SpookNet — rubriek oor aktuele sakeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die grense van herdenking: Oor Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein!

Johann Rossouw

Gelewer voor die Koffiefontein-leserskring te Hoërskool Koffiefontein op Saterdag 6 November 1999 na afloop van ’n kranslegging ter herdenking van Leroux se afsterwe op 30 Desember 1989.

Ons beleef ’n seisoen van herdenkings. Soos ons vanmôre hier saam is, het die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog pas begin. Vroeër vanoggend het ons die afsterwe van Etienne Leroux byna tien jaar gelede herdenk. En oor ’n bietjie meer as ’n maand sal ons die honderdjarige herdenking van die Slag van Magersfontein beleef, ’n veldslag wat Leroux op eiesoortige wyse ongeveer 75 jaar na die tyd met hierdie roman herdenk en herdink het. Dat herdenkings ewe skielik hoogmode in Suid-Afrika geword het, is in sigself ’n boeiende verskynsel. Vele redes kan hiervoor aangevoer word, onder meer — om maar slegs twee te noem — die groeiende besef onder die breër Suid-Afrikaanse bevolking dat ons geskiedenis om meer as net apartheid gaan, en in die Afrikaner se geval ’n soeke na gebeure in die geskiedenis wat kan help om hom ná die beskamende val van apartheid weer sy kop te laat oplig. Maar dit is nie vandag my taak om te spekuleer oor die redes vir hierdie seisoen van herdenking nie. Nee, ek wil my eerder met verwysing na Magersfontein, O Magersfontein! bepaal by die vraag na wat ’n herdenking is en in watter mate ’n herdenking werklik moontlik is. Want wanneer die meesleurende ekstase van die kollektiewe beweging op ons is, wil die filosofie altyd maar nog ’n bietjie talm en vra waarmee ons besig is.
    Om mee te begin wil ek ’n definisie van herdenking aan die hand doen en sê dat ’n herdenking ’n poging is om ’n historiese gebeurtenis in die hede te laat voortwerk deur die hernieude bewuswording en herdinking van daardie gebeurtenis. By die herdenking van die historiese gebeurtenis is dit dikwels ons hoop dat die nagloed van die gebeurtenis ons nogmaals tot iets groots sal oproep, dat die grootsheid van die verlede die vaalheid van die hede sal opluister.
    Maar as dít is wat ’n herdenking is en wil doen, het ons in hierdie roman te doen met minstens vier merkers van die grense van herdenking waarvan die een telkens uit die ander vloei, naamlik:
  1. Die onherwinbaarheid van die historiese gebeurtenis.
  2. Die politiek en burokrasie tydens apartheid.
  3. Die verval en dekadensie van die hede.
  4. Die vervalsende funksie van die media.
    Vir die res van hierdie lesing sal ek elkeen van hierdie vier grensmerkers van herdenking omskryf en ek nooi u dus uit om vir ’n oomblik met my te talm te midde van die gang van hierdie seisoen van herdenkings.

1. Die onherwinbaarheid van die historiese gebeurtenis

Enige ervaring het twee fasette, naamlik die gebeurtenis self en die nadenke oor die gebeurtenis. Wanneer ons nie nagedink het oor die gebeurtenis nie, kon ons dit net sowel nie ervaar het nie. Die gebeurtenis vind egter buite taal plaas. Omdat ons binne taal moet nadink, kan ons dus nooit die gebeurtenis volledig herwin nie. Die gebeurtenis bly vreemd vir ons nadenke. Verder is die gebeurtenis oorweldigend vir ons bewussyn en kan ons nooit tegelyk bewus wees van alles wat gebeur nie. Dit is waarom ons herinnering altyd gebrekkig sal wees. En omdat herinnering gebrekkig is, kan ons altyd nog ’n keer onthou, nogmaals vanuit ’n ander hoek herdenk. ’n Goeie voorbeeld hiervan is hoe die Anglo-Boereoorlog tydens Afrikanernasionalisme as simbool van heroïese Afrikanerskap en anti-koloniale verset gesien is, terwyl dit in die post-apartheidsera nou as ’n simbool van die lyding van die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap gesien word.
    Magersfontein, O Magersfontein! hou hom deurgaans met hierdie probleem van die onherwinbaarheid van die geskiedenis besig. Om mee te begin lees ons op p23 oor Gert Garries se gedagtegang:
Hy dink ook in die vlug van sy spoed op die afdraand daaraan dat sy baster tussen die opgegrawe grafte van die Black Watch, regs van die Modderrivierstasie, stilletjies begrawe kan word — dáár waar die room van Engeland begrawe en opgegrawe is en na die Garden of Remembrance in Kimberley geneem is, en dáár waar genl. Wauchope begrawe en toe herbegrawe was in Matjiesfontein.

