Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Huldeblyk … vir die oumanne

Clinton V du Plessis

Wessel Pretorius het ’n gedig gepubliseer — jare gelede in ’n uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde. As my geheue my nie in die steek laat nie, het dit met die volgende treffende reëls afgesluit:

ek het om 12h00 weer die geloei van sirenes gehoor
en besluit ’n vry hand is beter as een in boeie.

Dit is Saterdagaand.

Skaars vyf minute vanaf my woonstel kan ek die geloei hoor van die sirenes van die konvooi wat Nelson Mandela begelei na die lokaal vir sy 85ste verjaardagparty. Vanaf my balkon sien ek ’n helikopter sirkel met rooi ligte flikkerend onder die stert. In die sitkamer sny die televisie gereeld tussen die geskeduleerde programme weg en fokus in op van die gaste wat aankom. Net vir die rekord — Khanyi Dhlomo (gebruik sy nog Mkize?) lyk meer elegant as wat Oprah Winfrey ooit kan hoop om te wees.

Dan kom die man van die oomblik en hy lyk vir my ongemaklik oud met die kierie. En skielik dink ek aan my pa.

My pa het nooit krom en kierie-oud geword nie, tref dit my.

Om die waarheid te sê, hy het nooit enige tipiese skete wat met die ouderdom vereenselwig word, getoon nie. Bykans al sy hare, later heeltemal grys, behou. Hy het ook nooit siek geword nie (wel een maal amper dood — selfs toe het hy doodkalm met ’n bebloede hand oor sy hart die kombuis ingeloop en die wond probeer toehou wat deur ’n jeugmisdadiger met ’n skêr veroorsaak is).

Tog het ek tot aan die einde alewig met hom baklei oor sy rokery. Hy was pyproker — sy duim oor die jare nikotiengeel gestop.

Ek kan nie onthou dat ek hom ooit Pa genoem het nie (miskien toe ek kleiner was). Hom sommer kordaat op die voornaam aangespreek — Robert — soos ek al my vriende genoem het, want dit is wat hy was — die beste vriend wat ek ooit geken het. Vir die res van die familie was hy die ouman.

Nooit my grootouers geken nie, dus was ek in my jeugjare die hartseer en pyn gespaar wat veroorsaak word deur die skok as iemand na aan jou sterf. Ek is genadiglik die trauma gespaar om vroeg te moes wroeg en worstel met vrae oor die sin van die lewe en die nog meer sinlose doel van die dood. ’n Oom of tante of neef sterf, maar dit het nooit werklik dieselfde emosionele impak op jou gehad nie.

Ons was ’n arm maar gelukkige gesin. Welcome Dover-koolstoof in die kombuis, geen elektrisiteit, telefoon of kar nie. Maar my pa het ons almal deur die skool gekry. Na vyf het hy uit sy bruin spoorwegoorpak met die sweet en tabakreuk geklim, sy sportbaadjie, broek en das aangetrek en tot elf of twaalf by die plaaslike kroeg as kroegman die begroting laat klop. Vir vyf of ses jaar lank. Hy’t hard gewerk, maar ook hard saam met ons gespeel.

Dit was die era toe dobbelhuise in die destydse tuislande die verskyning gemaak het. Saam met my jonger broer, swaer en ek het hy die wêreld platgery. Ons geleer wen en in die middernag opgewonde met wengeld tussen koedoes koes-koes teruggery op paaie vol slaggate, of verloor en platsak in die kar oorgeslaap.

Maar ons het ook hewig kopgestamp — jeugdige boekgeleerde halsstarigheid versus geduldige eelthandgeleefde wysheid. Oor die kerk — ek wou in jeans met kortmouhemp gaan aanbid. Aikôna, het hy volgehou, das en baadjie. Uiteindelik het ek opgehou kerk toe gaan, maar ons was nooit wrokkig hieroor nie.

Hy het my die ruimte gegee om te verskil.

Ook oor die politiek — omdat ek geweier het om te registreer as kieser vir die driekamerverkiesings. En oor my opgewondenheid oor die nuwe Afrikaanse musiek. Ek lag nou nog oor sy kommentaar toe ek hom die eerste keer laat luister het na Johannes Kerkorrel se Eet Kreef-album — ek sal liewer nie hier skryf wat hy kwytgeraak het nie.

Ek kyk na Mandela, sonder boeie van haat en bitterheid, en ek onthou ons gesin se eie ouman.

Kleintyd het ek klouend sekuriteit gekry aan die pante van sy jas. Daar is soveel om te probeer onthou in minder as nege honderd woorde — ons opgewondenheid die dag toe hy by die huis aankom met ’n windbuks, ’n man wat sy dop kon vat, sy trots toe my eerste boek verskyn, sy swierige handskrif en die briewe wat hy vir die veles help skryf het om probleme met pensioene en verlore identiteitsdokumente op te los, sy insig, of net die aande se gesels saam met die res van die gesin, terwyl ek die swartkoppies op sy wange uitgedruk het.

Toe gee sy hart net skielik in — op die ouderdom van een en sewentig — op ’n koue wintersmiddag, op die vyf en twintigste dag van Julie, negentien honderd ses en negentig, net na twee. Ek en my broer het sonder woorde by die werk se deur uitgestap en in die motor geklim. Dit was skielik veel kouer en teen die hemel het die wolke donker die son in rou weggehou.

Hy het gesterf — ’n arm man, maar sonder ’n sent skuld — ’n vry hand, sonder boeie.

Op drie en dertig jaar is ek gekonfronteer deur die sinlose werklikheid van die dood. Vir die eerste keer het ek onbeskaamd my keel rou gehuil.

Dit het my sewe jaar geneem voordat ek met hierdie seer kon vrede maak — voordat ek net kon skryf en sê ...

Here Pa, ons mis jou.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.