Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fragmente en vingeroefeninge op Vrouedag

Clinton V du Plessis

Dit lyk asof die winter, genadiglik, besig is om sy bibberende byt te verloor.

Deur die venster van my woonstel skuif 'n serebrale Augustus-oggendson sy strale stadig al dieper oor my voorkamer se vloer in.

Vrouedag … dus geen verkeer, verslae of vergaderings vir my nie. Ek blaai verveeld deur die oorblyfsels van die Sondagkoerante en stik weer aan die oordadige virtuele besoedeling:

In Afrikaans - die NNP se langverwagte winter van wegsterwe; Hanlie Retief gee perspektief op die fenomeen "Patricia-delicia-dubbel-D-halslyn" en Joost se beweerde oomblik van jeukerige jagse indiskresie; Pamela Anderson bemark rondborstig haar debuut as romanskrywer (sy het 'n spookskrywer gehuur); Bush vreet aan 'n rou mielie vir stemme; Jannie en sy seun dreig om mekaar op te fok; oom Paul verrot teen R1 000 per dag op Hertzogville … en so meer en so aan.

Die Engelse blik is meer skunnig - hoe wyle Marlon Brando nog knaterkapabel op 73 (met 'n 180 kg-lyf) daardie publieke vrou van Hollywood, Heidi Fleiss, se diepste passie aan die brand kon steek; Marilyn Monroe se labiodentale poespas met Joan Crawford; en 'n 28-jarige man verkrag sy 58-jarige gedeeltelik-verlamde moeder naby Howick.

Ek smyt die bondel nuus saam met die res van Sondag se oorskietkos uit en onthou met genoegdoening hoe ons kleintyd koerante as kakpapier gebruik het …

Radeloos probeer ek maar die doos in die hoek.

Op kanaal een slaag 'n jeugdige Miriam Makeba - wat seer en sielvol in 'n heupvleiende etniese rok sing oor 'n ver vaderland van lokasies en gestorwe hoofmanne en paswette - daarin om my vir 'n uur lank 'n blik te gee op die intense emosies wat gepaard gaan met 'n lewe in ballingskap.

Ek kom skaars agter dat my pot beesbredie gruwelik op die stoof aanbrand.

Intussen probeer ek lees aan drie boeke: Biko se seminale (I write what I like), Branson (Virgin King) en weer Breytenbach se The Memory of Birds in Times of Revolution. Sy meesterlike essay, Fragments from a Growing Awareness of Unfinished Truths met daardie onvergeetlik ryk-geskakeerde lang inleiding, "grey shirts and grey shits, public saints and private sinners, deeply troubled intellectuals, facilitators, unidentified sources, co-opted and structured flunkeys, canaries and converted consensus-seekers, professors and doctors and eggheads and go-betweens". Breyten jou woordwyse bliksem, ons mis jou grys- en grynslaggende gatskoppe!

Die Biko-boek laat my dink aan die rolprent oor sy lewe, Cry Freedom, wat ek destyds tydens 'n besoek aan Maseru vir die eerste keer gesien het. As ek reg onthou, het daar bomme afgegaan of was daar dreigemente van bomme voordat dit plaaslik sou begin draai. Die teater in die bergkoninkryk se hoofstad was stampvol, met die enkele wit gesigte tussenin. Aan die einde van die vertoning het daar 'n gewyde stilte oor die teatergangers gedaal, almal het bly sit en soos een man uit volle bors Nkosi Sikelel' iAfrika gesing. Nog nooit vantevore het ek so tuis gevoel in Afrika soos juis op daardie moment nie - het ek geweet niks sal ooit weer dieselfde wees nie. En ek het Bright Blue se liedjie onthou: "It wasn't roaring, it was weeping."

Die episode bring my by Marthinus van Schalkwyk se genadedoodskoot aan die NNP (my ma noem hom altyd, na aanleiding van sy verkiesingsplakkate, "daai ene met die oulike babywangetjies hier voor die huis op die paal"). Bring hy nie maar net bymekaar wat inherent bymekaar hoort nie? Die Afrika- en die Afrikaner-nasionaliste?

Miskien sal die geskiedenis hom ewig dankbaar wees - die man het immers al met 'n taxi Soweto binnegery en daar in 'n gastehuis oornag (hel, ek het dan nog nie eens in 'n swart township geslaap nie). Miskien is die tyd vir wroeg verby, en het hy besef (soos baie van sy vel- en bloedgenote miskien nog nie wil besef nie) dat dit tyd is om te hoort, te behoort, om onlosmaaklik deel te word.

Miskien is sy gunsteling Beatle-liedjie nie "Yesterday", soos dié van 'n ander voormalige NP-minister, Barend du Plessis, nie, maar veel eerder: "Let it be, let it be, speaking words of wisdom, let it be …"

Miskien moet ons nog almal leer om in die Afrika-tradisie te vergeef en aan te gaan met leef - om hierdie dwarstrekkery, nydigheid en onverdraagsaamheid wat so simptomaties is van die Afrikaner, ook maar 'n broodnodige dood te laat sterwe.

En oor Vrouedag?

'n Tyd gelede het ek 'n artikel afgelaai vanaf die internet - 'n praatjie deur Charles Bukowski getiteld "Upon the Mathematics of the Breath and the Way" waarin hy op sy kenmerkende stroomop manier die volgende kwytraak:

I was going to begin with a little rundown of the female but since the smoke on the local battlefront has cleared a bit I will relent, but there are 50 000 men in this nation who must sleep on their bellies for fear of losing their parts to women with wild glazed eyes and knives.

Eina!

Verwysings

  1. Rapport, Sunday Times en Sunday Sun, Sondag 8 Augustus 2004.
  2. Charles Bukowski, "Upon the Mathematics of the Breath and the Way", afgelaai vanaf http://www.mjptv.com/writers/breath.html.



    LitNet: 19 Augustus 2004

    boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.