Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kaalgat kokke en kinderkadawers soos karkasse

Clinton V du Plessis

Na bykans twee maande in die Oos-Kaap en die huislike bederf van kookkos in die hart van die winter, is ek terug in Gauteng en uitgelewer aan my eie pot en lot.

Dit is terwyl ek ‘n ui kookklein kap vir my Sabbatsmaal dat ek dink aan die storie van Jamie Oliver. Dié het glo volgens ‘n koerant van geruime Sondae gelede sy peester op ‘n stoofplaat geskroei terwyl hy (seker) eiers en wors wou bak vir ‘n vriendin, of is dit nou sy vrou?

Ek weet nou so effe hoe Jamie moes voel … sit self met ‘n sensitiewe brandwond – genadiglik darem aan my potlekker.

Maar terug by my maaltyd in wording – kerrie. Lees die lus vir die dis raak in die uitgawe van die tydskrif met die twintig finaliste in die “sexyste ouma”-kompetisie. Saterdag na werk sit ek af na die hiper(m)ark en skaf vir my van die bestanddele aan: “Sudan free”-kerriepoeier, swartpeperkorrels, rissievlokkies, knoffel, gemmer, nog twee pakkies pitterige speserye en olyfolie (mense kyk jou nogal deesdae snaaks aan as jy net met ‘n knol knoffel en olyfolie by die kasregister kom uitpak!) – Mantho, jou … Die vleis en room het ek al by ‘n vorige geleentheid gekoop.

Met die tydskrif oop op die bladsy met die resep, begin ek die voorbereiding. Jare terug het André P Brink in ‘n resensie oor een van Dan Roodt se seminale heiligskennende publikasies so ‘n skunnige steek ingekry en Dan geraps oor hy kwansuis in ‘n boek sou moes kyk hoe om dit te doen of iets met ‘n soortgelyke strekking. Wel, ek moet eerlik wees en onomwonde erken dat ek wel in ‘n boek moet kyk as ek dit wil doen … wil kook, bedoel ek.

‘n Vriendin het my ‘n erdepot geskenk gegee wat blykbaar nie kan aanbrand nie en wat jy net in die stoof kan steek en nie elke af en toe hoef deksel af te haal en te beloer nie. Die eerste pakkie lamtjops is vasgevries en ek tel net drie stukkies daarin …Te min, besluit ek, en haal nog ene uit en ontdooi beide gou in die mikrogolfoond. As jy wil kook, het jy blykbaar geduld nodig vir potte, maar die drie minute om die vleis te ontdooi draal so stadig dat ek met moeite die versoeking weerstaan om nie die knoppie vinniger terug te moet draai sodat die klokkie kan lui nie.

Olyfolie, vleis in die pot en in die oond. Voel of ek iets vergeet het en lees weer deur die resep. Sien toe eers ek moes eintlik die marinade gemaak en die vleis agt uur daarin gemarineer het! Daar is nie nou tyd daarvoor nie.

Terwyl die vleis stoom, kap ek uie, tamaties, knoffel, swartpeper en gemmer en meng met die res van die bestanddele, blaker ook ‘n blerts blatjang oor die spul uit en voeg alles later by die gaar vleis. Die potjie waarin ek die rys wil kook, is te klein om die 800 ml water (vier koppies leer ek) te kan akkommodeer en ek gooi bietjie af en neuk die rys in. Vind ‘n vergete pakkie rysspeserye onder in die kas en voeg by.

Nog iets van Jamie Oliver wat my opval, is hoe rof en onkonvensioneel hy met sy kos werk. Klets, kap en sny, kneus knoffel en uie onseremonieel met skil en al en moer alles in pot of pan – die ploeter-plas-benadering. Entoesiastiese lat … geen wonder hy’t hom geskroei nie!

Ek sit maar terug en wag op die uitkomste van die brou-baksel. Die rys brand byna aan en ek red dié net betyds. En ek dink aan ons gesin se gewoonte om Sondae soms ontbyt oor te skiet en so teen elfuur, net as die pot reggemaak is (bedoelende klaar gespys en gekleur is), so ‘n piering proeseltjie uit te skep. Seker so op ses het ek my ouers liederlik in die skande gesteek toe ek by kuiergaste se huis op ‘n Sondag met stoel nadergesleep en piering in die hand bewerig en omkyk-omkyk tot by die pot uitgeklim en self ‘n skepseltjie gemaak het. Ek kook dus steeds Saterdae genoeg sodat ek ‘n proesel kan kry.

So vyftien minute voor ses haal ek die stomende erdepot uit – verbrand my regterwysvinger – strooi gevriesde groente oor die kerrievleis en maak, volgens die resep se aanwysings, ‘n 250 ml-botteltjie dikroom daaroor leeg. Net toe die Afrikaanse nuusbulletin op kanaal 2 begin, skakel ek die stoof af.

Die pot se inhoud lyk alte fraai – die groente kleurryk en die vleis omring deur ‘n pruttend-romerige geel sous. Ek skep ‘n paar lepels rys in die bord, delf diep uit die erdepot en sny ‘n komkommer op die bord se rand in skywe. Wragtig, die bord lyk byna net soos die foto in die tydskrif. ‘n Mens is seker maar oor jou kooksels net soos oor jou kroos – geneig om verby die skete te kyk en die maaksel aan te sien vir die mooiste waggelaartjie op aarde.

Net toe ek voor die televisie my sit kry om die eerste proe te proe, waarsku die nuusleser dat die volgende insetsel beeldmateriaal bevat wat sensitiewe kykers kan ontstel. Dit vra baie om deesdae nog sensitief te kan wees, maar ek kan nie anders as om vir ‘n wyle weg te loop toe ek die beeldmateriaal van die sterwende suigelinge in Niger sien nie.

Afrika – ondervoed met dooie oë en benerige kadawers van die babas wat alreeds in die baarmoeder die smet van sterwe ingekry het, wat nooit oud genoeg sal word om kind te kan wees nie. Walglike fokken etterige politieke konte, elkeen van die bliksems wat ’n aandeel het aan die lyding van hierdie onskuldiges – die droes haal julle!

As my aptyt uiteindelik weer terugkeer en ek vurk na die mond kan bring, kom ek agter wat ek vergeet het …

Die sout … en soos enige een sal weet, help dit nie werklik om agterna sout oor ‘n dis te strooi nie – die smaak is net nie dieselfde nie. Dit moes saam met die maal in die pot geklim en met die kook sy sit in die vleis en die res van die bestanddele gekry het.

Dit is ‘n skemerige Sondagmiddag as ek die laaste porsie van my poging eet – die room was nie ‘n goeie idee nie. Ná die beelde van die babas met gestolde oë, geswolle buike en uitgeteerde armpies kan ek dit nie oor my hart kry om weer net eenvoudig kos in die asblik te gooi nie.

Nog nooit was hierdie kontinent se behoefte so groot, die wanhoop so beklemmend of my weersin in die vergrype van leiers so volkome nie.

Hoe lank nog moet Afrika bakhand vir sy bord buk voor Blair, Bush en Bono?

Miskien sal dit help om te bid.

Nkosi sikelel’ i Afrika …



LitNet: 16 Augustus 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.