Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bliksem!

Jaco Botha

Die boer loop vir Moos op die werf raak. Hy strek homself uit in die Vrystaatse sonnetjie en sê: “Moos, jy dink nie dis dalk nou tyd dat julle begin oes nie?” Moos lyk so half deurmekaar. “My liewe vader Moos,” sê die boer ontsteld, “moet net nie vir my sê julle’t nie gesaai nie.”

Dit is seker maar so dat ’n mens begin stories vertel wanneer jy kan sien dat daar die jaar nie gesaai is nie, en gevolglik nie veel anders is om te doen nie.

’n Ander storie wat vertel word, is dat die sangeres en Lotto-meisie, Amor Vittone, in ’n tent by die KKNK opgetree het. Sy sing glo toe so liedjie oor “my nommer 9”. In die gehoor is daar ’n Kapenaar wat deur die dag so bietjie wyn gevat het — dit is mos maar warm daar op Oudtshoorn. Hy sit en kyk vir dié mooi blonde meisie wat met soveel passie oor haar fantastiese nommer 9 sing en toe skielik kliek daar iets in hom. Met groot gebaar fluister die Kapenaar aan die mense rondom hom: “Bolla Conradie, jou f*kkin etter.” Hy het darem in die proses bewys dat hy nie ’n Rapport-leser is nie.

Ek het in ’n vorige rubriek kritiek uitgespreek oor oa die gebrek aan kundigheid by Supersport-kommentators. Ek moet darem tog noem dat Uli Schmidt ’n kenner van die game is, al klink dit soms tydens uitsendings of die goeie dokter aan homself Valiums voorskryf. Ek onthou nog hoe hy destyds, in ’n Leeu-trui, via die veld-ore sy debuut as kommentator op Supersport gemaak het. Die skeidsregter se antwoord was: “Uli, niemand sê vir my ‘fok jou Tappe’ nie,” en toe onthou hy skielik van die mikrofoon en slaan sommer in Engels oor, “You, number 2, off the field.”

’n Ander interessantheid is waar die bynaam van dié genoemde ref, Tappe Henning, vandaan kom. Tappe se oupa was glo op sy dag ’n tap dancer en het gevolglik die bynaam Tap gehad. Toe Tappe se pa gebore is, toe kry hy die naam Tappies, of soos die mense gepraat het, Tap se Tappies. En, soos die trappe, of is dit nou tappe, van vergelyking werk, is Tappe toe Tap se Tappies se Tappe. Nou is dit sommer ook makliker om te verstaan hoekom die heer Henning so vlugvoetig op die veld is.

Ek sal op hierdie punt maar eers met die stories volstaan voordat ek ook dalk vertel wat Naas Botha, na ’n wedstryd in die laat 80’s in PE oor die Baai se ondersteuners te sê gehad het. Laat daardie ou koei maar in die sloot bly lê, saam met al die halwe nartjies en leë bierblikke wat op daardie dag na die Bloubul-losskakel gegooi is.

Terug by byname: ’n man oor wie ek graag meer wil uitvind, is die oud-Griekwa Slang Roux, wat tans vir die Griffins goeie rugby speel. Hy is hierdie seisoen die voorste puntemaker in die Vodacom-reeks, ten spyte van die feit dat hy in ’n verloorspan speel. Dit wil gedoen wees — ek glo dat hy sekerlik aanstaande jaar deur die Bulle gekoop sal word — hulle is mos ’n span wat gewoond is daaraan om met 14 swakkerige spelers en een puntemasjien te speel.

Heyneke Meyer het, uiteindelik, ná Boetie Boeta Wessels beseer is, vir Etienne Botha op senter ingespan. Dis ’n absolute skande dat Botha, wat gedurende die Currie-beker en die Vodacom-reeks uitgeblink het, nou eers speelkans in die Super 12 kry. Indien Meyer egter vertrou kan word om swak besluite te neem, sal Botha waarskynlik weer in die vergetelheid verdwyn sodra Boeta weer fiks is.

Ag, as mens maar net vir Danie van Schalkwyk kon teruggee vir die Bulle en vir Etienne Botha op senter vir die Katte kon gebruik, dan sou die Gautengse span dalk ook meer wedstryde kon wen.

As trooswoorde wil ek darem noem dat ons in ‘98 net so vrot in die Super 12 gevaar het en toe in daardie jaar die Drie Nasies-reeks gewen het. Voor in die wapad brand ’n lig. Ons kan maar net hoop dis nie ’n trein se koplamp nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.