Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die sluipskutter, die selfmoordbommer en die anargis

Clinton V du Plessis

Hy-wie-voortaan-in-Afrikaans-swyg, haal in een van sy Taurus-digbundels dié stukkie anargistiese wysheid aan:

Not through consciousness, but through the barrel of a gun.

Iewers in Oktober 2002 het ’n Amerikaner die teleskoop van sy geweer op ’n deel van die nasie gerig en hulle vreesbevange van die strate laat skarrel. Toe ek belangstelling in die storie begin verloor, het daar reeds dertien slagoffers in lykshuise gelê — elkeen koeëlsekuurrond die ewigheid in gestuur.

Aanvanklik was die magtige FBI totaal onkant gevang, want daar was geen deurlopende verband tussen die slagoffers nie — “random shootings”, soos die Amerikaanse media dit in tipiese Hollywood-hype gestel het. Intussen is die sage opgelos, maar dié episode bly by my spook.

Sluipskutters, selfmoordbommers en ander anargiste fassineer my.

Ek onthou hoe ek destyds vasgevang voor die radio gesit het toe André Stander met sy bende en sy XR-6 hier amok gemaak en Andreas Baader en Ulrike Meinhof as die Baader-Meinhofbende in Wes-Duitsland hulle antikapitalistiese terreurveldtog gevoer het.

Hierdie fassinering het seker maar iets te doen met skrywers se skewe neiging om oor die algemeen die kant van die underdog te kies. Dit is hoekom ek min ooghare het vir skrywers, digters, kunstenaars wat gemoedelik met enigeen in gesagposisies omgaan, veral die in regerings.

Dit is in politici se eie belang om babas te soen, hande te skud met bewerige oumense, om met sportmanne en kunstenaars te heul — met ander woorde, om te koöpteer. Maar net soos die hoer, kan ook ek met oorgawe beken: “I don’t do politicians.”

Maar terug by die onderwerp waaroor ek wil skryf.

Enersyds moet ek tog ook erken dat ek my bedenkinge het oor net hoe spontaan die jong kinders in die Midde-Oosterse konflik die bom aan die lyf bind, daarna in die bus klim of by die oorvol restaurant instap en die aktiveerder druk. Onlangs was daar dan ook in Kaapstad ’n optog teen Amerika waar jong kinders as selfmoordbommers aangetrek is — net hoe blatant of subtiel word geloofsoortuigings ingespan om die voetsoldate tot martelaars te manipuleer?

Maar behalwe hierdie bedenkinge het ek bittermin morele kwessies oor sluipskutters of selfmoordbommers.

Op ’n manier word dié persoon die enkele Groot Gelykmaker — geen wonder die Amerikaner na wie ek hier bo verwys het, verklaar kort en kragtig op sy tarotkaarte wat hy op die toneel by sy slagoffers agtergelaat het, “I am God” nie.

Waarna kyk hy voor hy die sneller trek? wonder ek. Wat laat hom besluit om te mik vir die kop of die hart? Wag hy om te sien hoe die slagoffer hom- of haarself doodbloei?

Hoeveel moet jy uiteindelik opvreet voordat jy net besluit, tot hiertoe en nie verder nie?

Gatvol kry dan skielik ’n nuwe, gevaarliker dimensie.

Ons sien dit tot vervelens toe en is nou al so gewoond daaraan dat dit ons tot ’n mate afgestomp het. Elke aand op die televisienuus sit hulle selfvoldaan daar. En oral is hulle dieselfde — in Afrika, in Europa, in Asië, in Amerika: die gepoleerde gladdebek-politici met die ontwerpersmoraliteit, die fyn, aangeleerde kuns om nooit ’n vraag te beantwoord nie — selfversekerde leuenaars — die meesters van semantiese skêrbewegings en verbale fop-aangeë.

Anything, for a few $ more …

En terwyl die oorgrote meerderheid burgers oor die algemeen wroeg en skouers ophaal, is daar iewers iemand wat bereid is om iets te doen. Dit mag siek klink, maar miskien slaap ek net effens beter omdat ek weet daar buite is ’n persoon wat besluit het hy het net eenvoudig niks meer oor om te verloor nie. ’n Persoon wat die diktators en magbeheptes dwing om gedurig oor die skouer te loer. Iemand wat, as hy vasbeslote genoeg is, verby die veiligheidswagte, die metaalverklikkers, die koeëlvaste vensters, die gewaande onaantasbaarheid van mag kan kom, en die dood onverwags soos ’n sneeukombers in die middel van die somer kan kom aflewer.

Of selfs met ’n geskaakte Boeing 747 die wêreld se magtigste land lomp kan laat steier op voete van klei. Dit ondanks die arsenaal van atoombomme en die mees gesofistikeerde radartoerusting.

In ’n era van arrogante leierskap, selfaangestelde lewenslange presidente en ’n global village waar die tirannie van wins se ongevoelige tentakels al wat mark is sprinkaan-gulsig opslurp en ewe vinnig agter uit mis, is dit goed om te weet dat die enkeling tog nog iewers ’n verskil kan maak — selfs die verloop van die geskiedenis kan verander.

Ongelukkig beland daar egter ook soms die verkeerde gesig in die fyn vuurlyn van die visier, soos die van John Lennon …

Of ’n stryder genaamd Barend Strydom skuif agter die loop in …

Of Israel verwyder die verrassingselement deur hul voorneme om Arafat sneller van die toneel te laat verdwyn, op nuuskonferensies aan te kondig.

Maar, soos hulle sê, it comes with the territory …

Dus: Bob, Bush, Blair en Bin Laden, be afraid, be very afraid!

Lank lewe die sluipskutter, die selfmoordbommer en die anargis.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.