Die blote feit dat gestorwe soldate weg van die slagveld begrawe kan word soos wat dit die strategieë van die oorlewendes se herinnerings pas, wys al vir ons dat die oorlewendes se eie herinneringsproses belangriker is as wat met die gestorwenes gebeur het.
    Dan is daar ook die kwessie dat ons eintlik by die herdenking van die historiese gebeurtenis in laaste instansie met vertelling te doen het, met ’n vorm van fiksie. Lord Sudden verklaar daarom op p28, “Magersfontein is ’n roman in suiwer ironie.” Die feit dat ’n karakter in ’n roman oor die Slag van Magersfontein so ’n uitspraak kan maak, verhoog die ironie verder. By vertellings is die perspektief van die een wat vertel natuurlik bepalend sodat die eintlike historiese gebeurtenis by die oorvertel daarvan eintlik nog verder van ons af gestoot word. Daarom verwys Amicus Achtung op p30 na “die onbetroubaarheid van die geskiedskrywing”.
    Die gebeurtenis self geskied natuurlik nie volgens rasionele norme en beplannings nie. Dikwels is die onvoorsiene en die toevallige bepalend vir die afloop van die gebeure. Leroux doen sy bes om ons op hierdie kwessie te wys deur middel van talryke gegewens: watter sameloop van omstandighede uiteindelik tot Andy Wauchope se dood gelei het, hoe generaal Cronje op ’n nagtelike inspeksietog teen Magersfonteinkoppie verdwaal het, hoe die Britte Magersfontein met Matjiesfontein verwar het soos trouens ook die logistikus, Mr Shipmaster. Van hierdie tragikomedie van foute kom ons ook nooit vry nie, soos ons op p33 lees:

Dis die vloek van die geskiedenis dat die verlede nie kan sterf en hom losmaak van die hede nie. Hoe kan die mens ooit vry wees as daar geskiedenis is?

Die onmiddellike gevolg van die onvermoë om met hierdie probleem rekening te hou is dat die een wat dink dat hy besig is om die geskiedenis te herdenk uiteindelik slegs ’n karikatuur van die geskiedenis herdenk. In ’n sekere sin is dit waartoe die hele roman op omvattende wyse opbou tot en met die laaste gebeure wanneer Lord Sudden onverbiddelik met die verspiedersballon bo die oorstroomde slagveld opstyg en Hans Winterbach ewe onverbiddelik voortgaan om die filmiese kwaliteit van die hele katastrofe te besing en verbete af te neem.
    ’n Verdere aspek van die afstand wat ons met die oorspronklike historiese gebeurtenis ervaar, het te make met die feit dat daaropvolgende historiese gebeurtenisse ons kan dwing om die eerste gebeurtenis met ander oë te beskou tot in so ’n mate dat die eerste gebeurtenis onder die daaropvolgende geskiedenis verdwyn. Dit, beweer die roman, is presies wat met die Slag van Magersfontein gebeur het. By terugblik kon Magersfontein nie langer as ’n simbool van die Boere se heldhaftigheid gesien word nie, maar eerder as ’n voorspel tot die afgryslike bloedvergieting van die daaropvolgende oorloë van die twintigste eeu. Op p29 lees ons:

In hierdie laaste ridderlike oorlog is tegnieke ontwikkel wat Magersfontein nie ’n slagveld gemaak het nie, maar ’n slagting vir die toekoms waarin miljoene mense daarna hulle lewens sou verloor; en nog miljoene hulle einde in gaskamers en radio-aktiewe bestraling twee-en-twintig jaar daarná sou vind.

