Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Los jou goed en trek

Clinton V du Plessis


“Ek het gister opgeruim.”

Só doodeenvoudig begin Marthinus Versfeld sy diepsinnige opstel “Opruim” in die bundel Die neukery met die appelboom.

Wel, onlangs moes ek ook opruim ... inpak ... oppak ... En Marthinus se dun boekie is die enigste een wat ek vanuit my boekrak gehaal en saamgeneem het.

Ek het na Johannesburg verhuis en het voor die onbenydenswaardige taak te staan gekom om skoon te moes maak. Die kantoor by die werk was maklik — net een of twee lêers moes saam; die res erf die nuwe klerk. By die huis was dit egter ’n ander storie. My skryf-cum-studeerkamer lyk soos ’n pakhuis. Wat neem ek saam, wat bly agter, wat smyt ek koelbloedig weg?

Ek begin net na Kersfees met die proses.

My wynversameling van oor die twintig jaar kom eerste aan die beurt. Ek deel dié uit — nie aan fynproewers wat met die glasie voor ’n kaggelvuur dit sal geniet nie, maar aan mense wat net sal drink met die uitsluitlike doel om dronk te word. Dit is byna soos om digbundels aan ongeletterdes uit te deel. Maar snaaks genoeg wroeg ek nie juis daaroor nie.

Uiteindelik kom die moeilikste deel aan die beurt.

My boeke, tydskrifte, geskrifte en laai op laai vol resensies. Ek het resensies oor bykans elke hardeband R9,95-digbundel wat dateer uit die glorieryke dae van Perskor met Gerry de Melcker en Chris Pelser aan die stuur.

Ek begin van bo af uit te pak en vele verrassings kruip daar uit, sommige al effe vergeel …

’n Korterige briefie/nota van Karel Schoeman tesame met ’n knipsel uit Die Burger se boekeblad. Tydens sy kortstondige verblyf op Cradock bel Schoeman een middag uit die bloute en nooi my oor vir ’n gesels met tee en beskuit — die huis is nog deurmekaar terwyl werkers om ons besig is om hier en daar verf- en ander werkies te doen. Die volgende aand kom kuier van sy ander vriende en ek word weer genooi. ’n Letterkundige kan later haar ore nie glo toe ek vertel hoe gemoedelik Schoeman dié aand met die kleinding van sy gaste in sy arms rondgestaan het nie!

Dieper uit die laai delf ek nog herinneringe — ook dié wat meer onaangenaam is om te onthou. Vele rejection slips van uitgewers — ook ’n stukkie goeie raad van Johan van Wyk (toe besig met Kabelkarnimfe). ’n Uitnodiging van die digter — hy van “die inset met die knalgroendas” na die Miss Body Beautiful in Maseru!

Ook ’n Rapport-artikel waarin die uwe, Theunis Engelbrecht en Piet Haasbroek kaalvuis vir Brink takel. Rapport se boekeblad was toe, onder hoofsaaklik Coenie Slabber se aanvoering, amper net so lekker stukkie onstuimigheid soos Litnet vandag is. Daarna het dié blad ’n volslae insinking beleef toe hulle gewone joernaliste ingespan het om dit te behartig, totdat Antjie Krog, dankie vader tog, nou weer lewe in die lyk kom blaas het.

Die meeste van dié knipsels en korrespondensie beland in ’n groot swart vullissak.

Na ’n lang gewik en geweeg gooi ek bykans 2 000 eksemplare van Akuut, ’n little magazine wat ek in die tagtigerjare uitgegee het, weg om op die ashoop te verbrand. Dit was op ’n stadium ’n handige tax write-off  ... soos vele van Perskor se R9,95-digbundels ook maar seker was? En ons het naief gedink dit het gegaan oor die bevordering van die Taal!

Terwyl ek skoonmaak, kom ’n gedagte by my op.

Trek minstens één keer in jou lewe. Die besluit oor wat om saam te neem of agter te laat dwing jou om bestekopname te maak. Miskien help dit jou om eendag dáár uit te kom waar — soos die Bhagavad Gita dit stel:

free from all thoughts of “I” and “mine”,
the man finds utter peace.

Uiteindelik vertrek ek met net ’n stuk van my bestaan wat ’n bagasiebak van ’n motor vul. Ek het getrek en die dinge agtergelaat wat vir my die meeste beteken — my boeke en die mense wat ek liefhet.

Somehow, dink ek is ek miskien gereed vir die ander “Groot Trek”.

Dán sal ek niks saam kan neem nie, saam hoef te neem nie  ...

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.