Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kamerdiens en kos in die bed

Sonia Cabano

Skuif ’n bietjie nader. Ja, jy. Ek wil met jou praat. Ja toe, hier in die hoekie. Is jy gemaklik? Nou toe dan. Laat jouself gaan, dis net ons twee hier.

Wanneer laas het jy jouself oorgegee aan plesier, mmm? Agteroorgestrek, heuplangs en skouerlangs gestut op ’n paar vet verekussings, voete al woelend en vrywend onder die kombers. Dit reën buite. Die hemel is toegetrek onder ’n sagte, donsige grys duvet. Môre is ’n nag se slaap ver. Niks gaan ons nou pla nie.

Vat die warm kommetjie tussen jou twee hande, lig dit op na jou mond toe, slurp die souserige soutigheid of soetigheid op. Oeps, daar mors jy, dwarsoor jou bors. ’n Rooibruin blerts. Geen probleem nie, jy vee dit sommer so met die plathand af oor jou bors, en dan dwars oor die ken. Le-e-ekker … So. Duim deur die laaste smeersel in die bak, mond in en dan oor die laken. Hoe lekker is daardie duim in die mond nie  ... (Sal môre wasbak toe met dit alles.)

Nou, as jy klaar is, leun jy oor, plonks die bak langs die bed, draai om, sug nog een of twee keer met welbehae. Met die laaste druppel van jou bewussyn stoot jy die bakkie rinkelend onder die bed in, net vir ingeval jy vanaand rêrig vir dood slaap. Die bakkie val om; jy voel vere. Verstrengel in Morpheus se arms lig jy ’n slap hand om die bedlig af te klik.

Magie vol, ogies toe. Saligheid.

Die bed is omtrent die laaste plek op aarde deesdae waar ’n mens aan die tirannie van leefstylghoeroes kan ontsnap, en selfs daar is dit nie heeltemal veilig nie. Dis nou as jy nog op die outydse manier wil bed opmaak, met ’n maksimum van twee kussings per persoon, onderlaken, duvet en basta met die throws en kant- of fluweelbykussinkies, bypassende tafeltjies en minimalistiese bedlampies.

Dis moeilik genoeg om ’n bakkie muesli te verorber soggens sonder om te wonder of dit beter sou lyk in ’n duifeierblou Anthony Shapiro eerder as jou gebruiklike bont Clicks special, en teen middagete word jy dwarsoor jou verpligte tramezzini en cappucino oorweldig met hulpvaardige aanwysings tot maksimum orgasmes en laevet-kantoorpolitiek.

En die kokke is oral. Met die ma’s, die pa’s, die kinders, oumas en tantes, gunsteling visverskaffers en assorted tjomme wat bydra tot die roket en rolplesier, is elke intydse happie wat genuttig word, ’n photo-opportunity. Daar gaan skaars ’n naweek verby sonder dat ’n celebrity-sjef, met entourage, iewers uit die hemele met helikopters neerdaal en onder die mossels invaar vir nog ’n wyd-uitgesaaide gourmet glamourfees. Van die braai tot die bosveld word elke versnapering herdink tot liplekker kosmoment, solank die kameras aanhou klik en wirrrrr. Net vraatsigheid en kosmors word alleen gelaat. En dis waar die lekker lê.

In jou binnekamer is jy alleen met net jouself en jou drif en drange. Wat jou, honger, in jou bed en daaruit kry, is suiwer lus en belustigheid. Wat jy eet in die bed is nie ’n toeskouersport nie, tensy jy porno-movies maak, en kos in die bed is primêr, op sy beste, Oscarbeeldjievlak, ’n alleenloperding. Ja, ja, ons het almal daai beswetende Kim Basinger-movie gesien, maar dit werk nie rêrig so nie. Alleenlopers het in alle geval nie sulke goedgevulde yskaste nie — ek sou graag die ware weergawe wou sien gemaak word met ’n muwwe blikkie katkos, suur melk en halwe bottel borrellose bier — en onder getroudes is dit natuurlik alombekend dat hoe voller die spens, hoe hongerder die mens.

Intense marknavorsing dwing my tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrikaners in die algemeen nie bed-eters is nie. Daar is ’n sekere Calvinistiese ordentlikheid wat ons aan tafel, of ten minste regop, hou. ’n Ingeburgerde bekommernis oor wat die bediende sal dink, of dalk die begrafnisondernemers. ’n Klein sweempie van omgorde lendene, dalk? En as jy eers gaan lê en sluk, waar hou jy op? As kos in die bed fyn is, wat van wyn? Lepels, strooitjies, suig en stik?

As jou eerste ervaring van kamerdiens en kos in die bed ’n moederlike figuur was met ’n kommetjie helder sop en soutbeskuitjies, en dan, as dit super-knor gaan, ’n besoek van die eerwaarde met handoplegging en gebed, kopskudding en saamgeslane hande, is die blote gedagte aan ’n olierige Sloppy Joe met chillisous moontlik net ’n kopsprong of ’n raps te ver.

Een stoere Kaapse knaap beantwoord my navrae erg onthuts: “Ek het in die bed gelê en melk drink as kind, en as ek weer in die bed gaan lê om te eet, is dit papkos voor ek vrek. Nee donner. Dis te sleg. Sies man!”

Sies, ja. Maar dis lekker! Ek het tot in my kleintoontjies gekrul van lekkerkry ten aanskoue van Nigella wat in haar nagkabaai met ’n bord slurplekker pasta in die bed inkruip voor ’n uit fokus televisieskerm na haar dag se werk.

