Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Soetmelk-kasies vir verlore nasies en tamatie-sosaties vir lekker generasies

Theunis Engelbrecht

Laat prysliedere in julle kele opborrel, laat julle harte oorloop, hef op die horings en blaas die trompette vir …

CD van die maand

Arctic Monkeys: Whatever People Say I Am, That’s What I’m Not
Klik op die CD en koop dit nou!

Van al die CD’s wat die afgelope klompie weke uitgereik is, het hierdie een my die meeste weggeblaas. Ek het dit eers gister vir die eerste keer te hore gekry, en dus sou dit onfatsoenlik en onverstandig wees om nou reeds enige uitlatings daaroor te maak, behalwe om te sê die eerste kennismaking is orgasmies, om dit sagkens te stel. ‘n Mens moet eerder jou bek hou en net daarna luister en meegevoer raak deur die dinge wat hierdie knape alles aanvang en hulle dan op die internet google en sien watter inligting jy oor hulle kan insamel. ‘n Groep om oor opgewonde te raak …

Dus, terwyl ek nog herstel, rol uit die rooi tapyte, strooi die blomblare, hef lofsange aan, want Sound Bites bring vandeesmaand ‘n dubbele eer aan ‘n reeds ontslape sanger, Roy Orbison:

Waarnemende CD van die maand

EN

DVD van die maand

Black & White Night – Roy Orbison & Friends

Net die harteloses onder ons sal nie geraak word deur Roy Orbison se stem en sang en vertolkingsvermoë nie. Hierdie CD is in September 1987 opgeneem by ‘n konsert wat Orbison en vriende as deel van die sg Coconut Grove Sessions uitgevoer het. Dit is die enigste live CD van Orbison wat beskikbaar is – en as sodanig dus outomaties ‘n versamelstuk.

Agterop die CD sien ‘n mens vir die eerste keer wie al die vriende is wat saam met hom by die konsert opgetree het: Bruce Springsteen, Tom Waits, Elvis Costello, T-Bone Burnett, k.d. lang, Jackson Browne, Bonnie Raitt en JD Souther. Genoeg om ‘n mens se mond behoorlik te laat water.

Jy check die CD-boekie uit om te sien op watter liedjies sing watter van die bogenoemde groep vriende saam. Daar is geen inligting daaroor nie. Jy sit die CD op, word onmiddellik meegevoer deur die effens naïewe sjarme van “Only the lonely”, en kom dan uiteindelik agter dat Orbison se vriende nêrens saam met hom sing nie – hulle was net die orkes vir die aand. Raitt en Lang is die naaste wat aan die sing kom, want hulle doen die agtergrondsang en harmonieë.

Wel, wat ‘n indrukwekkende orkes, nietemin, al is ‘n mens teleurgesteld dat Tom Waits nêrens sy stem dik maak nie. Hy gooi wel al daai orrels en klawerborde vir ‘n vale, en Springsteen looi die kitaar en die spulletjie gaan lekker mal. Kwaai stuff, baie kwaai.

Jy kry 17 liedjies – van al die ou groot Orbison-treffers soos “Blue Bayou” en “Oh, Pretty Woman” tot by liedjies van sy laaste CD voor sy dood, soos die bedonnerde nommertjie “The Comedians”. Orbison vat jou na plekke toe met daai stem, dis nou nie altemit nie. Op die DVD kan jy die verrigtinge self ook uitcheck. (Ek het dit nie gesien nie, maar vir dié van ons wat nie links en regs DVD’s kan bekostig nie, is die CD meer as goed genoeg op sy eie.)

Adjunk waarnemende CD van die maand

Different Strokes by Different Folks – Sly and the Family Stone

Het jy weer ‘n wip in jou wortel nodig? ‘n Huppel in jou stap? ‘n Bons in jou brein? ‘n Dansie in jou dye? ‘n Skop onder jou gat? Luister dan gerus na hierdie CD. Dit begin met ‘n a capella-weergawe van die riff van Lou Reed se “Walk on the Wild Side”, en dan kom daai beat en die dromme en dit word iets heeltemal anders met ‘n man wat geesdriftig skree, “Dance to the music!”

