Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Is SA rugby maar weer besig met ’n piramideskema?

Blou Bul Braampie

Dis Dolfman se laaste week van genadebrood. ’n Bruuske Potjiesdorper met ’n hangpens en twee Klipdrift-ogies het Dolfman tydelik gered. Pieter van Zyl het met sy onbeholpe duikslag die aandag van die media van Straeuli se Verloorbokke afgetrek. As ek Straeuli was, het ek vir Piet Pens Saterdag langs my in die Presidentslosie op Ellispark laat sit. Hy het immers nog ’n week se genadetyd vir onse Dolfman bygekoop.

Ek sien Piet Pens was op die rugbytrein van die Pukke se rugby-akademie. Ek hoop nie hy is daar in beheer van verdediging nie. Die tackle wat hy op die parmantige Ierse skeidsregtertjie uitgevoer het, was maar onooortuigend, al het die pieperige Iertjie na die wedstryd met sy arm in ’n verband geloop.

Almal vra my wie moet die skuld kry vir die Bokke se pak slae. Wel, die twee skeidsregters staan sekerlik voor in die tou. Met al die kritieke beslissings wat teen ons gegee is, moet daar sekerlik ’n slang in die gras wees. Aan die Bokke se kant was niemand vrotter as Ollie le Roux nie. Ek kan sien jy skud jou kop in ongeloof. Gaan kyk gerus weer na die laaste drie van Mauger. Die All Black draf gemaklik deur terwyl Ollie hom agterna kyk asof die senter ’n Spur-kelnerin met ’n mooi suspensie is.

Ek worstel sedert die naweek met die volgende vraag: Wat de hel soek ’n stut in die agterlyn as hy nie enige intensies het om ’n opponent te tackle nie? As ek Dolfman was, het ek vir Ollie van die reserwebank af gepos tot in die nierook-gedeelte van die naaste Spur. Hy is beslis nie meer goed genoeg om op internasionale vlak rugby te speel nie.

In die goeie ou dae toe die Quintus-brigade nog rugbyjoernalistiek gepleeg het wat gewilder as hygromans was, was dit ’n gewilde manier om ’n sportberig te begin: “Sus en so is hierdie naweek by die kruispad.” Feitlik alle bekende sportsterre uit daardie era het ’n draai by die kruispad gemaak. Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Naas Botha, Zola Budd, noem maar op. Hierdie ou cliché mag dalk net die naweek op Dolfman en sy bende vreemde profete toepassing vind.

Tim Lane en sy landgenoot Les Kiss het tot dusver weinig met die Bokke se verdediging uitgerig. Kiss en Lane klink in elk geval eerder na die choreograwe vir die Rocky Horror Picture Show as na twee agterlynkonsultante wat die Springbokagterlyn moet leer tackle. Elke week word daar twee of drie sagte drieë afgestaan. Elke week tackle ons senters of hulle deur Hulk Hogan afgerig word. Die vraag is, wanneer word al hierdie hogere teorieë wat week na week in die Sondagkoerante opduik, nou uitgevoer? Vir Straeuli om nou te sê hy wou eintlik ’n Franse verdedigingspesialis gehad het, maar dié ghoeroe was kontraktueel vas gewees, is ’n nuwe verskoning wat selfs vir Heynecke Meyer sal laat regop sit.

Nee Dolfie, sorry ou. As jou span dit dié naweek nie maak nie, gaan jy moeilik die wolf van die deur af weghou. Jy’t nes jou voorganger alles gekry wat jy gevra het. Proewe op Loftus en ’n lekker oop hand met spankeuses. ’n Voorbereidingsessie by die Polisiekollege geskoei op die lees van die destydse Heinz G Konzalik-boeke. ’n Propagandamasjien wat ons gebombardeer het met dreunsange oor Springboktrots. Ens ens ens. Ek onthou nog die opskrifte: “Ons vrees nie Mehrtens nie,” bla bla bla.

Nou, na al die opswepinge en nederlae, het ons maar weer by die kruispad gekom. As jy dink jou posisie is veilig vir volgende jaar se Wêreldbeker, dink weer. Suid-Afrikaanse rugby-administrateurs is nou nie eintlik bekend vir empatie nie. ’n Slegte pak slae Saterdag kan jou duur te staan kom. Selfs ’n grote soos Ian McIntosh kon nie daardie valbyl vryspring nie.

Wie moet jy kies? Wel, begin met Matfield. Hy is al ou wat die Aussies se lynstaanballe wettig kan spoil. Die sleutelwoord is “wettig”. Laat jy die besoekers toe om hulle lynstane sorgvry te wen, gaan jou agterlyn klippe kou. Ek sien jy wil weer met Bolla op skrumskakel begin. Dis nog ’n rede hoekom jy nie vir Matfield uit die beginspan weg kan laat nie.

Laastens stel ek voor dat jy vir Dopey Tune baie goed oppas. Hy’t jou al een keer vanjaar ’n poets gebak. Hy sal dit weer doen. Skop drie vinnige Gary Owens op hom en laat iemand hom behoorlik gelykmaak. Verkieslik nie DeWet Barry of Pieter van Zyl nie. En pas vir Bolla behoorlik op. Ek sou nie vir Bobby as uitsmyter by die lynstane aanstel as ek jy was nie. Gebruik eerder vir ysterman AJ om vir Finnegan in toom te hou en hou Bobby op die bankie tot die vyftigste minuut.

’n Laaste nota aan ons afrigter: Ek sien die spelers sê hulle wil graag hierdie een vir jou wen. Daardie ou sinnetjie was al die grafskrif vir menige afrigter. Vra maar vir Nick Mallet as jy my nie glo nie. In die Noorde weet ons nou jy is nie die reïnkarnasie van Buurman van Zyl nie. Oom Buurman sou nooit drie in ’n ry verloor het nie. Dis goed so, want nou kan jy jouself wees. Ek glo steeds die Bokke kan wen as hulle nie té seer kry in die lynstane nie. Pasop vir die ref, vir Tune en vir Gregan. Hulle is al drie ewe gevaarlik.

Na die naweek sal die groot vraag beantwoord word: Is SA rugby besig met ’n goeie belegging, of bedryf hy maar net nog ’n rugbypiramideskema? Ek wonder hoekom kry ek weer daardie beklemmende Saambou-gevoel. Hopelik is dit dié keer net ’n vals alarm. Ek sien wragtag nie kans vir nog vier maande se strooiverskonings nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.