maar deesdae is dit omtrent net die tydjie tussen Kersfees en Nuwejaar wat oop is — maar dan sit al die dominees op Hartenbos.

Ek hoop maar die vrouens koop in op ons krieketspan se leuse van “geen verwyte”. Doen hulle dit nie, voorspel ek ’n periode van baie huismoles, so tussen die bier en slap tjips deur.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.