Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bulls in Bagdad

Blou Bul Braampie

Dit moes seker verlede Saterdag vir die beleërde Bulle gevoel het of hulle in Bagdad speel. Die totale aanslag van die Brumbies was blykbaar vir die Bulle se breedsprakige afrigter, Rooimoer Joubert, ’n groter verrassing as vir my. Wat Rooimoer laat dink het dat sy jong Bulle hoegenaamd teen die Brumbies opgewasse sou wees, gaan my verstand te bowe. Dit was tog net ’n kwessie van tyd voordat die talentvolle Brumbies weer kliek. Die aanwesigheid van die Wallaby-skakelpaar in die geledere van die tuisspan moes as genoegsame bewys vir Joubert gedien het dat sy span die gevaar van ’n groot loesing in die gesig staar, maar nee: hy wag met Eddie Fredericks op heelagter en besluit om hardlooprugby met Louis Koen op losskakel te probeer speel. Beide eksperimente misluk en Rooimoer kry weer op sy moer.

Ek het, voordat die Bulle op toer vertrek het, gesê dat hulle goed sal vaar as hulle met sewe ligapunte terugkeer en dit het hulle gedoen — al het dit die laaste twee wedstryde maar broekskeur gegaan. Joubert moet egter manalleen die blaam dra vir die Bulle se patetiese vertoning teen die Brumbies. Swak taktiek, die miskenning van die talente van Derek Hougaardt, en les bes, ’n onfikse pak voorspelers het die Bulls ’n ernstige sielkundige knou toegedien.

Dit het dalk tyd geword dat die Bulls se bestuur hulle afrigter muilband en verbied om met die media te praat. Hy is daar om af te rig. Punt. Sy ellelange verduidelikings oor taktiek wat nie gewerk het nie, is net so irriterend as sy koppige volharding met spelers wat nie die mas opkom nie. Boonop het sy besluit om Blikkies Groenewald as agterlynafrigter te gebruik, ook in sy gesig ontplof. Die hele toer kan opgesom word met een opmerking: swak hantering en onbeholpe agterspel.

Nog ’n klagte op Joubert se klagstaat is sy beheptheid met geleende vere. Ek het dit al voorheen geskryf en ek doen dit weer. As hy die Blou Bulle se Curriebeker-wenspan behou het en spelers soos Johan Wasserman, Tiaan Joubert en Wylie Human by die Bulls betrek het, sou dit heelwat beter gegaan het. Daardie spelers het ware Bultrots — hulle sou die ekstra myl geloop het. Op die ou end was John Daniels, Fabian Juries en Eddie Fredericks die swak plekke in die Bulls se mondering.

Die supervertoning van die Stormers was loshande een van die bestes in die span se Supertwaalf-geskiedenis. Die Kapenaars het met spogspel gewys dat ’n span nie groot name nodig het om goed te vaar in die moordende reeks nie. Solank die spelers die wil het om te wen en bereid is om alles te gee, kan ’n span sy man staan. Die drie van Neil de Kock is ’n puik voorbeeld van ’n speler wat bereid is om twee manne se werk te doen. Leon van den Heever lyk na ’n groot belegging vir die toekoms. Corné Krige het sommer ook bewys dat ’n span hom nie moet laat ontmoedig deur ’n moedswillige skeidsregter nie.

Wanneer die Bulls en die Stormers op 5 April in Pretoria kragte meet, speel hulle om oorlewing. Die span wat daar verloor, het ’n opdraande stryd voor na die halfeindstryd. Die Bulls behoort op sy tuisveld te wen as sy halsstarrige afrigter se drange om regstellende hardlooprugby te speel, weggaan. Probeer die Bulle egter om die Stormers se tipe spel te speel, wag dieselfde lot op hom wat hom teen die Brumbies getref het. ’n Mens kan maar net hoop dat Joost reg is vir die wedstryd.

Die Katte was die soveelste Suid-Afrikaanse span wat moes swig voor die aanslag van ’n inkonsekwente skeidsregter. Stuart Dickinson het vir die soveelste keer ’n Suid-Afrikaanse span gekelder. Dié keer was Hanyani Shimanga se rooi kaart die keerpunt in die wedstryd. Daarna was die Katte op die agtervoet en moes hulle met veertien man voortsukkel. Die oortreding het hoogstens ’n geel kaart regverdig. Dit was nie naastenby so ernstig soos die volstruisskop waarmee Tuivula die vorige week vir Friedrich Lombard neergevel het nie. Dit is hoog tyd dat skeidsregters ook uitgewys word vir “vreemde” beslissings.

Oor die verval van die Sharks kan ’n mens net treur. Net soos in die geval van die Stormers het die beseringspook hulle ook ernstig geknou. Hulle toer na “doer onder” kan ’n lang en vernederende ervaring word as hulle nie hulle sokkies optrek nie. Dit lyk of hulle en die Reds vanjaar sake gaan uitspook om die houtlepel. Wat Putt aanbetref, kan hy maar die werksadvertensies begin dophou. SARFU het reeds lankal bewys dat hulle min genade vir onsuksesvolle afrigters het.

Die afrigter van Tukkies het verlede naweek sy lyf voorspeller gehou. Dick Muir het voorspel dat al die Suid-Afrikaanse spanne sal wen met die uitsondering van die Stormers. Muir het, soos almal al teen dié tyd weet, die pot heeltemal mis gesit. Ek hoop vir Tukkies se onthalwe dat Muir beter afrig as wat hy voorspel.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.