Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Verderflike verleidings

Theunis Engelbrecht

Brawe Kanadese en Amerikaanse ape en knape

Na ‘n stillerige aanloop van Januarie tot Maart in die musiekwêreld reën dit nou skielik weer soos AWB-tietetantes met knopkieries. Die een nuwe CD na die ander. Dis werklik obseen. Daarbenewens is daar meteens soveel aanspraakmakers op “CD van die Maand” dat ek wragtig nie meer weet wat om te doen om kop bo maaierwater te hou nie. En dit klink my tans is dit veral die rockliefhebbers wat rede het tot groot genot wat betref die kwaliteit sowel as kwantiteit van die nuwe uitreikings.

Die Arctic Monkeys (as ek reg onthou is hulle van Kanada) het die afgelope twee weke nog niks van hul skopkrag en skoonheid verloor nie, en hul ultrafenomenale überkoel Whatever People Say I Am, That I’m Not sit steeds stewig bo-op die troon (nee, nie daai troon nie, maar dit kan wel daai een wees ook, as jy mooi daaraan dink). Ek wou nog meer gaan uitvind oor die ouens van Arctic Monkey, maar weens al die verderflike verleidings wat opgedaag het in die vorm van nuwe CD’s het ek so tussendeur al die knopkieriehoue op my kop glad nie kans gekry om daarby uit te kom nie. Het wel iewers raakgelees dat hulle die CD self gemaak en eers op MySpace.com gesit het. Daar het dit so goed gevaar – hulle het twakhuise vol geld gemaak met die downloads - dat ‘n platemaatskappy dit uiteindelik opgetel het. Die voorval word beskryf as ‘n ernstige voorbode oor die bleek toekoms van platemaatskappye (bleek soos ‘n ultragoth-chick) in die tegnologies gevorderde wêreld van vandag.

The Bravery: The Bravery
Klik op die CD en koop dit nou!

Ek wou die volgende sin soos volg begin: “Stewige kompetisie is daar wel vir Arctic Monkeys in die vorm van The Bravery se CD The Bravery.” Gelukkig besef ek toe onmiddellik my eie denkfout. Want ek wil nie aan die musiekwêreld dink as ‘n bedryf nie. Ek wil nie daaraan dink in terme van mededinging nie. Kompetisie. Battle of the Bands. Soveel en suffel punte uit tien; soveel of suffel sterre uit vyf. Dis alles kak daai. Rock en pop en die plegers daarvan is tog nie hotelle of antwoordstelle nie. Dis tog nie waaroor dit gaan nie. My bek hang altyd oop as ek hoor dat daar bands is wat met oorgawe “meen hulle moet teen mekaar meeding”. Flip’it tog, ons is mos lankal nie meer op skool nie. Of dalk is dit maar net die hele mentaliteit van kunswedstryde en eisteddfods en Idole en Zingers (nee, nie die KFC-een nie, die kykNET-een) wat so diep gewortel raak in ‘n samelewing wat ‘n obsessie het met oppervlakkige glans en celebrities. (Eintlik verkies ek die Afrikaanse woord selebriteite, want dit laat mens dink aan ‘n slapstingel serebale seldery. Ek kan dit nog verder voer en byvoeg “… slymerig soos ‘n streep snot”, maar kom ons laat dit maar (vir eers) daar.)

The Bravery kom van New York en die CD is opgeneem in verskeie slaapkamers voordat dit na ‘n ateljee geneem is vir die finale aanrakings (ek weet nie wat is die Afrikaans vir “final touches” nie, vergewe my tog, o alle puriste). Die CD skop seriously gat. Mense het al vir my gevra: Wanneer skop ‘n CD vir jou seriously gat? Wel, dis nie iets wat ‘n mens kan beskryf nie. Dis iets soos ‘n sesde sintuig, want omdat daar so baie musiek is, het mens nie juis tyd om te veel daaroor na te dink en daaroor te probeer filosofeer nie. Hoekom maak party rock-CD’s my nie opgewonde nie, maar ander wel? Dit sou tydmors wees om hierop ‘n antwoord te probeer vind en dit te rasionaliseer. Dit beteken ook nie almal wat oor musiek skryf se sesde sintuie is dieselfde nie.

