Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Boeretroos

Sonia Cabano

Die sjef sweet vreeslik. Sjoe! Dis warm so voor die oop pizza-oonde. Agter sy halfmaan-toonbankie, van waar hy ons kan dophou (en ons, onwillekeurig, hom ook), is dit erg beknop. Hy ken sy draaie al, dis duidelik, en wieg ritmies soos hy pizzas rol, oond-in laai, uitsleep, meer maak. Sonder ophou beur hy voort, soos 'n beer agter dieretuintralies. Heen en weer, heen en weer.
Nogtans lyk hy heel gelate daar in sy stoomwarm kou, die koksknaap, so ek bejammer hom geensins. Werk is skaars in hierdie ekonomies afgeplatte gemeenskap, en hy toon 'n sekere mate van betrokkenheid, indien nie heeltemal oorgawe nie, in sy ywer.

My simpatieë loop in die ander rigting vandag.

Met die agterkant van sy meelbesmeerde voorarm vee Sjef kort-kort oor sy voorkop, en dan word die arm so aan die regterboud afwaarts skoongevee. Dan weer deeg knie, uitrol, in 'n perfekte pizzawiel spin bo-op die tien vingerpunte. Die bolaagkeuses gryp hy by die handevol uit bakkies in 'n halfmaan voor hom uitgestal. Dit gaan maar woes, hy's haastig. Plek-plek beland 'n paar blokkies salami tussen die aspersies en soetrissies van vegetariese pizzas, hier en daar 'n roekelose swartolyf of ansjovissie verstrooid in die vierkaas-keuse. Sommer vir die mooi, nè? Laat alles eg outentiek lyk, en smaak.

En knoffel, o ja, - dis dan 'n Italiaanse restaurant! Knoffel op, oor en deur alles. Later, met die eerste sluk van my glas koue chardonnay, bespeur ek 'n klein korreltjie roomwit "knoffel" wat dobber op die bodem van die glas.

Oor Sjef se skouer hang 'n vadoek van onpeilbare herkoms of ouderdom. Soos alle katte in die donker grou is, is alle vatlappe in Suid-Afrikaanse restaurante seker maar ook. ("Ag, die goed raak weg, word gesteel - watter eienaar kan dan nou bekostig om net te bly koop? Daar word mos gewas.") Af en toe voel-voel Sjef ingedagte aan die lappie, meer uit gewoonte as iets anders - of is dit 'n talisman, wat hom moet beskerm?

A, daar sien ek dit nou. Soos borde kos op die rand van die marmertoonbankie uitgestal word aan die kelners, reg vir hulle om tafel toe te dra, word die randjies van die borde net gou afgevee. Dan swiep! die ou lappie terug oor die skouer, waar Sjef dit weer 'n paar keer pols. Hy dra sy antieke lappie met trots: dit mag 'n segekrans wees, of selfs 'n bandolier.

En saliglik, niksvermoedend, sit ons viertal aan tafel, en wag gedwee op ons maal. Dis vroeg vir middagete, ons is die eerste klante, en ek is huilhonger. 'n Konsep-restaurant in 'n inkopiesentrum is nie my eerste keuse vir middag- of enige ander etes nie. Om die waarheid te sê, kettingrestaurante en ander kosbedienende instellinge (ek verseg om sulke plekke "cafés" of "bistro's" of "trattorie" of iets dergeliks te noem, want hulle is nie) in inkopiesentrums is plekke wat ek tot dusver met groot sukses kon vermy. Vandag, helaas, is hierdie opsie my egter nie beskore nie. Vir die volgende paar dae moet ek noodgedwonge, om den brode, deur die siellose en sieldodende gange van die sentrum - die trots van die kontrei - drentel en dwaal, asof in 'n labirint, maar geen openbaring sal ek ervaar nie. Inteendeel ...

Voordat ons groepie se keuse op die oulike fop-Italiaanse plekkie geval het, is daar eers met sneldalende entoesiasme bestekopname geneem van die aantal eetsalonne aan ons beskikbaar. Daar's die oulike fop-Meksikaanse kamertjie oorkant La Italia, met kryt-kaktusse, -sombrero's en jolige "shooter"-keuses teen die mure gekrabbel, om die gaste tot baldadige fiësta-bui aan te wakker. Die kern van die spyskaart daar bestaan uit rooivleisgeregte vernoem na Suid-Amerikaanse sokkersterre/atlete/revolusieleiers. Daar is die vereiste taco's, fajitas, burrito's, salsa, suurroom, mucho dit, mucho dat. Baie entoesiasme, baie kaas. Oorverdowende musiek.

In 'n gang slap links is gesetel 'n gawe konsepkuierkroeg, wat die weeklikse "specials" op swartborde uitbasuin: "eat all you can rib's", "calamari 'n' chips", "creamy chicken pasta", "peri-peri prawns", "ladie's platters". Die standaardslaaie - Frans, Grieks, Italiaans - word heel modieus aangevul met 'n Caesar-slaai wat kropslaai, tamatie, hardgekookte eierwiggies, spekblokkies, gerasperde cheddar en "house special creamy garlic dressing" behels. Verder belowe die kuierkroegspyskaart, op fophout gedruk, ongeveer 34 vleisgeregte, met die haas onweerstaanbare opsie om enige van bogenoemde disse te "supersize" met 'n "creamy cheese sauce". Pure swierigheid verseker uierringe, skyfies en/of rys by elke porsie proteïen. Snoep is hul beslis nie. Die nagereg-afdeling sluit triomfantelik af met daardie volkstreffer, die Dom Pedro.

