Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die kuns van boomskraap en platsakkos

Sonia Cabano

Ek weet meer van boomskraap as van bolangs skep. En ek hou daarvan so. Nie dat armoede iets is om te vier nie — inteendeel! — maar vernuf om honger te verdryf in tye van nood is meer as lewenswysheid. Dis ’n kuns.

So, sê jy, nou’s daar vanaand net twee dae oue — en boonop uitgedroogde — winkelbrood in jou blik; en die yskas, dié bly maar leeg?

Wel, dan maak jy so: jy vryf jou brood (kafee- of watookalseding) oor die rasper as jy so iets het, of frummel sommer net die korsies met jou vingers. Maar fyn, hoor. Fyn soos voëltjiesaad, so moet dit lyk. ’n Koppievol per persoon is nodig. Dit vat tyd, en dís ook goed. Jy kan aan ander dinge dink terwyl jy werk, soos hoe om die wolf te uitoorlê.

Nou gaan leen of bedel jy ’n bietjie olie. Dit moet góéie olie wees, man, en dáár moet jy nou jou verhoudings koester. Mens weet nooit, mens weet mos nooit ... Ek het al met ’n piertsvol-bottel Libanese eerstepers-olyfolie in my jassak op ’n Paryse moltrein huiswaarts gery, vlak na middernag, half verskrik en half gelate oor my eie vermetelheid, maar dis nou weer ’n ander storie. Gesteelde olie kook besonder lekker.

Dis natuurlik ook te sê as jy nie nog ’n laaste druppel, uit die droesem, vanaf die dik glasbodem uit jou eie botteltjie kan opsoebat nie, daai gespaarde groen vyf millimeter waarmee jy nog ’n maagdelamp ter beswerenis wou maak, sou dit nodig word.

Knoffel is daar altyd in die omtrek en jy het mos êrens ’n paar strooihalms pasta ook. As jy te arm is om pasta te bekostig, is jou einde gewis in die nabye vooruitsig. ’n Pan? O ja. En sout, en swart en rissiepeper.

Tydsaam trek jy die vel af van die laaste knoffelhuisie — daai een wat al ’n week of wat vir jou lê en beskuldig uit die piering langs die stoof. (Min dinge kan my meer droefgeestig stem as ’n enkele knoffelhuisie in ’n piering langs die stoof. Nou wéét jy mos die kos is op.) Stamp dit fyn met vurk of meslem, die knoffel, braai dit saam met die krummels, sout en pepers in die grypie olie, en sodra dit mooi geurig en sissend bruin is, roer jy dit alles deur die bytsaggekookte pasta.

Nou kan jy bid, en, verlos, kan jy eet.

Daar’s selfs ’n variasie op hierdie resep, as die dubbelkoolhidraat-ding na ’n paar dae eentonig raak: breek die brood in groter blokke, gaan voort soos gewoonlik. Verbasend wat ’n verskil in tekstuur kan doen om jou te fop daar’s iets anders op die bord!

Die enigste skriftelike weergawe van bogenoemde proses — ek kan dit skaars ’n resep noem — vind ek in ’n vegetariese kookboek, Jean Lemlin se Simple Vegetarian Pleasures (Harper Collins). Háár dis kry tamatie en pietersielie ook by, maar meesal vind ek selfs dié twee bestanddele half oorbodig. Maar dan is ek ook een wat van my eierpasta bloot met ongesoute botter ingesmelt hou — geen kaas, sout of selfs peper nie. (Met die regte pasta op jou bord is laasgenoemde styl van eet ’n luukse, glo my, en geen verlies nie.)

Ek het myself oor die jare wysgemaak die broodkrummel-pasta-idee is van Sisiliaanse oorsprong, of ten heel minste Italiaans, maar vreemd genoeg kon ek so ’n gereg nêrens in my aansienlike kookboekversameling opspoor nie — net soos ek weet hoe om pasta puttanesca (“whore’s pasta”) te maak, en geen resep dáárvoor het nie.

Dalk is dit die soort ding wat jy nie kan oorvertel nie ... of wíl oorvertel nie!

Die Italiaanse kookkuns is ’n goeie wegspringplek vir ’n kok met kaviaarsmaak en ’n begroting wat net tot viskop strek. Gee ’n Italiaanse huisvrou drie soorte groente, ’n handvol meel en ’n leksel olyfolie, en sy tower wrintiewaar vir jou twaalf of meer verskillende geregte op daarmee. En brood beland beslis nie in die Italiaanse boerin se eendedam as dit te hard vir kou geword is nie: dit metamorfeer heel eenvoudig in ’n sop of slaai.

Antonio Carluccio beskryf in An Invitation to Italian Cooking ’n heerlike boerse broodslaai, van droë volgraanbrood gemaak. (Jy kan natuurlik langpad vat en eers self volgraanbrood bak en in die oond uitdroog, maar “kasverouderd” werk ewe goed.) Sprinkel die broodbrokke klamnat met koue water, en pak snye op ’n mooi bord. Bo-oor dit kom gekapte, baie ryp tamatie (Carluccio sê druk sommer met die hand stukkend, maar hy’t natuurlike reusevuiste!), en die hele spul bedruip jy nou mildelik met jou beste olyfolie, sout en peper, en vars orego of basiel. Fyngestampte vars knoffel kan daar ook wees, soos bepaal deur eie voorkeur. En dis dan panzanella, broodslaai uit Kampanië. Klink soveel beter as ou brood en oorryp tamaties, nè?