Goed, nou kan ek ook voortgaan om te probeer sê soos wie The Bravery klink. Want mens hoor eggo’s daarin van een of ander 80’s-kunstenaar of twee. In die frenetiese ritme hoor jy iets van Talking Heads. Daar is ook iewers ‘n bietjie Simple Minds ingeroer. Toe besef ek ook plotseling: dit is absoluut, algeheel en allesoorweldigend STUPID om altyd te wil sê HIERDIE EEN klink soos DAAI EEN. As mens mooi daaraan dink, is die logika daarvan verblindend. Dus kan ek net sê: The Bravery klink soos The Bravery; hulle maak vars rockmusiek (ja, so iets is nog moontlik); wat my betref skop hulle lekker gat, en is dit ‘n moerse lekker ervaring om na die CD te luister.

Die rock-onderrok fladder ook lustig voort in Brittanje

Hard-Fi: Stars of CCTV

Hard-Fi: Stars of CCTV
Klik op die CD en koop dit nou!

Dié van ons wat nou en dan eksemplare van die musiektydskrifte Q, Mojo en Uncut vir R10 koop drie maande nadat dit verskyn het – soos die alte liewe uwe – sal weet dat daar al Baie Hoog aangegee is oor dié CD. (Ek moet by sê daar is natuurlik resensente wat dit wel kan bekostig om die tydskrifte splinternuut teen R99,95 by die Sentrale Nuusagentskap te koop en dus uiters vars en drie maande voor die tyd is met die nuus.)

Hard-Fi is ‘n Britse groep. Stars of CCTV is deur ‘n hele paar instansies en mediapraktyke, soos Q, New Musical Express, Observer Music Monthly, The Sun en Zoo aangewys as die CD van die jaar. Ander het weer vir Arcade Fire se Funeral gestem. Dit is weer eens daai onsinnige storie van om altyd iets te wil aanwys as die Beste van die Jaar of die Eeu of die Maand of die Ligjaar. Dit is onmoontlik om so iets objektief en klinies-wetenskaplik te doen – ontspan tog nou. Jy kan nie selderye met vrugtekoeke vergelyk nie.

Die eerste keer toe ek Hard-Fi net in die agtergrond geluister het toe ek besig was om skottelgoed te was net voordat ek die hondekak moes gaan optel, het ek gedink, sjoe, ek verstaan nie hoe die Britte se koppe werk nie. Om dit darem aan te wys as die Beste CD van die Jaar Twintig-Vyf – heitsj, ek weet nie so mooi nie.

Maar die oomblik as jy gaan sit en aandagtig luister – verkieslik met oorfone – kan jy plotseling alles verstaan en sien jy die lig oor hoekom mense so mal gaan oor hierdie band en hierdie CD. Hard-Fi maak allesbehalwe musiek wat verveel (soos so baie rockmusiek wel kan doen). Dit is ook ‘n gatskoppery van die eerste water. ‘n Moerse plesier om na te luister. ‘n Fabelagtige lekkerkry. (Nee, die platemaatskappye koop my nie om om sulke dinge te sê nie, al klink dit so.)

The Subways: Young for eternity

The Subways: Young for eternity
Klik op die CD en koop dit nou!

Hierdie groep kom uit Liverpool. Die eerste sekondes klink maar kakkerig. Wanneer die dromme, baskitaar en kitare na 1 minuut en 2 sekondes bykom, klink dit al bietjie beter. Maar so 1 minuut en 42 sekondes in die liedjie in begin dit weer vervelig klink, en dan tel dit weer op na 1 minuut en 54 sekondes. Lekker bouncy beat. Die outjies en mejuffroutjies het attitude, dit kan jy hoor. Maar hier na 2 minute en 58 sekondes raak dit weer vervelig, en tel eers weer spoed op aan die einde na 3 minute en 12 sekondes.

Hulle speel met opregte oorgawe en geesdrif en daarom wil mens nie graag iets leliks oor The Subways sê nie. Ander mense se sesde sintuie mag ballisties gaan by die aanhoor van hierdie CD, maar myne doen dit nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ‘n prentjie van ‘n verlepte seldery kom voor my op as ek na hierdie CD luister. Trouens, hier teen die derde snit het dit vir my werklik afgryslik begin raak as die mannetjie soos ‘n moeë skaap blêr: “Be my rock ‘n roll queen.” Tieners sal dalk wel hiervan hou.

Rock of Ages (Steen der Tye) – nog is het einde niet

Daar bly nog drie nuwe rock-CD’s oor. Kubertyd is beperk, duur en kosbaar, daarom vat ek kortpad met hulle. Scott Stapp was die sanger van die groep Creed, en sy eerste solo-CD heet The Great Divide. Hierso is die klank en aanslag baie donkerder en intens as op enige van die CD’s hier bo. Ek moet sê dit verveel my verskriklik. As mens sulke lekker swaar, donker musiek wil luister, sal enigiets van Metallica ‘n baie beter keuse wees.

