Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In Pretoria word nie meer oor rugby gesels nie ...

Blou Bul Braampie

Met nog net die laaste paar wedstryde van die Supertwaalf oor, kyk ons maar bedroë hoe die gladiatore van Oseanië sake uitspook. Ek was verlede naweek op Loftus om die treurmare teen die Sharks te gaan inspekteer. Soos dit maar gaan by die graf van ’n gestorwene wat niks in die lewe kon uitrig nie, probeer almal om die mooie te onthou, maar daar is nie veel om oor opgewonde te raak nie. Dus word daar nie gepraat nie.

Die erflating van Heynecke Meyer is die vrotste vertoning in die Supertwaalf ooit. Van dag nul af toe die span aangekondig is, tot die eindfluitjie volgende week op Nuweland teen die Stormers blaas, sal as ’n gemors onthou word. Toe ek die name van gevestigde karperde soos Boeta Wessels en later Franco Smith in die span sien, toe weet ek dis nag. En dit wás nag.

Hier in Pretoria word daar op die oomblik glad nie rugby gepraat nie. As ’n ou net mik om die woord Bulle te gebruik, dan raak die manne haastig. Daar was laas so ’n kollektiewe stilstuipe toe Naas Amerika toe is om sy geluk by die Dallas Cowboys te gaan try. Toe ek verlede Vrydag in die poskantoor probeer uitvind wat die ander manne in die tou van die Bulle se vertoning gedink het, toe verkas een om ’n breipatroon vir sy vrou te gaan koop en ’n ander een om kaartjies vir volgende jaar se KKNK (verbeel jou!) te gaan koop. Sedert ek laas die moed gehad het om te skryf, het twee prominente lede van die Noorderbulle (dis glo die korrekte vertaling) striemende aanvalle op die beleërde (modewoord) Heynecke Meyer geloods. Ek sê juis nou die dag vir my Kaapse losiepêl, Nico Jordaan, hy moet my ’n Suid-Afrikaanse sportafrigter wys wat nie beleërd is nie, dan wys ek hom ’n Afrikaanse sanger wat nog nooit in sy lewe gemime het nie.

Noudat ek weer Nico se naam noem — hy is die een ondersteuner wat nooit opgehou het om in Pieter Rossouw te glo nie. Toe ek twee seisoene gelede in Rugby Burger geskryf het dat Slap Tjips sy tjips gehad het, het Nico my vaderlik probeer reghelp. Volgens hom was Pieter nog lank nie verby sy beste nie. Sy woorde oor hierdie eens beleërde speler het vanjaar profetiese status verkry.

Terug by die Noorderbulle. Die president van die Pumas en direksielid van die Bulle, Fanie Vermaak, het in Nieu-Seeland skerp kritiek teen Meyer uitgespreek oor sy spankeuses. Dis interessant dat die ou wag tot hy in Nieu-Seeland is voor hy sy mond oopmaak. Hy was seker maar bang die res van die direksie kanselleer sy oorsese besoekie aan die beleërde span, dis dié dat hy sy gevoelens tydelik opgekrop het.

Die president van die Valke en direksielid van die Noorderbulle, ene Rauties Rautenbach, kritiseer Meyer omdat hy te veel Blou Bulle gekies het. Die vlugtige voetwerk van senter Ettiene Botha staan bo-aan Meyer se klagstaat. Die Nieu-Seelandse media doop juis vir Ettiene Botha as die Fred Astaire van Suid-Afrikaanse rugby. Nou soek die Noorderbulle nog net ’n Ginger Rogers, dan kan hulle voor die wedstryde die vertonings by die trompoppies oorneem.

Al wat nou oorbly, is Heynecke Meyer se laaste paar passies. Ek hoor al die note van “The Last Waltz” in my kop.

