Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liegfabriek* (Eiendoms) Beperk

Clinton V du Plessis

Ons ken almal die een van die tjek wat in die pos is.

Wel, die korporatiewe wêreld is lankal nie meer wat dit was nie. Daar is ’n nuwe geslag snert-skeppers (bull-shitters), poetsprys-pendelaars (image consultants) en galante gatkruipers (emerging entrepreneurs) op die toneel. Hulle het die nuwe meesterteks geskryf en almal sing nootvas saam.

As jy vroulik is, het jy net een kwalifikasie hier nodig om bykans enige betrekking te kry. ’n Kwalifikasie wat nogal moeilik is om te verwerf, want sommige sal dit nooit kan bekom nie. Hoe jonger jy is, hoe makliker is dit. As jy sukkel om jou boude in jou jeans te kry, vergeet daarvan.

Die kwalifikasie is ’n BA Lyfbegeerte.

Boobs and ass.

Teen ’n maandelikse subskripsie kan jy dit by Richard Branson se Akademie vir Aktiewe Maagde bekom. Nadat jy jou BA Lyfbegeerte verwerf het, lê die korporatiewe wêreld oop voor jou.

As jy eers in is, kan jy self besluit hoe jy weer wil exit. En as jy jou graad ge-cum het, weet jy hoe om subtiel die regte knoop op die regte plek los te laat, of ook só te buk dat jou Tommy Hillfiger T-hempie agterlangs net-net hoog genoeg opkruip sodat almal die naam op die rand van jou g-string kan lees.

Dán is jy op die regte pad, boontoe.

En as jy jou bates goed bestuur, dryf jy een van jou manlike kollegas aanstons om met sy ander kop te begin dink. Hy begin dan kwylend te verwys na J Lo se sappige quarter hind of begin maak suggestiewe bewegings met sy vinger in die palm van sy hand. Later knyp hy jou hier en druk hy jou daar en jy giggel en siedaar — jy is seksueel geteister, eis ’n miljoen en jy maak spore na ’n nuwe pos, of word ’n stripper. As jy ouer word, begewe jy jou in die Staatsdiens. Blykbaar het die amptenary, altans in die Wes-Kaap, ’n voorliefde (as ek al die aantygings moet glo) vir die met meer ondervinding, ’n ouer MA Lyfbegeerte …

Gewoonlik kry die BA Lyfbegeerte-gegradueerdes sulke niksseggende poste, met hoogdrawende posbeskrywings. “Faktotum” sou vir my hier die gepaste beskrywing wees! Maar soos ek sê, dit is harde werk. Jy moet leer hoe om te grimeer, watter tipe blonde haarkleur om te gebruik (sonder om rassisties te wees, die grootste struikelb(l)ok in die pad van regstellende aksie is die blondine in die korporatiewe wêreld), en erg pynlik, jy moet gereeld wax! Anders lyk jy later soos die kaal hoender in Rapport as jy probeer om jou met ’n skeermes reg te maak vir jou Britney Spears-jeans. Oops, I did it again …

Ook die standaardleuen het (altans hier in die stedelike opset) verander. As jy voorheen gebel het en jy met iemand in beheer wou praat, was die persoon “not available, he is in a meeting”.

Nou is daar ’n nuwe deuntjie: “I’m sorry, Mr X just stepped out of the office.” Elke keer as ek bel, het Mr X net mooi die vermoë ontwikkel om op dié spesifieke tydstip uit die kantoor te stap. Toe ek seker die vierde keer bel en dieselfde storie hoor, kon ek die versoeking nie weerstaan nie. “OK,” antwoord ek, “just give me Mr X’s cellphone number and let’s see how he steps out of that one!” Sy’t geweet sy’s in ’n hoek, maar antwoord vriendelik: “You’re lucky, Mr X just stepped back in, I’ll put you through.”

Hoekom kon die bliksem nie ’n week gelede met my praat nie? (Of het ook hy ’n hoogs gekwalifiseerde BA Lyfbegeerte wat haar tol eis!)

Erger nog is “I will get him to call you right back.” Dit is in die meeste gevalle ’n verskanste “get lost”. Ek frustreer my oneindiglik hier; niemand stel skynbaar daarin belang om iets afgehandel te kry nie. Hoe langer jy enige saak kan uitrek, hoe meer parasiete is daar in die voedselketting wat kan geld maak uit die vertraging. Hoe meer ekstra vergaderings geskeduleer kan word (met gepaardgaande vingeretes en drankies), hoe meer kan die kake kaf kwytraak terwyl die selfone afgeskakel bly.

Om elke hoek en draai is ’n konsultant — een vir belastingvermyding, een vir ’n belegging met ’n belastingvrye opbrengs van 10% per maand, een wat onderwysers (met berge skuld) kan help om teen ’n fooi (vooruit betaalbaar) ’n pos in Engeland te kry, een wat jou gemoedsrus vir aftrede kan verkwansel. Noem maar op.

En almal koop nog ’n bietjie tyd op die kredietkaart en dank die bank vir die konsep van wentelkrediet. Die geld is goed, maar omdat dit maklik kom, vloei dit net so maklik weer anderkant uit.

Suburbia oorleef, net-net.

Die politici en die korporatiewe kapteins het iets gemeen, dis hoekom hulle so kombersknus kan konkel — eersgenoemde groep sit die kiesers ore aan, terwyl laasgenoemde dit met hul aandeelhouers doen.

Die korporatiewe wêreld is soos ’n dame van die nag. Die skyn bedrieg altyd. Maak nie saak hoe sy dit verpak of bemark nie, jy kry altyd die standaardpakket.

Silikoonborste en faked orgasms.

Met ander woorde, you are always taken for a ride …

*Met apologie aan Etienne van Heerden

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.