Train: For Me, It’s You
Klik op die CD en koop dit nou!

Train se nuwe album, For Me, It’s You, is gelukkig weer ‘n stewiger perd van ‘n ander kleur. Op die oor af klink dit met die eerste luisterslag nie uitsonderlik of uitstaande of soos ‘n knopkieriehou tussen die oë nie, en die arme sangertjie klink ook of hy al deur helse pyn en lyding moes gaan in die lewe. Die eerste byvoeglike naamwoord vir Train se soort klank wat oppop is pleasant. (Ek dink daar is ‘n verskil tussen pleasant en aangenaam, geagte puriste.) Uiteindelik kry Train jou wel in hulle gryp en is jy klei in hulle hande vir die res van die CD. Maar as ek in ‘n CD-winkel sou staan en moes kies tussen Arctic Monkeys en Train, sal eersgenoemde wen. Maar maak geen fout nie, Train se CD is uit eie reg ook lekker kwaai. Hulle maak uplifting rock, en nie rock waarin uitermate buitensporig, dit wil sê buite alle redelike perke, gewroeg word oor die sin van die lewe, pyn en duisternis oraloor nie. Ek vermoed as daar iewers nog ‘n plek in ‘n boks is, sal ek Train se CD eendag saamvat ouetehuis toe.

Kevin Martin & The Hiwatts: The Possibility of Being
Klik op die CD en koop dit nou!

Kevin Martin & The Hiwatts se The Possibility of Being is ook gatskopkwaai, en dien as finale bewys vandeesweek dat rockliefhebbers tans geen rede het om te kla oor nuwe uitreikings nie en dat daar heelwat is waarin ‘n mens jou kan verlustig. En dan is ek seker het ek vandeesweek uitgekom by net ‘n honderdste – indien nie ‘n kleiner breukdeel nie – van alle nuwe rock op globale skaal. Moenie enigiets eksperimenteel of innoverend verwag op The Possibility of Being nie. Op die eerste snit al kan jy hoor die ouens speel straightforward rock, maar hulle doen dit met passie en intensiteit. As jy baie geld het en van rock hou, sou ek vir jou sê koop dit dadelik (nadat jy éérs Arctic Monkeys en The Bravery gekoop het). As ek moet kies tussen Train en Kevin Martin & The Hiwatts, kies ek laasgenoemde. Hierdie band is ‘n stoomtrein, hoor. Hy stoom jou te pletter.

En vandeesweek in die erehoekie vir outoppies …

David Gilmour: On an Island
Klik op die CD en koop dit nou!

… het ons vir David Gilmour met sy CD On an Island. Gilmour het natuurlik bekendheid verwerf as die ontdekker van Kate Bush en as lid van Pink Floyd. Sy solomusiek klink maar nes Pink Floyd. En ons almal weet Pink Floyd klink lekker. Dus behoort hierdie CD outomaties ook lekker te klink. Oukei, dis nie sleg nie. Lekker spacy en trippy en al daai, baie rustig ook, maar uiteindelik kap die verveling ‘n ou as jy nie oppas nie. Ek sal eerder Roger Waters luister as wat ek na David Gilmour luister. On an Island kan nie as ‘n goor CD beskryf word nie – allesbehalwe; maar ‘n mens kry net so ‘n geweldige gevoel van déjà-vu. Hier en daar tel dit bietjie op, soos op die liedjie “This Heaven”. Dan hoor jy weer klankeffekte van ‘n see wat spoel op ‘n strand, en jy weet nie meer so mooi nie. En as ‘n liedjie met die naam “Smile” ‘n mens laat voel of jy aan die slaap wil raak eerder as om te glimlag, moet jy weet iets is iewers nie lekker nie. Hierdie outoppie sal nie saam met my ouetehuis toe gaan nie, no way. Daar is genoeg ander outoppies wat interessanter is, soos Tom Waits en Bob Dylan en Lou Reed en daai snare.

Slotsom

Ek weet nie hoekom het ek hierdie rubriek “Verderflike verleidings” genoem nie. Want dit was lekker om deur die beste van bogenoemde CD’s verlei te word, baie lekker (ek dink selfs lekkerder as om deur Minki van der Westhuizen of Pieter Smith verlei te word, of Jurie en Hestrie Els, for that matter). Al verderflikheid waarvan hier sprake was, is dat daar tans weer so baie lekker nuwe musiek is dat ‘n mens jou bankrekening ernstige skade kan berokken. Dis letterlik al. En om geen ander rede nie. Wees getroos in hierdie wete.



LitNet: 3 Mei 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.