En dan doen jy dit. Jy kan in die rustigheid van jou eie huis work-outs doen sonder om na ‘n gimnasium of aërobiese klasse te gaan en jou lewe oneindig kompliseer as jy so begin vibreer.

Sly and the Family Stone is natuurlik ook al ou, gesoute hardebaarde op die musiektoneel met ‘n geskiedenis wat tot in die vorige eeu terugstrek. (Meer besonderhede is te vind op Wikipedia, die internet-ensiklopedie, vir diegene onder ons wat hulle graag van alle beskikbare feite wil vergewis.)

Vir Different Strokes by Different Folks het Sly and the Family Stone ‘n klomp kunstenaars ateljee toe genooi. Die ou soul- en funkerige klank is nog daar, maar die gaste bring hul eie doepas om in die potjie te gooi – die een oomblik hoor jy iets wat na gospel klink, en dan is dit weer dansmusiek met ‘n groove wat nie eers vir ‘n stoomtrein sal skrik nie. Dan weer is daar flardes hip-hop, rap en dergelike bygeroer.

Reeds vroeg-vroeg word die pap goed warm gemaak saam met Maroon 5 op die treffer “Everyday People”. Jy word bederf met veertien snitte – party CD’s is mos soos oempabaloelies (met apologie aan Joan Hambidge): hoe langer, hoe lekkerder.

Ander gaste is onder andere Josh Stone, Big Boi, John Legend, Scar, Devin Lima, Moby, Janet Jackson, Isaac Hayes, John Mayer en Steven Tyler van Aerosmith. ‘n Vrolike fees. Nie bedonderd nie, nie bevonk nie, maar befok.

Dames, vroue, girls, rock chicks, reine engele, terte en dergelike goddelike vroulike stembande

Dit was die afgelope maand nogal stil wat die singende monde van vroue betref. Hulle word nie weens seksistiese of gender-onkorrekte of polities agtergeblewe redes vandag in ‘n kassie van hul eie geprop nie. Dis net omdat vrouekunstenaars so spesiaal is dat ek altyd bly is as daar van hulle in my skoot beland. Maar daar was darem die afgelope twee weke twee van hulle.

Cyndi Lauper: The Body Acoustic (Epic)
Klik op die CD en koop dit nou!

Nog voor ek na die titel voor op die CD-boekie gekyk het, vang die baie treffende foto dadelik my aandag vas en ek dink, haai, dit is ‘n nuwe CD van Dowwe Dolla! Kyk net hoe sit sy daar kaalvoet en wydsbeen in ‘n pragtige rooi rok! Toe kyk ek na die titel en sien, o nee, dit is toe al die tyd Cyndi Lauper. Kan jy nou meer.

Dit was ‘n heel genotvolle ervaring om na die CD te luister. Dit bevat akoestiese, unplugged en semi-unplugged weergawes van haar bekendste ou treffers, en om dit nog meer interessant te maak het sy ook ‘n klomp vriende na die ateljee genooi om ekstra speserye in te roer. Ek was aangenaam verras en hou nou vir die eerste keer werklik van me Lauper. Die nuwe weergawes van die treffers klink beter as die vorige, meer bekende opnames. En Lauper het ‘n baie lekker stem, besef ‘n mens noudat dit nie oordonder word deur drommasjiene en allerlei popversiersels nie. Sy klink op plekke amper soos ‘n mix tussen ‘n jong Bette Midler en ‘n ou Dolly Parton. Fabelagtig. Daar is ook baie viole en tjello’s.

Die gaskunstenaars, met die liedjies waarop hulle gehoor kan word tussen hakies, is: Shaggy (“All through the night”), Sarah McLachlan (“Time after Time” en “Water’s Edge”), Jeff Beck (“Above the clouds”, die lekkerste snit op die CD), Vivian Green (“I’ll be your river”), Ani DiFranco (“Sisters of Avalon”) en Puffy Ami Yuma (“Girls just want to have fun)”.

Ek sou reken dit behoort nogal pret te wees om ondersoek in te stel na hierdie CD. Hierdie vrou kan baie lekker gooi. Maar luister eers voor jy besluit of jy wil koop of nie.