Maar dit is nie slegs die heroïese nagloed van Magersfontein wat verdof het nie. Nee, ook die waardes waarom die slag geveg is, het toenemend belaglik geword. Op p54 verklaar Lord Sudden byvoorbeeld oor Andy Wauchope:

Hy sou ’n generaal Blimp gewees het ná die oorlog, as ’n koeël van ’n onbekende Boer in die loopgrawe van Magersfontein hom nie onmiddellik ’n heroïese dood laat sterf het nie. Sy laaste enigmatiese woorde weerklink nog steeds in militêre annale. Dis met ’n gevoel van dankbaarheid dat ons hom as ’n held kan vereer voordat sy spraaksaamheid hom in later jare in al sy wondbare naïwiteit blootgestel het in die koue soeklig van ons hedendaagse rede.

Dit is juis die eise van die hede waarom die herdenking gaan en waarvolgens die oorspronklike gebeurtenis geplooi word. Later sal ons dan sien dat die verval in die huidige Suid-Afrika op verskillende terreine vir Leroux die herdenking van die oorspronklike gebeurtenis heeltemal onmoontlik gemaak het, veral omdat die hede so ver van daardie luisterryke, dog absurde, gebeurtenis van die Slag van Magersfontein was.
    Soos ek egter vroeër opgemerk het, lei die onvermoë om die ontspoordheid van die hede raak te sien daartoe dat die verlede ’n karikatuur word. Die eise van die hede maak die verlede dienstig aan ’n ideologiese program. Die duidelikste voorbeeld hiervan is die wyse waarop die Lords en Hans Winterbach roekeloos omgaan met die historikus, dr Laird, wat op haar manier poog om die oorspronklike gebeurtenis so getrou as moontlik weer te gee en in beskerming te neem teen die eise van die hede. Wanneer sy die Lords op ’n bepaalde punt oor hulle verdraaiing van die feite teëgaan, lees ons:

Lord Sudden lyk moedeloos en hy maak ’n gebaar ten hemele. Hoe kan mens jou verbeelding laat loop as sogenaamde historiese feite weier om te klop? (p62)

Hoewel die verbeelding by ’n skrywer soos Karel Schoeman as ’n belangrike werktuig vir die versigtige en respekvolle rekonstruksie van die verlede beskou word, wys Leroux ons hier hoe die verbeelding wat ideologies besmet is ’n gevaarlike propagandawerktuig kan word.
    Leroux maak van ’n ander eg Afrikaanse beeld gebruik om ons onder die indruk van die verlies aan die oorspronklike gebeurtenis te herinner met sy verwysings na spoke. In ’n besondere gedeelte waar oor spoke besin word, word ons eerstens gewys op die afwesigheid van spoke by Magersfontein:

Daar is geen ware spoke nie; selfs duisende gesneuweldes tussen Modderrivier en Magersfontein kon geen dwalings nalaat ter nagedagtenis aan hulle grusame sterwe nie. (p87)

Die afwesigheid van spoke is egter nie slegs tot Magersfontein beperk nie. Nee, dit geld ook die res van die oorlog. Op p90 lees ons:

Magersfontein is sonder spoke. Net so is die afgebrande Boerehuise en die Vrouemonument in Bloemfontein.

Maar waarom is spoke belangrik vir die herdenking van die verlede? Die antwoord word verder op p90 aan ons verskaf:

... spoke is een van die belangrikste middele om ’n oorweldigende trauma van die verlede behoue te laat bly.

Die feit van die saak is dat enige herdenking van ’n historiese gebeurtenis die gevaar loop om ons in die beweging van herdenking van die gebeurtenis self te laat vergeet, veral as daardie gebeurtenis self traumaties was. Spoke herinner ons voortdurend aan die rusteloosheid van die gestorwenes, hulle wat in ’n sekere sin nooit mag rus nie sodat ons nooit kan vergeet van die verskrikking nie en nie in die versoeking mag wees om dit te herhaal nie. Maar in die geval van Magersfontein in die apartheid Suid-Afrika van 1975 was Leroux van mening dat ons onder ’n bose stelsel nog meer verskrikking gesaai het as tydens Magersfontein, juis ook omdat ons op die verkeerde manier onthou het. In hierdie opsig het hy die herinneringspoging van die Waarheids- en Versoeningskommissie met meer as twee dekades vooruitgeloop.
    Die uiteindelike gevolg van ’n roekelose omgang met die geskiedenis, soos wat enige ideologiesgelaaide herdenking moet wees, is verwoesting en dood. Hierdie punt word miskien nêrens meer grafies geïllustreer nie as in die opmerkings wat Lord Sudden op p104 oor die verspiedersballon, waarin hy uiteindelik sou sterf, maak:

