Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor die Curriebeker-finaal

Blou Bul Braampie

Ek het met lang tande oorgery Ellispark toe. Nie alleen is parkering ’n riller in die Harrow Road-omgewing nie, maar my geliefde Blou Bulle het volgens my slegs ’n geringe statistiese kans gestaan om hond haaraf te maak teen die sterbelaaide Leeus. Op pad na die slagveld het ek my jongste berispe omdat hy durf waag het om ’n telling van 28-10 vir die Bulle in ’n rugbyraai te waag. Op papier was die Leeus merkbaar sterker. Die afwesigheid van Dean Hall en die feit dat Big Joe nie die wedstryd sou begin nie, het wel vir die Bulle ’n agterdeur van hoop oopgemaak, maar dit was net ’n geringe skrefie.

Boonop het Heyneke Meyer die Woensdag reeds sy wedstrydplan in die pers bekend gemaak. Al wat nog gekort het, was ’n uiteensetting van die plan met gepaardgaande grafika op die Bulle se webwerf.

My moed het verder in my skoene gesak toe die Bulle se agterlyn besonder lank op die speelveld opwarm voor die hoofwedstryd. Hulle het baie ontspanne gelyk — te ontspanne na my sin.

Wel, my veertig jaar se rugby-ondervinding het weer eens niks getel nie. Die Bulle het met die Leeus geploeg en al wat ’n kenner is se mening in die toilet afgespoel. Heyneke se Bulle het net so goed gespeel as enige van oom Buurman se bestes, indien nie beter nie. Die sirkusleeu se vel hang vanaand agter sy deur.

Heyneke se blou boek met negatiewe berigte oor die Bulle was volgens berigte die hoofbron van motivering vir sy span. Dit is goeie tegniek om kritiek in positiewe energie te omskep. Min van die kritiek was ongeregverdig. Die Bulle het by tye hoë eise aan sy ondersteuners se spanningsdrempels gestel. Nietemin het hulle gewen toe dit saak gemaak het. Heyneke se plan om die jong Jacque Fourie met Gary Owens te dreig het soos ’n bom gewerk. Fourie se instruksies was blykbaar om eers in die tweede helfte met die bal te begin hardloop as die Bulle begin moeg raak. Ongelukkig vir die Leeus was die bul toe al uit die kampie uit.

Wat het van die arme Leeus geword? Ek dink hulle was oorgerus — Jeremy Mansfield het mos gesê die wedstryd is net ’n formaliteit. Op die ou end het hulle nie die mas opgekom nie. Al die Springbokbaadjies het niks getel nie. Vos het min op die veld uitgerig. Sy leierskap was planloos en onbeholpe. Sephaka en Nortje het nie gelyk of hulle in ’n Curriebekerspan hoort nie, terwyl Jannes Labuschagne na ’n goeie klubslot gelyk het. André Pretorius was, met die uitsondering van die drie, glibberig dog oneffektief. Derick Hougaard het hom nie net oorskadu nie, maar sommer ook lag-lag by hom verby gehardloop vir die drie. Behalwe vir vyf minute se “fight-back” was die Leeus papiertiere.

Vir die Bulle het hulle onbesonge helde die knoop deurgehaak. Niemand het harder gewerk as Anton Leonard en Wassies nie. Laasgenoemde het gespeel asof hy ’n alleenreg op die losbal gehad het. Hy het Vossie elke keer met twee treë geklop. Wikus van Heerden was ’n skaduwee van pa Moaner. Ek vermoed hy gaan nog groot rugby speel, maar op hierdie stadium is sy baardjie nog te sag vir die groot ooms.

Danie Coetzee was net so puik. ’n Goeie troep met ’n groot hart.

Agterlangs was Joost die generaal, Gavin Passens ’n onwaarskynlike held en die Bul-senters onverskrokke verby. Dries Scholtz is pure Springbok, so reg in die tradisie van die Wallaby-breker, Nathan Grey. Sy bydrae tot die Bulle se oorwinning ewenaar myns insiens die vertoning van Hougaard. Diegene wat sê Scholtz is te stadig, moet nuwe kontaklense kry. Hy het Grant Esterhuizen twee keer op volle vaart gestuit, en dit wil gedoen word. Tiaan Joubert het keer op keer sy lyf vreesloos op die spel geplaas vir die Blou droom. Hy was die spil waarom die Bloues se gevegsplan gedraai het.

Die gemak waarmee die Bulle gewen het, was ’n skok vir my sisteem. Ludeke se Leeus het sonder weerstand ondergegaan. Met die vervanging van Vos kan nie te veel fout gevind word nie. Hy het geen impak meer op die wedstryd gehad toe hy vervang is nie.

Dié oorwinning kan die begin wees van nog ’n groot era in die Blou Bul-rugbygeskiedenis, mits al die belanghebbendes nou saamstaan. Die oudspelers kan nou maar die strydbyle begrawe.

Dalk het SA rugby iets geleer uit die val en die opstaan van die Bulle. Ek meen die Supertwaalf-afrigters behoort nie ook Curriebeker-afrigters te wees nie. Volgende jaar het Heyneke nie meer die Supertwaalf-meulsteen om sy nek nie. Hy kan fokus op die verdediging van die Curriebeker. Met Joost se hulp kan die droom bewaarheid word.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.