Maria Rita – Maria Rita

Sy kom van Brasilië. Op die voorkant van die CD lyk sy soos soos ‘n mix tussen Laurika Rauch en die skrywer Elize Parker. Sy sing ook in ‘n vreemde taal – klink soos Portugees, Mexikaans, Peruviaans, of dit kan dalk selfs Chinees of fanakalo wees, vir al wat ons weet.

Haar stem laat jou voel of jy in ‘n see van fluweel verdrink. Jy verstaan nie ‘n woord wat sy sing nie, maar sy is soos ‘n Lorelei wat jou verlei. Die musiek is ook interessant en jazz-agtig (maar tog ook ander onnaspeurbare kerriepoeier bygeroer). My boyfriend, Japsnoet Towenaar, is nie mal oor die CD nie, omdat dit op die lang duur eenselwig kan begin klink, en ek is geneig om saam te stem. Maar as mens geduldig is, voel dit deurgaans of jy in genoemde see van fluweel ronddryf – die een oomblik is die oseaan kalm en rustig, dan steek die wind op, en op die liedjies wat regtig vervelig is, poep die haaie. Dit is ook die ideale agtergrondmusiek vir dekadente skemerkelkpartytjies. En as jou tandarts dit vir jou op oorfone speel voor hy jou begin martel, sal jy so lekker voel dat dit jou nie eers sal pla nie. Of so scheme ek, altans.

Die een se dood is mej Love se brood

Nirvana: Sliver: The Best of the Box (Geffen)
Klik op die CD en koop dit nou!

Ons het nou al almal gehoor Courtney Love het finansiële probleme en dat sy nou weer ‘n klomp van haar ontslape eggenoot, Kurt Cobain, se ou kassette, demo-opnames, dagboekinskrywings, opnames van rehearsals, publikasieregte en supermark-inkopielyste verkwansel het en oornag ‘n multimiljoenêr geword het. Daarom laat dit ‘n mens met gemengde gevoelens oor Nirvana se Sliver: The Best of the Box, want dis deel van mej Love se pakket. Demo’s, rehearsals, bootlegs, die werke, ek sê vir jou. Ek het dit interessant gevind en op hierdie tentatiewe opnames is Kurt Cobain se angs en woede baie meer tasbaar en voelbaar as op die gepoleerde ateljee-opnames. As ‘n mens onthou van sy harde lewe en sy uiteindelike selfmoord, is van die rou emosie op hierdie album selfs ontstellend en beslis nie vir sensitiewe luisteraars geskik nie. Daar is ook altesame 22 snitte op – maar in hierdie geval is dit nie noodwendig een van hoe langer, hoe lekkerder nie.

Japsnoet Towenaar het net een woord vir hierdie CD gehad: die Afrikaanse woord wat korter is as twak, maar wat daarmee rym. (En ek praat nou nie van papegaaitwak of tinktinkie-tabak nie.)

Sliver: The Best of the Box is net vir geharde, gesoute en deurwinterde Nirvana-aanhangers. Maar ek sou tog meen dit is ‘n gedenkwaardige stukkie rock-geskiedenis.

‘n Kompilasie vir die lekker generasie

Verskeie: Broken Dreams II
Klik op die CD en koop dit nou!

Dit is nou die album Broken Dreams II deur verskeie rockgroepe en tans gewilde kunstenaars. Die liedjies handel hoofsaaklik oor ontgogeling, die eksistensiële angs wat ervaar word wanneer jou meisie jou los vir ‘n ander ou of ‘n vrou en die gepaardgaande gevolglike psigologiese ontvogeling, vae verlangens en gevoelens van ontworteling en onthouding.

Maar dis nie net ‘n gejammergattery deur ‘n klomp Martie Martelgatte nie. Dit kan nie anders nie; met hardebaarde soos Hard-Fi, David Gray, Linkin Park, Red Hot Chili Peppers, Jet, Radiohead, Placebo, Blur en REM is hierdie CD net die ding vir jou as jy ‘n kompilasie-koningin is. Altesame 20 kunstenaars, ‘n interessante kykie op vandag se rockwêreld waarin jy die name van party van die ander kunstenaars nog nooit eers gehoor het nie. Maar luister eers voor jy koop. (Daar is ook ouer classics op, soos Radiohead se “The Bends” en Blur se “Song 2”, maar die meeste goed is vars.)