“Ek is bereid om te aanvaar dat die ballon Maandag, 11 Desember 1899 die lug ingestyg het ... Ek weet dis histories inkorrek, maar ek is bereid om toegewings te maak ter wille van die taak ...”

Die feit wat sodoende gekonstateer word, is dat die hede en die verlede onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Wie die verlede sinvol wil herdenk, kan dit nie doen vanuit ’n hede wat ontrou aan die verlede is nie. Hoe hierdie feit van toepassing is, sal ek nou probeer aandui deur te verwys na die tweede merker van die grens van herdenking in hierdie roman, naamlik die politiek en burokrasie van apartheid.

2. Die politiek en burokrasie van apartheid

Die Anglo-Boereoorlog staan vandag sonder twyfel as die mees heroïese moment in die Afrikaner se geskiedenis omdat dit die een moment was waarop Afrikanermans, -vrouens en -kinders die moed gehad het om ’n immorele supermag uit te daag. Hiermee wil ek nie sê dat die oorlog volkome suiwer en moreel was nie. Die manier waarop swartmense steeds deur die Boere as ondergeskiktes behandel is, die ongeorganiseerdheid van die algemene Boeregevegspoging en die feit dat dit dikwels die Boerevrouens eerder as die mans was wat uithouvermoë en dapperheid vertoon het, plaas almal vraagtekens agter die Afrikanernasionalistiese romantisering van die oorlog. Maar die feit bly staan dat die oorlog uiteindelik meer uit passie en oortuiging vir vryheid as uit militêre meerderwaardigheid of ’n rasionele hoop op oorwinning geveg is. Hiermee het die Afrikaners die eerste Afrikane geword wat ’n anti-koloniale stryd gestry het.
    Die probleem is natuurlik dat vir redes waarop ek nie hier kan ingaan nie die Afrikaner se geskiedenis na die Anglo-Boereoorlog en veral vanaf 1948 toenemend op ’n toestand van onhoudbare politieke immoraliteit en siellose staatsburokrasie uitgeloop het. Een manier waarop ’n mens hierdie gebeure sou kon beskryf, is om te sê dat die koloniale manier waarop Afrikaners na 1948 met hulleself en hulle mede-Suid-Afrikaners omgegaan het, neergekom het op ’n radikale breuk met die anti-koloniale heldhaftigheidsgees waarin die Anglo-Boereoorlog geveg is. So gesien, was die Afrikanernasionalistiese landsbestuur self skuldig aan immorele vergeetagtigheid en ’n ontrouheid aan die Afrikaner se eens morele geskiedenis.
    As ’n mens in aanmerking neem dat ons altyd deur die gang van tyd en deur ons taalmatige pogings om tot greep van die historiese gebeurtenis te kom, vervreem word, het hierdie politieke afloop van die geskiedenis teen die tyd wat Leroux Magersfontein, O Magersfontein! geskryf het ’n verdere grens aan die moontlikheid van herdenking gestel. Daarom is daar dwarsdeur die roman bytend satiriese verwysings na die immoraliteit en die absurditeit van die apartheidsbestel in die beste tradisie van die antieke Griekse letterkunde. Reeds op die openingsbladsy van die roman vind ons ’n verwysing na die kontras van die swart Cadillac waarin die Lords ry en hulle witgeklede swart chauffeur. Deur die res van die roman vind daar voortdurend klein rasverwante insidente plaas. Konstabel Le Grange, wie se uniform Leroux nie om dowe neute met ’n Nazi-uniform vergelyk nie, ag dit byvoorbeeld sy taak om in te gryp wanneer die kleurling Gert Garries en die swart chauffeur saam met die res van die projekspan swem. Gert is die slagoffer van die apartheidsburokrasie omdat hy sy afgestorwe baba heen en weer oor die grense van die ou Vrystaat en Kaapprovinsie moet neem vir die nodige dokumentasie om die lykie te begrawe. Die feit dat die bysiende Lord Sudden Gert Garries as ’n Boer aansien, word meesterlik deur Leroux in die roman aangewend om die apartheidsbestel te satiriseer. Einde ten laaste is dit juis Gert wat saam met die Lord in die ballon opstyg en is hy ook die laaste projeklid wat ten tonele gevoer word wanneer die Lord al dood is, hoewel Gert natuurlik in die eerste plek slegs deur ’n bisarre sameloop van omstandighede ’n lid van die projek geword het. Op p76 som Leroux die destydse absurde politieke gees netjies op:
Die LUK’s het hulle ampshalwe om die twee Lords geskaar en hulle is ywerig besig om Suid-Afrika te verkoop. Met syfers en gegewens van die Inligtingskantoor het hulle alreeds die naakte waarheid ontbloot en onbewus die Suid-Afrikaanse dilemma aangedui onder die indruk dat hulle ’n oplossing aanbied.

