Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dis hom, Dolfie

Blou Bul Braampie

Hoewel die Bokke se groot wen teen die Pumas glad nie so oortuigend was as wat die meeste kenners wou voorgee nie, het die heer Straeuli beslis die afgelope twee weke bewys dat hy oornag besig is om in ’n uitgeslape afrigter te ontwikkel. Sy oordeelkundige wisseling van spelers laat my baie dink aan sir Alex Ferguson, die ikon-afrigter van Manchester United. Ferguson het juis sy roem te danke aan sy bonatuurlike vermoë om die regte kombinasie te vind om sy opponente mee te troef.

Ek dink ook Dolfie slaag uitstekend daarin om die ongeskrewe regstellende-aksie-beleid tot die span se voordeel te benut. Dit is op sigself vir my ’n bewys dat hy snags diep oor die spel dink. Spelers soos Bolla Conradie, Adrian Jacobs en Quenton Davids kon lekker sorgvry inpas en hulle natuurlike spel speel. Hulle geniet geen spesiale behandeling nie en word net soos die ander spelers rondgeskommel. Dit gee hulle selfvertroue.

Die briljante oorwinning van ons onder 21’s in die Wêreldbeker-toernooi het heelwat nuwe opsies vir Dolfman geopen. Die belangrikste aspek is myns insiens dat hierdie jong troppie bymekaar gehou moet word en strategies ontwikkel moet word vir die volgende Wêreldbeker. Enkele van die agterspelers, soos Clyde Ratbone, Jeanne de Villiers en Fourie du Preez, kan dalk al by die Springbokke se oefengroep betrek word. Die voorspelers moet liefs in die Curriebeker-reeks verder geslyp word.

Die oordeelkundige manier waarop Straeuli met kombinasies eksperimenteer, hou die manne van Oseanië sekerlik aan die raai. Die oorvloed van goeie losskakels wat skielik op die toneel verskyn het, moet seker die manne van “doer onder” laat wonder oor watter patroon die Bokke gaan inspan. Met André Pretorius, Butch James en Werner Greeff wat almal oor ’n eie besonderse spelstyl beskik, kan die All Blacks en die Wallabies maar net raai hoe die Bokke gaan aanval. Met Brent Russell om nog verder die kaarte deurmekaar te krap, wonder ek of Greeff nie maar op binnesenter oorweeg moet word nie. Die onverskrokke James kan aan die ander kant dalk net die man wees om die lugaanvalle van Mehrtens af te weer.

Die terugkeer van Neil de Kock is nog ’n meesterskuif van Straeuli se kant. As hy die opponente met ’n vlugvoetige agterlyn wil aanvat, is De Kock die man om die lyn blitsig weg te stuur. Sy balverspreiding van die ander fases af is ook onverbeterlik. Teen hierdie agtergrond lyk dit vir my of Joost nie sommer weer sy plek sal terugkry nie. Die tyd is verby vir dinosourus-skrumskakels wat moeitevol om die skrums verby wraakgierige losvoorspelers ploeg.

Onder die voorspelers wonder ek of AJ Venter sy plek gaan terugkry. AJ het tot dusver min uitgerig teen minder indrukwekkende opposisie. Aan die ander kant is hy waarskynlik die enigste ysterman wat wel vir Owen Finnegan sal kan besig hou as die partytjie rêrig rof raak. Hoewel jong Bokkies soos Cronje en Bernard goed gelyk het, is hulle baardjies nog te sag vir die groot ooms wat in die regte Wêreldbeker gaan speel. (Voorspelerrugby teen die All Blacks en kie is doodsake.) Pas ons hierdie jong Bokkies egter mooi op, kan hulle oor vyf jaar al die groot katte doodslaan.

Dolfman het tydig met sy soektog na jong belowende hakers begin. Tot tyd en wyl Lukas van Biljon weer sy plek inneem, sal Oupa Dalton en twee jong vakleerlinge maar die ding moet doen. Hou in gedagte dat die beweeglike Jeremy Paul ’n belangrike skakel in die Wallabies se rigtingveranderings is. Die speler wat hom moet oppas, sal sy hande vol hê. Paul is blitsvinnig met ’n skerp rugbybrein.

Waar is die leemtes?

Ek dink ons sal ’n rotsvaste heelagter moet vind as ons ’n duik in die Drie Nasies-kompetisie wil maak. Ricardo Laubscher het die regte temperament. As hy fiks is, is hy my keuse. Andersins sal ek eerder die alsydige Stefan Terblanché inspan as om ’n nuweling vir die wolwe te gooi. Johan Roets van die Bulle is ’n betroubare buiteperd.

’n Slotwoord: Harry Viljoen het die talente van ’n Swys Swart raakgesien. Heynecke Meyer het weer vir Pedrie Wannenburg van Riversdale se wêreld raakgesien en met hom in die Supertwaalf volhard ten spyte van fel kritiek. Beide hierdie jongelinge het uitmuntend gevaar in die onder 21-toernooi. Die punt is dat die taak van die afrigter nie in ’n vakuum kan geskied nie. Dolfie en sy manne kan net sukses behaal as die hele rugbygemeenskap saamstaan en saamwerk in belang van SA-rugby.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.