Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die spietkop en oom Flippie se karma

Clinton V du Plessis

So skaars soos ’n swartvrou in Jong Dames Dinamiek.

Ek praat nou van eerlike spietkops en boere sonder skuld.

Spietkops wat manalleen die laaste dun lyn verdedig tussen totale anargie en korrupsie aan die linkerkant en wet en orde aan die regterkant.

Om die wat nog lewend is enige verleentheid te bespaar, vermom ek maar name en versit die dorpie waar alles afgespeel het, ook so ’n paar honderd kilometer kus se kant toe ...

Oom Flippie was ’n boer — ’n groenteboer iewers in die Langkloof-area. Hardwerkend. ’n Gemoedelike man — tydsaam in sy spraak en ook tydsaam as dit kom by geld uitgee. ’n Goeie mens en ook ’n goeie boer — geen Landbank-verbande, geen Isuzu op huurkoop, geen oortrokke bankrekening, geen koöperasieskuld, geen kredietkaarte en geen strandhuis by Jeffreys nie. Ook onder die kombers het die oom matigheid voor oë gehou — net een afstammeling die wêreld ingestoot.

Oom Flippie het geglo kontant is koning — ook dan nie net kontant in ’n trommel onder die bed nie, maar kontant in ’n spaarrekening. Het ’n tjekboek gehad, maar die weinig gebruik. Ook nie in rekenmeesters en adviseurs geglo nie — sommer sy “taks laat opmaak” by die plaaslike agent (prokureur).

Sy geliefkoosde ryding was sy Isuzu en in die motorhuis was daar ook geen plat duur Duitse vuurwa nie. Die bakkie het, omdat die oom sy sente omgedraai het, ook maar op genade sy ry gery totdat dit werklik nodig was om iets te vervang. Die storie het die rondte gedoen dat die oom soms by die buitebandhandelaar loop inloer het net om te hoor of hy nie tweedehandse retreads gehad het wat rondlê nie.

Koen Karstens was die dorp se enigste spietkop vir oor die twintig jaar. Almal het hom op sy van genoem — Karstens — iets baie macho daaraan. Seker baie flieks gekyk destyds — “The name is Bond …”

Vir ’n ekstratjie het Karstens met so ’n paar skaap en vark op ’n kleinhoewe buite die dorp geboer.

En op die dorp was Karstens king of the castle.

Almal het geweet van hom. ’n Man van inbors. En skryf sal hy sy kaartjie skryf, of dit nou die dominee, die skoolhoof, die ouderling of die plaasboer, of die se dienskneg of diensmaagd is — die man was onwrikbaar lojaal aan die Raad en aan sy amp.

Gebeur dit toe so dat oom Flippie weer eendag soos die digter se osse “geduldig, gedienstig, gedwee” die hoofstraat af idle om sy groente vir kontant te verkwansel. En soos dit nou moes gebeur, ry hy vir Karstens raak — figuurlik gesproke. Gemoedelike boeremense wat die twee is, groet hulle soos dit betaam. En dis oor die weer en oor die swak wol- en bokhaarpryse en oor die vrot rugby en oor die komende kerkbasaar en oor dinge wat snags laat sonder ligte buurman se opstal bekruip …

En net toe die oom wil ry, sê Karstens: “Maar nie so haastig nie, oom Flippie. Die bande is darem heel erg afgery — glad nie meer genoeg spoor nie.”

“Maar ek was juis van plan om weer retreads te laat opsit,” keer die oom.

“Jammer, maar ek sal Oom moet skryf vir dié drie bande.” Die oom het gesoebat, maar sonder sukses. Uiteindelik sit hy met ’n kaartjie vir R300.

Miskien min, maar vir dié oom ’n fortuin.

Drie weke later loop ek my vas in oom Flippie se prokureur. “Het jy die storie van oom Flippie en Karstens gehoor?” wil hy weet.

Oor ’n koppie rooibostee vertel hy toe.

Oom Flippie het die volgende week ingery dorp toe om sy “taks te kom opmaak”. Kry hy toe weer vir Karstens — buite die dorp, onder ’n koelteboom, besig om spoedvalle te stel. Trek Karstens toe vir oom Flippie af en is heel beïndruk dat die bande vervang is. Gesels die twee toe weer oor die boerdery. “Nee, gaan sleg,” sê Karstens vir oom Flippie. “Dié naweek is drie van my varke gesteel en die vleis in die lokasie verkoop.”

“Wat ’n slag,” sug oom Flippie, maar voeg ook laggend by: “Tjho tjho” (bedoelende: jou verdiende loon).

“Maar werk dit regtig so?” wou die prokureur van oom Flippie weet.

Die oom het geglimlag, tydsaam sy pyp gestop, ’n diep teug getrek en ’n wolk rook uitgeblaas.

“Nee, ek weet nie of dit so werk nie, maar hoe sal ou Karstens nou weet.”

Skaakmat.

Oom Flippie is uiteindelik dood … Dié wat weet, sê die kontantrestant alleen in die boedel was oor ’n miljoen. Die tannie het ’n huis by Jeffreys gekoop, ry ’n slap lui Duitse vuurwa en kuier glo gereeld in die stad … by die casino.

Karstens boer nog, ook maar net-net, met ’n paar skaap en vark.

Hy skryf nie meer so flink kaartjies uit nie — met die verandering in die politieke klimaat en die samestelling van die Raad maak ’n man jou dalk net oorbodig ongewild as jy alewig die minibus-taxi’s staan en aanskryf.

Nou het ek ’n voëltjie hoor fluit dat Karstens glo sy skip kom eersdaags in. Hy is besig om met drie dosyn opkomende boere en die se uitgebreide families te onderhandel om sy kleinhoewe met hul gesamentlike departementele subsidie op te koop.

Nou wonder ek net wat oom Flippie hiervan sou sê.

Dat jy méér as guts en goeie bedoelings nodig het as jy wil boer?

Maar hoe sal hulle nou weet …?

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.