Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die N-generasie se stukkende aardbol

Clinton V du Plessis

Koos Kombuis — wel ek dink dit was hy — het op sy tipies treffende manier iewers die volgende wysheid — of iets baie naby daaraan — neergepen, of kwytgeraak: “Wanneer niks meer heilig is nie, sal alles heilig word.”

Die afgelope week of twee het die media wyd verslag gedoen oor twee sake — ’n ondersoek deur die Mediese Navorsingsraad na die jeug se omgang met drank, dwelms en mét mekaar en die Owerheid vir Advertensie-Standaarde se besluit om ’n s(t)okkie te steek voor die Poskantoor-advertensie waarin kinders na ’n adres kon skryf en hulle Kerswense aan Santa kon oordra. Laasgenoemde na aanleiding van ’n klagte deur ’n Kaapse joernalis, wat heel tereg in die Son-uitgawe van 12 Desember 2003, tot Sonpadda van die week gemanel is — ’n propperse Krismisboks ... dié joernalis.

Oor die jeug se jeukerigheid dink ek terug aan wat Johan Vosloo (van Rapport) in een van sy rubrieke geskryf het oor die snaakse los, wye kuitlengte broeke wat die seuns tans dra. Hy het die aanname gemaak dat die baie spasie in die broeke moontlik verantwoordelik sou kon wees vir die klonge se koerasie — glo te doen met onbelemmerde bloedsirkulasie of iets dergeliks ...

Allerhande etikette is al om die generasie se lende, ag ek bedoel nek, gehang — die X- en ook die Y-generasie. Ek sou verkies dat ons hulle, na aanleiding van die bevindinge van die ondersoek, nou doodgewoon net die N-generasie noem — en voor iemand my wil beskuldig dat ek te kras is, ontspan gerus.

Verkeerd geraai — al stoot hulle hulself in hulle maai — die “N” staan vir ... Now-generasie!

Dié generasie se kreet is die ou Queenliedjie-refrein: “I want it all, I want it all, and I want it now.” En daardie “it” is onderskeidelik — nie noodwendig in die volgorde nie — seks, dwelms en drank — verder word hulle ook die onbeskaamde dissipels van materialisme.

Kitssatisfaksie en kitsontnugtering.

Druk ’n hele stuk lewe — voordat jy twaalf of veertien jaar oud is — deur jou gestel en al wat oorbly, is ’n toekoms gevul met leegheid, depressie, sonder hoop met die enigste exit via ’n eenrigtingkaartjie — selfmoord. Steek nou, sneuwel later.

Maar ons kan nie net die jeug blameer nie.

Kyk hulle nie juis na hul ouers en sien dieselfde leegheid en allesverterende gejaag na die wind in hul lewe nie? Gesinne is besig om by die nate los te torring — finansiële druk op egpare maak dit bykans onmoontlik vir ouers om werklik gehalte-tyd by en met mekaar te bestee — stop liewers die kinders geld in die hand en kry hulle uit die pad om iewers heen te gaan om ontvlugting en aanvaarding te koop. Maar ons hande is nie skoon nie — ons het hulle hierdie stukkende aardbol gegee.

Ook romanse is besig om uit te sterf.

’n Insetsel, so twee mande gelede op die televisienuus — ’n Amerikaanse koppelklub (dating agency), bekommerd oor moontlike eise indien lede tydens ontmoetings verkrag sou word — het met die idee vorendag gekom om lede ’n vrywaringsvorm te laat teken. In die stukkie van die dokument wat op die skerm vertoon is, is daar blokkies waarin, sonder om doekies om te draai, afgemerk kan word tot watter seksuele dade die paartjie vooraf instem.

Koud, klinies en harteloos: “They sell their bodies, like they sell used cars” (Bob Dylan).

Wanneer daar uiteindelik niks meer oorbly om in te glo nie, wanneer al die stories geen gelukkige eindes meer het nie, wanneer die jeug uiteindelik weinig behae het in brandewyn en bier, marijuana en matrasmantra , wanneer die drome, wense en sprokies plek moes maak vir die blasé werklikheid van realiteitstelevisie, wanneer romanse ontaard het in ’n multiple-choice-seksvraelys op ’n vrywaringsvorm, dan sal ons met onverdrote ywer weer begin hunker na ’n ander tyd, lank gelede.

’n Tyd dat ons en hierdie stukkende aardbol op ’n manier heel was. Toe ons onbevange kon glo — in Kersvader of feetjies of die tokkelossie of voorvaders of God, of in die inherente goedheid van die mens (Biko: I believe in the inherent goodness of man) — ’n tyd dat ons eens almal klein en bang was vir die onbekende iets wat ons geglo het in die donker skuil.

Eendag sal hierdie seisoene van sinisme hopelik tot ’n einde kom en sal daar weer ’n tyd aanbreek dat ons met verwondering vervul kan word deur die eenvoudige dinge — wanneer ons weer mag liefhê sonder vrees vir die smet, wanneer kinders weer met onskuld die pen kan opneem, mag hoop en ’n brief mag pos aan Kersvader — die mens het mites nodig om te oorleef. Nóú, meer as ooit tevore.

Die ou ou storie van geloof, hoop en liefde ...

En net miskien kan daardie één nag eendag weer heilig en stil word ... soos dit hoort.

Amen.




16 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.