Dis juis hierdie onbewustheid van die Suid-Afrikaanse dilemma waarvan ek flussies gepraat het toe ek gewys het hoe vreemd aan die geskiedenis, en gevolglik aan die werklikheid, die apartheidsbestel was. Dit is dus geen wonder nie dat Leroux dit goed vind om die uitsigloosheid van die destydse Suid-Afrika in Gert Garries se gedagtes te lê op p41:

Dit het fokôl te doen met kaffers of witmense — almal is in elk geval tog in hulle moer.

Deur die politieke gang van die twintigste eeu het niemand gebly wat hulle eens was nie. Van Frankryk lees ons byvoorbeeld op p64 dat dit “die enigste land is wat bereid is om aan die Republiek Mirages te verkoop”. Op p71 vertel Gert Garries en die swart chauffeur mekaar hoe hulle vandag arm is in teenstelling met die rykdom wat hulle vaders nog gehad het. En op p82 lees ons hoe korrup die Afrikanerpolitici geword het, onder meer met onwettige diamanthandel. Die laaste spyker in die doodskis van die Afrikaner se politieke verval vind ons in die epiloog op p190 wanneer die naamlose Minister dit nodig ag om op volkome werklikheidsvreemde wyse te beweer dat die vloed dui op die kwaliteit van Afrikaners.
    Dit bring ons by die derde merker van die grense van herdenking wat op sy beurt vloei uit ’n korrupte politieke bestel, naamlik die verval en dekadensie van die hede.

3. Die verval en dekadensie van die hede

’n Politieke bestel wat nie op morele gronde gevestig en bestuur word nie, loop altyd op verval en dekadensie in die breër samelewing uit. Dekadensie is natuurlik ’n verskynsel wat niemand in Afrikaans beter as Leroux beskryf het nie, soos byvoorbeeld in sy vroeëre Sewe Dae by die Silbersteins waarvoor hy in 1965 die Hertzogprys gewen het. In Magersfontein, o Magersfontein! is dekadensie nie die sentrale gegewe van die roman nie, maar dit is ’n sterk deurlopende tema wat vroeg in die roman aan die orde gestel word. Reeds wanneer Le Grange op p31 die projekgeselskap na hulle hotel begelei, lees ons dat die optog “ ’n sekere vrolikheid” het “wat herinner aan ’n karnaval of ’n sirkusoptog”. Dit staan in skerp teenstelling met die statigheid wat ’n mens normaalweg van die herdenking van ’n geskiedkundige veldslag sou verwag. Wanneer die partytjie by die hotel in volle swang is, word daar op p39 verwys na die “magiese vingerskryf teen die muur”, ’n verwysing na daardie mees dekadente van Ou Testamentiese konings, Nebukadneser. Miskien die mees dekadente van al die projeklede, die esoteriese Marigold Rosemary wat alle diepsinnige religie met haar verbeeldingsvlugte tot blote oombliksvertoon laat vervlak, dink op p51:
Maar daar is niks. Alles word vernietig tot niks. Daar is geen teken van hergeboorte nie. Dis ’n inflasiespiraal. Daar is geen helde meer nie — hetsy van regs of van links.