Genugtig! 'n Verwarrende magdom uitsoekkeuses. Dalk môre?

O, en moenie die koekplek vergeet nie. Dis nie 'n bakkery nie, al sweer die naambord so, want daar's net 'n mikrogolfoond op die perseel. Hier word die ligte eters - dames en pensionarisse hoofsaaklik - verlei met "tramazzinni's" - dis nou fênsie roosterbroodjies vir jou - slaaie vir verslankers, en monstrueuse koeke, wat lyk soos gebakte kerkhoede, onder handbreedte lae geklopte foproom en fopversiering. Lemon meringue, black forest, chocolate truffle, wortelkoek, ensovoorts. Heel klassiek.

Die pizza-pasta-plek, met die sweetbepêrelde sjef, oorreed ons. Hoe kan mens nou verkeerd gaan as die sjef so lustiglik voor die klante arbei? Outentiek Italiaans, nè, so met die driekleurvlag en al die sokkerspelervernoemde disse in bont kryt aangebring teen die mure - en oop kombuise boesem boonop hope vertroue by die verbruiker in. (Bemarkingsdepartement het hul navorsing gedoen, boeta!) Geen broodmandjies hier nie, antwoord die kelnerin verbaas, maar bring op aandrang tog een pizza bianca, met swarterig-verbrande knoffelkrummels en onherkenbare khakigroen stof daaroor gefrummel.

Die wyn is Kaaps, duur, en lekker koud. Eter een se salmslaai kom eerste, en na twintig minute die res van ons bestelling. Die salm is fraai gedrapeer oor 'n paar grofgekapte kropslaaiwiggies, met 'n tamatieskyf of twee vir kleur. "House special creamy dressing" hier ook. Duidelik 'n populêre affêre, dié romerige sousies. So gewild onder die klante, dit word sommer so by die vyfliterkan bestel van die verskaffers, wat natuurlik, soos die spyskaart, vooraf goedgekeur is deur die sentrale kantoor wat hierdie landwye restaurantketting beheer.

Die pizza wat voor my land, is besaai met knoffel soos growwe sout. Ek knibbel versigtig om die rand van die deegsirkel. Dit proe soos sponserige karton. Die spekblokkies, sondroë tamaties, artisjok en mozzarella smaak, in volgorde, souterig, soeterig, suurderig, en gesmelt. Niks meer nie, niks minder nie - alle voedingskrag, vitamines en geur lank, lank verdamp, soos mis voor die son. Soos sjefsweet voor 'n pizza-oond ...

Ek besef dis onredelik van my om enigsins smaak en sappigheid te verwag: ek het immers hier te doene met 'n konsep, 'n stukkie kosteater. Avontuur. "Kyk hoe goed kan ons Italië/Meksiko/Texas/Wenen naboots! Hulle sal hulle wat verbeel, daai uitlanders ..."

Ek worstel deur, looi my bord kos met alles wat smaak kan verleen: olie, balsemiekasyn, rissiesous, sout, swartpeper. Niks slaag egter daarin om die bitter smaak van my intense frustrasie te verdoesel nie.

Nagereg? Nee wat. Liewers nog wyn.

Die "cappacino" is flou, vaal en waterig onder 'n skuimende piek.

Daar was 'n stille revolusie in Suid-Afrika se inkopiesentrums, lyk dit my, en kos het verloor. Na 'n aantal jare waarin ek die land deurkruis het, kom ek tot die ongelukkige gevolgtrekking dat boerekos, 'n eg-Suid-Afrikaanse kookkuns wat met kundigheid en vaardigheid voorberei is, ietwat van 'n mite geword het. Waar is die kafeetjies en kuierkombuise wat kos bedien soos dié waarmee ons grootgeword het? Volkstrots, bekende geregte, eer-jou-vader-en-jou-moeder soort van ding. Vleis, rys, groente, bredies en stowes, eerlike poedings, hartlike samesyn. Ska'vleis! Beestepote! Pofaddertjies! Wildspastei met kweperjellie!

Ek verlang na die sustende geur van kaneel, neutmuskaat, nartjieskil; die soetsuur byt van kerrieboontjies; ingelegde beetslaai; bobotie, die ou staatmaker; en afval met 'n la-ang sousie. Waterskilpad en vla, stoweperskes, slinger om die smoel. Ai, hoe water my mond by die blote gedagte! Sulke mooi name, so eie aan ons. Hoe fraai sou 'n spyskaart in 'n Volkskombuis, in die keurigste Afrikaans opgestel, nie lees nie.

