Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sakkie se stories sonder slot

Clinton V du Plessis

I cannot forget where it is that I come from,
I cannot forget the people who love me

Well I was born in a small town
And I can breathe in a small town
Gonna die in this small town
And that’s prob’ly where they’ll bury me.

~ Small town, John Cougar Mellencamp

Daar het toe nog baie treine verby Cookhouse geloop (of Kookhuis, soos sommige Afrikaanssprekendes adamant aangedring het die plek moes heet) en ons was arm, maar gelukkig – nou nie hongerly-arm nie, maar kaalvoet- en draai-die-bietjie-sente-wat-ons-het-tweekeer-om-arm. Om die waarheid te sê, almal wat ek geken het, was arm. So ook April Martin Godfrey.

Hy was nie net arm nie, ook anders – van kleintyd af.

My ouers vertel dat ek al, van voordat ek kon begin onthou, teen die grensdraad uit sy hand kon eet. April, of Sakkie soos almal hom geken het, of Karools soos sommige witmense hom genoem het, het die gawe gehad om stories te vertel. Sulke lang stories met baie om- en afdraaipaaie – lekkerlag-, bangmaakstories. Maar die stories was almal sonder slot.

Iewers het ek hom in ‘n standerd ingehaal en verbygesteek. Vir die onderwysers was hy ongelukkig net eenvoudig dom – eers later sou ek bewus word van verskynsels soos disleksie en ander leergestremdhede en besef dat die onderwysers miskien almal vir April verkeerd verstaan het. Maar toe was dit al te laat.

Uiteindelik het hy hier rondom ouderdom twintig in die destydse standerd vier finaal tou opgegooi en voltyds voortgegaan met die stukkies tuin- en ander werkies wat hy tussen skool gedoen het. Die meeste mense het van hom gehou – altyd gewillig as enigeen hom wou stuur. Hy kon ook mense goed namaak, veral die stasiebevelvoerder van die polisie.

Behalwe vir die Republikeinse Pers-fotoboekies was kinderboeke destyds skaars (altans vir ons), dus het Sakkie ‘n leemte gevul. Hy was my eie, jeugtydse bekostigbare JK Rowling wat saans sy storie kom smous het vir ‘n sny dikgekonfyte huisbrood of – sou ons dit hê – ‘n paar sente.

Sy hoofkarakter was ene Smokie, ‘n amorfe soort van verbastering van ‘n ruimtewese, tokkelos en smurf. Kon ook net sy storie kom vertel as dit donker was en verkieslik volmaan. Ek en my jonger broer het dan in die hoek van die sementstoep gaan sit en Sakkie het vertel. Soms sou ons uit bangte vir sy spookkarakters maar die huis in verdwyn en vra dat hy anderdag kom verder vertel. Die bliksem het seker aspris die grillerige karakters ingebring as hy lui was vir vertel.

Ek kon nie uitwerk hoe iemand wat so stadig op skool gevorder het, so ‘n talent met storie vertel kon hê nie. Sy ouers was ongeletterd (hy het gewoonlik sommer self sy skoolrapport ná elke kwartaal geteken) en dit was voor die koms van televisie, maar miskien was sy verwysingsveld die gratis bioskoopvertonings (met komplimente van die destydse SAS & H) wat hy op ‘n groot buitelugskerm in die swart woonbuurt gaan kyk het.

Die bioskoop-operateur, ene Snyman, moes deur die bruin buurt ry om by die lokaal uit te kom, en teen Donderdagaande, so net na halfnege se kant, het hy in sy two-tone blou-wit Opel Kapitan die draai verby die begraafplaas gevat en jy kon ‘n koor jillende kinders hoor uitroep: “Snymaaaaaan” of “Nguye” (Xhosa = dis hy) terwyl hulle dan die kilometer of twee agter die motor aangehardloop het.

Later het die gesondheidsinspekteur dié amp oorgeneem. No-Kaka, het die swartes hom genoem. Die kleuters het destyds die gewoonte gehad om op pad skool toe sommer net waar bossie was, broek af te trek en kleim af te steek, of soos Sakkie sou sê, modder te stoot. Die gesondheidsinspekteur het die gebruik gehaat en het, sou hy die wetter op die drol vang, sonder seremonie dié se lei, net so in die sit, afneem en plat daarop of daarin, vastrap. Vandaar dan sy naam …

Soms het dit ook maar gatlek gekos om Sakkie so ver te kry om te kom storie. Hy sou sommer net een aand die vertel in die middel van nêrens laat los en die donker in verdwyn. (Miskien was die brood nie dik genoeg gekonfyt nie.) Maar dan het hy sommer so ‘n week weggebly en ons moes hom omkoop met ‘n paar sente – toe kon jy ‘n bruin kardoessakkie uitgebraaide viskaiings vir vyf sent koop en dit het gewoonlik die droogte gebreek. Eers later het dit by my opgekom dat Sakkie so nou en dan moes wegbreek omdat hy dan moes loop delf vir nuwe avonture vir sy karakter – seker iets soos skrywersblok … Wonder net hoe ver hy in die lewe sou kon gekom het as daar net iemand was wat meer tyd vir hom gehad het op skool.

Was lanklaas op Cookhouse gewees en ek wonder wat van Sakkie geword het. Miskien moet ek op my volgende reis na die Oos-Kaap gaan probeer om sy spoor op te tel – terug te loop op die stories se paadjies.

Ek sweer hy is nog arm, of miskien het sy storie in die tussentyd – soos dié van so baie van die ander vriende van destyds – ook ‘n slot gekry.

In soveel dorpe loop die lewe deesdae so onnodiglik voortydig dood.


LitNet: 27 September 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.