Die dood van die held in die eietydse politiek is op sigself ’n tema waaroor baie gesê kan word, ook met verwysing na hierdie roman. Net soos die immorele politieke bestel van die destydse Suid-Afrika herdenking bemoeilik het, net so het die dekadensie wat geheers het dit ook gedoen. ’n Duidelike verwysing na hierdie leë toestand tref ons op p48 aan:

Die vlaktes is leeg. Gert Garries se weeklag neem enorme afmetings aan. Die hasjisjdrome van Marigold Rosemary skreeu deur die ruimte. Die doodgewone orgie van die projekgangers is ’n flou gefluister teen die agtergrond van ’n ware hartstog ongeveer 74 jaar gelede.

Hierdie dekadente gees neem deur die loop van die roman toe, tot dit uiteindelik met die verfilming van die heruitvoering van die oorspronklike veldslag op die oorstroomde slagveld absurde afmetings aanneem. Nogmaals is dit Gert Garries wat getuie is van die verwoesting wat die hele herdenkingsprojek begin aanrig wanneer die optog veld-in opruk:

Dis ’n slakkegang van meganiese monsters. Die motors het een vir een gaan staan, tot op hulle aste vasgeval, en die passasiers word op die een vragmotor na die ander oorgelaai. Die veld word vernietig en die mimosabossies kry knakke wat hulle nooit sal oorleef nie. Maar die organisasie gaan onverbiddelik voort. (p129)

Wat in hierdie paar sinne saamgevat word, is die onmoontlikheid van ’n herdenking vanuit ’n dekadente hede. Soos aan die begin van hierdie lesing gestel, is ’n herdenking ’n poging om die oorspronklike historiese gebeurtenis deur die hede te laat werk. Maar wie so vervreem geraak het van die omstandighede van die oorspronklike gebeurtenis, wie dekadent vergeetagtig daarmee omgaan, kan nie meer herdenk nie en stuur op vernietiging af. Hierdie waarheid word verder op p148 toegelig in die weergawe van wat Hans Winterbach voor hom sien:

Dis asof die tragikomiese aspek van die verlede meteens vervaal voor die tragikomiese aspek van die hede. Daar is angs in die hart van Hans Winterbach.

Nie net maak dekadensie ons blind vir die verlede nie: dit vervreem ons ook van die hede. Die dekadent is sienderoë blind. Hierdie feit word nie net geïllustreer deur die onverbiddelike wyse waarop die aanvoerders van die projek met hulle verfilming voortgaan nie, maar ook in die wyse waarop die amptenare van Waterwese sistematies herhaal dat daar geen rede tot paniek is nie. Selfs die mistieke begrip “nada” — die niks — word uiteindelik heeltemal betekenisloos gemaak deur die belaglike manier waarop verskillende staatsamptenare dit misplaas gebruik.
    In die laaste plek kan nou kortliks aandag gegee word aan die vierde merker van die grens van herdenking, naamlik die rol van die media.

4. Die vervalsende funksie van die media

As ons vandag Magersfontein lees, meer as 23 jaar nadat dit gepubliseer is, kan ons dalk in ’n post-apartheid Suid-Afrika in die versoeking kom om dit as ’n passé werk te beskou. Dit is waar dat baie van die satiriese angels wat die boek toentertyd gehad het vandag nie meer so seer steek nie omdat die samelewing sedertdien soveel verander het. Maar dan sou ons vergeet in watter hoë mate hierdie roman sy tyd eintlik dekades vooruit was. Al die temas wat tot dusver behandel is, sou eers vanaf die jare tagtig werklik omvangryke aandag in die eietydse filosofie geniet en party van hierdie vraagstukke sal nooit verouder nie. Miskien is die enkele tema waarin Magersfontein sy tyd die merkwaardigste vooruit was die wyse waarop die boek ’n kritiek op die media ontwikkel het. Destyds het televisie skaars in Suid-Afrika begin en het rolprente nog ’n sekere integriteit besit. Die internet was nog slegs ’n droom. Dit is dus vandag des te merkwaardiger om te sien hoe Leroux geantisipeer het wat vandag deur van die voorste eietydse mediateoretici hanteer word, naamlik die mate waarin die media vir ons ’n skynwerklikheid skep wat ons uiteindelik van die verlede vervreem en vir ons die werklikheid per se skep, ’n verskynsel waarvan mense op die platteland nog vandag in ’n mate gevrywaar is, dikwels sonder dat hulle dit besef.
    Feit van die saak is dat die herdenkingsprojek waarom dit hier gaan wesenlik ’n filmprojek is waarin skyn alte gou die oorhand oor verlede en werklikheid kry. Op p16 word die projek soos volg gedefinieer:
[Dit is] ’n poging om, téén die agtergrond van ’n tragikomiese gebeurtenis van die verlede, oor ons tyd deur middel van ’n moderne kommunikasiemedium te besin.

