Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die banale broosheid van ons bestaan

Clinton V du Plessis

Tonight our bed is cold
I'm lost in the darkness of our love
God have mercy on the man
Who doubts what he's sure of.1

     - Bruce Springsteen

Ek het 'n hele paar koerantknipsels rondom die dood van die Franse denker Jacques Derrida wat ek in my tas ronddra. Van alles wat oor sy laaste dae geskryf is, was sy volgende stukkie wysheid vir my die treffendste:

Sedert Plato is dit die ou filosofiese gebod: Om te leer om te lewe is om te leer om dood te gaan. Al hoe minder en minder het ek geleer om die dood te aanvaar. Ek bly onleerbaar oor die wysheid daarvan om te leer om dood te gaan.2

So ietsie meer as twee maande gelede word ek een nag net na twaalf angsbevange wakker met 'n allermoerse pyn aan die linkerkant van my kop. Ek sukkel bewerig orent, hyg na asem en vroetel met 'n dom linkerhand die ligskakelaar teen die muur raak.

Moet my hart wees, is die eerste gedagte wat by my opkom. Maar daar is geen borspyne nie, kalmeer ek myself. Of nog erger - 'n sluimerende beroerte-aanval. Strompelend maak ek dit tot by die venster, stoot dit wawyd oop en hap soos 'n gestrande vis gulsig stukke suurstof in. Dit help vir 'n wyle om die duiseligheid te demp. Tot na vier bly ek op en probeer vergeefs die pyn troef met pille en poeiers. Net na sewe word ek onsamehangend en tam op die sofa in die voorkamer bewus dat dit dag is.

Ek maak dit net halfdag by die werk en neem die res van die dag af.

Die volgende oggend sit ek die beste gedeelte van Loslitdag in 'n geneesheer se luukse spreekkamer by 'n private kliniek. Al sy vroulike personeel is vrolik uitgedos in skooluniforms - hy self in kortbroek (kuitlengte). Hy vra uit, probeer verbande trek met gestorwe en nog lewende familielede, krap af en toe in 'n onleesbare geskarrel op die binnekant van 'n khaki lêer.

Snaaks hoeveel daar uitkom as jy met jou dokter gesels. Onlangs was ek in Cradock, en met 'n ompad verneem ek van my huisdokter dat wyle Etienne Leroux sy oom is, en net daar is al die skete vir 'n wyle vergete en ons trek los oor die Sestigers, die plaas by die aansluiting waar al die obskure karakters hul opwagting kom maak het, sy gewoontes, hoe hy altyd weggeloop het as iets geslag moes word, hoe Leroux die een toneel in Magersfontein geskryf het na aanleiding van 'n gesprek wat hy tydens sy besoek aan sy oogarts in Bloemfontein gehad het! Hy het glo net aantekeninge agterop sy sigaretdosie gemaak en dit later in die boek ingewerk.

Maar meanwhile, back on the ranch … Hy sit my deur die die hele roetine: skuif my van kamer na kamer - hier moet ek staan, daar lê; smeer my vol jel; steek naalde in my; koppel my aan masjiene waar ek my hart en slagare surrealisties op skerms langs die bed kan sien klop. In die x-staalkamer kantel die radiografis my koponderstebo na agter (om te sien of my nek enige oorblyfsels koester van 'n motorongeluk jare terug).

Later, terwyl ek wag vir resultate van my bloedtoetse, hoor ek deur die dun muur wat die ondersoekkamers skei hoe die dokter 'n spesialis meedeel dat hy gereed moet maak om 'n breingewas te verwyder by een van die ander pasiënte wat hy pas gesien het. Ek sweet - hy warrel by die een deur in en by die ander uit.

'n Hele paar ure en 'n paar duisend rand later deel hy my mee dat die kanse dat ek aan 'n beroerte of selfs hartaanval sal sterf, omtrent net so skraal is as die kans dat die weerlig my sal tref (of dat ek die lotto sal wen, voeg ek verlig toe). En my nek is so gesond as kan kom, sê hy terwyl hy die x-straalplate teen die lig hou. Dit is min dat hy op my ouderdom 'n nek sien wat so gesond is. Goddank ek het kleintyd gelees en gedigte geskryf terwyl die ander manne rugby gespeel het.

Dit is na die middernagtelike episode dat ek besef hoe bang die dood kan maak. Nie soseer 'n vrees vir die doodgaan self nie, maar 'n vrees om alleen hier in die vreemde te moet doodgaan.

'n Besef dat jou lyk daar kan bly lê, dat iemand moontlik eers laat in die dag, of miskien glad nie, sal agterkom dat jy laat is vir werk, dat hulle jou selfoon sal skakel en geen antwoord sal kry nie, dat hulle jou miskien eers dae later sal kry. Stokstyf, koud en alleen. Dit terwyl daar nog soveel oorbly om te doen, soveel verruklike sonsondergange is wat iewers wag om waargeneem te word. Daar moet meer wees aan die dood as net hierdie oënskynlike doodloopstraat aan die lewe se einde. Dit maak net nie sin nie.

Ek het gisteraand laat by my venster uitgekyk en gesien hoe die woonstelle een vir een donker word en hoe die menigte gereed maak om te gaan slaap en genadiglik weer wakker te word.

En terwyl die meeste slaap, bly net die vulstasies en die hoerhuise halstarrig oop: 24/7 vir dié wat wakkerbly en soos honde hul eie sterte bly jaag.

Om te leer om dood te gaan is om te leer om afskeid te neem - van dinge en ook van mense, terwyl jy nog lewe.

Om (anders as in die woorde van daardie liedjie) nimmer die mense wat jy liefhet, toe te laat om soos mos op jou te kom groei.

Dit is nie dat die dood dan draagliker word of sin maak nie, dit word net makliker om jouself los te maak.

Maar doen jy dit, het jy ook nooit werklik gelewe nie.




Verwysings
1 Die aanhaling kom uit die liedjie "Brilliant disguise" vanaf die album Tunnel of Love.
2 Berig in Beeld, 13 Oktober 2004, oor Derrida se dood.



LitNet: 26 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.