Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mediumtermynplan: haal halfeindstryd en wen in 2007 die Wêreldbeker …

Blou Bul Braampie

Sjoe, vandag voel ek omtrent soos ’n Katoliek wat deur die Pous geprys is. Nie alleen het die meester van Afrikaanse satire my geprys nie, maar hy het my boonop met ’n ander legende vergelyk. Ek praat van Koos Kombuis, wat my verlede naweek in sy Rapport-rubriek met Dok Craven vergelyk het. Groot woorde, komende van ’n groot skrywer. Dankie, Koos. Ek besef ek is nie Dok se ou skoene werd nie, maar dankie. Ek glo ek deel sy liefde vir die spel.

Iets oor Dok Craven. Ek het hom in die laat tagtigerjare by ’n Cravenweek vir laerskole in Potch ontmoet. Ek het ’n radio-onderhoud met hom gevoer en toe saam met hom gaan koffie drink. Hy het my so bietjie van die sielkunde van die spel verduidelik. Oor hoe baie dinkwerk verdediging verg. Alles in eenvoudige praat-taal. In daardie 15 minute het ek besef hoekom hy altyd een van wêreldrugby se grootstes sal wees. Ek het trane in my oë gehad toe hy wegstap. Vandag wonder ek oor wat hy te sê sou gehad het oor die sepie wat SA rugby genoem word.

Die Bok-oefengroep lyk nie te trietsig nie. Ek dink die keurders verdien meer lof vir wie hulle uitgelos het as vir wie hulle gekies het. Karperde soos Dries Scholtz en Jannes Labuschagne se name is nie daar nie. So ook nie stoute kabouters soos AJ Venter en Fleckie nie. Dit is waarskynlik ’n stap in die regte rigting.

Die insluiting van Hougie, Fourie du Preez en Jaque Fourie moet verwelkom word. Liewer laat as nooit, sê die wat weet. Vir my dui dit op ’n ernstige aanval van desperaatheid in die Springbokkamp. Die vraag bly steeds hoekom die driemanskap nie saam met die Bokke na Australasië getoer het nie. Dit kon gehelp het om hulle in te burger in die Springbokkultuur en terselfdertyd ’n voorsmakie gegee het van heersende speeltoestande Doer Onder. Ewenwel, agteros kom ook in die kraal, soos ons agbare Springbok-afrigter, Rudolf Strooihalm, nou met sy keuse van Hougie bewys het.

Die ander raaisel is hoekom Strooihalm nog steeds volhard met so ’n lang pasiëntelys. As hy steeds volhard om vir Skinstad deel van sy planne te maak, stel ek voor dat hy hom reisende bemarkingsbestuurder van die span maak. Die talentvolle André Pretorius is ook meer knieserig as wat hy wedstrydfiks is. Ek dink Strooihalm kan die tweetjies maar by die huis los.

Werner Greeff is ’n ander saak. Hy is een van die min Bokke wat enige tyd in ’n Wêreldspan kan instap. Sy nederige houding en stille vasberadenheid maak van hom die ideale speler om stabiliteit aan die Springbokagterlyn te verleen. Ek sal in ’n volgende rubriek aandui hoe my span teen die Engelse sal lyk. Op hierdie stadium lyk dit of Greeff dalk op senter sal moet diens doen.

Ek het op een van die webwerwe gelees dat Strooihalm se mediumtermynplan voorsiening maak dat die Bokke in vanjaar se Wêreldbeker die halfeindstryd moet haal en in 2007 die beker moet wen. Die plan is blykbaar deur die breinsjirurge by SARFU aanvaar.

Vir my is dit belaglik dat ’n afrigter toegelaat word om ’n span na die Wêreldbeker te neem met enige ander einddoelwit as om die beker te wen. Daar is geen sprake dat ’n afrigter van die een Wêreldbeker na die volgende kan bou nie. Die speleromset is te groot en die rakleeftyd van die spelers te kort. Indien SARFU wel so ’n belaglike strategie aanvaar het, hoort Oberholzer en sy trawante op straat. Die opsigtelike gebrek aan bestuurskundigheid wat na die uittrede van Louis Luyt geopenbaar is, het SARFU nou ingehaal. Dit is tyd dat SA rugby van die bestuursvaardighede wat in oorvloed in ons mooi land beskikbaar is, begin benut.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.