Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek glo drie van ons spanne kan dié naweek wen

Blou Bul Braampie

Die hele Petoorsdorp is nog in 'n toestand van skok na die Bulls so lelik slae gekry het by die Katte. Ja, ek noem die spul Bulls, want hulle verdien nie 'n Afrikaanse verwysing nie.

Kyk, diegene wat my ken, weet ek was nog nooit 'n goeie verloorder nie. Ek openbaar so 'n effense geneigdheid tot kru taal as die span speel soos Saterdag. Maar dié keer was kru taal maar 'n skrale troos. Ek was die Sondag na die Bulls se val nog wit geskrik, amper soos Michael Jackson op pad hof toe. Om dinge te vererger het ons slapgat krieketspan, die Titans, boonop die Woensdagaand teen die Eagles in die Standard Bankreeks se finaal verloor.

Die briljante Cats-vertoning kom nie onverwags nie. Ek het reeds aan die einde van verlede seisoen verwag dat die Leeus dalk die Blou Bulle in die Curriebeker semifinaal kan seermaak, maar toe het die baie Leeu-foute ons laat verbyglip. Dié keer was dit die Leeus en die Cheetahs in dieselfde kamp. Daar was net te veel talent teen die Bulls.

Volpunte aan die Katte se kaptein, Wickus van Heerden, wat altyd met sy voorbeeld lei. Ek het dit al voorheen geskryf en ek herhaal dit: Wickus van Heerden behoort eintlik die Springbokkaptein te wees. Michael Claassens was, soos altyd, so skerp soos 'n nuwe skeermeslemmetjie. Ek dink Fourie du Preez kan nie té gerus voel oor sy plek in die Bokspan nie.

André Pretorius het die eerste keer in 'n baie lang ruk werklik goed gespeel. Die Bulls het ook waardering vir sy talente gewys, want hulle het 'n erewag gestaan toe Pretorius sy drie gaan druk het.

Die Bulls was deurgaans verbeeldingloos en traag. Die dryfbewegings is teen halfspoed uitgevoer en die Katte kon letterlik kajuitraad hou voor hulle die eerste doodvatte hoef uit te gevoer het. Wat Heyneke Meyer probeer doen het, weet niemand nie. Dit was die Bulls se mees belaglike vertoning in 'n hele paar seisoene.

Ek plaas die blaam vir die nederlaag vierkantig voor die deur van Victor Matfield. Die ou grote mag nou wel die beste lynstaanman in wêreldrugby wees, maar as kaptein is hy 'n klaaglike mislukking. Sy onwilligheid om strafskoppe pale toe te laat mik was die direkte oorsaak van die Bulls se ondergang. Ek besef egter die Bulls sal Vrydag teen die Brumbies swaar trek sonder hom in die lynstane. Heyneke Meyer se weglating van Bakkies Botha is 'n teken van paniek. Die nuweling, Francois van Schouwenburg, se baardjie is nog glads te sag vir Supertwaalf, terwyl Danie Rossouw se voete net twee duim van die grond af lig in die lynstane. Anton Leonard gaan self sukkel om by te bly as die jongelinge van die Brumbies die spel begin rek.

Dan het die Bothas, Gary en Etienne, niks teen die Katte gedoen om hulle aansprake op 'n plek in die Springbokspan te verstewig nie. Fourie du Preez het onophoudelik na die steelkant gespeel waar die Katte in groot getalle opgestel was. Nie hy, of Derick Hougaard, het ooit opgekyk om die spel te lees nie. Ek het by tye gewonder of Du Preez nie harsingskudding gehad het nie.

Die een aspek wat duidelik uit die wedstryd geblyk het, is dat Chester Williams nou gereed is om die Bokke af te rig nie. My voorspelling is dat hy en sy twee adjudante by die Cats, Rassie en Brendan Venter, die Springbokafrigters tydens die 2007 wêreldbeker gaan wees. Jake se langtermynkontrak gaan weinig werd wees as hy nie sorg dat ons in die Drienasies-toernooi ons man kan staan nie.

Die Stormers het, soos al die groot sportspanne, swak gespeel, maar gewen. Dit is die teken van 'n span wat volwassenheid bereik het. Drie kritieke foute van die Sharks het die wedstryd buite hulle bereik geplaas. Ek dink nie Gert Smal kan té gelukkig voel met die Stormers se vertoning nie. Hulle wiele kan maklik Saterdag teen die Highlanders afkom.

Die Sharks het weer op hulle beurt hopeloos te kompleks gespeel. Die drieë van die Stormers was almal presentjies. Die ingewikkelde hoërisiko-rugby wat Kevin Putt se manne probeer speel het, het hulle duur te staan gekom. Die Sharks kon so maklik 'n verrassing bewerkstellig het. Hulle vrot hantering en gebrek aan kruisverdediging het hulle op die ou end egter die wedstryd gekos. Butch James en Brent Russell was die beste onder die Haaie. Russell se verdediging het merkwaardig verbeter. Dalk is vanjaar hierdie toegewyde speler se groot jaar.

Hierdie naweek kan bepalend wees vir die Bulls. Verloor hulle weer, en daar is 'n 60 persent-kans, kan die paniek toeneem. In Pretoria het Heyneke Meyer se aandele oornag baie gedaal. Hy sal twee keer op toer moet wen as hy met 'n geruste hart die tweede gedeelte van die reeks wil aanpak.

Intussen woed die transformasie-kwessie steeds buite beheer voort. Daardie geslepe moeilikheidmaker Mark Keohane probeer al weer kwaad te steek oor die weglating van Tim Dulane uit die Bulls se span. Ek sien vanaand dat Archie Henderson van die Argus ook sy ore aan sy vriend Keohane uitgeleen het. Henderson, wat gewoonlik dink voor hy skryf, is ook nou op die lawaaiwa van transformasie. Die ongevraagde inmenging met spankeuses is besig om op die afrigters in te werk. Die Supertwaalfreeks is ongelukkig só taai dat die keuse van net een passasier 'n span 'n wedstryd kan kos.

Wat die Dulane-geval betref is daar min twyfel dat hy nie veel meer as net 'n klubspeler is nie. Die sewe minute wat hy in 'n Springboktrui gespeel het, was net te danke aan Jake White se desperate pogings om steun by politici te werf.

Die ironie van die hele geskil is dat daar al hoe meer anderskleurige spelers deur die regte kanale deurkom. Spelers soos Wayne Julies, wat tot onlangs toe nog 'n regstellende keuse was, kry nou plek op meriete. Ek wens die rugbybase wil dit aan die anderskleurige spelers oorlaat om self vir hulle plekke in die Supertwaalfspanne oop te speel. Hulle kan dit doen. Om die spelers se keuses af te dwing is 'n groter verleentheid vir die speler as vir die afrigter wat hom nou iewers in die span moet indruk.

Ek glo drie van ons spanne kan die naweek wen. Die Bulls gaan waarskynlik die swaarste kry. Hulle moet die beweeglike jong Brumbiespan met 'n span osse aandurf. Ek dink Heyneke Meyer se paniekerige spankeuses kan die Bulls die wedstryd kos.

Die tsunami-fondsinsamelingswedstryd hou baie van die groot spelers uit die Supertwaalfreeks. Dit kan die speelveld gelyk maak. Hoewel dit nog te vroeg is om voorspellings te maak, wil dit lyk of die hoop van Suid-Afrika vir 'n plek in die semi's op die Stormers en die Katte gaan rus.



LitNet: 3 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.