Hierdie verwysing na “ons tyd” is terloops die duidelikste aanduiding in die hele roman dat die herdenking, soos al vroeër in die definisie daarvan gestel is, eintlik gaan om die hede en nie om die verlede nie.
    Voorts kom Hans Winterbach oor die rol van die media op p28 tot die volgende gevolgtrekking:

Dit sal die kamera wees wat op visuele wyse die woord oortref. In die beeld sal die geloian en die speloian saamgevat word. Die oog sien waar die woord nie kan kom nie. Die kamera is die Derde Oog.

Die feit dat beelde bo woorde voorkeur kry, moet ons al attent maak op die vervlakking wat by ’n visuele herdenking intree, net soos die feit dat die kamera nou die mitiese funksie van antieke godsdienste se Derde Oog oorgeneem het.
    Een van die treffendste uitbeeldings van hierdie feit word op p59 geskets wanneer die historikus dr Laird probeer om te red wat daar te redde is en aan die kamera vertel wat die korrekte historiese gegewens van die veldslag was, terwyl sy eintlik as toekomstige advertensiemateriaal beskou word en Winterbach voorstel dat haar woorde uit die finale beeld geredigeer kan word. Wie sy stem vir ’n beeld moet prysgee, word ontmenslik en aan sy eie historiese geworteldheid ontruk.
    Later, wanneer die verfilming van die heruitvoering van die Slag van Magersfontein in volle swang op die oorstroomde slagveld is, neem die oneerlikheid van Winterbach katastrofiese afmetings aan. Hy is byvoorbeeld op p147 heeltemal bereid om toeriste toe te laat om as Boere op te tree wanneer die projeklede wat dit eintlik moet doen nie meer wil nie en verklaar dat hy die beeld sal dokter met petroleumjellie op die kameralens soos hy al meermale in die verlede het.
    In hierdie mediabepaalde opset met sy lae waarheidsgehalte is fotograwe dan ook die ironiese helde soos ons op p160 lees:

... hulle veg vir hulle koerante met die oorgawe en geloof wat Wauchope en De la Rey destyds gehad het. Hulle veg vir die onbevange waarheid soos hulle dit sien.

Maar miskien moet hierdie afloop van sake ons nie te veel verbaas nie — na alles was die Anglo-Boereoorlog die eerste oorlog waarin die media ’n bepalende rol gespeel het. Uiteindelik is dit dan ook te verstane dat Winterbach maar te bly is oor hoe goed alles op film sal lyk ten spyte van die chaos, lewensverlies en algemene geheueverlies ten opsigte van die slag wat hulle veronderstel is om te herdenk.
    Ter gevolgtrekking kan dus gesê word dat wie wil herdenk hom goed moet vergewis nie net van die oorspronklike historiese gebeurtenis wat hom in elk geval sal ontglip nie, maar ook en veral van sy huidige situasie. Die een wat wil herdenk, moet veral vra waarom hy dit wil doen, wat die funksie daarvan in die hede moet wees. En as sulks is enige herdenking alreeds gedoem, want wie wil herdenk, wil dit om bepaalde redes doen wat per implikasie beteken dat agendas op stom gebeure afgedwing word. Dit wil nie sê dat alle herdenkingspogings ewe moreel relatief is nie. Natuurlik is herdenkings wat lyding en die menslike eerder as die ideologiesverdraaide en die magbeluste oproep, verkieslik. Maar dit verander nog niks daaraan nie dat elke herdenking gebrekkig is. Daarom wys elke herdenking na die toekoms en vra dit om ’n volgende herdenkingspoging deur ’n toekomstige generasie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.