Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die dood van ’n droom

Clinton V du Plessis


Daar was net ’n korterige brokkie op die televisienuus en daarna ’n treffende foto in die Mail and Guardian — verder het dié sterfte byna ongesiens verbygegaan.

Die ongekende sukses van die rolprentweergawes van JK Rowling se Harry Potter and the Philosopher’s Stone en JRR Tolkien se Lord of the Rings-triologie, waarvan die eerste deel, Fellowship of the Ring, tans vertoon word, wys dat daar ten spyte van die koms van sogenaamde realiteitstelevisie en die geweldadige wegruk van ’n era van onskuld uit die hande van kinders, nog steeds ’n basiese behoefte bestaan aan ’n gesonde dosis fantasie, iets magies wat jou kan wegvoer van die alledaagse banaliteit van die lewe.

Vir vele kinders en ook volwassenes is ’n deel van hierdie ontvlugting nou ook daarmee heen. Die Boswell-Wilkie-sirkus het iewers verlede jaar sy tentpenne finaal opgetrek en daarmee ’n einde gebring aan ’n stuk lewe waarsonder enige kind se lewe net soveel armer kan wees.

Die sirkus het in sy goue jare getoer tot waar die treinspoor hom kon neem.

Die hele dorp het gewoonlik tot stilstand gekom as die trein opdaag. Kleurryke plakkate met laggende narre het weke voor die tyd al wat winkelvenster was, versier. Die sirkus het aan my die geleentheid gebied om ’n blik te kry op ’n stuk lewe uit ’n węreld wat ek nooit kon glo bestaan nie. Vir ’n lang tyd het ek geglo die węreld is net so groot soos die stukkie dorp waarin ek grootgeword het, dat die berge wat dit omgrens, die einders van die aarde vergestalt het.

Ons het maar daar om die tent rondgehang. Kon nie werklik dié droom ons eie maak nie. Saam met ons vriende kon ons ons van buite vergaap aan alles — die dwerge, die mooi eksotiese vroulike Chinese akrobate, tiers in hokke, swart gespierde manne met afgerolde oorpakke wat swetend met doelmatige ritmiese slae die tentpenne die aarde in dryf. Om binne te kom het geld gekos en destyds was daar doodeenvoudig net nie geld vir dié onnodige luukse nie. Ons is dus maar net aan die hand tot by die sirkus se staanplek geneem, die diere en liggies gewys en daarna weer teruggeneem huis toe.

Ek het altyd op die aand gesukkel om aan die slaap te raak en gewens dat daar tog ’n wonderwerk sou gebeur wat dit moontlik vir ons sou maak om ook in te kon gaan. Dit was min of meer die tyd dat ek gesweer het dat ek nooit vir die res van my lewe arm wil wees nie.

Die volgende oggend sou ek vroeg terugdwaal, net om te vind dat die tent weg was en so ook ’n stukkie van ’n węreld wat ek so graag — al was dit net vir sestig minute — deel van sou wou wees. Die kinders wat dit wel kon bekostig om die vorige aand die droomwęreld te kon betree, was die volgende dag die meeste in aanvraag — daar is uiteraard ruimskoots bygelieg en aangelas. “Hulle toor,” het sommige net plein die nuuskierige navrae nekomgedraai ...

Eers veel later kon ons die paar rand afknyp om by die tentflap in te stap en binne te sit. Die dorp se rykes het gewoonlik die sitplekke om die arena beman en die olifante het ewe onseremonieel hul halwe ton mis reg voor hulle gemis. Ons het verder na agter gesit in die deel wat die slegste belig was, maar dit was goed genoeg vir my. Ons het almal luidkeels gelag toe Tiekie met sy arm in ons rigting beduie en in Afrikaans opmerk “En dié kant sit die donker wolk.”

Ek kon myself laat wegvoer uit hierdie benoude kleindorpse bestaan — die orkes se musiek, die flink handevat van die swewende akrobate sonder veiligheidsnet, die guitige baljaar van die narre, die leeutemmer wat sy kop tussen die dier se kake indruk — alles het my vir ’n oomblik deel gemaak van ’n węreld só groot, só ruim, só magies onwerklik. Toe was daar nie so baie gadgets soos daar heel teen die einde bygekom het nie.

Later het die diere al minder geword, die trein het plek gemaak vir vragmotors, en daar is meer rondgespeel met slim beligting , die orkes het net uit een man bestaan — alles tekens van die tye dat die bankrekening al verder in die rooi gegaan het, dat die wolf van die deur weggehou moes word.

Selfs toe ek dit kon bekostig, het ek nog steeds nie langs die arena gesit nie, maar die sitplekke opgesoek tussen die sukkelende ouers wat hul laaste sent afgeknyp het om vir die kinders ’n stukkie droom te kom koop — miskien kon vele van hulle ook nie as kind dit bekostig om te gaan nie.

Dié wat Harry Potter op die groot skerm sien, of deur die towerwęreld van die Ring-fliek weggevoer word, deel ’n baie klein stukkie van daardie wonderwęreld van weleer, want niks sal kan kersvashou by die gedeelde meelewende gees binne in ’n sirkustent nie, die asemophou as die akrobaat sy sweefstok los en deur die lug vlieg om veilig die hande van sy maat raak te vang, die spontane handeklap vir asemrowende gimnastiek.

Nou is die sirkus dood en diegene wat nog nooit die ondervinding kon deel nie, sal nooit weet wat hulle gemis het nie. Terwyl die laaste akkoorde wegsterf en die artieste die laaste ronde applous kom ontvang, begin jy opstaan en die stellasies afloop na buite. Voor jy jou motor bereik, kyk jy terug en sien dat die helfte van die tent alreeds afgebreek en op die vragmotors gelaai is. Uitsonderlike spanwerk.

Die volgende dag het nog ’n dorp gewag en volgende jaar sou hulle weer terug wees; so sou dit altyd wees, het ek geglo.

Nou lees en sien ek daar is ’n new clown in town en sy naam is Ferdi — Ferdinand Johannes Rabie van Worcester — die laaste wit Boesman van die Kaap!*

Soos die Amerikaanse Negerprediker sou sę: “Lord have mercy!”

*Rabie se beskrywing van homself in ’n onderhoud in Huisgenoot , 20 Desember 2001 no 236, bladsy 13.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.