Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om daardie Straueli-gevoel te kry

Blou Bul Braampie

Anders as in die verlede wek die begin van die Supertwaalf nie by my gevoelens van opgewondenheid en entoesiasme nie. Om die waarheid te sê ek kry daardie Straeuli-gevoel van: dit het alles te vinnig gebeur. Boonop het die aanstelling van Jake White min gedoen om die algemene staat van rugbydepressie wat in die land geld te demp.

Die Bulls, wat op papier na ons beste kandidaat vir ‘n plekkie in die halfeind lyk, het in Dubai teen die Stormers ‘n rugbyles op die lyf geloop. Die Bulls se spel was verbeeldingloos en ongedissiplineerd, terwyl die Stormers kreatief en planmatig gespeel het. Hoewel die uitslag ‘n skok vir my sisteem was, was dit nie heeltemal onverwags nie. Die Bulls se afrigter, Rudy Joubert, was immers Rudolf Straeuli se hulpafrigter tydens die Springbokke se abortiewe aanslag om die Wêreldbeker te wen, en oor die Springbokke se agterlynspel in die toernooi hoef ek nie veel uit te wei nie. Dis veral die Bokke se verdediging wat baie yl was, en sonder rotsvaste verdediging gaan niemand ‘n duik in die Supertwaalf maak nie.

Hierdie naweek se twee tuisbotsings hou die voordeel in dat die Suid-Afrikaanse spanne darem nie onmiddellik die agterhoede van die kompetisie dek nie. Indien die Bulls daarin geslaag het om die spinnerakke uit hulle spelpatroon te vee, behoort hulle die Sharks te klop. Die Sharks het, net soos die Bulls, in die voorseisoen geploeter. Kevin Putt is egter ‘n denkende afrigter wat nie sommer die handdoek ingooi nie. Of Brent Russell se tierlantyntjies en Henno Mentz se vaart genoeg gaan wees om die Kushaaie in die prentjie te hou, sal maar gesien moet word.

Die afwesigheid van kaptein Victor Matfield behoort die Bulls nie te veel te knou nie. Noudat Matfield kaptein is, kan hy self besluit hoeveel keer hy in die agterlyn gaan stelling inneem. Tot voor sy besering het hy tydig en ontydig in die agterlyn geboer en die Bulls se agterlynspel geknou. Hoe gouer Rudy Joubert vir hom sê om sy werk voorlangs te gaan doen, hoe beter. Oor Geo Cronjé het ek nie kwellinge nie. Pa Org het hom van kindsbeen af geleer wat ‘n slot se werk is. Hy sal voorlangs sy kant bring.

‘n Ander aspek wat my kwel van Rudy Joubert se benadering is dat hy steeds nog nie die waarde van Jacques Cronjé raakgesien het nie. Die klein Cronjé — Sakkie soos hy in die huis bekend staan — is die warmste nuweling op die Suid-Afrikaanse rugbytoneel. Ek vrees dat Joubert ook sy talente gaan misken soos hy Derick Hougaard se talente verlede jaar misken het. Die beste wat die Bulls kan doen, is om vir die klein generaaltjie (Hougaard) van goeie besit te voorsien en die opponente se losvoorspelers van hom af weg te hou. Slaag die Pretorianers daarin, kan hulle daardie begeerlike plek in die halfeind ‘n werklikheid maak.

Die wedstryd tussen die Cats en die Stormers beloof om een van die opwindendste van die naweek te wees. Die Cats het soos gewoonlik ‘n oordosis gekoopte spelers en hoewel hulle gebrek aan ‘n gehalte-slot opsigtelik is, kan hulle die verrassingspakkie van vanjaar se reeks wees. Voor hulle dit kan word, moet hulle egter eers by die glibberige Stormers verbykom. Die Kapenaars het met Werner Greeff en Chris Rossouw in uitmuntende vorm ‘n agterlyn wat nie vir die bestes in die reeks hoef terug te staan nie. Tog voel ek hulle voorspelers is ‘n bietjie aan die dun kant. Hoewel dit nie die eerste naweek al gaan pla nie, dink ek dit kan hulle remskoen word soos wat die reeks vorder. Op Nuweland is die Swartes ontembaar. As die wedstryd daar gespeel was, het ek hulle blindelings as wenner voorspel. Op Ellispark kan die dinge egter anders lyk. Slaag Tim Lane daarin om sy voor- en agterspelers as ‘n eenheid te laat saamspeel, kan die Cats seëvier.

Ek steek dus my nek uit en voorspel dat die twee noordelike spanne die pyp gaan rook. Oorkant die ver water lyk dit, nes verlede seisoen, asof die Auckland Blues met al sy geleende vere uit die land van die mensvreters alreeds die beroepswedders se oorweldigende gunsteling is ... en daar is nog nie eers ‘n bal geskop nie.

Julle vra my oor Jake White. Wel, ek voel jammer vir hom. Hy lyk op sig na ‘n fyn mens, maar dit sê nie veel nie. Ek het hierdie week met drie senior personeelghoeroes gepraat en al drie sê hy moes op daardie CV nie eers die onderhoude gehaal het nie. Onthou, hy was nog nooit die hoofafrigter van ‘n volbloed senior span nie – nie eers op Curriebekervlak nie! Met beterweterige javels soos Matfield om sy lewe te versuur, voorsien ek ‘n onplesierige tydjie vir hom.

LitNet: 20 Februarie 2003


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.