Ekself eet liefs terwyl ek lees. En ek lees liefs voor die televisie. So ek eet, ek lees, ek luister. En in die beste De Waal-tradisie praat ek hardop terug saam met die haunted goldfish bowl. My pa het dit begin, en wie’s ek nou om weerbarstig te wees met gewoontes en kultuur?

Maar jy wil nie bo-oor jou kos baklei nie, so daar is tog ’n sekere mate van sinvolheid om die kamer te verlaat en bed toe te verdwyn, bord en al. Vurke in die bed is nie vreeslik vriendelik nie, maar vingers wel. Bakkies is praktieser as borde - ’sop vir gly, jy! — en die beste steeds is nou maar eens die bakhande. (Dalk kan iemand vir ons ’n kookboek skryf met wenke en rigmaatreëls: Kos in die bed. Vingerplesier vir die maagtafelvreter.)

Wat werk, is natuurlik altyd pasta, sopperige noedels (lê net agteroor, jou ken is jou servet), springmielies, nacho’s, lams- of varkribbes drooggerooster, hoenderboudjies — eintlik, as jy daaraan dink, enige ding met vlees en been, verkieslik jonk en sappig - doopsouse vir die duim en voorvinger, en les bes, enige iets op stokkies of gerol in roti’s, wraps of panwarm tortillas. Heuning, lepelsgewys uit die fles, is voortreflik. Neute, met ’n skoot brandewyn en room, in die bottel heuning in geklits, ’n lakengryper op sy beste. Gebakte boontjies op roosterbrood is ’n disaster: krummels, en die aaklige sensasie van ’n bosluis op jou boud as jy vervaard orent steier in die môre. (Eintlik is geen vorm van brood aanvaarbaar as bedkos nie. Draagbaar as omhulsel van verderflike lekkernye, dalk, maar nie eens ciabatta bied weerstand wanneer daar gestoei word of kafoefel word nie.)

Slaai raak pap, en dis nooit wenslik in die slaapkamer nie. Kaviaar en sjampanje, ag wat praat jy nou. Maar dié moet aangedra word deur iemand anders, aangekondig word met ’n speelse klop aan die deur  ...

Is daar mooier woorde in enige taal as “Kamerdiens! Room service, ma’am!”? Daardie woordjies verbloem ’n boekdeel van beskaafdheid. Waar daar kamers en kelners is, so lui die redenasie, is daar ook ’n gegronde ekonomie, ’n infrastruktuur en stellig ook kultuur. Om nou nie te lank en breed en wyd uit te voer nie: as jy kan betaal vir jou smulplesier in ’n onbekende kamer sonder om vir die kok, die kelners, dienspersoneel, karwagters of wat ook al gaan vir uitgelese café society, hoef te ken en te knik; sonder om, met ander woorde, hoegenaamd dankbaar teenoor iemand anders te wees en net kan vat en kou en sluk, dan, my vriend of vriendin, het jy ’n heel ander vlak van eet betree.

Kos is belaai met emosie. En deesdae, met soveel nouveau huiskosgode en -godinne, is dit puur verlossing om nie te hoef te “oe” en “aa” oor die Deense silwerware of so-so tuisgemaakte gnocchi nie, en bloot eenvoudig te bel, bestel, geniet, en terug te stuur soos en as dit jou behaag. En ek is nie alleen in my verrukking oor kamerdiens nie - die knaap met die strikdas wat jou bokspizza met ’n oormatige rev van sy Chico kom aflewer, is die armmansweergawe van bel, bestel, kou en sluk sonder soveel as ’n “How’s your father?”

Wanneer gaan restaurante beddens begin kry? En waarom ly mens so verskriklik in Suid-Afrikaanse hotelle, waar reeds beddens is, maar haas geen eetbare of verteerbare voedsel nie? Hel is ’n naweek in ’n plattelandse “country club” as verpligte en willose sakereisiger onderworpe en uitgelewer aan die genade van ander wesens wat totaal minagtend is van die rangorde op die kospiramide.

Vergeet van kaal afstrompel in die gang om middernag vir jou tydlose, semi-zen-meditasie voor die oop yskasdeur, jou uniek geïnspireerde tongvis/spek/pesto/brie-en-aarbei-dagwood wat selfs Floyd sou laat handeklap, die sjokolade-koffiemelk waarmee dit afgewas word. Vergeet van alle vorme van lyflike vervuldheid. Die hotelkamer se badprop sal lek, die buurkamer se TV sal oordonderend rofstoei uitbrul lank na dit snaaks is, ’n brouery-konferensie sal in volle swang wees, met technicolour SFX van oor die balkon bo joune. Die sop, ter kamerdiens bestel, sal ’n generiese vaalgeel gom wees, die broodrolletjies drie dae oud, die kelner nukkerig, die fooi astronomies. (Vraag: As julle my broodjie in julle sakke prop op pad na my kamer toe, kan ek die $20 skinkbordfooi vryspring?)

So lekker as wat kamerdiens op sy beste kan wees, so na aan die rand van waansin kan die swak teenpool daarvan jou bring.

So as my voete dalk eendag gly oor die rand van sewendevloervenster iewers, onthou net dit: ’n bakkie eiernoedels in tom yamsop, met ’n vuisvol kraakvars sprietuie, koljanderblare en ’n paar garnaaltjies sou al die verskil gemaak het tussen lewe en dood.



LitNet: 8 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.