Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor rugbymuskiete, blondines met rooi skoene en ’n jong bulkatjie

Blou Bul Braampie

Ek lê hulpeloos op die rusbank en wag vir nog ’n bitter naweek se Supertwaalf-rugby. Dit is nou rustyd in die wedstryd tussen die Highlanders en die Hurricanes. Die Hurricanes loop 10-6 voor. Die angsgevoel wat my gedurende die eerste helfte beetgepak het, het effens afgeneem. Die rede vir my gevoel van onrustige twyfel is die verwoestende verdediging van die twee spanne. Die enigste doodvatte wat in hierdie helfte gemis is, is dié op Lomu. Die moderne rugby-Goliat het nou net weer vir Ryan Nicholas van sy lyf afgeklap. ’n Lastige 90 kg-muskiet wat tevergeefs aan ’n bewegende munisipale bus probeer hap het. Die ander 29 spelers verpletter mekaar onophoudelik. Hel, dis rugby se eie Gaza-strook. Van bendedoodvatte tot genadelose kopklemme. Onophoudelik, met ’n bal wat nooit dood raak nie. En die hantering — konsertpianiste met ’n Gilbert-rugbybal. Voorrymanne op volspoed wat nie misvat nie. Hoe begeer ons Loftus-bende nie sulke talent nie.

Vergelyk dit met ons eie bottervingers-Bulle. Lomp, onafgerig en planloos. Balretensie net ’n woord wat plek soek die die nuwe HAT.

Kyk ’n mens na individuele briljantheid, is daar minstens agt spelers in hierdie wedstryd wat jou lank sal bybly.

Eerstens Geoff Wilson se briljante drie wat die wedstryd vir die Highlanders geseël het. ’n All Black sedert 1993 en ook ’n internasionale krieketspeler. Sekerlik een van die grootste windgatte in die Supertwaalf. Meer selfvertroue as wat daar in die hele Pretoria in omloop is. Vir my, waarskynlik die beste drie in die Supertwaalf tot dusver. Eers steel hy Cullen se taktiese skoppie met ’n glipvangskoot. Toe sny hy soos ’n spook deur die verdwaasde Hurricanes. Penetrasie soos net my buurvrou dit kan begeer.

Die onbesonge stil held, Taine Randall, soos Kaapse rooiwyn, elke jaar beter, ’n voorgevoel wat mens laat wonder of hy nie met die rugbyhelm gebore is nie.

Twee skrumskakels, Jason Spice en Byron Keleher wat beter is as enigiets wat in die Suid-Afrikaanse spanne speel. Dit sluit Bolla en Amor se liefie in. Stem jy dalk nie saam nie? Kyk weer na hierdie twee teddiebere se verdediging, dan praat ons weer.

So kan ek aangaan, en aangaan, maar net ’n laaste naam. Jerry Collins. ’n Simson sonder ’n eselskakebeen. Kyk net hoe ploeg hy onophoudelik deur die verdediging.

Genoeg lofredes oor vreemde gode. Kom ons kyk na ons eie skandemakers. Die Blou Nulle het voorspelbaar ondergegaan. Sonder slag of stoot. Die Crusaders het agt drieë gedruk en toe belangstelling verloor. Seker maar uit vrees dat een van hulle driedrukkers in een van die waterplasse agter die doellyn verdrink. Nie dat daar ooit ’n Bul naby was om sy kop onder te hou nie.

Om die Nulle se sake te vererger is Wayne Erickson op die fluitjie. Minstens drie van die Crusaders se drieë lyk verdag. Met die ander vyf is daar nie veel verkeerd nie. Die kere wat die Nulle drieë druk, is dit per abuis. Die Blou agterspelers laat mens dink aan ’n bondeltjie erdwurms wat vir ’n klompie hoenders probeer wegseil. Hulle het net eenvoudig nie genoeg natuurlike vaart nie. Die Nieu-Seelandse kommentator sê tereg die Nulle se agterlyn het geen “shape or pattern” nie. Dis sagkens gestel. Hulle siellose dryfbewegings is, om die minste te sê, hartverskeurend. Blou papajas wat teen ’n baksteenmuur stukkend gegooi word.

Die Blou voorspelers staan week na week soos ’n klomp boere by ’n veiling rond terwyl die opponente se voorspelers losballe uitsoek. Die Blou agterlyn lyk soos ’n klomp karoppassers wat plek aanwys onder hulle eie pale. Nee magtag man. Stuur die klomp slapgatte huis toe, Rian!