Broken Dreams II is een van daai CD’s wat vir sommige mense ‘n psigoterapeutiese ervaring kan wees en vir ander beslis nié. Hang net af van die toestand van jou drome.

Soetmelk-kasies vir die verlore nasies

In hierdie afdeling kyk ons na onlangse nuwe uitreikings op die gebied van musiek wat as “cheese” beskou word en as “cheesy” beskryf word. Kaasliefhebbers kan dus gerus ‘n wyntjie skink en ‘n southappie neem wanneer hulle die volgende paar paragrawe lees, en ons kan maar net hoop hulle verstik nie aan sooibrand nie.

Barry Manilow: The Greatest Songs of the Fifties (Arista)
Klik op die CD en koop dit nou!

“Hy is die koning van cheese,” het Japsnoet Towenaar gesê toe hy hierdie CD die eerste keer onder oë en ore neem. ‘n Mens is eintlik nie eers veronderstel om so iets in jou CD-speler te druk nie, maar as jy die soort werk moet doen wat deur Sound Bites vereis word, moet jy dit maar doen en hoop jy word nie gebyt of gehap nie. Maar toe is hierdie CD nogal ‘n verrassing, want al die ou liedjies uit die jare vyftig is besonder sjarmant. As ‘n mens jou kan verbeel jy weet nie dis Barry Manilow wat daar sing nie, sal jy dit selfs geniet (andersins nie noodwendig nie). Ek het net hier en daar geluister, maar het nie die krag gehad om te hoor hoe klink sy weergawes van “Unchained Melody” en “Are you lonesome tonight?” nie. Ek sal nie die CD saam met my ouetehuis toe vat nie, maar is nie spyt dat ek ‘n idee gekry het van hoe dit klink nie. Luister sonder vooroordele. Jy mag dalk net verras wees. Jy kan nooit ‘n sanger op sy wit baadjies takseer nie, al kan jy hom op sy wit langbroek takseer, as jy verstaan wat ek bedoel …

Richard Clayderman: New EN The Essential Kenny G

Kyk, ek hou van klawers en horings, maar Clayderman se klavier- en G se saksofoonklanke doen dit net nie vir my nie en laat my trouens soos ‘n Gadareense vark voel. En waarvoor staan die G anyway? G-Spot? G-String? G-Whizz? Is Kenny familie van Tony?

Die hysbakoperateurs in winkelsentrums sal nie ’n fout maak as hulle hul base oorreed om Clayderman se CD aan te koop nie. Dit kan ook die ideale klankbaan wees vir ‘n Afrikaanse hygroman. Ek kan dink aan beter gebruike daarvoor, soos om frisbee daarmee te speel op die strand of as ‘n handspieëltjie te gebruik as jy wil kyk of jou onderlaag nog in plek is en jou lippe glim van die gegeurde stiffie. Of anders kan dit ook handig wees om hondedrolle mee op te skep in jou tuin.

Dalk moet mens probeer om jou vooroordele oor mnr G af te skud (en te hoop hulle val op sy G-string, want hy is nie ‘n onaansienlike meneer nie). Die Essensiële Kenny Gee bestaan uit twee CD’s en sal jou nooit “gjiiee-whizzzzz” laat sê oor die inhoud nie, maar ‘n reddende faktor is wel die teenwoordigheid van gaste soos Smokey Robinson, Peabo Bryson, Louis Armstrong (mnr G het die horingblaas-instrumente wat hy bespeel, by sy “What a wonderful world” gevoeg; I mean, really …), George Benson, Chaka Khan en Earth Wind & Fire. En dis ook maar al. Die liefdestema uit die fliek Titanic is die galsterige kersie op hierdie reeds oorryk koek wat slegte spysvertering aanwakker. Sooibrand is hel.



LitNet: 19 April 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.