Met geringe variasie kan hieruit alles wat hier bo beskryf is, ook ’n voedende knoffelbroodsop geprakseer word, maar met brood alleen kan mens oplaas net so ver kom. Werksoekers kort proteïen en vitamines ook.

Dit word algemeen — blindelings, meen ek — aanvaar dat ’n kokery soos la cucina povera, wat swaar op groente berus, meer ekonomies is, en tog geld die feit dalk glad nie vir ons in dorre Afrika nie. Water hier is veel skaarser as grasweivelde, en in ons kookkuns word vleis lag-lag verhef van sy Mediterreense kamee-rolspelerposisie tot kern van die saak. Met groente alleen sal jy dit nie ver bring in die platteland nie. Nie as soetrissies teen R24,99 ’n kilo aangebied word nie. Pampoen en spinasie het sekere ingeboude beperkings (soos verveligheid), en tamaties se prys kan so wisselvallig soos die rand/dollar-koers wees. Vars groente en vrugte, glimmend soos smaragde en robyne op boetiekkoswinkelrakke, mag nou wel aanloklik goedkoop lyk, maar as mens platsak is, wil jy nie noodwendig van geloof verander nie, en onbeplande vegetarisme kan sommer gou soos boereverneukery begin voel.

En om vol te kom eet jy dikwels drie maal soveel, en waar’s die besparing daarin? Bone, alhoewel ryk aan proteïen, het natuurlik ontstigtelike sosiale newe-effekte, wat mag verklaar hoekom soveel vegetariërs dikwels so bedremmeld lyk.

Ek het ’n vriend wat sweer by sy “Louisiana red beans and rice” as stapelkos so van midmaand af, maar die feit dat hy die resep uit Dean & Deluca se kookboek leer maak het, diskwalifiseer sy keuse. (Dean & Deluca is New York se topdeli, met dienooreenkomstige pryse.)

Nee wat. ’n Vlesie aan die been kon menigmaal my bas nog red uit ’n hongerverknorsing. Uit my voosgebruikte Yorkshire Cooking raai ene Mrs Hegginbottom aan hoe om ’n hoender “ver te vat”. Begin met ’n groot, gesonde kiep. Dan rooster jy hom. Eet warm of koud. (Dit, seg Mrs H, hoort twee maaltye te lewer.) Kry dan vir jou ’n lekker erdewarepot met deksel, lê die karkas daarin neer, en plaas die pot op die vuur. Maak die pot halfvol water, sit ’n paar snytjies ui en knippie sout by, en stowe tot die aand. Verwyder van die vuur, en laat hoender binne-in die pot oornag rus. Die volgende dag vind jy ’n mooi bruin jellie in die pot. Kook dit alles weer op; nou’s daar ’n lekker sop, en dit sit jy nou voor in koppies. Die dag daarna kan jy opgekerfde murgpampoen inkook, dalk ’n halfkoppie melk ook by vir ekstra krag. Prut tot benodig, giet af, en daar het jy nou ’n mooi wit soep.

’n Voetnota van Mrs Hegginbottom bemoedig die leser dus: “I’ve known a good large chicken go on for eight days in this way, and be really good to the end.”

En heel toepaslik, volgende op haar lysie kom ’n praktiese handleiding vir geroosterde haas. (Stap een: stel jou wippe ...)

Dine van Zyl se uiters bruikbare Boerekos-resepteboek wemel van inspirasie. Ons mense het hulle tog immers nie altyd in die land van Kanaän bevind nie, al loop die stories so. Melkkos of melksnysels het seker baie gesinne deur ’n lang wintersnag gedra, en bobotie was mos oorspronklik van oorskietlam gemaak, nie waar? Slawekos klink half belowend, maar by herkonsiderasie is dit darem net te hoog ’n prys waarteen daardie stukkie oorlewingsvernuf verkry is. Stowes en bredies … wel, dis hier waar platsakkos tot sy volle reg kom. (Probeer jy nou ’n stukkie filet stowe, en wys my wat jy kry!) Die bredievleis kort bene, of selfs net ’n stukkie vel, soos Dine van Zyl demonstreer in haar resep vir oom-en-tante, wat uit gestoofde stampmielies, boontjies, ui en varksooltjie en murgbene bestaan.

Bowenal sop en bredies, waarvan my gesin gelukkig nooit genoeg kan kry nie, word my eie repertoire ruimskoots uitgevul deur boomskraap staatmakers soos brood-en-uie-poeding: maak soos gewone broodpoeding, sonder suiker, en met kaas by, as jy verstaan waarheen ek mik. Of toad-in-the-hole, wat al wat worssoort met grasie akkommodeer: maak eers die wors gaar, en klits dan ’n koppie meel en twee eiers in twee koppies melk op. Giet oor die wors, bak in ’n blitswarm oond, en siedaar! Die resep werk net so goed met tjops, en vir ekstra lekkerte kan blokkies gaar wortel, botterskorsie en prei bygebak word in die deegkombers.

Ek hou van my platsakkos so half aards en working-class. Dit help byvoorbeeld baie as jy jouself as Poolse eendewagter kan inverbeel terwyl jy jou koolfrikadelle voorberei, of ’n Peruviaanse fluitspeler kan namaak as jy ’n uitgeholde pampoen begin stop met rys, stukke mielie, pampoen, soetpatat en vars koljander, en net hier en daar ’n blokkie vleis, om stadig in ’n lae oond te bak tot gaar. Dalk sus die geur die wolf ook wat so aan die deur kom krap.

Stem my nou tot nadenke: met al die lekker boomskraapresepte tot my beskikking, waarom lyk my kosrekening vandeesmaand al weer so verskriklik?



LitNet: 17 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.