Ek sien oom Silas van SARVU-faam sê dat die Suid-Afrikaanse spelers volgende jaar volgens hulle spelgehalte vergoed gaan word. Wel, dan is ons terug by amateurrugby want baie min van die donners wat nou speel, sal vir ’n betaaltjek aan die einde van die maand kwalifisieer

Wat die Stormers aanbetref kan ek net sê dat my oorle ma my altyd teen blondines met rooi skoene gewaarsku het. Toe Percy met daardie skoene pale toe aanlê, toe hou ek duim vas hy kry nog ’n kans en toe hy nog ’n kans kry, toe hoop ek hy kry ’n derde kans. Verstaan my mooi. Dis nie dat Percy se skoene vir my lelik is nie. Dis net dat ek meen mooi meisies moenie met veterskoene kerk toe gaan nie en skoppers moet ook nie met rooi skoene pale toe skop nie. Maar dis net ’n kwessie van smaak.

Op ’n ernstiger noot: ek kry al meer die gevoel dat Harry dalk te gou die handdoek ingegooi het. Die Pieter-en-Percy-kombinasie lyk vuurwarm, terwyl die Stormers beslis die kern van die Bokspan sal moet uitmaak. Is dit nie presies wat Harry in gedagte gehad het nie? Het ons nie dalk die afrigter saam met die badwater uitgegooi nie? Moes Dik Dolf nie dalk eers ’n vakleerlingskap as hulpafrigter deurloop het nie?

Dis juis in die Stormers se wedstryd dat die mag van fluitjie en vlag die Stormers se doppie geklink het. Paul Honiss en Stuart Dickinson het myns insiens die Stormers van ’n oorwinning beroof. Die belaglike geel kaarte en ’n stel reëls wat ruimte laat vir 1001 toepassings, was genoeg om die Stormers se doppie te klink. Die laaste twee strafskoppe is waarskynlik net toegeken omdat ’n gelykopuitslag vir beide spanne baie ongerief sou beteken. Met al die miljoene wat die TV-kontrakte inbring, het dit dalk tyd geword om die skeidsregters van die Noordelike Halfrond vir die sleutelwedstryde van die Supertwaalf in te vlieg.

Die Sharks het darem weer ’n temerige oorwinning behaal. Net Stefan Terreblanche het enigsins na Bokmateriaal gelyk. Nou is die bal aan Puttie se kant van die net.

Andre Pretorius het weer eens baie goed gelyk tussen ’n klomp vakerige huis-Katte. Andre Vos lyk al klaar weer na ’n speler sonder wie ons nie die vurige Franse of die vermetele All Blacks kan aanvat nie. Ongelukkig glinster die pondtekens al klaar in sy oë. Dit bly steeds merkwaardig hoeveel lyfstraf ’n man sal vat as die wisselkoers reg is.

Kyk ’n mens objektief na die lustelose vertoning van die Katte en die hulpelose vertoning van die Blou Bulle, kan geen ander gevolgtrekking bereik word as dat die twee sukkelspanne volgende jaar onder een sambreel ingedwing moet word nie. ’n Dosis onkunsmatige inseminasie aan die einde van die seisoen kan op die geboorte van ’n jong Bulkatjie uitloop wat dalk net meer lewensvatbaar mag presteer.

Ná die Bulls se pak teen die Crusaders het Heynecke Meyer eers die Bulle geloof en bevestig dat hulle op die regte pad is. Toe hy Maandag na die video kyk, het hy volgens koerantberigte woedend by ’n spelersvergadering ingestorm en links en regs belowe om spelers uit te gooi. Dit was vir my ’n eye-opener dat die Noorde se eie Rip van Winkel ’n videomasjien nodig gehad het om van sy rugbyslaap te ontwaak. Dit bewys dat hy waarskynlik die eerste ses van sy span se wedstryde met toe oë bekyk het. Ek vermoed Rip kon dalk sy afrigtersloopbaan gered het as hy toegang tot LitNet gehad het.

’n Laaste nuusflits: Dik Dolf het vanoggend aangekondig dat hy weer vanjaar Springbokproewe gaan hou. Ek glo hy het die aankondiging te danke aan die wyse advies van sy pa, Oom Hans. Dit is die eerste ligpuntjie sedert sy aanstelling. Hou hy by sy pa se goeie raad, herdoop ek hom dalk binnekort “Dear Dolf”.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.