Een voordeel hieraan verbonde sal natuurlik wees dat die spyskaarte ten minste korrek gespel en uitgespreek kan word. Indien nou nie deur die primêr swart immigrantpersoneel nie, dan darem deur die klante. As ons sukkel om die mas op te kom met fop-volksvreemde kookkuns, hoort ons darem "eie" reg te kry. Ken dit mos uit ons kop uit, aan moedersknie geleer, nie waar nie?

Waar eet 'n mens vandag boerekos? Hier en daar, met variasies, by 'n wynlandoord, of strandbraaiskerm met seekospotjies en suurdeegbrood, die alomteenwoordige bobotievariasies by toeristetrekpleisters. En dis, so te sê, al.

Maar wag, daar word 'n plan beraam. Word 'n volkskombuis besoek. 'n Knewel van 'n eetplek, wat klante by hul dosyne, nee honderde, inslurp deur die majestueuse fop-olifantstand-geraamde poorte. Die eetsale is propvol. Raserig. Klante verskans agter fop-bamboes-skuilings, onder binnensmuurse strooidakke. Daar's 'n wynfontein: plastiekspane wentel geruisloos om en om binne-in die vierkantige glastenke. (Moet wyn dan geroer word?) Jy kantel net jou glasie teen die spuitspaantjie onderaan en skink na hartelus. Om die buffettafels wemel dit van mense, en by die live-action prawn bar word daar kort-kort liggies gestoei en geskrum.

Daar is alles van rollmops tot hoenderpatee, slaai, diepgebraaide groente in beslag, piccalilli en piekels by die voorgeregte. Mense gluur mekaar aan onder deur die oorhoofseverhittingsligte. "Maak gou! Kan jy nie sien ons is honger nie!" Wee die een wat 'n opskepel gryp uit plek uit.

Plaas-soort brode op tafeldoeke gestapel, mensvreterpotte vol sop. 'n "Carvery" waar hele troppe diere se karkasse stadig, smeulend draaibraai. Baddens roosteraartappels, pampoen, boontjies, begrafnisrys, knopperige geel en grysgroen goeters in witsous. 'n Armlange lys bredies en stowes en kyk! drie soorte afval: kerrie, vaal, en ... uhm … rooi. Mmm. Tjops, karmenaadjies, eisbein. Vis. Volstruis. Krokodil. Daar is kos genoeg vir Afrika, en dis als HIER vanaand. Afrika self staan swetend agter die potte, suf en saf gewerk, sleepvoetend moeg.

Daar is 'n nageregkamer - nee, 'n nageregsaal - waar 'n skaretjie lywige en angswekkende, angstige vrouens in lospassende sweetpakuitrustings sirkel en tol, sirkel en tol tussen die trifles en malvaterte.

Die spyskaartswartborde lok by die ingang: "Eat as much as you like." Wyn inkluis.

As "crunchy" Amerika se gunstelingsmaak is, is Suid Afrika s'n "nog". Ons eet ons stuporeus.

By die huis wag 'n pakket op my. Familietreffers! 'n Klein albumpie "boerekoswenresepte", noukeurig saamgestel. Iemand het dit ter goeder trou aangestuur. My hart bons van vreugde - sien, dis 'n teken, voorwaar. Ek is op die regte pad. Die volk soek eie kos. Sommer vanaand gaan daaruit gekook word …

Wat sal ek eerste maak? Opgewonde blaai ek deur die boekie, op soek na outentieke inspirasie. 'n Potbraai met 'n lekker vleissousie, dalk. Daar's hy: Tant Koekie se Bruin Sous. Neem een pakkie elk van die volgende soppoeiers (sewe word genoem). Meng alles saam, met eetlepelsvol Bisto en Maizena. Meng met blatjang en kookwater, microwave tot lekker dik, soos en wanneer verlang. Die outeur skryf onderaan by: "Ons eet NOOIT meer enige ander sous nie." Braaispeserye: baie gewild. Meng een botteltjie elk van vier soorte kommersiële braaivleisspeserye en skep weer terug in die botteltjies. Gebruik nou soos benodig.

'n Voetnota meld dat hierdie mengsel die betrokke kok se bas menigmaal gered het met onverwagse kuiergaste, en die tjoppies keer op keer bottersag gekry het.

In Sondagtydskrifte deel lesers trots hul soet-sout hoendertrefferresepte vir luilekker naweeketes met mekaar: Neem 6 hoenderporsies, 1 koppie mayonnaise, 1 koppie blatjang, 1 blikkie sampioenroomsop. Meng, en bak tot die kerk uitkom. ("Ons kan nooit genoeg kry hiervan nie!" meld Mammie trots.)

Ek sal voor moet begin, dink ek, my koskas stroop en weer gaan koop, want van die benodigde bestanddele om kontemporêre boerekos te maak, het ek suiwer niks: blikkies sampioensop, margarien, wit uiesoppoeier, blatjang, Aromat, niks, niks, niks.

Die volk is my een voor - vars kos, neem ek aan, is net eenvoudig te veel moeite en beslommernis om te maak. En as die huisspyskaart so daar uitsien, is fop-vreemd seker 'n aangename verandering?



LitNet: 22 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.