Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Supertwaalf — week 3

Blou Bul Braampie

Hierdie week voel ek soos die Boetman van Blou Bul-rugby. Ek is die bliksem in. Nie net vir die belaglike Blou Nulle en die Klaaglike Katte nie, maar ook vir die Nieu-Seelandse en Australiese skeidsregters wat ons om elke hoek en draai befoeter, maar meer gal later.

Ek moet bely dat ek baie dankbaar was vir die Stormers se speel-speel-oorwinning teen die Hurricanes. Aan die ander kant weet ek nie regtig hoeveel ’n mens daarin moet lees nie. Die Stormers se Black Magic het sommer al voor die afskop begin werk toe Tana Umaga onttrek het weens ’n besering. Hy moes die besering by die haarkapper opgedoen het, want dit was duidelik dat die Hurricanes nie naby ’n oefenveld was nadat hulle biltong van die Noordelike Bulle gemaak het nie.

Die Hurricanes het eerder gelyk of hulle eers by Heyneke Meyer gaan kers opsteek het en daarna te lank by ’n snoekbraai of twee vasgehaak het. Soos met baie toerspanne voor hulle, het die Kaapse nonnatjies en die gepaardgaande koningsvog vermoedelik met hulle slaappatrone ingemeng. Jonah Lomu het gelyk of hy die vorige aand by sy eie bachelorspartytjie was. Die losvoorspelers van die Stormers het hom herhaaldelik soos ’n malvalekker teruggeduik.

Aan die ander kant het Johannes Conradie en De Wet Barry na Springbokke gelyk, terwyl Hottie Louw met elke wedstryd beter speel. Pieter en Percy het vir die soveelste keer gewys hoe gevaarlik hulle is as die druk min is. Groot Gert kry steeds my stem as die beste afrigter in die land. Sy kombinasies en die benutting van Werner Greeff maak hom in my oë die voorste rugbystrateeg in die land ... en wat is ’n afrigter anders?

As Corné Krige hierdie span in die halfeind kan kry, sal Dik Dolf hom die kapteinskap van die Bokke moet gee. Dolfie het mos al klaar belowe hy gaan nie ouens soos Bobby oorweeg wat pool speel en krieket kyk terwyl ander ouens Katte jag en Bulle slag nie.

Die grootste verrassing van die wedstryd — dis nou benewens die lam boude van die Hurricanes — was die Australiese skeidsregter, Stuart Dickinson. Sedert ek hom laas sien blaas het, het die Goeie Fee hom in ’n Stormers-ondersteuner verander. Moet egter nie die Bose Fee onderskat nie. Nader aan sy vaderland is hierdie ref so gevaarlik soos ’n mak mamba in ’n slangpark. Hy pik wanneer jy dit die minste verwag.

Die Crusaders het in die verlede met ongeveer dieselfde talentoes die Supertwaalf gewen. Hoewel dit nog te vroeg is om wilde voorspellings te maak, lyk die Stormers se kanse goed om in die boonste vyf te eindig.

In die Blou Nulle se wedstryd was die mees merkwaardige aspek die boodskappies wat kommentator Andy Capostagno gedurende die behandeling van beserings aan sy vriende regoor die wêreld uitsaai. Hierdie week se boodskappie was aan George en Mary iewers op ’n boot in Sydney. Miskien kan M-Net vir ons ’n nommer op die skerm flits. Dan kan Andy vir ons vriende in Australië ook boodskappies uitsaai.

Die wedstryd self het meer soos ’n oefening van die eerste span teen die tweede span gelyk. Weer het hoogstens vier van die Nulle se spelers na Supertwaalf-gehalte gelyk. Volgens die Nulle se bestuur is Adrian Jacobs vir die nederlaag te blameer. Sy hulpelose verdediging, asook die duurgekoopte Wylie Human se onvoorspelbare inisiatiewe, het die Nulle duur te staan gekom, om nie eens van MacNeil Hendriks se foutjie te praat nie. Die outjie het in die doelgebied die bal op sy eie been gedruk en ’n drie weggesmyt.

Na Saterdag se vertoning verstaan ek hoekom die Lotto-komitee nie geaarsel het om ’n groot som geld vir rugby-ontwikkeling in die Noorde toe te ken nie. Hier gaan niks aan nie.

Naas (dié Naas) kon nie verstaan hoekom Jacobs vervang is nie. Die twaalf doodvatte wat Jacobs volgens joernalis Rudolph Lake gemis het, het Naas blykbaar nie ontstel nie. Wonder hoekom nie?

Vroeër die week het die Nulle ewe trots verklaar dat hulle voorloop in die transformasieresies. Skaars twee dae later het hulle goed op hulle moer gekry. Tot tyd en wyl daar bonuspunte vir transformasie gegee word, sal die Nulle ander kriteria by spankeuses moet gebruik.

Hoe kan hierdie treurmare reggeruk word? Wel, myns insiens sal Heyneke Meyer óf self moet bedank óf sy agterlynafrigter, ene Mike Baily, moet ontslaan. Beide van hulle sit die pot vêr mis. Die vraag is net wie se kop eerste in die mandjie gaan beland. Ek sou Meyer en Baily gegroet het en vir Ian McIntosh en Danie Gerber ingebring het. Gerber verrig wondere met die Pumas se bejaarde agterlyn.

Ek voel jammer vir Victor Matfield wat tussen so ’n klomp sukkelaars moet speel. Miskien moet Mattie maar volgende jaar ’n Stormer word.

Die Klaaglike Katte het alles teen hulle gehad. Die ref, die spring van die bal en les bes, die Highlanders van Laurie Mains. Mains, wat tot verlede jaar nog die Katte afgerig het, het presies geweet hoe om met Louis Koen se gal te werk. Die onervare Frans Ludeke, wat terloops tevrede was met sy span se vertoning, se span het taktiekloos die een bal na die ander weggeskop. Ek vermoed die Cats, wat nou in die Staatsteater speel, sou beter gedoen het.

Laastens iets oor Dik Dolf se Haaie. Die Dikke verdien myns insiens ’n pluimpie vir die manier wat hy die Brumbies se sorgvrye vlinderagtige agterlynbewegings beperk het. Sy strategie is definitief reeds by die swartbord uitgewerk ... en dit het gewerk. ’n Hegte verdedigingspatroon en toegewyde verdediging het die Sharks baie goed laat lyk. ’n Bedenklike beslissing deur die derde skeidsregter het aan Dan Vickerman ’n gelukkige drie besorg. Tensy die derde ref met die helm gebore is, kon hy nie die drie toeken nie. Dit het die Sharks finaal in die net laat beland. Na volgende week se wedstryde sal ons weet of die Sharks dit nog na die halfeind kan maak.

As slotwoord dink ek dat die derde skeidsregterstelsel nie as ’n pensioenskema vir afgetrede skeidsregters gebruik moet word nie. Slegs aktiewe skeidsregters behoort as derde skeidsregters ingespan te word — nie die Fransie Mullers en Steve Strydoms van hierdie wêreld nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.