Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bryan (Habana), Brink se Bidsprinkaan en die sielkunde van skares

Clinton V du Plessis

Ek sit sedert net na tien op Saterdagoggend in die ruimte met die reusetelevisieskerm in die honger-hoek (Food Court) in die winkelkompleks by Sandton City. Vroeg gekom vir - ja, glo dit as u wil - die rugby …

Ons is aanvanklik skaars 'n handvol, maar deur vroeg te kom kry jy die beste sitplek. Die sekuriteitsbeamptes probeer vergeefs oor hulle roep-radio's die volume van die televisiestel aangeskakel kry. Later kyk ons egter na die hele wedstryd sonder klank. Nogal naar om nie na Naas se inset te kan luister nie …

Terwyl ek vir die wedstryd wag, peusel ek aan Steers-tjips (ek dink hulle bak die lekkerste broskraak skyfies) en met my linkerhand blaai ek deur Brink se Bidsprinkaan, wat ek flussies saam met die Afrikaanse dagblad by die boekwinkel gekoop het.

Was eintlik van plan om Jonny Steinberg se The Number te koop, maar toe ek dié nie kry nie, is Brink die tweede keuse. Ek blaai eerste na die einde van die boek en lees die slot ('n gewoonte van my - takseer die meeste boeke op die slot - iemand wat 'n goeie slot kan skryf, kan skryf).

Hulle kom uiteindelik - swart, bruin, Indiër, Moslem - die hele mikrokosmos van die land. Twee kêrels in pakke, grys tannies, 'n jongerige lat met nekstut in Springboktrui (almal kyk hom simpatiek aan, wil-wil hom plek aanbied, totdat hy later weer uit die toilet te voorskyn kom sonder die nekstut), oulike Indiërma met 'n slanke middel en ontwerpersjeans en met 'n stroopsoet dogtertjie wat entoesiasties hande klap. Voor my kom sit 'n ouerige paartjie, opreg boerevriendelik en nog 'n aks vriendeliker toe die omie sien ek lees 'n Afrikaanse koerant - ons gesels soos ou vriende. En almal vroetel, kou en eet met vingers of plastiekvurke - Chinese roerbraai, burgers, tjips en Coke by die liter.

Ook 'n boemelaar kom aangekierie - bygesê 'n Sandtonse boemelaar - sy gesig lyk skoon gewas, klere nie te verslons nie, gekreukel, maar kak skoene as jy nou al ooit kak skoene gesien het [Steve, relax] - dié word aan sy voete gehou met behulp van inkopiesakke wat in repe geskeur en strategies vasgemaak is.

Hy kom neem plek in in die hoekie, nadat hy beleef gevra het of hy nie miskien iemand se sitplek gegaps het nie. Die tannie en haar man langs hom lyk effe Boksburgbehoudend, maar neem tog nie aanstoot nie.

Die boemelaar staan later op en gaan soek nog 'n stoel om voor hom neer te sit. Seker vir sy voete, reken die tannie, maar sy misgis haar. Nie vir sy voete nie, maar vir sy maal! Hy haal brood en vis uit 'n wegneemete-plek se drasak, sy linkerhand se vingers is almal in verbande toegedraai, maar hy breek fluks die brood en vis en deel dit met Nuwe Testamentiese broederlikheid met die man wat langs hom sit.

Effe askies-vir-my-bestaan-skaam vra hy om verskoning toe hy sy plastiekbottel Coke oopdraai en dié bruisend die vloer bemors.

Op die skerm red Schalk Burger ons uit 'n benoude oomblik en Habana fokof sonder brieke doellyn toe. Ek is tot my eie verbasing op my voete, skreeuend, met gebalde vuis - oral om my reageer almal dieselfde. Elke keer as Percy Montgomery mis, kreun ons soos uit een mond (maar vergewe hom as hy sekuur skepskop) en klap patrioties hande as die Wallabies se stelskopper nie die paal haal nie.

Die laaste paar minute is hel - almal sit in doodse stilte en die vrou voor my hou letterlik duime vas. Die kamera fokus in op die Wallaby-kaptein se gesig; hy weet dit is verby. Ek kan sweer Eddie Jones se oë lyk asof dit van Bok-bangte in trane swem en ek lag hardop as ek dink aan Brink se beskrywing van Kupido Kakkerlak toe hy voor die leeu te staan kom (p 31): "Kupido voel die bangte sy balletjies vasvat en druk tot daar trane in sy oë kom."

Ons kan nie die eindfluitjie hoor blaas nie, maar toe die Springbokke hul hande in die lug opgooi, weet ons almal dit is verby en dit fluit en juig en lag - skud hande, klop skouers. Ons is een.

Ek bly sit en binne minute is die tafels verlate, met net die leë bottels, opgefrommelde pakkies en uitmekaargeleeste koerante. Almal verdwyn die gange af en winkels in - jaag weer ywerig die groot doellose niks na.

Later loop ek my in van die saamkykers raak as hulle swaar stoot aan trollies of met 'n magdom bankkaarte by OTM's kontant trek. Elkeen gaan weer aan met sy eie lewe - die gedeelde gemeensaamheid van flussies totaal vergete.

Terug by die woonstel gaan blaai ek deur 'n boek waaruit ek al by 'n vorige geleentheid - in 'n ander skrywe hier - aangehaal het (Crowds and Power, Elias Canetti, pp 18-19):

Only together can men free themselves from their burdens of distance; and this, precisely, is what happens in a crowd. During the discharge, distinctions are thrown off and all feel equal. In that density, where there is scarcely any space between, and body presses against body, each man is as near the other as he is to himself; and an intense feeling of relief ensues. It is for the sake of this blessed moment, when no-one is greater or better than another, that people become a crowd.

But the moment of discharge, so desired and so happy, contains its own danger. It is based on illusion; the people who suddenly feel equal have not really become equal; nor will they feel equal for ever. They return to their separate houses, they lie down on their own beds, they keep their possessions and their names. But the crowd, as such, disintegrates. It has a presentiment of this and fears it. It can only go on existing if the process of discharge is continued with new people who join it. Only the growth of the crowd prevents those who belong to it creeping back under their private burdens.
So stug ons elkeen weer terug in ons stadskulp en probeer sin soek in die slampamperbestaan - almal boemelaars, miskien net 'n paar trappe verder van bo of onder op die leer.

Ek lees Bidsprinkaan in een sessie klaar - en ja, Brink is met dié boek weer vir Afrikaans - net soos Bryan Habana vir die Bokke - 'n wedstrydwenner.

Hotnot!



LitNet: 31 Augustus 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.