Ek voel oor Supertwaalf-skeidsregters soos Steve Hofmeyr oor resensente voel. Die reëls word net eenvoudig nie eenvormig toegepas nie. Sommige spelers word die voorreg gegun om soos platannas in die losskrums in te duik terwyl ander gestraf word die oomblik wat hulle hulle voete verlaat. Ontoelaatbare hoogvatte waarvoor een span gestraf word, is toelaatbaar vir ander spanne, ens ens. Dit gebeur ook klokslag wanneer ’n wedstryd ’n kritieke fase bereik het, dat die skeidsregters van Doeronder ons voorrye met hulle reëlboekies begin teister. Dis een van daardie soort strafskoppe waarteen jy nie ’n verweer het nie. Die demigodjie met die X-straal-brein het jou uitgevang dat jy binnekant toe skrum en dit gaan nie help om hom by sy Illuminati-boeties te verkla nie.

Toe die skeidsregterbaas van Nieu-Seeland destyds in daardie faks aan sy eweknie in Australië gevra het dat die “japies” ’n les geleer moes word, het ons, soos gewoonlik, die ander wang gedraai. Die uiters ernstige bewering is in ons eie geledere toegesmeer. ’n Tipiese slapgat Suid-Afrikaanse hansie-my-kneg-houding. Daardie insident laat my wonder of ons nie dalk kry wat ons verdien nie.

Die Stormers was die beste van ons vrotterige spulletjie. Kom ons sê: Edelvrot. Net toe Pieter Rossouw uiteindelik genoeg gedoen het om die keurders van sy waarde te oortuig, toe koop die Ingelse hom. Wie’t gesê die dae van Britse imperialisme is verby.

Met goed 50 persent van die land se beter spelers in die Sharks se groep, moet hulle vierkantig die blaam dra dat Suid-Afrika nêrens in die halfeindrondes feature nie. Hulle het hoeka nog onder Dolfie se leiding uit die bus uit geval. Hoekom Rian en die res van die SARVU-breintrust toegelaat het dat soveel losvoorspelers en slotte van gehalte in die haainette agterbly, gaan my verstand te bowe. Dis die hoofrede dat die Noorderbulle met paloekas soos Chris le Roux en Wannenburg moet aansukkel.

Oor Rian se voorstel dat ons ’n vyfde span in die kompetisie moet kry (ons het almal uitgebars van die lag toe ons destyds sy voorstel hoor), stel ek voor ons noem hulle die Albatrosse. Met manne soos Boeta, Franco, Marius Goosen, Norman Jordaan, Gavin Passens (ook ’n Springbok!), Lawrence Sephaka en Chris le Roux aan die spits, kan hulle al die Bulls se skanderekords breek. Oor ’n afrigter vir die Albatrosse kan daar sekerlik geen twyfel wees nie: Heynecke, go for it!

Op ’n ernstiger noot, aangesien die Bulls as gevolg van inmenging van sy SAIL-base onverdiend sal oorleef, behoort die span met die onbenutte Vrystaatse talent aangevul te word.

Ek moet sê, Jaco se spanne vir die Bokproewe lyk kookwater. Ek sal volgende week my voorgestelde Bokspan verstrek. Intussen deel ek maar ’n paar rugby-Oscars uit. Kom ons noem hulle die Cravens.

Die Craven vir die beste Suid-Afrikaanse speler in vanjaar se Supertwaalfreeks gaan aan Corné Krige. Hy klop Bolla Conradie met ’n kortkop.

Die Craven vir die speler wat die meeste verbeter het, gaan aan Werner Greeff. Sy grafiek het merkwaardig bly styg vandat hy die eerste keer aan Supertwaalfrugby blootgestel is. Hy is vir my meer alsydig as André Pretorius.

Die Craven vir die mees onderskatte speler van die reeks gaan aan Jannes Labuschagné. Ek dink ou Jannes sal geen Springbokspan in die steek laat nie. Anders as die meeste van ons voorspelers, loop hy nie en kerm en kla nie. Hy vat sy punch soos ’n man.

Die beste Suid-Afrikaanse agterspeler van hierdie reeks was myns insiens De Wet Barry en die beste voorspeler Hendrik Gerber (al die ander genoemdes uitgesluit). Die toekenning vir die ou wat die meeste strafskoppe afgestaan het, word gedeel. Willie Meyer, Cobus Visagie en AJ Venter kan almal doen met ’n kykie na die reëlboek.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.