Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor rugby, raserige rassiste en reluctant reformers …

Clinton V du Plessis

Ek tel nou anderdag my skryfsels op hierdie werf.

Bykans mondig — of so — en ek dink ook aan my voorneme toe ek hier begin skryf het — dat ek twee onderwerpe soos die pes sal vermy: rugby en die liefde.

Maar ek is ook oud genoeg om te weet dat daar nie altyd iets kom van goeie voornemens nie, dus nou iets oor rugby … oor die liefde swyg ek nog.

Ek sou die selfopgelegde swye oor rugby bewaar het, was dit nie vir daardie lieflike loesing op Loftus nie — daar in die G-kol van Bernoldus Niemand se Snor-city.

As ek reg onthou, was daar so ’n tyd gelede ’n kampanje aan die gang om die naam van daai span na een of ander blom te verander. As ek ook reg onthou, was daar die gewone stortvloed briewe in Beeld en Die Burger en bierpens-fok-verontwaardiging teen die voorstel.

Met die wysheid van ’n agternablik sou dit miskien ’n gepaste naamsverandering gewees het …

Hierdie klomp Castle-bokke is die naam Springbok nie werd.

Maar dan moet ek ook bely — ek het lankal al belangstelling in rugby verloor.

So tussenin tennis gekyk, maar ook dié opgegee sedert daardie smeulende Suid-Amerikaanse seksasie Gabriela Sabatini haar wippende tennisromp opgevou het — die Williams-susters het te veel steroid-spiere en van die jonger Russe is te riemgatskraal — amper anoreksies.

Maar terug by daai spel.

Die laaste span wat my kon betower, was die een met spelers soos Phil Bennett, Gareth Edwards en ene Mighty Mouse McLachlan. O, waar is die dae toe die kinders in die stofstrate met ’n opgestopte flenterkous voorgegee het hulle is ’n Frik du Preez, Jan Ellis, Thys Lourens of Gerald Bosch en eers veel later Errol Tobias (tot vandag toe wonder ek nog hoekom Danie Gerber soveel kere nie die bal na hom aangegee het nie — was dit a colour thing?)?

“Ja, die manne was rof in die ou dae, but they played a gentlemen’s game," aldus David Kramer in Blokkies Joubert. Nou is daar oorbyters, vuis-, kop- en elmboogslaners en allerhande bullebokke in groen en goud; en nee, ons speel nie vuil nie, net hard.

Se gat, sê ek. Dis ’n ou boere-triek dié — as jy nie kan wen nie, dan gaan jy oor na “derde-mag-taktiek": moer hulle … maar ongelukkig is daar ’n kamera.

Maar dan weer was rugby hier nooit net ’n spel nie. Dit was onlosmaaklik deel van ’n leefwyse — deel van ’n bestel — en uiteindelik het dit ’n last refuge vir raserige rassiste en reluctant reformers geword. Kyk maar as die televisiekamera so oor die pawiljoen en die gesigte swiep en jy sien daardie stereotipiese Afrikaner.

Al ooit gewonder waarheen al die witmense verdwyn het wat voorheen apartheid ondersteun het? Hulle sit Saterdae op Loftus!

As iemand met my wil stry, dink maar gerus terug aan ene Pieter van Zyl wat met daai stywe boktrui, wit stuk boep en bebloede neus sy magnus opus gelewer het en aan die buiteland hulle geliefde beeld van The Boer opgetower het.

Of vir die met nog korter geheues — kyk maar hoe rojaal het Mnr Markgraaf met die K’s omgegaan!

En ’n paar weke gelede braak ’n briefskrywer in Rapport gal omdat tradisionele Zoeloedansers durf optree voor die toetswedstryde. Met ander woorde, wat de hel soek julle hier tussen ons? Julle het niks hier verloor nie.

Maar ons is ’n nasie wat gou vergewe en vergeet — altans, so wil die politici ons laat glo.

Ek onthou hoe Bruines in pre-94 dit hulle nasionale sport(s) gemaak het om na toetswedstryde te gaan kyk net om luidkeels vir die opponente te skreeu — vokale verset. En toe kom die era van sportboikotte en ook dié plesiertjie word hulle ontneem.

Na die verlies van mag op alle — bykans alle — terreine van die post-94-samelewing en die gepaardgaande uitrangeer van wit Afrikanermans uit die hoofstroom, het daar basies net twee laers oorgebly waarin hulle en die kleinerwordende volk kan terugtrek: die NG Kerk en die rugbystadion.

Maar te oordeel aan albei se powere vertonings in die wedloop om onderskeidelik siele en wedstryde te wen, gaan dit maar beroerd in daardie laers.

Nou wonder ek net of dit blote toeval is dat ek die Sondagmiddag ná Vrouedag met die afstandbeheer tussen die kanale rondval en raai waar beland ek?

Hoogtepunte van ’n onlangse netbaltoernooi!

En skielik weet ek — die kykdroogte is gebreek — uiteindelik is daar darem weer iets om na te kyk …

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.